Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Kategorie: Predikante Skryf (Page 1 of 41)

Twee kerkvaders en die wederkoms

 Clemens van Rome en Augustinus van Hippo het albei vas geglo in die wederkoms van die Here, maar hulle het dit verskillend beklemtoon. 

Clemens het baie naby aan die tyd van die apostels geleef (ongeveer n.C. 95). In sy geskrifte sien mens ’n sterk verwagting dat Christus binnekort kan kom. Die vroeë kerk het geleef met die intense uitroep: “Maranata — Kom, Here!” 

Die koms van Christus was seker én naby. Gelowiges moes daarom waaksaam, heilig en volhardend leef. Die fokus was minder op spekulasie oor tye en meer op gereedheid. 

Sy toon herinner sterk aan: 1 Tessalonisense, Jakobus en Openbaring. Die gevoel is: leef elke dag asof die Here enige oomblik kan kom. 

Teen Augustinus se tyd (4de–5de eeu) het die kerk reeds eeue lank bestaan. Daarom ontwikkel sy denke meer sistematies oor die geskiedenis en die wederkoms. Augustinus het vas geglo: Christus sal liggaamlik terugkom; die dooies sal opstaan; daar sal ’n finale oordeel wees; God ’n nuwe hemel en aarde sal bring. Maar hy was versigtig vir letterlike eindtydspekulasie. Anders as sommige vroeë kerkvaders het hy die “duisend jaar” van Openbaring 20 simbolies verstaan. 

Volgens Augustinus: Christus regeer reeds nou deur sy kerk; die huidige kerktyd is in ’n sekere sin die “millennium”; die wederkoms kom aan die einde van die geskiedenis. Vir hom was die belangrikste nie om datums uit te werk nie, maar om getrou en barmhartig te leef terwyl ons wag op die Here. 

Albei het dus vas geglo in die koms van die Here. Maar Clemens weerspieël die vurige verwagting van die vroeë kerk, terwyl Augustinus ’n meer uitgewerkte teologie van die geskiedenis ontwikkel het. 

Die vraag vir die kerk vandag (ek en jy) bly dus in alle erns of ons net teologies daaraan glo dat Jesus weer kom, en of ons soos, die eerste Christene, ook met ‘n voltydse verwagting op die koms van die Here en die nuwe aarde lewe. 

Ds. Maarten 

Nike

In die hoofstraat van antieke Efese is daar ‘n bekende standbeeld van die Griekse afgod Nike. Sy is die afgod van wen (victory) en die versinnebeelding van oorwinning. Met Nike aan jou kant is dit ‘n wen-wen. 

Dit is met hierdie wen gedagte wat die bekende sport toerusting Nike ontwikkel is. Dit is die simbool van oorwinning. Met goeie toerusting, sal jy wen. So het Nike ook deel geword van ons leefwêreld sonder dat ons ooit die simboliek daaragter verstaan. 

Immers, almal wil wen. Niemand hou daarvan om te verloor nie. Wie sal tog die grootste denkbare geskenk weggee vir ‘n vrug? Wie sal hulle siel verkoop met die prys van die ewige lewe, net om die plesier van ‘n oomblik se genot te ervaar? Net om te kan sê: ek het gewen! 

Die vraag is uiteindelik: wat het jy gewen? ‘n Goue medalje? Dalk mense se harte…? Of ‘n Eerste prys? 

Ons Here en Verlosser leer ons wat dit waarlik beteken om te wen. Hy is die Oorwinnaar oor die dood. Hy oorwin die bose. Hy oorwin die smarte van die hel. Hy oorwin die sonde. En tog het hy nooit Nike gedra nie. Hy het nie die ambisie Gehad om die beste sportster te word, of om eerste te kom in die lewe nie. Hy was nie ‘n wenner nie, want Hy is die Oorwinnaar. 

En Hy gee ook vir ons sy wenklere, die wapenrusting van God. Hy leer ons dat ons mag deel kry aan sy Oorwinning, Hy hou dit nie vir Homself nie. 

Om aan Christus deel te hê, is om te wen. Deur die geloof in Jesus word ons meer as Oorwinnaars. Ja, kyk, in Hom het jy reeds oorwin! 

