Skriflesing: Matt 18:21-35; Lukas 7:36-50 (Matt 6:9-14; 1 Joh 1:5-10)
Teksvers: Luk 7:47; Matt 18:31-33
HK Sondag 51
Die bede om brood en die bede om vergifnis word in Matteus 6:12 met die woordjie “en” aan mekaar verbind. Die mens het beide ewe nodig: brood vir die liggaam en vergifnis vir die siel! So leer die Woord ons dat die mens nie net van brood alleen sal lewe nie… Daar is dus ‘n heilige balans tussen die stoflike en geestelike.
As jy egter mooi nadink, is die laste van jou sondeskuld veel erger as broodsgebrek. Die las van ‘n skuldige gewete en skuldgevoelens is dikwels die oorsaak van gebroke verhoudinge. Dit kan net heel word deur ware vergifnis. Vir daardie regte gesindheid moet ons bid. Vergifnis genees en heel. Daarom leer Jesus ons om te bid vir vergewing, mààr dan ook vir ‘n gesindheid waarin ek ook van harte gewillig is om my naaste opreg te vergewe.