Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Kategorie: Romeine (Page 1 of 8)

Rus vir die skuldige gewete

Skriflesing: Romeine 3 (1983)
Teksvers: Romeine 3:21-24
HK: Sondag 23

Jou gewete is ‘n gawe van die Here. Elke mens het een. Die gelowige se gewete kla jou by jouself en by God aan, sodat ons weens ‘n goeie gesonde sondebesef tot bekering kan kom. 

Die vraag is egter nou hoe kry ek my gewete weer stil, want ek kan nie maar net vir myself lieg nie. Jy hoef ook nie, want die waarheid sal jou vry maak. 

Die waarheid van die evangelie van Christus is ons redding, sodat ons gewete ons nie gyselaar kan hou nie. 

Uit Hom, Deur Hom, Tot Hom, Aan Hom

Skriflesing: Romeine 11:33-36 (2020)
Teksvers: Romeine 11:36

Ons jaartema kom uit die loflied van Romeine 11 dat alle dinge uit God voortkom, dat alles deur Hom gemaak en onderhou word, en dat alle dinge tot Hom bestaan. Hierin sien ons die volkomenheid van die werk van die drie-enige God. 

Die Vader is die begin en die oorsprong van alle dinge. Uit Hom het alles wat bestaan voortgekom. Deur die Seun is alle dinge geskep, en word alles onderhou. 

So ook rig die werk van die Heilige Gees alle dinge tot God in heiligmaking. Die gevolg: Aan Hom is al die eer en heerlikheid tot in ewigheid. 

Herstelde siening van verlossing

Skriflesing: Romeine 8 (1983)
Teksvers: Romeine 8:1.31

Die sieklike narsisme van die duiwel wil steeds die indruk laat dat ons in die stryd van die geloof tussen hemel en hel hang… Dis asof hy ‘n gelykstaande mededinger is om ons siele. Hy maak sy eie naam groot om ons die idee te gee dat hy die gelyke mededinger van God is. 

Dit is ‘n flagrante leuen waarvan ons deur hierdie wonderlike teks van vandag bevry word! 

God bewerk ewige vrede by Hom en toegang tot Hom in Christus

Skriflesing: Romeine 5: 1-11 (2020)
Teksvers: Romeine 5: 1-2

Vrede by God en toegang tot Hom. Wat beteken hierdie woorde? Het ons hier bloot te make met ‘n vredevolle gevoel omdat ons deur Christus verlos is? 

Paulus se gebruik van die woordjie ‘vrede’ strek veel dieper in hierdie gedeelte. En wat beteken dit dat ons toegang het tot God? Hoekom is dit besonders? 

Ons staan nie altyd daarby stil dat ‘vrede en toegang‘ tot God iets is wat ons nie van nature het nie. Paulus wys ons egter hierop. Verder verwys hy ook met klinkklare logika hoe hierdie terme vir ons vastheid en vrymoedigheid in ons verlossing gee. 

Regverdiglik Vrygespreek

Skriflesing: Jona 3:10-4:11; Romeine 3:1-31 (2020)
Teksvers: Jona 4:1-3; Romeine 3: 23-24

Ons het gesien die werk van God in ons verlossing is nie net uitsonderlik nie, maar ook uiters noodsaaklik. Hy is die Een wat ons roep, wat deur die Heilige Gees die geloof in ons wek tot ‘n nuwe lewe deur wedergeboorte. Daarby moet ons deur geloof vasgryp aan God se genade en ons hartgrondig bekeer. Deur geloof, word ons vrygespreek. 

Ons kyk vanaand na die betekenis van vryspraak, of regverdiging van die sonde in die lewe van Jona en die groot stad Nineve en die wyse waarop ons deel kry aan die geregtigheid van God. 

« Older posts