Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Kategorie: 2 Konings (Page 1 of 2)

Wat is jóú nalatenskap?

Skriflesing: 2 Kon. 13:14-21; 2 Kon. 2:5-25; Hebreërs 11:1-4; Efesiërs 1:8-20 (1983)
Teksvers: 2 Konings 13:21

Na die kragtige bediening van 60 jaar sterf die profeet Elisa en word hy soos ‘n gewone Israeliet begrawe. 

Alhoewel hy waarskynlik groter dinge vermag het as sy voorganger, Elia, vaar Elisa dus nie op na die hemel in die heerlikheid van vurige strydwaens nie. 

En tog is daar ná sy dood troos aan die volk in die vreemde gebeure wat by die graftombe van die profeet plaasvind! 

Dink bietjie na wat hierdie gebeure vir my en jou kan beteken en hoe dit selfs heenwys na die graftombe van ons Here Jesus! 

Dink aan die kinders van Bet-El!

Skriflesing: II Konings 2:5-15, 19-25; Eksodus 20:4-6 (1983)
Teksvers: II Konings 2:23,24

‘n Eienaardige stukkie geskiedenis in die minimum verse. Twee-en-veertig kinders in Bet-El sterf ‘n wrede dood! Dink ‘n bietjie na oor die koerantstories of die video’s op sosiale media as dit vandag sou gebeur het. 

Na aanleiding van verlede week se besef uit Jakob se lewe dat ons moet aandag gee aan ons kinders se katkisasie en opvoeding en wat hulle van óns leer, is gevra dat ek weer hierdie gedeelte vir die gemeente in die prediking aanbied. So kyk ons dan na die straf van die Here oor die kinders wat met die heilige dinge van God mors. 

Waar kry ons die genade van God in hierdie storie? 

Deur Christus en sy Gees sterf ons ons sondige gedagtes af

Skriflesing: 2 Konings 8:7-15 (2020)
Teksvers: 2 Konings 8:11-13

Elia ontvang drie opdragte van die Here in 1 Konings 19:15-16. Dit is, naamlik om Elisa as sy opvolger aan te stel, Gasael tot koning van Aram aan te wys en om Jehu tot koning van Israel te salf. Dit is egter Elisa wat Gasael as koning van Aram aanwys (2 Konings 8:13) en toesien dat Jehu tot koning van Israel (2 Konings 9:1-3) gesalf word. 

In 2 Konings 8:7-14 sê Elisa met groot hartseer dat Gasael, in opdrag van die Here, koning van Aram sal word, met verskriklike tragiese gevolge vir Israel. Gasael het egter heftig ontken dat hy ooit soos ‘n wrede dier sou wees. Hy is immers nie ‘n hond nie. 

Sondige gedagtes van mense soos Gasael, Kain, Judas en Petrus, (en dalk onsself), gebruik die Here om ons die diepgang van ons eie sondige aard en natuur te leer ken. Deur hierdie kennis leer ons dat ons “van nature” geneig is om God en ons naaste te haat. Deur God se Woord en Gees leer ons watter krag daar in Christus Jesus is. Net Hy kan aan ons die oorwinning gee oor ons skrikwekkende sondige aard en gedagtes. 

Droefheid bring bekering wat tot redding lei!

Skriflesing: 2 Kon 5:1-6:7; 2 Kor 7:6-13
Teksvers: 2 Kon 5:11,12,14,16, 18; 2 Kor 7:9-10
HK: Sondag 33

God vra ware bekering. Dit is die afsterwing van die ou sondaar mens en die opstanding van die nuwe mens in Jesus Christus. En as jy ’n nuwe mens is, wil jy goeie werke doen wat uit ’n ware geloof, volgens die wet van God tot sy eer gedoen word. 

Ons moet altyd minder word, ons eie trots aflê en buig voor God se Woord. Naäman het gedink, omdat hy so belangrik is sou sy gesond-word, met groot vertoon plaasvind. Die profeet Elisa moes met groot vertoon hom gesond maak en dan sou hy Elisa baie goed beloon en betaal vir wat gedoen is. Maar Naäman het God se werking nog nie verstaan nie. 

God gebruik dikwels onopvallende metodes, maar God moet altyd die eer kry vir die wonderwerke. Dit kan net gebeur as jy as sondaar deur die bekering gelei word deur die Heilige Gees, as jy opstaan as ’n nuwe mens en dan goeie werke doen uit dankbaarheid tot eer van God. 

« Older posts