Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Kategorie: Blogs (Page 1 of 51)

Gebed – Die Gelowige se Gesprek met God

 Gebed is een van die grootste voorregte wat God aan sy kinders gee. Deur gebed mag ons met eerbied, maar ook met vrymoedigheid, tot die Here nader. Dit is nie bloot ‘n lys van versoeke nie, maar ‘n persoonlike gesprek met ons hemelse Vader, waarin ons Hom loof, ons sondes bely, dankie sê en ons behoeftes aan Hom bekend maak. 

Die Here Jesus het sy dissipels geleer hoe om te bid en het self ‘n lewe van gebed gelei. Hy het dikwels afgesonder om met sy Vader te praat. Dit herinner ons daaraan dat gebed nie net vir moeilike tye bedoel is nie, maar deel van ons daaglikse wandel met God behoort te wees. 

Die Bybel leer dat God die gebede van sy kinders hoor. Tog antwoord Hy volgens sy volmaakte wil en wysheid. Soms is sy antwoord “ja”, soms “nee”, en soms “wag”. Daarom bid ons met vertroue, maar ook met oorgawe aan sy wil. 

Ware gebed kom uit ‘n opregte hart en word gedra deur geloof in Jesus Christus. Soos Filippense 4:6–7 ons leer, hoef ons oor niks besorg te wees nie, maar moet ons alles deur gebed en smeking, met danksegging, aan God bekend maak. Dan sal die vrede van God ons harte en gedagtes bewaar. 

Mag ons daarom volhard in gebed, want dit versterk ons geloof, bring ons nader aan God en leer ons om in alle omstandighede op Hom te vertrou. 

Die Bybelskool van Centurion olv ds Maarten begin eerskomende Dinsdag 4 Augustus oor die Gebed. Moet dit nie misloop nie. Ons het verskeie sprekers ingevoer. Elke Dinsdagaand van 19:00 -20:30 in die kerkgebou. Sien jou daar! 

Ds Maarten 

 Lieflike Voete

 Het u al ooit gedink aan ‘n predikant as iemand met lieflike voete? Dit klink nie heeltemal reg nie. Hoekom sal die dominee se voete lieflik genoem word? Ons vind hierdie beskrywing in Jesaja 52, wat ook deur die apostel Paulus aangehaal word in Romeine 10. 

“Want: Elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word. Hoe kan hulle Hom dan aanroep in wie hulle nie geglo het nie? En hoe kan hulle in Hom glo van wie hulle nie gehoor het nie? En hoe kan hulle hoor sonder een wat preek? En hoe kan hulle preek as hulle nie gestuur word nie? Soos geskrywe is: Hoe lieflik is die voete van die wat die evangelie van vrede verkondig, van die wat die evangelie van die goeie verkondig!” Romeine 10:13-15 (53-vertaling) 

Hier word inderdaad verwys na die “voete” van die persoon wat die evangelie, die goeie nuus verkondig. Met ander woorde: “hoe lieflik is die voetstappe van hom wat die goeie nuus bring!” (83-vertaling) 

Hierdie nuusbringers kom egter nie uit hulself nie. Die boodskapper word gestuur. Nie deur mense nie, maar deur God. God is die Een wat die opdrag gee en die stuur werk doen. Dit maak ons taak as gemeente so belangrik om te vra dat God vir ons die regte bedienaar van die Woord sal stuur. Ons as gemeente moet biddend vra na die leiding en die wysheid van God, sodat Hy vir ons die regte boodskapper sal stuur, wat die goeie nuus mag bring. 

Immers, hoe kan ons glo, sonder die boodskap van God se verlossing. Hoe kan ons God leer ken, as ons nie van Hom hoor, wie Hy is en wat Hy doen nie? Ons geloof kom deur wat ons hoor, deur die verkondiging van die evangelie van ons Here Jesus Christus. 

Daarvoor moet ons voortdurend bid. Ons moet bid dat God getroue en toegewyde boodskappers mag stuur, nie net vir ons gemeente nie, maar in sy kerk en koninkryk. Ons moet bid dat die koninkryk van ons Here mag kom, dat Hy self sy boodskappers uitstuur om sy koms aan te kondig, dat elkeen mag glo, en deur die geloof gered word. 

