Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Etiket: Sondag 7 (Page 1 of 3)

Deur geloof word jy gered

Skriflesing: Lukas 17:11-19 (2020)
Teksvers: Lukas 17:18-19
HK: Sondag 7

Tien melaatse manne wag vir die Here by sy aankoms in ‘n dorpie oppad na Jerusalem. Hulle bly op ‘n afstand staan, want daar is streng reëls vir melaatse mense, hulle mag nie te naby kom, dat die siekte aansteek nie. Hulle roep op ‘n afstand nie om gesond gemaak te word nie, maar dat die Here aan hulle genade bewys. 

Op sy woord gaan hulle na die priester wat hulle rein moet verklaar, en word gesond. Maar slegs een man draai om en bring dank aan God. 

Nege manne word rein deur die barmhartigheid van Christus, maar slegs een word rein deur geloof. 

Reddende Geloof

Skriflesing: Markus 16:9-20 (2020)
Teksvers: Markus 16:16
HK: Sondag 7

Ons belydenis maak ‘n noodsaaklike en belangrike onderskeid oor wat ‘n ware geloof is. Hierdie onderskeid is belangrik om te verstaan wat die verskil is tussen geloof, en ‘n ware geloof. 

As ‘n mens mooi daaroor nadink, is alle mense gelowig. Elke liewe mens op aarde glo in iets of iemand. 

Die kwessie wat ons Here Jesus aanspreek, is ‘n reddende geloof, want nie alle geloof red nie. 

Glo in die Here Jesus Christus! 

Skriflesing: Hand16; 
HK Sondag 7 
Teksvers: Hand 16;31 

Daar is geen ander manier waardeur ‘n mens gered kan word nie, as dat hulle in Hom GLO wat God voorsien het as Middelaar en Verlosser, nl. Jesus Christus die Here. Hy wat mens geword het en vir al ons sondes ten volle betaal het en so volkome versoening gedoen het, dat God hulle sondes kan en sal vergewe! 

Wat moet ‘n mens dan nog doen om gered te word? 

Glo. Glo is immers om Hom te KEN soos die Bybel Hom openbaar en dan ook ten volle te VERTROU dat Hy vir JOU hierdie versoeningswerk volbring het…. te glo dat God jou sondes ter wille van Hom ten volle vergewe. Kom ons vier dit in die teken van die Nagmaal hierdie Sondag. Neem, eet, drink en GLO! 

Jesus bid dat ons geloof nie sal ophou nie 

Skriflesing: Lukas 22:24-34
Teksvers: Lukas 22:32
HK: Sondag 1 en 7

Geloof in God maak ons opgewonde. Daar is min dinge wat ‘n mens so hart so vrolik maak as wanneer jy weet dat God jou liefhet en deur sy genade as sy Eie kind aanneem. Maar om te glo is nie altyd so maklik nie. Somtyds is daar bykans onmoontlike omstandighede wat lyk of dit ons lewens gaan ruïneer.

So gebeur dit ook net voor die kruisiging dat Jesus die dissipels waarsku dat hulle geloof tot die uiterste getoets gaan word. Al sal ons soos Petrus Hom drie maal verloën, bid Jesus dat ons geloof nie sal ophou nie.

Net die hoogste belydenis op hierdie grootste vraag sluit jou in die eenheid van die ware geloof in

Skriflesing: Matteus 6: 13-20 
Teksvers: Matteus 6:13,14 
HK Sondag 7 

Jesus vra die mees belangrikste vraag moontlik. Hierdie vraag is die kernpunt van die evangelie en moet deur elkeen en ook deur jou beantwoord word: “Wat dink jy van Jesus?” Nadat Jesus Homself aan gebed gewy het, wandel Hy met sy dissipels tussen die dorpies van die omgewing. Al wandelende praat Hy met sy dissipels en vra hulle dan die vraag: “Wie, sê die mense, is die Seun van die mens?” Kom ons plaas die vraag van Jesus in ons tyd? 

Wat is die wêreld, die man op straat se mening oor Jesus? Die filmwêreld se mense meen Hy is ‘n “superstar”. Sommige mense soos die Islam meen dat Hy ‘n groot profeet was wat ‘n mooi voorbeeld was. Ander meen Hy was ‘n Messias vir die onderdruktes. Nog ander meen dat Hy ‘n Groot Leraar van Etiese waarhede was. 

Baie kom baie nader aan die waarheid, maar naby is nie goed genoeg nie. Hulle ken Jesus nog vir wie Hy werklik is nie. 

Geloof maak jou ‘n erfgenaam van God se vryspraak, maar dien tot veroordeling van die wêreld

Skriflesing: Genesis 6 en Hebreërs 11:1-7
Teksverse: Genesis 6:22 en Hebreërs 11:1&7
HK: Sondag 7

Hebreërs 11:1 dui aan dat geloof sekerheid gee oor dit wat ons op hoop en oortuig ons van die dinge wat ons nog nie kan sien nie.

In die lewe van Noag het hierdie woorde ook vir hom en sy gesin tot redding gegeld. Hy het die Here met eerbied en ontsag gehoorsaam en in geloof die ark gebou.  Die Here het hom immers gewaarsku oor iets (die sondvloed) wat gaan kom, maar waarvan daar vir ‘n lang tyd niks sigbaar was nie. Sy gelowige gehoorsaamheid en vertroue in die Here het meegebring dat die ark vir hom en sy gesin gereed was om in te gaan toe die sondvloed plaasgevind het. So is hy en sy hele gesin gered van God se oordeel oor die wêreld. 

Sy geloof en gehoorsaamheid aan die Here het egter nie net tot redding gelei nie, maar ook tot ‘n getuie van verooderling vir al die mense van die destydse wêreld. Teenoor die veroordeling van die ongelowige mense, het Noag deel ontvang van die vryspraak van God se oordeel en so ‘n erfgenaam geword van die ewige heerlikheid.

« Older posts