Die 2e gebod: Hoe die onsienlik God gedien wil word

(geen eiewillige godsdiens nie)
Skriflesing: Eks 20:1-6; Kol 1:14-23; 2 Kor 3:18
Teksvers: Eks 20:4-6 (2 Kor 3:18)
HK: Sondag 35

Die eerste gebod leer ons WIE ons moet – die Here, God alleen, want daar is nie ander gode nie. Die tweede gebod leer ons HOE ons hierdie God moet dien en hoe nie! In kort verbied God enige eiewillige vorm van godsdiens en gebied (leer) ons om voortdurend te vra of ons godsdiens werklik vir die Here aanneemlik is. As God dan die Onsienlike is, kán en mág ons nie karikatuurbeelde van Hom maak of maar net doen waarvan ons hou nie.

Die Woord staan sentraal in die erediens – nie net die prediking nie, maar ook alles wat ons daar aan God aanbied. Die erediens is egter die voorloper van ons daaglikse lewensliturgie, om alles elke dag te doen “soos vir die Here”. Vra jou dus voortdurend af of dit wat jy doen vir Hom aanneemlik is (Ef 5:10). Dan sal ons nie beelde van God maak nie, maar eerder beeld van God wees!!

Laai af

Tweede gebod: EIEWILLIGE GODSDIENS!

Skriflesing: Num 4: 1-6,15-20; I Sam 4:1-11; II Sam 6:1-11; I Kron 15:11-15; Kol 2:20-23 en Op 3:20
Teksvers: II Samuel 6:6-9
HK Sondag 34 en 35

In HK Sondag 34 en 35 word die eerste twee Gebooie behan-del. Die Eerste gebod handel oor Wie alleen aanbid moet word. Afgode is taboe. Daar is net een Here en Hy is God. Die Twee-de gebod handel dan oor HOE hierdie God aanbid wil word. Nie deur die eiewillige maak van beelde nie maar liewer deur te luister na sy Woord en te probeer om liewer beeld van God te wees as om beelde te maak.
In die Skrif kry ons te make met die profete wat waarsku teen die eiewillige godsdiens van die mens. Die goue kalf was ’n voorbeeld. Ons eredienste en aanbiddingswyses kan ook soms so eiewillig raak dat dit voor God geen waarde meer het nie. Ussa se dood was die gevolg van Dawid se onbedagsame eiewilligheid. Hy het nie met God rekening gehou nie. Christus wil nie buite staan nie. Kom ons nooi Hom binne, in ons lewens-liturgie in!

Laai af