Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Kategorie: Openbaring (Page 1 of 10)

Die doel van God se openbaring

Skriflesing: Openbaring 4,5 (1983)
Teksvers: Op 4:1

As die Here vir Johannes die hemeldeur oopmaak is dit ‘n openbaring van God self aan ‘n mens. Die apostel moet alles wat hy sien opskryf en aan die kerk van Christus uitstuur (vgl Op 1:11). 

Die doel van hierdie ‘openbaring’ kan nie maar net voorspelling wees nie. Daar sit veel meer daarin. God openbaar iets van Homself! Hy het ons immers gemaak sodat ons Hom kan ken. Hier sien ons dan in ‘n visioen die hemele oop en ons sien simbolies wie en wat God is en daarna ook wat Hy doen. 

Kyk ons na die rampe en aardbewings en natuurverskynsels van ons tyd weet ons dat Hy aan die werk is en dat die koms van Christus naby is. Die beste manier om jou daarvoor voor te berei is, om nog dieper in hierdie openbaring van God (die héle Skrif!) in te delf. 

Waarom Word Jy ‘n Christen Genoem?

Skriflesing: Eksodus 19:1-6; Op 1:4-8 (2020)
Teksvers: Eksodus 19:6; Op 1:5-6
HK: Sondag 12

Ons belydenis handel oor die Naam sowel as oor die amptelike titel van ons Here Jesus in Sondag 12. 

Ons weet Jesus beteken Verlosser, omdat Jesus ons van ons sondes verlos, maar Christus is ‘n beskrywing van die amp wat Hy beklee. Met ander woorde, watter gesag dra Jesus om wel hierdie taak te mag verrig? 

In die Ou Testament leer ken ons die drie ampte van profeet, priester en koning, waarby ons Here Jesus as die Christus, die Gesalfde Messias al drie hierdie ampte beklee. Die vraag is egter waarom jy ‘n Christen genoem word? Wat is jou rede? 

MARANATA!

Skriflesing: Op 1:7,8; 22:6-21; 1 Kor 16:21,22; Gal 1:8,9; Rom 9:3 (1983)
Teksvers: 1 Kor 16:22 (Op 22:20)

In ‘n geskrif uit die eerste eeu n.C. Die Didaché, staan die volgende by hierdie 2e laaste Bybelvers (Op 22:20) geskrywe: 

“Laat die genade kom en laat hierdie wêreld verbygaan! Amen. 

Hosanna vir die Seun van Dawid! 
As iemand heilig is, laat hy kom! 
En as iemand onheilig is, laat hy hom bekeer! 
Maranata! (I Kor 16:22) Amen” 

Hierdie woorde was bedoel as die afsluiting van die gereelde Nagmaalsdiens. 

Laat ons wat saam vashou aan die beloftes van die Woord wat in die Nagmaal afgeteken word, dan ook hierdie bede bid. 

Jesus se opstanding lei ’n “duisend jaar” van oorwinning in.

Skriflesing: Openbaring 20 (2020)
Teksvers: Openbaring 20:2

OORWINNING: DIE DRAAK IS VIR 1000jr GEBIND. 

Die verleiding van nasies is verby – die draak is gebind. 
Nou: Verkondig! 

OORWINNING: WEERSTAND TEEN DIE ONHEILIGE ‘DRIEHEID”. 

Die draak vervolg wel gelowiges in die 1000jr. 
Nou: Weerstand met die krag van die Oorwinnaar. 

OORWINNING: STERF IS DIE EERSTE OPSTANDING. 

Die tweede 1000jr (in die hemel). 
Nou: Sterf, maar word lewend en begin regeer. 

OORWINNING: OOK IN DIE KORT TYDJIE. 

Dan: Die draak losgelaat en verlei nasies tot felle oorlog. 
Dan: Die tyd word verkort en die Oorwinnaar tree op. 
Dan: Die oordeel. 
Nou: Inwag! 

Die Heer die Heer het opgestaan!

Skriflesing: Openbaring 1(1983)
Teksvers: Op 1:17,18

Paassondag gedenk en vier ons die groot dag van die opstanding uit die dood en graf. Hierdie dag staan van die vroegste kerkgeskiedenis af bekend as “Die Dag van die Here”. Dit is dié dag van ons oorwinnaar-Koning wat die sonde, die dood, die hel, die bose én wêreld oorwin het! 

Waarskynlik die grootste dag in menseheugenis – maw in die totale geskiedenis. So groot en groter as die skeppingsdae self. 

Hierdie dag gee betekenis aan die skepping, wat sy sin deur sonde en dood verloor het. Hierdie dag gee hoop aan ‘n wêreld wat in wanhoop vergaan. Hierdie dag moet gedenk word. 

Laat ons elke Sondag dink aan die dag van sy opstanding en oorwinning en aan Hom, die Opgestane, die Lewende, die eer gee, nou en vir ewig. 

Jy is duur gekoop

Skriflesing: Johannes 14; Openbaring 19; 2 Kor 11:2 (1983)
Teksvers: Openb 19:7,8
HK: Sondag 1

Ons begin vanaand weer met leer-prediking volgens die Heidelbergse Kategismus. Hierdie is volgens Kerkorde Art 68 ‘n opdrag aan elke gemeente en moet dus gereeld onderhou word. Mens sou hierdie sg. Kategismusprediking kon sien as voortdurende volwasse toerusting van die gemeente van die Here Jesus Christus. 

Ons neem in hierdie onderrig altyd die temas uit die belydenisskrif (HBK), maar die inhoud van die prediking bly steeds die Woord van God. 

Dit sal ‘n goeie wenk wees dat elkeen van ons HK Sondag 1 uit die hoof leer ken. Probeer dit gerus, want dit is ‘n baie mooi opsomming van ons geloof (jou troos). 

« Older posts