Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Kategorie: Nuwe Testament (Page 108 of 129)

Vals profete! Ware profete! Gehoorsame profete!

Skriflesing: 1 Joh 4:1-6
Teksvers: 1 Joh 4:4-6

Wie is Vals profete? Wie is Ware profete? Wie is Gehoorsame profete? Dit raak vandag al hoe moeiliker om die onderskeiding te maak.

Ons lees ook in die Skrif dat Satan hom voordoen as ’n engel van die lig. Daar is so baie kerke vandag, kerkgroepe. Wie het die Gees van die waarheid en wie het die gees van dwaalleer?

Ons gaan daarom juis vandag kyk na die drie sake uit ons Skrifgedeelte:

  • Vals profete.
  • Ware profete.
  • Gehoorsame profete.

Laai af

Dwaas by die wêreld, is wys by God!

Skriflesing: I Kor 1:18-31
Teksvers: I Kor 1:18-21
DL: Afsluiting

As daar iets sou wees soos ‘n “heilige sarkasme” sou dit in hierdie teks staan: “…het dit God behaag om deur die dwaasheid van die prediking dié te red wat glo” (1:21). Die dwaasheid hier bedoel is nie onskuldige onnoselheid nie. Die Griekse “moria” beteken immers om moedswillig nie jou verstand te gebruik of reg te gebruik nie.

‘n Moros of moron/moroon is dus ‘n dwaas.

“Moria” staan direk teenoor die “sofia” (wysheid/etiek) van die Grieke. Tiperend van die heidense ‘sofia’ is die vertikale lyn van onder na bo – die mens moet opklim na die hoëre wêreld van die goeie. Die evange-lie is daarom dwaasheid (moria) vir die Grieke… want die boodskap van Christus is een van Bo na onder!!

God gryp van bo in met herskepping en wedergeboorte, alleen op grond van sy ewige uitverkiesende liefde en genade.

Die ‘woord van die kruis’ nl. God se werk in die dood en opstanding van Christus, is dus dwaasheid vir die Grieke (heidene), maar dit is ware ‘sofias’ (ware wysheid) by God! Die ‘moron’ sal dit egter altyd betwyfel, bevraagteken en bestry.

En ek en jy? Vir ons is dit verlossing van bo… dít is ware wysheid van God, tot ryke troos en krag vir elke dag!!

(Weens tegniese probleme wat tans ondervind word is die opname nie volledig nie)

Laai af

Ons was Vyande, ons is Verander, ons staan Vas vorentoe

Skriflesing: Kol 1:14-23
Teksvers: Kol 1:21-23

Jy het verander. Dit hoor mens gewoonlik na ‘n lang tyd van geleidelike verandering, wanneer iemand skielik besef dat jy nie meer dieselfde persoon is nie. Nadat jy ander gewoontes en ander maniere aangeleer het, dan eers verander jou status in iemand se oë.

Met die Here werk dit anders. Jy word nie verander deur iets wat jy doen nie, maar jy word deur Jesus verander na iets heeltemal anders toe. Dan sit ons wel in die ongemaklike plek dat ons gewoontes moet opvang by dit wat ons werklik is.

Daarom ervaar ons wrywing in ons geloofslewe, omdat Jesus ons verander het vanaf ‘n vyand na ‘n heilige toe.

(Weens tegniese probleme is die opname dalk nie volledig nie)

Laai af

Goeie werke: Sodat… of … Omdat?

Skriflesing: Titus 3
Teksvers: Titus 3:4,5 (8b)

In Luther se groot-word-jare het die Roomse Kerk, destyds die enigste kerk, doodgewoon met vrees regeer. As jy sonde sou doen was dit sonde teen die kerk. Om dit reg te maak het die kerklike amptenary dan ernstige strawwe opgelê. Dinge wat jy moes doen om alles weer goed te maak. Goeie werke. Goeie dade. Solank jy net nie in onguns by die kerk sou kom nie! Dus was dit ‘n tyd dat dominees/priesters en biskoppe en pouse gevrees is, en daarom is God ook met ‘n onheilige vrees bejeën.

Vandat Luther egter monnik geword het en in die sombere klooster van Erfurt studeer het, het hy begin twyfel of God so ongenadig en kil en hard kan wees. En dan vind hy hierdie liefdevolle God van ons teks. Hy vind dit wel eers in Romeine 1:17, maar as jy mooi lees staan dit in byna elke geskrif van die apostel Paulus.

Die vraag vandag is: Doen jy goeie werke sodat…., of omdat?

Laai af

Verdorde hand of verdorde hart?

Skriflesing: Matteus 12 en Markus 3; Lukas 6
Teksverse: Lukas 6:6-11

Het jy al nagedink oor die verandering, vernuwing en geloofsgroei in jou eie lewe? Verandering kom nie sommer nie. Dit is maar net as die Heilige Gees jou oortuig dat daar vernuwing by jou kan plaasvind. Die Fariseërs het aan ‘n manier van versoening, tussen hulle en God, deur wetsonderhouding vasgehou. Hulle wou eerder hulle eie siening en verdienste as weg tot saligheid navolg as om die genade in en deur Jesus Christus hulle eie te maak. Daarom dan vandag die vraag ook aan jou: Bring die besef van jou eie verdorwenheid jou by Jesus Chrisuts uit of is jy verhard in jou eie selfgekose manier van lewe? Verdorde hand of verdorde hart?

Laai af

Van superhero tot zero

Skriflesing: Johannes 6
Teksvers: Johannes 6:14,15

As Jesus in sy bediening van drie jaar op aarde wonderwerke doen, is dit nie om ons te leer dat ons elkeen geregtig is op ‘n paar wonderwerke nie. Pasop vir die leraars wat uitroep: “Name it and claim it”.

Waarskynlik is dit die soort Jesus wat meeste mense vandag wil hê. Ek sou nogal dink dat dit ‘n yslike belediging vir Jesus Christus self moet wees. Hy is immers God Almagtig. Hy kan baie meer as dit doen. Miskien het ons ook ‘n skewe beeld van wie die Jesus Christus van die Skrif nou eintlik is. Miskien het ons baie verwronge idees oor die nagmaal en die kerk wat aan Hom behoort.

Laat ons versigtig wees om Hom nie nog weer te verneder nie!

Laai af

« Older posts Newer posts »