Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Kategorie: Handelinge (Page 1 of 7)

Wag! Wat kyk jy?

Hemelvaart 14 Mei

Handelinge 1:1-14

Skriflesing: Ps. 47:1 en 2

Die Belofte van die Vader, is die geskenk van Christus se verdienste. As die werk van ons Here Jesus
vervul is, en Hy na die hemele opvaar, dan beveel Hy die dissipels om te wag. Daar is niks wat ‘n mens uit
eie kragte kan vermag in die koms van die koninkryk van God nie. Hulle moet wag. Die krag uit die hoogte
sal hulle toerus om die werk te doen. As Jesus dan wegvaar, en hulle staar die hemele in, vra die engele vir
hulle waarna kyk hulle so verstom! Wag, en kyk, jy sal sien.

‘n Veilige aankoms, ten spyte van skipbreuk.

Skriflesing: Handelinge 27
Teksverse: Handelinge 27 :21-23,44

Het jou planne hierdie afgelope jaar dalk anders uitgewerk as wat jy dit wou hê? Paulus sou seker ook liewer ‘n vryman wou wees en voortgaan met sendingwerk. Nou is hy ‘n gevange op ‘n skip wat vergaan!

Nogtans sien hy in elke situasie ‘n uitdaging om sy roeping daarin te vervul. Hy beskou die omwentelinge van die lewe as ‘n beskikking van God en ‘n roeping om daar en dan ‘n getroue getuie van Christus te wees. 

Kan ons ook die omstandighede uit die Vaderhand aanvaar as ‘n geleentheid om van die genade van God in Christus te getuig?

Die ewige lewe is die moeite werd

Skriflesing: Handelinge 13:13-52 (2020)
Teksvers: Handelinge 13: 46-48

Die apostel Paulus is, gelei deur die Heilige Gees saam met Barnabas op die eerste sendingreis. 

Nadat hulle Ciprus besoek het, vaar hulle terug na die vasteland, en van Perge loop hulle deur die Taurus- berge tot by Antiogië in Pisidië. Hulle verkondig kragtig die evangelie, en die hongerige harte van die mense begeer om nog te hoor. Maar die volgende Sabbat, as die hele stad kom om die evangelie te hoor, is die harte van die Jode vol onguns. 

Is die ewige lewe tog die moeite werd? 

Herstel tot gemeente van die Heilige Gees

Skriflesing: Handelinge 2:1-47; Efesiërs 3:16-19 (1983)
Teksvers: Hand 2:41-47

Vandag vier ons die Pinksterfees op die kerklike kalender. Ons gedenk met groot dankbaarheid die vervulling van die belofte van die beloofde Trooster (Hand 2). 

Kyk ons na die hoofstuk van die uitstorting van die Gees dan sien ons hoe daardie eerste gemeente gelyk en gewerk het. 

Mag ons nog sulke tekens van die ware Kerk van Christus vertoon! 

‘n Herstelde gebedslewe

Skriflesing: Handelinge 12 (2020) Psalm 130
Teksvers: Hand 12:12

In die diepste donker ure van ons aardse lewe en stryd is ons
nooit en nimmer alleen nie. Die Here sien sy kinders en die
Here hoor. Hy hoor altyd.

Dit is dus van uiterste belang dat ons elkeen ‘n diep
persoonlike, maar ook gemeenskaplike gebedsverhouding
met die Here aanleer en inoefen.

Hy is nie vér van enigeen van ons af nie.

Dissiplines van die nuwe lewe (7): Jou daaglikse getuie-wees vir Christus!

(Rome is toe nie die einde van die wêreld nie!)

Skriflesing: Handelinge 1; Jesaja 49:6 (1983)
Teksvers: Hand 1:8; Jes 49:6; Hand 29

Vandag doen 14 kinders en 4 volwassenes Openbare Belydenis van hul Geloof. Ons vier hierdie heuglike dag saam met hulle en hul geliefdes terwyl onsself terugdink aan daardie besondere dag in ons eie lewe toe ons ons geloof in Jesus Christus openlik bely het. 

Handelinge 1:8 se opdrag en bedoelings eindig nie by die laaste verse van die boek nie… Rome is nie die einde van die wêreld nie! 

So is belydenis-aflegging nie die einde van ‘n pad nie, maar slegs ‘n mylpaal langs die pad na volkome gehoorsaamheid aan ons roeping en taak as gelowiges in hierdie wêreld. 

Mag die Here ons almal weer aanspoor tot dissipline in ons getuienistaak, om as sy geroeptes en gestuurdes die Evangelie se lig wyd en syd te laat skyn… tot aan die uiteindes van hierdie wêreld! 

« Older posts