Lourens (VDM) 

Die Here Roep

 Roeping is baie meer as net ‘n gevoel. Roeping is ‘n opdrag van die Here. Dit geld nie net vir apostels, profete en evangeliste nie, maar vir elke gelowige. God roep ons tot verlossing. Hy roep ons tot redding. Maar verloste kinders se roeping strek verder as net om gered te word. Ons word geroep as ouers, as eggenote, in ons werk, in die gemeente, in die koninkryk. Op elke plek en op alle tye word ons geroep as getuies van God se genade en verlossing, om te getuig van die hoop wat in ons is. (1 Petrus 3:15) 

Roeping is ook om gestuur te word. Daar was baie dissipels wat Jesus gevolg het, maar slegs 12 van hulle word apostels genoem, dit beteken om gestuur te word. Hulle taak is baie spesifiek: om hulle toe te spits op gebed en die bediening van die Woord (Handelinge 6:1-4). 

So versamel Christus sy kerk. Hy stuur geroepe dienaars om die evangelie te verkondig. Want: Elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word. Hoe kan hulle Hom dan aanroep in wie hulle nie geglo het nie? En hoe kan hulle in Hom glo van wie hulle nie gehoor het nie? En hoe kan hulle hoor sonder een wat preek? En hoe kan hulle preek as hulle nie gestuur word nie? Soos geskrywe is: Hoe lieflik is die voete van die wat die evangelie van vrede verkondig, van die wat die evangelie van die goeie verkondig! Romeine 10:13-15 

Ons gemeente gaan nou ‘n nuwe opwindende fase in waar ons ‘n nuwe predikant gaan beroep. Tog is dit nie net die gemeente wat “demokraties” met meerderheid van stemme die beste kandidaat kies nie, maar God wat ons biddend lei deur die Heilige Gees om die geroepe dienaar te stuur wat Hy aan hierdie gemeente wil gee. 

Ons kerkorde reël in artikel 5 hierdie proses, dat Waar ʼn bedienaar van die Woord van een kerk na ʼn ander binne die kerkverband beroep word, geskied dit soos volg: 

ten eerste, die verkiesing deur die kerkraad en die diakens na voorafgaande gebede, met onderhouding van die reëling wat daarvoor plaaslik in gebruik of deur die kerkraad vasgestel is, en van die algemene ordinansies vir die beroepbaarheid van diegene wat buite die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika gedien het, en verder in kerke met slegs een bedienaar van die Woord, ook met advies van die klassis [65] of van die konsulent wat hiervoor deur die klassis aangewys is; 

ten tweede die goedkeuring deur die lidmate van die betrokke kerk as daar, nadat die naam vir minstens drie Sondae in die kerk afgekondig is, geen wettige beswaar ingedien is nie; 

ten derde, die kontrolering deur die kerkraad saam met die klassikale deputate van die goeie kerklike getuienis ten opsigte van leer, lewe en ampsbediening en van die losmaking; 

ten laaste, die openlike bevestiging voor die gemeente volgens die formulier wat daarvoor vasgestel is. 

Mag ons as gemeente, die vreugde ervaar van God se roeping, dat Hy self roep en stuur, en dat ons saam biddend tot die troon van genade sal nader en Hy ons gebede sal verhoor. 

Lourens (VDM) 

Die Evangelie Van Jesus Christus Ons Here

 Met die behandeling van die belydenis tydens die aanddiens, het ons die afgelope tyd veral geleer oor die betekenis van die Naam en die titel van ons Here Jesus. Hy is Jesus omdat Hy red, Hy is ons Verlosser, maar Hy is ook die Christus, die Gesalfde, wat ons laat deel in die salwing van die Heilige Gees. 

Hy is egter ook “ons Here”. Hy is die Een wat ons as eiendom koop. Hy is ons Meester en Heiland. Hy is die Middelaar, die tussenganger tussen God en mens. 

Ons vergeet soms so gou wat ons Here Jesus kom doen het, om na hierdie wêreld te kom, en as mens die vernedering van die kruis aan te durf. Omdat ons so bekend is met die Bybel en so goed weet waaroor die Bybel gaan, word ons soms afgestomp om die mooi dinge wat daarin staan raak te sien. Ons raak so besig om in die wêreld te oorleef, dat ons vergeet om te drink uit die fontein van lewe. 

Wanneer laas was jy opgewonde om jou stiltetyd te hou? Of om iemand te vertel wat jy leer ken het van God se Woord? 

Net soos liggaamlike fiksheid, moet ons geestelik fiks wees. Maar jy kan nie as jy onfiks is, dink jy gaan fiks word as jy op een dag 50 keer om die blok hardloop nie. Jy moet elke bietjie vir bietjie oefen. Jy oefen jou liggaam om gewoond te raak aan die oefening. So is dit ook in ons geestelike onfikse lewe. Moenie uitstel vir môre nie, begin vandag. Bietjie vir bietjie. Elke dag nader aan God. Elke dag toegewyd. 

