Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Kategorie: Predikante Skryf (Page 1 of 43)

Verkiesing

Die lewe is elke dag vol keuses. Vandat ons opstaan totdat ons gaan slaap moet ons keuses maak. Sommige keuses is belangriker is ander. Hierdie week gaan ons egter verkiesing hou. Ons as mense moet ‘n keuse maak oor wie sal regeer. Soos elke verkiesing deur die geskiedenis, is hierdie die belangrikste verkiesing nog, of ten minste so word beweer. 

Dit is omdat die wêreld nie weet van die belangrikste verkiesing wat ooit plaasgevind het nie, die uitverkiesing. Die konsep van verkiesing bly maar altyd kontroversieel. Daar is telkens ‘n kwessie of al die stemme reg getel is en wie nou eintlik moet regeer. 

In God se regering en in sy verkiesing is dinge ook nie altyd so eenvoudig nie. Dit is nie omdat ons twyfel in God se regering nie, ons weet Hy is en bly Koning vir ewig. Dit is egter met die uitverkiesing dat dinge soms onregverdig voel. Hoe kan God van ewigheid af slegs sekere persone verkies om aan Hom te behoort? Beteken dit dan dat sommige mense nie goed genoeg is vir God om hulle te kies nie? Hoe kan God se liefde mense uitsluit? 

Elke gelowige het al met hierdie moeilike vrae geworstel. Dit is ook verstaanbaar omdat ons vanuit ons menslike perspektief na God kyk en dan nie alles verstaan en sien nie. Wanneer ons God leer ken, en sy hart vir sondaars leer ken, dan verander die prentjie. God is nie onbetrokke en afwesig nie, Hy word self deel in die skepping. 

Hy stuur sy geliefde Seun om self mens te word, om al die sonde te dra en die straf van die tot niet te maak en die mag van die sonde te breek. Dit is geen “geheim” nie, dit is die evangelie. Dit is die boodskap van God se liefde, maar mense verwerp dit. Mense glo dit nie. Mense ag dit nie kosbaar nie. Dit is nie God wat onbarmhartig is nie, maar eerder die mens wat kieskeurig is. Mense trek sommer gou hul neuse op as iets nie na hul sin is nie. 

Dit is juis daarin wat God se liefde bekend word. Dat Hy sondaar harte nuut maak. Dat Hy self ons onwillige en verharde harte sag maak, en op Hom rig. 

“Julle het My nie uitverkies nie, maar Ek het julle uitverkies en julle aangestel om vrug te gaan dra en dat julle vrug kan bly, sodat wat julle die Vader ook al in my Naam vra, Hy julle dit kan gee.” Joh 15:16 

Lourens (vdm) 

Oktobermaand is Reformasiemaand

 Daar is min dinge wat ‘n mens se perspektief so drasties verander soos die werklikheid. 

In baie opsigte is daar besluite en opinies wat in ons gedagtes en gemoed gevorm word deur persepsies en opinies van ander mense. Wanneer jy boeke oor die geskiedenis lees, veral ook die Bybel, dan lees jy oor feite wat gebeur het, maar jy het nie altyd die perspektief van die omstandighede of die omgewing waarbinne hierdie dinge plaasvind nie. 

Daar is niemand van ons wat by die skepping was nie, en tog lees ons in Genesis 1-2 oor hoe God geskep het. So kan ‘n mens deur die hele geskiedenis stap, na al die plekke waar God Homself aan die mens bekend gemaak het. Soos daar diep in die woestyn by die berg Sinai, of die see van Galilea. Die werklikheid bring ‘n nuwe begrip, en beter verstaan. 

Eers wanneer jy daar op die berg Karmel staan en afkyk oor die Jisreel vlakte, en agter jou die deinserigheid van die see kan sien, verstaan jy wat gebeur met Elia en die Baalprofete, en die dienskneg wat ‘n wolkie bespeur op die horison. Wanneer jy in die hawe van Perge staan en sien hoe groot die Taurus-berge is, dan het jy begrip vir Johannes Markus wat besluit om huistoe te gaan. 

Tog kan hierdie perspektiewe nie die feite verander nie, hoewel dit help om dit te begryp. So is daar bitter min van ons hedendaagse tyd wat begrip toon vir die skoene waarin Luther homself bevind het op die Ryksdag van Worms. Waar hy gelei deur God se Gees, homself verbind aan die Woord van God alleen as die hoogste gesag. 

In Oktober gedenk ons die begin van die Reformasie waar Luther die 95 stellings teen die kerkdeur van Wittenberg vasgenael het om daaroor gesprek te voer. Die gevolge was ‘n totale omwenteling van die geskiedenis. 

