Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Kategorie: Kolossense (Page 1 of 6)

God het ons vir Hom gemaak

Skriflesing: Kolossense 1:3-23 Genesis 2:15-20 (2020)
Teksvers: Kolossense 1:15,16

Wat is die doel van die mens se bestaan? Het u al nagedink waarom jy hier op aarde is? Wat is jou doel en betekenis?

Baie mense, veral mense wat in baie moeilike omstandighede groot word, twyfel of die lewe die moeite werd is. Hulle ervaar net swaarkry en moeite, hulle lewe is een groot smart.

Ons wil graag vanoggend stilstaan by die gedagte oor wat die doel was van die skepping van die mens. Waarom het God die mens as die kroon van die skepping daargestel, en wat is jou en my taak hier op aarde?

Jou lewe gevorm na die wil van God in en deur Christus

Skriflesing: Kolossense 1 (1983)
Teksvers: Kol 1:10 (9-20)

Paulus bid vir hierdie kerkie uit die heidendom dat hulle mag groei in die geloof. Dit beteken dat hulle sal toeneem in gehoorsaamheid aan sy woord en vrugdra wat by die geloof en bekering pas. 

Paulus begrond sy aansporing of vermaning in die beskrywing van die grootheid of gróótsheid van Jesus Christus, hul ewige Verlosser. 

Wat is jou prentjie of idee van Christus se heerlikheid, mag en matesteit? Dit is nogal bepalend vir die erns waarmee jy jou lewe vorm na die wil van God. 

Christus kom ALTYD Eerste

Skriflesing: Kolossense 1:3-23 (2020)
Teksvers: Kolossense 1: 15-18

Mense hou daarvan om te wen. Om eerste te kom. Dit is ‘n ingeskape begeerte van die mens om te oorwin en bo jou omstandighede uit te styg. 

Om te wen mag ons nooit ons dryfveer wees, ten alle koste, nie. Soms verloor jy deur net te wil wen. 

Dink aan die werk van Christus, Hy wat sy lewe verloor het om eerste te wees. Deur sy lewe prys te gee, word Hy die eerste, die Een wat altyd Eerste kom. 

Ons staan vanaand stil by die loflied oor ons Verlosser en ons taak as Eerstelinge van God. 

Waardig voor die Here

Skrifgedeelte: Kolossense 1:1-14
Teksvers: Kolossense 1:9-12

Paulus skryf aan die gemeente in Kolosse as hy onder huisarres is. Natuurlik is daar sekerlik uitdagings wat lidmate te bowe moet kom, maar geloof is baie meer as net om probleme op te los. Daar bestaan ‘n diepe dank vir God se werk. Hier deel die apostel sy blydskap en sy dankbaarheid oor die goeie dinge wat hy van hulle gehoor het. Van die geloof en die liefde en die hoop. Maar hy wil ook daarmee te kenne gee, dat hierdie dinge nie alleen genoeg is of voldoende is nie, want in die geloof is daar nie ‘n versadigingspunt nie. Die gemeente moet ook nie maar net te vrede wees met die vordering wat gemaak is nie, maar steeds daarna strewe en aanhou groei in die kennis van die wil van God.

Ons staan vanaand stil by die gebed vir die gelowiges om waardig voor die HERE te leef.

Christus het deur sy opstanding die dood oorwin.

Skriflesing: Mat 28:1-10; Kol 3:1-17; Rom 8:11,34
Teksverse: Mat 28:5-7; Kol 3:1,2; 1 Kor 15:3-6,20,21

Die dood word dikwels beskou as ‘n onherroeplike, onherstelbare verlies.   Mense dink dit is die ergste wat met ’n mens kan gebeur, jy gaan dood en dan is dit klaar met jou.  Maar, Christus se opstanding uit die dood, is die grootste wonder van alle tye!  Juis die sondige mens wat nie glo in die opstanding nie, is hier totaal en al verkeerd bewys, wat menslik onmoontlik is, het deur die krag van God waar geword.   Die skepping het as ’n ware in afwagting asem opgehou, sou Jesus Christus uit die dood opstaan of nie.  Kolossense konstateer die feit dat ons saam met Christus uit die dood opgewek is.   Ons glo dit en bely dit en die Heilige Gees getuig dit in ons harte.  Dit is ook ons belydenis dat Christus nie net uit die dood opgestaan het nie, maar ook dat daar vir ons nut is in sy opstanding.

Jesus se bevel en opdrag: Julle moet mekaar liefhê!

Skriflesing: Joh 15:1-17; 1 Joh 4:7-21; Mat 22:34-40
Teksvers: Joh 13:34; Joh 15:9,12,17; 1 Joh 4:8; Kol 3:14; 1 Pet 1:22; 4:8

Jesus noem homself die ware/egte wingerdstok en sy Vader is die boer en almal wat in Jesus Christus glo, is die lote of takke van die wingerdstok. Die lote of takke word ook in twee kategorieë verdeel, die wat vrugte dra en die wat nie vrugte dra nie. 

Om vrugte te dra, moet die lote of takke gesond wees, vas aan die wingerdstok vanwaar die lote al hulle lewenssappe vandaan kry om vrugte te dra. Dit kan alles net gebeur as daar werklike liefde is. Liefde is die oorheersende en groot begrip van al die verhoudinge in die lewe. 

  • Die Vader het sy Seun lief. 
  • Die Seun het ons lief. 
  • Ons moet mekaar liefhê. 
« Older posts