Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Kategorie: Nuwe Testament (Page 107 of 129)

‘n Nuwe mens in en deur Jesus Christus

Skriflesing: Romeine 8:1-17
Teksverse: Romeine 8: 1-3

In 2 Korintiërs 5:17 staan daar dat elkeen wat in Jesus Christus glo, ‘n nuwe mens word. Die vraag is of ek werklik ‘n nuwe mens in en deur Jesus Christus wil word? Immers wat is nou so verkeerd met my huidige lewe? Kyk ons na Romeine 8:1-3 dan is dit duidelik dat ons sonder Jesus Christus veroordeeldes is. Die Heilige Gees skep in die gelowige se hart ‘n innige verlange om al hoe meer nuut te word in Christus. Deur Jesus Christus se versoeningsdood het ons die wet van die Gees ontvang. Hierdie wet van die Gees maak elkeen vry van die dwingende en verwoestende mag van die wet van die sonde en die dood. Hierdie nuwe wet skep ‘n nuwe lewe en ‘n nuwe identiteit in Christus. Dit is moontlik gemaak toe God sy eie Seun mens laat word het en die sonde van die mens op Hom geneem het.
Dit is die verlange van elke gelowige om die wet van die Gees sy eie te maak. So sal jy as gelowige nie meer in die mag van die wet van die sonde en die dood vasgevang bly nie, maar werklik vry word om in en deur Jesus Christus oor die sonde te heers. Mag jy groei in die nuwe lewe in Christus alleen.

Laai af

God se huis en Salomo se hart. God woon in ons harte

Skriflesing: 1 Kon 8:12-21; 1 Kor 3:9b-22
Teksvers: 1 Kon 8:12,13,27-30; 1 Kor 3:9b,16,17

1 Kon 8:12-13,27-29 “Toe het Salomo gesê: “Die Here het gesê Hy wil in duisternis woon. 13) Daarom, Here, het ek vir U ‘n waardige huis gebou, ‘n verblyf waar U altyd kan woon. 27) “Sou God werklik op die aarde woon? Die hemel, selfs die hoogste hemel, kan U nie bevat nie, hoe dan nog hierdie tempel wat ek gebou het! 28) Hoor tog, Here my God, die gebed van u dienaar, hoor sy smeking, luister na die hulpgeroep, die gebed wat u dienaar vandag tot U rig. 29) Hou hierdie tempel dag en nag onder u sorg, die plek waarvan U gesê het dat U u Naam daar wil vestig, sodat U die gebed kan hoor wat ‘n dienaar van U na hierdie plek toe bid.”

1 Kor 3:9,16,17 “Ons is medewerkers in diens van God, en julle is die saailand van God. Julle is ook die gebou van God. 16) Weet julle nie dat julle die tempel van God is en dat die Gees van God in julle woon nie? 17) As iemand die tempel van God beskadig, sal God hom straf, want die tempel van God is heilig, en die tempel is julle.”

Ons gaan na drie sake kyk:

  • God woon in ons hart.
  • God vra getuienis vanuit ons hart.
  • God vra gebede vanuit ons hart.

Maak oop

Belofte, belydenis, troos en verwagting – Jesus Christus kom weer

Skriflesing: 1 Kor 11:14-34
Teksvers: 1 Kor 11: 26

Elke keer as ons nagmaal gebruik, word ons opgeroep om te besef dat ons deel het aan die Here se maaltyd. Hy is die Gasheer wat ons uitnooi om sonder enige bybedoelings of skynheiligheid of onverskilligheid, te kom aansit aan die tafel van die Here.

Die Here Jesus het in die nag waarin Hy verraai is, brood geneem, en nadat Hy die seën uitgespreek het, het Hy dit gebreek en gesê: “Dit is my liggaam vir julle. Doen dit ter herinnering aan My.” So ook met die beker ná die ete, met die woorde: “Hierdie beker is die nuwe verbond deur my bloed. Doen dit, so dikwels as wat julle daaruit drink, ter herinnering aan My.”

Dan volg die woorde van ons teksvers (vers 26): “Want so dikwels as wat julle hierdie brood eet en uit hierdie beker drink, verkondig julle die dood van die Here totdat Hy kom”.

Mag jy deel hê aan die nagmaal deur vas te hou aan sy belofte dat Hy weer kom. Mag jy vashou aan sy belofte dat Hy weer kom. Mag jy hierdie nagmaal en elke dag vertroos word en uitsien na Jesus Christus se wederkoms.

Laai af

Die krag van die evangelie!

Skriflesing: Hand 17:16-34
Teksvers: Hand 17:16-34

In Handelinge 17 kry ons te doen met Paulus se model van evangelisasie. Nadat hy moes vlug vir sy lewe, arriveer hy in Athene, en word daar gekonfronteer met ‘n klomp vrae en aanvalle teen die Christelike geloof.

Kom luister saam om te sien hoe hy dit hanteer en beantwoord, en ook hoe hy homself handhaaf. Daar is ‘n klomp dinge wat ons by hom kan leer oor hoe ons evangeliseer en vrae oor die evangelie beantwoord.

Laai af

Word kragtig in die Here

Skriflesing: Efesiërs 6:10-20
Teksvers: Efesiërs 6:10-13

Hoe kom ‘n mens by die hart van ‘n probleem uit? Ons het deesdae soveel teorieë oor wat presies die oorsaak van al die probleme in die wêreld, ons land, ons gemeenskap en lewe is. Ons word so gebombardeer met inligting en kitsoplossings, dat ons baiekeer nie by die hart van die saak uitkom nie. Ons behandel net die simptome.

Paulus beskryf egter vir ons die waarheid van die grootste probleem wat gelowiges in die gesig staar: Ons is besig met ‘n oorlog! ‘n Geestelike oorlog, geestelike worstelstryd wat vir elkeen van ons die belangrikste ding moet wees wat jy in hierdie wêreld doen. Is ons gereed? Weet ons wie ons is?

Laai af

Jesus is ons Eksodus

Skriflesing: Joh 13:31 tot 14:12
Teksvers: Johannes 14:6

“Laat julle harte nie ontstel word nie….” Maar glo! Glo in God, glo ook in Jesus Christus… Dit is die boodskap vanuit die Johannesevangelie wat so helder weergalm: Glo! Glo dat Jesus waarlik die Christus is, die Verlosser van hierdie wêreld.

Dit weerklink ook so duidelik in die “Ek is”-uitsprake waarmee Jesus dit bo alle redelike twyfel stel dat Hy waarlik die Verlosser is. Nie alleen is Hy die Brood van die lewe nie, Hy is ook die Lig van die wêreld. Hy is die deur van die skape. Hy is die goeie Herder wat Sy lewe gee vir die skape, want Hy self is ook die opstanding en die lewe… En nou hoor ons dit hier ook, dat Jesus die weg, die waarheid en die lewe is…

In al hierdie dinge is Jesus nie alleen besig om Sy dissipels te leer wie Hy is nie, Hy is ook besig om hulle voor te berei vir alles wat nog voorlê: Die pad van geloof wat hulle moet stap.

Ons staan vervolgens stil by Jesus wat die Weg, die waarheid en die lewe is. Amen

Laai af

« Older posts Newer posts »