Die resultaat van daardie gevolge is egter ‘n nuwe perspektief op God se Woord. Mag die HERE ons lei om in ons eie lewe ‘n reformasie te ondergaan, om te kan antwoord teen die tydsgees en wêreldse verleidinge dat God se Woord jou gewete bind aan die waarheid. 

“Want die woord van God is lewend en kragtig en skerper as enige tweesnydende swaard, en dring deur tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg, en is ‘n beoordelaar van die oorlegginge en gedagtes van die hart.” Hebreers 4:12 

Lourens (vdm) 

Verkiesing om ‘n herder en leraar te beroep

 Die gemeente staan voor ’n belangrike en verantwoordelike taak: die beroeping van ’n herder en leraar. Dit is nie bloot ’n administratiewe besluit of ’n keuse tussen twee mense nie. Dit is ’n saak waarin ons as gemeente saam voor die Here staan en vra: Wie wil die Here aan hierdie gemeente gee? 

Die Kerkorde van die GKSA gee in artikels 4 en 5 die raamwerk waarbinne die beroeping van ’n bedienaar van die Woord moet plaasvind. Die doel van hierdie orde is om die gemeente te help om die saak verantwoordelik, ordelik en in afhanklikheid van die Here te hanteer. 

Die verkiesing van ’n tweetal behoort daarom met groot erns en gebed te geskied. Ons kies nie bloot volgens persoonlike voorkeur, bekendheid of menslike oordeel nie. Ons moet vra na iemand wat getrou aan die Woord van God is, wat die Gereformeerde belydenis onderskryf en wat die gemeente as herder en leraar kan dien. 

In Handelinge 1:23–26 lees ons hoe die apostels, nadat twee persone voorgestel is, gebid het: “U, Here, wat die harte van almal ken, wys uit hierdie twee aan wie U verkies het.” Daarna is die lot gewerp en Mattias is aangewys. 

Hierdie gebeure herinner ons daaraan dat die kerk uiteindelik nie op sy eie wysheid en voorkeur moet vertrou nie. Die Here is die Een wat sy kerk regeer. Die loting was nie ’n toevallige spel nie, maar ’n daad van geloof en vertroue in God se voorsienigheid. Wanneer ons daarom die tweetal oorweeg, laat ons dit met gebed en nederigheid doen. 

Die vraag is nie bloot: “Wie verkies ek?” nie, maar eerder: “Here, wie wil U aan ons gee?” 

Mag die Here ons as gemeente lei om met wysheid en geloof op te tree. En wanneer die besluit geneem is, mag ons dit in vertroue aanvaar as deel van die Here se regering van sy kerk. 

Laat ons daarom saam bid dat die Here self die weg sal wys en aan ons ’n herder en leraar sal gee wat Christus getrou verkondig, die kudde met liefde versorg en die gemeente opbou in die geloof. 

Ds. Maarten

Die vensters van my hart

In die mitologie van die heidene word Momus, die god wat fout vind, voorgestel as iemand wat Vulcanus verwyt het. Vulcanus het die mens uit klei gemaak, maar volgens Momus het hy ’n fout gemaak: Hy moes ’n venster in die mens se bors gesit het, sodat alles wat daar binne gedoen of gedink word, maklik aan die lig gebring kon word.

Ons gelowiges stem egter nie met Momus saam nie. Ons is ook nie soos iemand wat begeer dat daar ’n venster in sy bors moet wees sodat almal sy hart kan sien nie. As ons so ’n venster gehad het, sou ons waarskynlik vir luike gebid het — en dit styf toegemaak het.

Want ons harte bevat dinge wat ons nie noodwendig vir ander mense wil wys nie: gedagtes, motiewe, vrese, begeertes, teleurstellings en selfs sondes wat ons diep binne-in ons wegsteek.

Maar Psalm 139 bring ons voor ’n belangrike waarheid: Al het ons nie ’n venster in ons bors waardeur ander mense kan kyk nie, die alomteenwoordige God het nie een nodig nie. Hy ken ons hart. Hy sien wat vir ander verborge bly.
Daarom bid Dawid:

“Deurgrond my, o God, en ken my hart; toets my en ken my gedagtes. Kyk of daar by my ’n weg van smart is, en lei my op die ewige weg.” Psalm 139:23–24
Dawid vra eintlik: “Here, maak die luike oop.” Nie omdat God nog iets van hom moet ontdek nie, maar omdat Dawid bereid is om homself eerlik voor God te stel.

So berei ons, ons ook voor vir die Nagmaalviering. Die Nagmaal is meer as ’n tradisie of ’n geleentheid om saam aan tafel te sit. Dit is ’n uitnodiging om stil te word voor God en ons eie harte te ondersoek.

Die vraag is nie: *Kan God sien wat in my hart is? *Hy kan.

Die vraag is: Is ek bereid om Hóm toe te laat om dit aan my te wys — sodat ek my kan bekeer?

