Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Kategorie: 1 Konings (Page 1 of 2)

Bly getrou aan God, selfs onder groot druk

Skriflesing: 1 Konings 21 (2020)
Teksvers: 1 Konings 21:2,3

Uit die geskiedenis van Nabot se wingerd leer ons wat geloof, integriteit en gehoorsaamheid aan die Here inhou. Nabot by getrou en gehoorsaam aan die Here, al het hy gesterf vir sy geloofsoortuiging. Ons leer uit hierdie geskiedenis dat ons deur die werk van die Heilige Gees aan God getrou sal kan bly, selfs al sou ons doodgemaak word. Getrouheid aan God se Woord bo menslike vrees is dalk juis in ons tyd so nodig. 

Nabot was nie sommer net koppig of sentimenteel oor die grond wat hy besit het nie. Sy optrede kan ons verstaan as ons na Levitikus 25:23 kyk. Nabot het God se opdragte hoër geag as die wil van ‘n magtige aardse koning. 

Mag jy getrou bly aan die Here se wil, al is daar geweldige druk om toe te gee aan mense en moondhede wat sterker en magtiger as jy hier op aarde is. 

God behou sy volk, rus in Hom!

Skriflesing: 1 Konings 19 (1953)
Teksvers: 1 Konings 19: 18

Elia ervaar diepe moedeloosheid. God openbaar egter sy troue liefde en sorg aan Elia. Sy beloftes hou stand. 

In ons daaglikse lewe, wanneer teleurstelling en moedeloosheid ons oorweldig, herinner die Here ons hier dat ons identiteit nie in die wêreld of in mense lê nie, maar in Hom, die troue God wat sy wil laat geskied. 

Hy roep ons op om standvastig te bly in geloof en in ons diens aan Hom, terwyl ons onthou dat Hy ook in ons swakheid sy krag laat blyk. Hy sorg en dra ons deur elke deel van hierdie lewe. So kan ons in ons roeping volhard; wat dit ookal mag wees. 

God se boodskap van volmaakte hoop, in ’n stukkende wêreld 

Skriflesing: 1 Kon 19; Jak 5:16b-18; Rom 11:2 (1983)
Teksvers: 1 Kon 19:18

Ons leef in ’n stukkende, gebroke wêreld. Om ons sien ons en hoor ons van korrupsie, moord, diefstal, oorloë, aardbewings ens. Die wêreld is stukkend. Dit raak ook ons gemoedere. Dikwels is ons moedeloos en selfs troosteloos. Daar is iets van ’n hopeloosheid. Elia het na Isebel se dreigemente gevlug en in die woestyn gaan wegkruip en dit nadat God op wonderbaarlike wyse Homself en sy Almag aan Elia en die volk openbaar het. Maar dan ontvang Elia God se boodskap van volmaakte hoop, in ’n stukkende wêreld. Ons gaan na drie sake kyk: 

• Die vyand se boodskap van gevaar. 

• Die engel se boodskap van genade. 

• God se boodskap van hoop. 

« Older posts