Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Kategorie: Efesiërs (Page 1 of 7)

Wat is die doel van my lewe?

Skriflesing: Efesiërs 1:1-14; Prediker 2 (1983)
Teksvers: Efesiërs 1:4

In ’n stukkende wêreld vol pyn en trauma lyk alles dikwels so doelloos en leeg. Dit is nie snaaks dat mense na die ware sin van die lewe soek nie. Die hele boek Prediker gee byvoorbeeld op ’n besondere wyse aandag aan hierdie vraag. Hy bekyk die vraag vanuit die oogpunt van ’n ongelowige en dan kry hy geen antwoord nie… totdat hy by God self uitkom: “Dien God en onderhou sy gebooie” (Pred 12:13). Daar kry mens die sin van jou bestaan. Anders nie! 

Paulus draai nie doekies om nie. Vir die Efesiërs gee hy die antwoord ondubbelsinnig: God het ons gemaak om Hom te dien. Niks anders nie. En selfs toe die mens nie meer aan sy doel kon beantwoord nie, weens die sonde en die gevolge daarvan, het God ingegryp en ’n plan gemaak. Hy het ons in en deur Christus weer sy kinders gemaak, SODAT ons weer aan ons oorspronklike skeppingsdoel kan beantwoord: Om Hom te prys en te dien. 

Saam opgebou tot ‘n woning van God

Skriflesing: Efesiërs 1:22–2:22 (1953)
Teksvers: Efesiërs 2:19-22
HK: Sondag 21

Die kerk is nie ‘n menslike instelling nie, maar God se verbondsvolk wat deur sy genadige belofte tot stand kom. 

Omdat Christus sy kerk bou tot ‘n woning, word gelowiges geroep om die eenheid wat Hy geskep het, te bewaar deur getrouheid aan die evangelie, die sakramente en Christelike tug. Die troosvolle versekering wys daarop dat Christus sy kerk voltooi as God se ewige woning. 

Die Heilige Gees as ons waarborg

Skriflesing: 2 Kor 1:15-22; Ef 1:1-14 (1983)
Teksvers: Ef 1:14; 2 Kor 1:22
HK: Sondag 20

Sekerheid is ‘n skaars ding in ons gebroke bedeling. Ons maak planne en beloftes maar dit werk nie altyd so uit nie. Kyk ook by Paulus, wie se reisplan misluk het. Dit bring groot onsekerheid in die Korinte-gemeente. 

Die apostel gebruik sy verleentheid om te verduidelik dat ons wel geloofsekerheid kan verkry maar alleen deur die Heilige Gees wat in ons woon en ons vertroos en lei tot sekerheid. 

In ons twee tekste word die Gees in oorspronklike Grieks ons “arraboon” genoem. Ons bedink vanaand hierdie beskrywing wat reeds in die OT begrond is. 

Ons Moet Soos God Wil Wees

Skriflesing: Efesiërs 4:17-5:2; Genesis 3:1-8 (2020)
Teksvers: Efesiërs 4:23-24
HK: Sondag 3

In die tuin sien ons hoe die begeerte van die mens kom as hulle die verbode vrugte sien om daarvan te eet. Die begeerte is om soos God te wil wees. Maar hierdie begeerte is boos en sleg.
Die mens wil soos God wees, en dit bring sonde voort. Tog lees ons in die Nuwe Testament dat ons strewe veral daarop gemik is om soos God te moet wees. Hoe is dit dan moontlik?

Sondebesef lei tot‘n dankbaarheidslewe

Skriflesing: Efesiërs 2:1-10 (2020)
Teksvers: Efesiërs 2:1 en 5

Efesiërs 2:1-10 is ‘n besondere perikoop wat handel oor die mens se sonde, sy verlossing in en deur Jesus Christus asook die verloste mens se lewe van dankbaarheid. 

Hierdie drie-deling kom ook in Romeine en ander boeke in die Bybel voor. Dit word verder gebruik in die Heidelbergse Kategismus, die doop- en nagmaalformuliere. 

Kom ons kyk weer nuut na die wonder-genade van die Here soos dit uiteengesit is in Efesiërs 2: 1-10. Verwonder jou weer opnuut oor die genade wat aan ons verkondig word in God se Woord, naamlik dat die Heilige Gees ons deur ons sondebesef lei tot ‘n smag na verlossing deur Jesus Christus, wat dan uitvloei in ‘n opregte dankbaarheidslewe. 

Innerlike groeikrag

Skriflesing: Efesiërs 3:16-19 (1983)
Teksvers: Efes 3:15

In die kerklike Feesjaar val Pinkster op die Sondag tien dae nà die Hemelvaart. In die gees van die genadegawe van Pinkster bid Paul hierdie gebed. 

Jy kan al die wette en letters ken en onthou en stiptelik volg, jy kan al die tradisies ken en slaafs uitvoer, maar sonder die innerlike vernuwing van die Heilige Gees bly dit net oppervlakkige, waardelose en kragtelose godsdiens. 

Kom ons bid hierdie gebed vir onsself en ons gemeente. 

« Older posts