Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Kategorie: 1 Korintiërs (Page 1 of 5)

Christus het deur sy opstanding die dood oorwin.

Skriflesing: Mat 28:1-10; Kol 3:1-17; Rom 8:11,34
Teksverse: Mat 28:5-7; Kol 3:1,2; 1 Kor 15:3-6,20,21

Die dood word dikwels beskou as ‘n onherroeplike, onherstelbare verlies.   Mense dink dit is die ergste wat met ’n mens kan gebeur, jy gaan dood en dan is dit klaar met jou.  Maar, Christus se opstanding uit die dood, is die grootste wonder van alle tye!  Juis die sondige mens wat nie glo in die opstanding nie, is hier totaal en al verkeerd bewys, wat menslik onmoontlik is, het deur die krag van God waar geword.   Die skepping het as ’n ware in afwagting asem opgehou, sou Jesus Christus uit die dood opstaan of nie.  Kolossense konstateer die feit dat ons saam met Christus uit die dood opgewek is.   Ons glo dit en bely dit en die Heilige Gees getuig dit in ons harte.  Dit is ook ons belydenis dat Christus nie net uit die dood opgestaan het nie, maar ook dat daar vir ons nut is in sy opstanding.

Hoe sien jy jou dankie?

Skriflesing: 1 Korintiërs 1:1-8
Teksvers: 1 Korintiërs 1:4-8
HK: Sondag 32

Van kleins af leer ons kinders om “asseblief” en “dankie” te sê. Nie net is dit goeie maniere nie, dit wys op ‘n innerlike ingesteldheid. Iemand wat dankie sê, is dankbaar. 

Een van die dinge wat ‘n mens geweldig kan ontstel is wanneer iemand bv kos bedel, maar dan daardie kos in die asblik gooi. 

Dit is egter presies wat ons ook in ons geestelike lewe doen. So maklik word ons bedelaars van God se genade, maar gooi in die asblik wat God aan ons gee, sonder dankie. Of dat ons dink dat ons sekere dinge verdien. Dan is daar ook geen dankie nie. 

Ons staan vanaand stil by die eerste woorde aan die Korintiër gemeente met die oog op die rede waarom ons goeie werke moet doen, met die vraag: hoe sien jy jou dankie? 

Die krag van die Heilige Gees oortuig en bring die geloof 

Skriflesing: 1 Kor 1:18-2:16 (1983) 
Teksvers: 1 Kor 2:4 
HK: Sondag 20 

Om die evangelie, die blye boodskap te verkondig, vra nederige afhanklikheid van die Here. Daar is nie groot geleerdheid of hoë woorde nodig nie, net ‘n diepe afhanklikheid van God. God gee dan deur die kragtige werking van die Heilige Gees die bevestiging van die evangelie in die harte van sy kinders. Geloof kom dus nie deur die wysheid van mense, deur die vermoë van kragtige predikers nie, maar deur die werking van die Heilige Gees met die krag van God. 

1 Kor 2:4 

“Die boodskap wat ek verkondig, het julle oortuig, nie deur geleerdheid en welsprekendheid nie, maar… deur die kragtige werking van die Gees.” 

Nie tevergeefs nie! 

Skriflesing:1 Kor 15 (1983) 
Teksvers:1 Kor 15:1,14,58 
HK: Sondag 17 

In ons tyd is die aanslag teen die kerk van Christus veral gerig op die waarheid van die Woord. Die gewoon historiese waarheid. So ook die vraag of Jesus werklik uit die graf opgestaan het. Verskeie argumente word gewoonlik tot vervelens toe geopper. 

Die interessante van die Woord is dat dit al in Paulus se dae ‘n vraag was, en dat Paulus nie die historiese bevraagteken nie, (wel eenvoudig bewys), maar dat hy wel daaroor bekommerd is of ons dit werklik wel glo. Daarsonder is alles, ook jou geloof totaal tevergeefs. 

Deur die dwaasheid van die prediking versamel Christus sy kerk 

Skriflesing: 1 Korintiërs 1:18-2:16 (2020)
Teksvers: 1 Korintiërs 1: 21-24

Die dwaasheid van die prediking? Wat kan dit tog beteken? Is dit wanneer ‘n mens dom voel na ‘n preek as jy dit nie verstaan het nie? 

Soms wonder ons oor waarom God sekere dinge op sekere maniere wil gedoen hê. Wanneer dit kom by die wyse waarop God se kerk bymekaar gemaak word, is dit ook so uitsonderlike getuienis waar die Koning van die kerk ons leer dat Hy self aan die woord kom deur die Woord by wyse van die prediking wat vir ons soms dwaas lyk. 

Die Laaste Adam is Lewe

Skriflesing: 1 Korintiërs 15:1-58 
Teksvers: 1 Korintiërs 15:45 

In die Moederbelofte het ons gehoor van die ewige vyandskap tussen die nageslag van Eva en die satan. Daardie profesie getuig van lewe na die dood. Dit is die hoop van die belofte soos vermeld in Handelinge 24:15 et al. Uit die natuurverbond het ons die behoud van Noag gesien, hoe die Here rus gee aan die natuur vanweë die sonde van die mens en die heerlike teken van die reënboog. By Abraham het die Here sy genade bevestig, en Abraham vrygespreek op grond van sy geloof. Hy het ook die teken ontvang deur bloed in die nageslag, sowel as ‘n land om in te woon. 

Hierdie beloftes is herbevestig by Isak, Jakob en Moses. Die wet dien as grondwet van die koninkryk en getuig van God se verlossing en gemeenskap. Dit word bevestig deur Josua en later ook Dawid. Vanoggend wil ons graag stilstaan by die gewaarwording van hierdie ewige genadeverbond waaraan ons en ons kinders deel kry in Christus, die laaste Adam. 

« Older posts