Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Skrywer: admin (Page 1 of 345)

Verkiesing

Die lewe is elke dag vol keuses. Vandat ons opstaan totdat ons gaan slaap moet ons keuses maak. Sommige keuses is belangriker is ander. Hierdie week gaan ons egter verkiesing hou. Ons as mense moet ‘n keuse maak oor wie sal regeer. Soos elke verkiesing deur die geskiedenis, is hierdie die belangrikste verkiesing nog, of ten minste so word beweer. 

Dit is omdat die wêreld nie weet van die belangrikste verkiesing wat ooit plaasgevind het nie, die uitverkiesing. Die konsep van verkiesing bly maar altyd kontroversieel. Daar is telkens ‘n kwessie of al die stemme reg getel is en wie nou eintlik moet regeer. 

In God se regering en in sy verkiesing is dinge ook nie altyd so eenvoudig nie. Dit is nie omdat ons twyfel in God se regering nie, ons weet Hy is en bly Koning vir ewig. Dit is egter met die uitverkiesing dat dinge soms onregverdig voel. Hoe kan God van ewigheid af slegs sekere persone verkies om aan Hom te behoort? Beteken dit dan dat sommige mense nie goed genoeg is vir God om hulle te kies nie? Hoe kan God se liefde mense uitsluit? 

Elke gelowige het al met hierdie moeilike vrae geworstel. Dit is ook verstaanbaar omdat ons vanuit ons menslike perspektief na God kyk en dan nie alles verstaan en sien nie. Wanneer ons God leer ken, en sy hart vir sondaars leer ken, dan verander die prentjie. God is nie onbetrokke en afwesig nie, Hy word self deel in die skepping. 

Hy stuur sy geliefde Seun om self mens te word, om al die sonde te dra en die straf van die tot niet te maak en die mag van die sonde te breek. Dit is geen “geheim” nie, dit is die evangelie. Dit is die boodskap van God se liefde, maar mense verwerp dit. Mense glo dit nie. Mense ag dit nie kosbaar nie. Dit is nie God wat onbarmhartig is nie, maar eerder die mens wat kieskeurig is. Mense trek sommer gou hul neuse op as iets nie na hul sin is nie. 

Dit is juis daarin wat God se liefde bekend word. Dat Hy sondaar harte nuut maak. Dat Hy self ons onwillige en verharde harte sag maak, en op Hom rig. 

“Julle het My nie uitverkies nie, maar Ek het julle uitverkies en julle aangestel om vrug te gaan dra en dat julle vrug kan bly, sodat wat julle die Vader ook al in my Naam vra, Hy julle dit kan gee.” Joh 15:16 

Lourens (vdm) 

As die HERE God is, volg Hom!

Skriflesing: 1 Konings 18:20-40 (2020)
Teksvers: 1 Konings 18: 21, 36-37
HK: Sondag 34

Koning Agab was ‘n deugniet en sy vrou, koningin Isebel het die hart van die volk verlei agter Baäl aan. Isebel het Baälprofete ingevoer en die profeteseuns uitgeroei, met die gevolg dat afgodery aan die orde van die dag was. 

Tog het Elia behoue gebly. Hy was maar een man teen soveel oormag, maar dit maak nie saak nie, want Elia is getrou aan God terwyl die volk verval in afgodery. 

Daarom die pleidooi: As die HERE God is, volg Hom, en as dit Baäl is, volg hom… Maar geen mens kan twee here dien nie. 

Hoe lank sal jy op twee gedagtes hink? 

Die pelgrim se strewe!

Skriflesing: Lukas 13 (1983)
Teksvers: Luk 23:24

Op hierdie besondere dag waarop ons die groot Hervorming van die Protestante (16e eeu) herdenk, vra ons die vraag: waar is die hervorming vandag nodig? 

Die vraagsteller in ons teksgedeelte vra eintlik ‘n nommer, ‘n numeriese vraag… hoeveel? Jesus is min gepla oor nommers. Hy roep tot persoonlike hervorming en bekering. Waar is jy? 

Die woord “strewe/inspan” wat as opdrag in ons teks staan, klink in Grieks net soos ‘n Engelse woord …. agonizo… Kan jy die Engelse woord vind? 

Kan jy self die betekenis van daardie opdrag uitwerk? Wat moet christene doen om in te gaan in die koninkryk waarvoor Christus vir hulle die toegangskaartjie betaal het? 

Waar, dink jy, is vandag se ‘hervorming’ dan die dringendste nodig? 

Bartolomeusnag:Wanneer geloof deur geweld bedreig word

In die geskiedenis van die Christendom is daar donker hoofstukke wat ons nie mag vergeet nie. Een daarvan is Bartolomeusnag, wat in die nag van 23–24 Augustus 1572 in Parys begin het.

Frankryk was destyds diep verdeeld tussen die Rooms-Katolieke meerderheid en die Protestantse Hugenote. Te midde van hierdie godsdienstige spanning is ’n huwelik tussen die Protestantse Hendrik van Navarra en en die katolieke Margareta van Valois gereël, in die hoop om versoening te bevorder. Talle Protestantse leiers het vir die troue na Parys gekom.

Die vrede was egter van korte duur. Ná ’n aanslag op admiraal Gaspard de Coligny, ’n invloedryke Hugenoteleier, het geweld uitgebreek. Op Bartolomeusnag is Coligny vermoor, waarna ’n bloedbad op Protestantse gelowiges in Parys gevolg het. Die geweld het daarna na ander dele van Frankryk versprei. Duisende Hugenote is doodgemaak.

Hierdie tragiese gebeurtenis herinner ons daaraan hoe gevaarlik dit word wanneer mense godsdiens gebruik om haat, wraak en geweld te regverdig. Geloof wat deur dwang en bloedvergieting afgedwing word, weerspieël nie die liefde van Christus nie.

Die Protestantse Hervorming het mense teruggeroep na die gesag van die Woord van God en die verlossing wat alleen deur Christus kom.

Bartolomeusnag herinner ons dat hervorming nie net oor kerklike leerstellings gaan nie, maar ook oor die gesindheid van ons harte.

Mag ons nooit vergeet dat Christus ons roep om selfs ons vyande lief te hê nie (Matteus 5:44). Ware geloof lei nie tot vervolging nie, maar tot waarheid, genade, vrede en liefde.

Waar geloof haat voortbring, is daar ’n dringende behoefte aan hervorming.

« Older posts