“Vermy goddelose en dwase mites. Oefen jouself om godvresend te leef; want liggaamlike oefening is wel in ‘n geringe mate nuttig, maar godvresendheid is nuttig in alle opsigte. Dit hou belofte in vir die huidige én die toekomstige lewe. Dié uitspraak is betroubaar en werd om ten volle aanvaar te word. Want hiervoor werk ons hard en stry ons, omdat ons ons hoop geplaas het op die lewende God, wat die Verlosser van alle mense is, veral van die gelowiges.” 1 Timoteus 4:7-10 

Kom ons doen dit vir Jesus Christus, ons Here. 

Lourens (vdm) 

Twee kerkvaders en die wederkoms

 Clemens van Rome en Augustinus van Hippo het albei vas geglo in die wederkoms van die Here, maar hulle het dit verskillend beklemtoon. 

Clemens het baie naby aan die tyd van die apostels geleef (ongeveer n.C. 95). In sy geskrifte sien mens ’n sterk verwagting dat Christus binnekort kan kom. Die vroeë kerk het geleef met die intense uitroep: “Maranata — Kom, Here!” 

Die koms van Christus was seker én naby. Gelowiges moes daarom waaksaam, heilig en volhardend leef. Die fokus was minder op spekulasie oor tye en meer op gereedheid. 

Sy toon herinner sterk aan: 1 Tessalonisense, Jakobus en Openbaring. Die gevoel is: leef elke dag asof die Here enige oomblik kan kom. 

Teen Augustinus se tyd (4de–5de eeu) het die kerk reeds eeue lank bestaan. Daarom ontwikkel sy denke meer sistematies oor die geskiedenis en die wederkoms. Augustinus het vas geglo: Christus sal liggaamlik terugkom; die dooies sal opstaan; daar sal ’n finale oordeel wees; God ’n nuwe hemel en aarde sal bring. Maar hy was versigtig vir letterlike eindtydspekulasie. Anders as sommige vroeë kerkvaders het hy die “duisend jaar” van Openbaring 20 simbolies verstaan. 

Volgens Augustinus: Christus regeer reeds nou deur sy kerk; die huidige kerktyd is in ’n sekere sin die “millennium”; die wederkoms kom aan die einde van die geskiedenis. Vir hom was die belangrikste nie om datums uit te werk nie, maar om getrou en barmhartig te leef terwyl ons wag op die Here. 

Albei het dus vas geglo in die koms van die Here. Maar Clemens weerspieël die vurige verwagting van die vroeë kerk, terwyl Augustinus ’n meer uitgewerkte teologie van die geskiedenis ontwikkel het. 

Die vraag vir die kerk vandag (ek en jy) bly dus in alle erns of ons net teologies daaraan glo dat Jesus weer kom, en of ons soos, die eerste Christene, ook met ‘n voltydse verwagting op die koms van die Here en die nuwe aarde lewe. 

Ds. Maarten 

Nike

In die hoofstraat van antieke Efese is daar ‘n bekende standbeeld van die Griekse afgod Nike. Sy is die afgod van wen (victory) en die versinnebeelding van oorwinning. Met Nike aan jou kant is dit ‘n wen-wen. 

Dit is met hierdie wen gedagte wat die bekende sport toerusting Nike ontwikkel is. Dit is die simbool van oorwinning. Met goeie toerusting, sal jy wen. So het Nike ook deel geword van ons leefwêreld sonder dat ons ooit die simboliek daaragter verstaan. 

Immers, almal wil wen. Niemand hou daarvan om te verloor nie. Wie sal tog die grootste denkbare geskenk weggee vir ‘n vrug? Wie sal hulle siel verkoop met die prys van die ewige lewe, net om die plesier van ‘n oomblik se genot te ervaar? Net om te kan sê: ek het gewen! 

Die vraag is uiteindelik: wat het jy gewen? ‘n Goue medalje? Dalk mense se harte…? Of ‘n Eerste prys? 

Ons Here en Verlosser leer ons wat dit waarlik beteken om te wen. Hy is die Oorwinnaar oor die dood. Hy oorwin die bose. Hy oorwin die smarte van die hel. Hy oorwin die sonde. En tog het hy nooit Nike gedra nie. Hy het nie die ambisie Gehad om die beste sportster te word, of om eerste te kom in die lewe nie. Hy was nie ‘n wenner nie, want Hy is die Oorwinnaar. 

En Hy gee ook vir ons sy wenklere, die wapenrusting van God. Hy leer ons dat ons mag deel kry aan sy Oorwinning, Hy hou dit nie vir Homself nie. 

Om aan Christus deel te hê, is om te wen. Deur die geloof in Jesus word ons meer as Oorwinnaars. Ja, kyk, in Hom het jy reeds oorwin! 

Lourens (vdm) 

« Older posts