Gereformeerde Kerk Centurion

Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Nuus

Eredienste

09:00 en 18:00 eredienste word hier uitgesaai in beeld en hier uitgesaai in klank.  
11:00 Alethea Outreach service can be followed here .

Ons gee om vir mekaar:

  • Anneme de Waard sterk aan na ʼn enkel-ligamente operasie (C13).
  • Louis Kruger het ʼn draai in die hospitaal gemaak (A7).
  • Elna de Bruin is weer opgeneem in Brits hospitaal (A2).

Ons lidmate word aan die liefdevolle versorging van die Here opgedra 

“…die Here sal my onder sy sorg neem.” Ps 27:10

Geluk

Stephanus en Karin met die doop van Reghardt Schoeman vanoggend. 

Die Kommunikaatjie

Lees dit hier

Katkisasie

Vandag (18 Oktober): Les 22, Ps 65-1:1
Volgende week: Les 23, Ps 65-1:1

Kollektes

…kan afgedra word d.m.v EFT (bankbesonderhede in ‘n kommunikaatjie) of met Zapper. Vir QR-kodes kliek hier.

Oktobermaand is Reformasiemaand

 Daar is min dinge wat ‘n mens se perspektief so drasties verander soos die werklikheid. 

In baie opsigte is daar besluite en opinies wat in ons gedagtes en gemoed gevorm word deur persepsies en opinies van ander mense. Wanneer jy boeke oor die geskiedenis lees, veral ook die Bybel, dan lees jy oor feite wat gebeur het, maar jy het nie altyd die perspektief van die omstandighede of die omgewing waarbinne hierdie dinge plaasvind nie. 

Daar is niemand van ons wat by die skepping was nie, en tog lees ons in Genesis 1-2 oor hoe God geskep het. So kan ‘n mens deur die hele geskiedenis stap, na al die plekke waar God Homself aan die mens bekend gemaak het. Soos daar diep in die woestyn by die berg Sinai, of die see van Galilea. Die werklikheid bring ‘n nuwe begrip, en beter verstaan. 

Eers wanneer jy daar op die berg Karmel staan en afkyk oor die Jisreel vlakte, en agter jou die deinserigheid van die see kan sien, verstaan jy wat gebeur met Elia en die Baalprofete, en die dienskneg wat ‘n wolkie bespeur op die horison. Wanneer jy in die hawe van Perge staan en sien hoe groot die Taurus-berge is, dan het jy begrip vir Johannes Markus wat besluit om huistoe te gaan. 

Tog kan hierdie perspektiewe nie die feite verander nie, hoewel dit help om dit te begryp. So is daar bitter min van ons hedendaagse tyd wat begrip toon vir die skoene waarin Luther homself bevind het op die Ryksdag van Worms. Waar hy gelei deur God se Gees, homself verbind aan die Woord van God alleen as die hoogste gesag. 

In Oktober gedenk ons die begin van die Reformasie waar Luther die 95 stellings teen die kerkdeur van Wittenberg vasgenael het om daaroor gesprek te voer. Die gevolge was ‘n totale omwenteling van die geskiedenis. 

Die resultaat van daardie gevolge is egter ‘n nuwe perspektief op God se Woord. Mag die HERE ons lei om in ons eie lewe ‘n reformasie te ondergaan, om te kan antwoord teen die tydsgees en wêreldse verleidinge dat God se Woord jou gewete bind aan die waarheid. 

“Want die woord van God is lewend en kragtig en skerper as enige tweesnydende swaard, en dring deur tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg, en is ‘n beoordelaar van die oorlegginge en gedagtes van die hart.” Hebreers 4:12 

Lourens (vdm) 

Wees Voorstanders van Goeie Werke

Skriflesing: Titus 2:11-3:11 (2020)
Teksvers: Titus 3:8
HK: Sondag 32

Goeie werke het ewigheidswaarde. Nie omdat ons deur goeie werke gered word nie, maar ook nie dat ons daarsonder gered word nie. 

Jakobus getuig immers dat geloof sigbaar word in die werke van die mens. As jy iemand se geloof wil sien, sal dit sigbaar word in die werke wat daardie persoon doen. 

So getuig die apostel Paulus ook teenoor Titus, dat Christus ‘n volk vir Homself verkry wat ywerig is in goeie werke. Daartoe moet alle gelowiges bereid wees tot goeie werke, en sorg dra om goeie werke voor te staan, dit is immers wat goed en nuttig is vir die mense. 

Jesus op die stembrief!

Skriflesing: Matteus 26:47-56; 27:11-31; Josua 24; Psalm 27:10 (1983)
Teksvers: Matteus 27:17

Barábbas is ‘n figuur waarvan ons eintlik omtrent niks weet nie en tog speel hy ‘n belangrike rol in die diepe lyde van Jesus Christus. 

Net soos by Josua 24 word die volk voor ‘n keuse gestel en die naam ‘Jesus’ kom letterlik tweemaal op dieselfde stembrief! 

Ons daaglikse lewe en al ons doen en late draai meesal rondom keuses. Ons maak goeie én slegte keuses. Mag die Here met sy Gees ons in elke besluit lei, sodat ons hele lewe Hom alleen kan verheerlik. 

“Aan Hom behoort die heerlikheid tot in alle ewigheid” 

Verkiesing om ‘n herder en leraar te beroep

 Die gemeente staan voor ’n belangrike en verantwoordelike taak: die beroeping van ’n herder en leraar. Dit is nie bloot ’n administratiewe besluit of ’n keuse tussen twee mense nie. Dit is ’n saak waarin ons as gemeente saam voor die Here staan en vra: Wie wil die Here aan hierdie gemeente gee? 

Die Kerkorde van die GKSA gee in artikels 4 en 5 die raamwerk waarbinne die beroeping van ’n bedienaar van die Woord moet plaasvind. Die doel van hierdie orde is om die gemeente te help om die saak verantwoordelik, ordelik en in afhanklikheid van die Here te hanteer. 

Die verkiesing van ’n tweetal behoort daarom met groot erns en gebed te geskied. Ons kies nie bloot volgens persoonlike voorkeur, bekendheid of menslike oordeel nie. Ons moet vra na iemand wat getrou aan die Woord van God is, wat die Gereformeerde belydenis onderskryf en wat die gemeente as herder en leraar kan dien. 

In Handelinge 1:23–26 lees ons hoe die apostels, nadat twee persone voorgestel is, gebid het: “U, Here, wat die harte van almal ken, wys uit hierdie twee aan wie U verkies het.” Daarna is die lot gewerp en Mattias is aangewys. 

Hierdie gebeure herinner ons daaraan dat die kerk uiteindelik nie op sy eie wysheid en voorkeur moet vertrou nie. Die Here is die Een wat sy kerk regeer. Die loting was nie ’n toevallige spel nie, maar ’n daad van geloof en vertroue in God se voorsienigheid. Wanneer ons daarom die tweetal oorweeg, laat ons dit met gebed en nederigheid doen. 

Die vraag is nie bloot: “Wie verkies ek?” nie, maar eerder: “Here, wie wil U aan ons gee?” 

Mag die Here ons as gemeente lei om met wysheid en geloof op te tree. En wanneer die besluit geneem is, mag ons dit in vertroue aanvaar as deel van die Here se regering van sy kerk. 

Laat ons daarom saam bid dat die Here self die weg sal wys en aan ons ’n herder en leraar sal gee wat Christus getrou verkondig, die kudde met liefde versorg en die gemeente opbou in die geloof. 

Ds. Maarten

« Older posts