Lourens (vdm) 

Twee Jode en die Vraag oor die Messias

 Justinus die Martelaar is in 100 vC in Palestina gebore en weens sy Griekse ouers raak hy bekend as filosoof en kom mettertyd tot geloof weens die woorde van ʼn ou onbekende man op die strand van Efese. Hy is in die tweede eeu bekend vir sy apologetiese geskrifte. 

Een van die merkwaardigste gesprekke uit die vroeë kerk is die dialoog tussen Justinus die Martelaar en Trypho, die Joodse gespreksgenoot in Dialoog. Dis nie bloot ’n debat nie; dis twee mense wat saam worstel met die Ou Testament en die vraag: Wie is die Messias werklik? 

Trypho kon nie verstaan hoe die gekruisigde Jesus die beloofde Koning van Israel kon wees nie. Vir hom moes die Messias in heerlikheid kom, sy vyande verslaan en God se koninkryk oprig. Justinus antwoord egter dat die Skrifte van twee komste praat: eers die lydende Kneg van Jesaja 53, later die komende Koning van Daniël 7. 

Dis merkwaardig hoe aktueel die gesprek vandag nog klink. Ons verkies ook dikwels ’n Christus van krag en oorwinning, maar sukkel met die nederige, lydende Christus wat sy lewe gee vir sondaars. Tog lê juis daarin die hart van die evangelie. 

Vir Justinus is die wederkoms nie ’n losstaande leerstuk nie. Dit vloei uit die kruis en hemelvaart voort. Die Een wat gekom het in swakheid, het oorwin en opgevaar en kom weer in heerlikheid. Deur lyde tot heerlikheid! 

Daarom leef die kerk tussen twee groot waarhede: Christus hét gekom, en Christus sál weer kom. 

Die vroeë Christene het dit met een Aramese woord bely: Maranata — “Ons Here kom” of “Kom, Here Jesus!” Vir gelowiges is dit ’n woord van hoop, troos en verwagting. 

Ds Maarten 

 Die See het Gevlug

 Met die milde reën wat ons oral oor ontvang het die laaste maand of twee, is dit opmerklik hoeveel invloed die weer op die gemoed van mense het. Sommige saaiboere is moedeloos van al die water, wat die oeste op die land bederf. Die veeboere is dankbaar vir goeie weiding vooruitsigte, maar daar is nuwe siektes wat weer opvlam. Mense se besighede word geraak, buite aktiwiteite word beperk, en in sommige gebiede kom daar geweldige skade. 

Vir ‘n oomblik besef ‘n mens hoe dit moes wees in die tyd van Noag, toe die reën nie ophou nie. Toe die water aanhou styg. As mense probeer plan maak om hulle huisraad en besittings van die water te red. Dink uself in watter geweldige en vreesaanjaende verskrikking dit moet wees. Om die wêreld rondom jou te sien verdrink. Slegs die wat in die ark was, is gered. Christus is die ark van ons verlossing. Hy alleen is die Een waarin ons kan skuil, ‘n veilige Rots. 

Daar is egter ‘n tweede beeld van water, waaraan Psalm 114 ons herinner. Daarvan word beskryf hoe die water gevlug het. Die see het gevlug, die Jordaanrivier het terug gedeins. Voor die aangesig van God word die watervloede diensbaar. Die natuurkragte is gehoorsaam aan die Woord van God. Maar daardie selfde natuur elemente is simbole wat heenwys na God se oordeel en genade. 

Die vloed wat die beeld van die doop, net so ook die Rooisee en die Jordaan. Israel is gedoop deur die water, is gered deur die water heen. Christus self leer ons dat Hy die Water van die lewe is. Elkeen wat Hom drink, strome lewende water sal uit hul binneste vloei.

 Laat ons dan ook in hierdie tyd besef hoe God deur die natuur ons herinner aan sy genade en oordeel. Aan sy liefde en trou, en bo dit alles, ons verlossing. 

Lourens (vdm) 

Kerk en staat

 Die verhouding tussen kerk en staat was deur die geskiedenis dikwels ’n bron van spanning. Wanneer die staat beheer oor die kerk uitoefen, ontstaan die gevaar dat die kerk se geestelike roeping ondergeskik raak aan politieke belange. 

In die Bybel sien ons dat die kerk geroep is om aan God gehoorsaam te wees bo mense (Handelinge 5:29). Die kerk se taak is om die evangelie van Jesus Christus suiwer te verkondig, dissipels te maak en as sout en lig in die wêreld te leef. 