Mag ons met oop harte na die Nagmaal kom: bereid om te bely, te ontvang, te vergewe en opnuut die genade van Christus te omhels.

“Here, ondersoek my. Wys my. Reinig my. En lei my op die ewige weg.”

Ds. Maarten

Om ons skeppingsdoel te ontdek

In die klassieke verhaal White Fang lees ons van ’n wolf wat gebore word en op soek is na die sin van sy bestaan. Wanneer hy uiteindelik ontdek dat hy ’n roofdier is wat gemaak is om te jag en bloed te eet, begin hy met oorgawe leef. Hy ervaar dat hy aan die doel van sy maker beantwoord. Van daar af fokus hy al hoe meer op een ding: om te jag, dood te maak en te vreet. Hy word ’n vreeslike, vreetlustige wese wat voortdurend op soek is na sy volgende prooi. 

Wanneer ’n mens egter werklik begin raaksien en verstaan wat sy of haar skeppingsdoel is – dat ons hier is vir die Here – begin ons iets van die Skepper se bedoeling met ons lewe verstaan. Dan leer ons om ons al hoe meer deur Hom, dit wil sê deur sy Gees, te laat lei sodat ons ons lewe aan sy doel kan wy. 

Die tema van die jaar, en daarom ook die tema van hierdie naweek se gemeentekamp, wil ons help om weg te draai van ’n selfgerigte en eiewillige lewe en ons aandag al hoe meer op ons Skepper en Verlosser te rig. Wie werklik biddend na die wil van God soek, begin verstaan dat ons maar net deel is van God se veel groter plan. 

Lees gerus weer Efesiërs 2:1–10. Daar word ons daaraan herinner dat dit uiteindelik nie oor onsself gaan nie, maar oor God en sy genade. Paulus skryf dat God in die tye wat kom, “sou laat sien hoe geweldig groot sy genade is deur die goedheid wat Hy in Christus Jesus aan ons bewys het.” 

Laat ons daarom biddend nadink oor die wesenlike dinge van ons lewe en minder besorg wees oor die verganklike dinge. Ons Vader sorg vir ons. Hy sorg vir ons sodat ons met groter toewyding Hom kan dien en eer. 

Mag ons al hoe minder om onsself draai en al hoe meer om Hom – ons Skepper en Verlosser. 

Ds. Maarten 

“Dit is Saliger om te Gee as om te Ontvang”

 In sy toespraak aan die ouderlinge op pad na Jerusalem, waar die apostel Paulus vir ‘n laaste keer groet, maak hy die opmerking dat Jesus gesê het: “Dit is saliger om te gee as om te ontvang” 

Ons vind hierdie aanhaling egter nêrens in die Evangelies nie. Hierdie spreuk is ‘n oorlewering wat nooit opgeteken is nie. Die Bybel bevat ook nie ALLES wat ons Here Jesus gesê en gedoen het nie. Wat vir ons in die Bybel opgeteken is, is wat nodig is om te glo dat Jesus werklik die Christus, die Verlosser is, soos Johannes dit beskrywe “Nog baie ander tekens het Jesus voor sy dissipels gedoen wat in hierdie boek nie beskrywe is nie; maar hierdie is beskrywe, dat julle kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God; en dat julle deur te glo die lewe kan hê in sy Naam.” 

Ons bely in art. 7 van die NGB “Ons glo dat hierdie Heilige Skrif die wil van God volkome bevat en dat alles wat die mens vir sy saligheid moet glo, daarin voldoende geleer word. Aangesien die hele wyse waarop God deur ons gedien moet word, daarin breedvoerig beskrywe word, mag ook niemand, selfs nie die apostels nie, anders leer as wat ons reeds deur die Heilige Skrif geleer word nie – ja, al was dit ook ‘n engel uit die hemel, soos die apostel Paulus sê” (Gal. 1:8). 

Alles wat nodig is vir ons verlossing. ‘n Mens kry die indruk dat die Bybel net sê wat nodig is, dit sê nie ALLES nie. As ons die Bybel van hoek tot kant ken, het ons nog net die nodigste inligting, want ons kyk nou soos in ‘n spieël maar eendag sal ons alles ken en sien. (1Kor. 13:12) 

Johannes bevestig ook met die laaste woorde van die evangelie, dat as alles wat Jesus gesê en gedoen het, opgeskryf moes word soos ‘n joernaal, sal al die boeke van die wêreld nie genoeg spasie hê nie. 

Laat ons die kosbare skat van God se Woord nie vergeet of nalaat of onderskat nie, want daaruit is alles wat nodig is vir ons verlossing. Uit God se Woord leer ons Hom ken. Deur die kennis van God in ons harte, kan ons waarlik ons vreugde in Hom vind. 

Lourens (vdm) 

« Older posts