Tydens ons weeklikse Bybelstudie van Matteus het ons weereens besef dat die kinders aan die Here behoort. Psalm 127 stel duidelik dat hulle “geskenke van die Here” is. Kinders word aan ouers toevertrou om hulle op te voed vir die Koning en die lewe in sy koninkryk. Jesus beveel in Matteus 19 dat ons die kinders nie moet verhinder nie.
Volgens die ouers se belofte by die doop neem ons die verantwoordelik op om hierdie kinders nie net kos te gee nie, maar hulle na die Here toe te bring. Dit geskied dan juis in die huisgodsdiens wat daagliks aan die huistafel moet plaasvind. Hierin moet ons as ouers weer ernstig ons verantwoordelikheid verstaan en nakom. Ons moet ook ons kinders nie verhinder om kerk toe te kom of die katkisasie by te woon nie. Soos ‘n bouer wat steen vir steen aan ‘n huis bou, so sal ook ons taak en verbondsplig dag na dag bydra tot die geloofgroei en -opbou van ons kinders wat aan ons toevertrou is.
Ons het nogal die gewoonte aangeleer om kinders tydens ons nagmaaldienste tuis te laat bly. So gebeur dit soms dat daar kinders in die belydenisklas beland wat nog byna nooit self ‘n nagmaalviering gesien of beleef het nie. Kinders deel indirek reeds in die seën van die sakramente deur net in die eredienste teenwoordig te wees. As ouers kan uself betrokke raak by die reël van aksies vir ons gemeente se kinders en seker maak dat jou kinders daaraan deelneem en hulle so leer om verantwoordelikheid te neem vir hulle lidmaatskap as dooplidmate.
So hoor ons Jesaja wat voor die Here verskyn en eintlik bid dat die Here se kinders seën: “Hier is ek en die kinders wat die Here my gegee het” (Jes 8:18). So kom ons as huisgesinne Sondae na die eredienste onder die seënende hand van die Here, om weer in die week uit sy seën te lewe. Daarom sê Jesus vir sy dissipels as hulle die kinders wil wegstuur: … “verhinder hulle nie om na my toe te kom nie, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele” (Mt19:14).
Ds Maarten