Wanneer die staat egter probeer om die inhoud van prediking, leerstellings of kerklike praktyke te bepaal, word hierdie roeping bedreig. 

Die geskiedenis toon verskeie voorbeelde waar staatsbeheer tot verval gelei het. Waar die kerk afhanklik raak van politieke mag of finansiële steun, verloor dit maklik sy profetiese stem. In plaas daarvan om die staat te vermaan, begin dit om die staat te behaag. 

Dit beteken egter nie dat die kerk en staat geen verhouding moet hê nie. Die staat is deur God ingestel om orde en geregtigheid te handhaaf (Romeine 13). Die kerk behoort dus die staat te respekteer en vir owerhede te bid. Tog moet daar ’n duidelike onderskeid bly: die staat regeer oor burgerlike sake, maar Christus is die enigste Hoof van die kerk. 

’n Gesonde samelewing vereis dat die kerk vry moet wees om God se Woord te verkondig, selfs wanneer dit teen die staat se wil ingaan. Waar hierdie vryheid ontbreek, word nie net die kerk benadeel nie, maar ook die samelewing as geheel. 

Tans word daar gepoog om wetgewing in ons land in te voer wat die gesag en selfstandigheid van kerke aan bande sal lê. Ons kerkverband het daarom met die owerheid hieroor gekorrespondeer en die brief word aan u almal versprei vir ernstige kennisname en voortdurende voorbidding. 

Ds. Maarten 

 (Lees bl 8 in ons nuusbrief na die dringende brief van die GKSA se Deputate Owerheid oor moontlike wetgewing wat die staat beheer oor kerke gee.) 

Kosbare Remedies teen Satan se planne

 Hoe bekend is jy met die satan se planne om die kerk van Christus te vernietig? Ons weet tog so goed uit Efesiërs 6 dat ons stryd nie teen vlees en bloed is nie, dat ons die wapenrusting van die geloof moet opneem. 

Tog is daar baie Christene, veral in die modern era, wat naïef is oor geloof. Geloof is vir hulle iets wat “lekker” is en jou laat goed voel. Dit moenie iets wees wat moeite vereis nie! Vir die meeste moderne Christene is die ongereelde lees van die Bybel en ‘n skiet gebed genoegsaam vir hulle geestelike groei en sekerheid. Ons lewe is so besig, en tyd is so min, daarom is die bietjie tyd wat jy afstaan aan jou geloof ‘n bewys dat jy tog gered sal word. 

Miskien is dit waar dat ons leef in ‘n tyd waarin ons so min as moontlik hoef te doen vir ons verlossing. Ons leef die heeltyd met die gedagte, om net die noodsaaklikste te verrig. Wat is die minste wat jy hoef te doen om darem nog steeds die hemel te maak? 

Dit is asof ons gewete nie meer geprikkel word of dat ons skuldig voel as jy nie jou lewe aan Christus oorgee om alles in Hom en Deur Hom en Tot Hom te doen nie. Ons leef immers ‘n tyd van verbruikers mentaliteit. Mense sien hulleself nie as lede van die liggaam van Christus nie, maar eerder in ‘n lidmaatskap wat gedien en bedien moet word. 

As jy leef om net die nodigste te doen vir jou geloof, hoe sal jy tog weet wat is die aanslag om jou van die geloof te ontwortel of te beroof. Die apostel Paulus skryf juis daaroor in die 2de Korintiër brief in hoofstuk 2 as hy vermeld dat hulle nie onbekend is met die planne van die satan nie. 

Dit laat ‘n mens tog vra: wat is jou strategie teen die sonde en die satan? Het jy ‘n plan? Baie maal leef jy maar net elke dag met jou fokus op wat jy in die lewe moet verrig om te oorleef. 

Dit maak ‘n boekie soos die van Thomas Brooks so kosbaar, want hy skryf oor Precious remedies against satan’s devices, of William Bridge se Lifting up of the downcast. 

Laat ons nie onkant betrap word met die bedrieglike planne van die satan nie, laat ons nie verstrengel raak in die web van sorge van die lewe, dat ons vergeet wat ware vryheid in Christus vir ons beteken nie… 

Christus gee tog vir ons kosbare remedies en oplossings vir elke bose plan. Mag ons in die geloof volhard en ons lewe daaraan toewy om die wedloop te voltooi en die geloof te behou! 

Lourens (vdm) 

« Older posts