As jy met jou hart glo en jou mond Jesus Christus bely, sal jy gered word

Skriflesing: Rom. 10:1-21
Teksverse: Rom. 10:9

Die Here het aan ons Sy Woord gegee. Die Woord van God, die Bybel, leer ons dat Jesus Christus die enigste ware verlosser is. Hy het Sy woorde in ons harte kom skryf. Sy woorde het tot by ons gekom, in ons hart en in ons mond.

As jy in Jesus Christus glo, en jy bely dat Hy waarlik jou Verlosser is, sal jy gered word.

Lewe ’n vrugbare lewe, in diens van God!

Die wet van God! Die wet van Moses! Die wet van die Gees!

Skriflesing: Rom 7:1-8:4
Teksvers: Rom 8:2 

Dikwels dink ons dat ons lewe bestaan uit ’n klomp wette wat ons moet navolg. As jy die wette navolg dan kom jy darem in God se guns, dink ons. Dit is mos darem beter om goed te doen as sleg. God sien dit tog sekerlik raak en dit beteken dan iets vir my redding. Maar hoe figureer die wet van God in die vrugbare lewe wat ek moet lei. In Romeine 7,8 lees ons van: Die wet van Moses. Die wet van God. Die wet van die sonde. Die wet van die Gees.

  • Die wet van die Gees.
  • Die wet van die Gees laat ons vrug dra.
  • Die wet van die Gees gee aan ons die lewe.

God se liefde laat die hoop nie beskaam nie

Skriflesing: Romeine 5:1-11
Teksvers: Romeine 5:1-5

Tydens Paulus se 3de sendingreis het hy weens onvoorsiene omstandighede twee jaar lank in Efese gebly. Vandaar het hy die twee briewe aan die Korintiërs geskryf. Eindelik kon die apostel self na Korinte gaan waar hy drie maande lank gebly het. Vanuit Korinte skryf hy aan die gemeente in Rome, met die verlange om self ook na Rome te gaan en aan hulle van sy koms in kennis te stel. 

Die Romeine brief is egter alles behalwe ‘n telegram. Hier vind ons die aangrypende verkondiging en tema van die hele brief, dat die regverdige deur die geloof sal lewe. En omdat ons deur die geloof vrygespreek word, het ons vrede by God. 

God vervul ons met verwondering

Skriflesing: Romeine 11:33-36; Efesiërs 3:14-21
Teksvers: Romeine 11:33 en 36

Kan jy onthou hoe jy as kind in stomme verbasing en verwondering na iets gestaar het. Opgewonde! Hand voor die mond van pure verbasing. iets wonderliks wat jy gekry het? Jy kon dit nie glo nie… tog: daar is dit voor jou oë… 

Ek dink dit is met so ‘n absolute gevoel van verwondering waarmee Paulus Rom. 11:33-36 geskryf het. Sorgvuldig, keurig onderrig hy in die hele Romeinebrief sy lesers oor die waarheid van die evangelie van Jesus Christus. 

En dan, asof uit die bloute, oorweldig dit wat hy so sorgvuldig skryf, oorweldig dit hom. En dis asof hy sy leraarspen neersit, en spontaan ‘n lied begin sing… ‘n lied van verwondering. Verwondering oor die God wat hierdie verlossing aan ‘n verlore mensdom bewerk en geskenk het. 

O diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God. Hoe ondeurgrondelik is sy oordele, hoe onnaspeurlik is sy weë! 

Raak ons nog in verwondering oor die skatte van die evangelie, dat ons in verbasing daardeur oorweldig word.