Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Kategorie: Openbaring (Page 1 of 9)

Die Waarheid is ons Getuienis

Skriflesing: Openbaring 11:1-19 (2020)
Teksvers: Openbaring 11:3-5

‘n Gebou uit die Ou Testament wat verskeie kere vernietig en herbou is, en nou al bykans 2000 jaar nie meer bestaan nie, is die beeld wat ons in die toekoms laat sien wat met die kerk gebeur. Die tempel word vertrap. Maar uit haar gaan die getuienis van God, twee getuies, wat verkondig wat die wêreld nie wil hoor nie. 

Ons staan vanaand stil by die apokaliptiese beeld in die ondersoek na wie hierdie twee getuies is, wat hulle simboliseer in hulle werk en waarom dit vir ons belangrik is met die tema: die Waarheid is ons Getuienis

Die Lof van die Here vul die ewigheid

Skriflesing: Openbaring 14:1-5 (2020)
Teksvers: Openbaring 14:1-2

Die hemel is gevul met almal wat Hom loof en prys. Dag en nag word sy lof besing en sy heerlikheid en eer geprys. Dit is so besonderse taak, dat dit die volheid van die werk omvat van almal wat in die hemel is. Die lof van God vul die ewigheid. 

Dit is die lof waarvoor ons voorberei om saam met al die heiliges te mag deel. Dit mag ons reeds hier op aarde doen. Ons lofsange begin reeds hier op aarde en duur tot in ewigheid. 

Jy my siel, loof jy Hom bowenal! 

Heilig, Heilig, Heilig is die Here

Skriflesing: Openbaring 4:1-11 (2020)
Teksvers: Openbaring 4:8

Slegs twee maal in die Skrif vind ons ‘n drie-dubbele herhaling van dieselfde woord as lofsang. Dit is die engele wat God se lof besing in die visioen van die profeet Jesaja, sowel as hier in Openbaring rondom die troon van God in die visioen van Johannes. 

Ons staan vanaand stil by die lofsang en die betekenis van hoe ons as heiliges ‘n nuwe lied kan sing: heilig, heilig, heilig is die Here. 

God alleen is waardig om die heerlikheid en die eer en die mag te ontvang

Skriflesing: Open 4:1-11; 5:1-14(1983) 
Teksvers: Open 4:11; 5:11,13,14 

Daar was nog altyd ‘n stryd in God se kerk op aarde. Ons lees daarvan in Openbaringe 1-3. Ons hoef egter nooit te twyfel of moedeloos te word nie. Juis in Openbaring 4 lees ons van God as Skepper, wat op sy troon sit en in Openbaring 5 van Jesus Christus wat alleen waardig en in staat is om boek in die Vader se hand oop te maak. 

Psalm 33:7 
(Berymd. Totius) 
“Die HEER wat bo die wentelkringe 
van son en maan sy rykstroon stig, 
aanskou die mense en alle dinge – 
daar’s niks bedek voor sy gesig. 
Uit sy vaste woning / waar Hy heers as Koning, 
sien Hy, Skepper-HEER, uit oneindig hoë / blou-deurglansde boë 
op sy skepsel neer.” 

1 Johannes sien die hemele op ’n skrefie oop. 
2 Johannes sien ’n troon. 
3 Johannes sien hoe alles en almal God loof en prys. 

Die Sleutel wat oopsluit

Skriflesing: Jesaja 22:15-25; Open 3:7-13; Joh 17:1-26
Teksvers: Jes 22:22-25; Open 3:7,8; Joh 14:6; 17:17b
HK: Sondag 31

Almal ken sleutels. Sleutels wat oop en toesluit. Belangrike plekke het gewoonlik “’n sleuteldraer”, iemand wat besluit wanneer ’n deur oopgesluit en wanneer die deur toegesluit moet word. Spesiale plekke het daarom sekuriteit en goeie deure en slotte om dit te beskerm en daarom moet die sleuteldraer spesiale sorg aan die dag lê, vir wie en wanneer en hoe hy oop en toesluit. 

  • Eljakim kry die sleutel om te dra. Jes 22:20-22
  • Jesus Christus is die sleutel na die hemel. Open 3:7
  • Die Woord sluit vir ons die ewige lewe oop. Joh 17:17b 

Die liturgie: Ons gebede soos wierook 

Skriflesing: Openbaring 8:1-5 (1983) Eksodus 40:1-5; 30:1-10,34-38
Teksvers: Openbaring 8:3,4

In die Tabernakel in die woestyn (en later in die beloofde land) staan die wierookaltaar reg voor die voorhangsel (gordyn).

Reg agter die voorhangsel staan die verbondsark met die versoendeksel en die twee gerubs daarop. Die rook van die wierrookaltaar kan eintlik nie by die verbondsark kom nie, behalwe eenkeer per jaar op die Groot Versoendag, as die hoëpriester daar ingaan namens die volk en met bloed en wierook in sy hande.

Nou het Christus die pad gebaan deur die voorhangsel heen (Heb 10:19), dit is deur sy liggaamlike offer aan die kruis. Ons gebede kan nou by die troon (verbondsark simbolies) van God uitkom. Daarom sien ons elke Sondag uit dat ons as gemeente saam kan kom bid.

« Older posts