Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Kategorie: Eksodus (Page 1 of 4)

Waarom Word Jy ‘n Christen Genoem?

Skriflesing: Eksodus 19:1-6; Op 1:4-8 (2020)
Teksvers: Eksodus 19:6; Op 1:5-6
HK: Sondag 12

Ons belydenis handel oor die Naam sowel as oor die amptelike titel van ons Here Jesus in Sondag 12. 

Ons weet Jesus beteken Verlosser, omdat Jesus ons van ons sondes verlos, maar Christus is ‘n beskrywing van die amp wat Hy beklee. Met ander woorde, watter gesag dra Jesus om wel hierdie taak te mag verrig? 

In die Ou Testament leer ken ons die drie ampte van profeet, priester en koning, waarby ons Here Jesus as die Christus, die Gesalfde Messias al drie hierdie ampte beklee. Die vraag is egter waarom jy ‘n Christen genoem word? Wat is jou rede? 

Helderheid oor God se plan vir my lewe

Skriflesing: Eksodus 19:1-11 (2020)
Teksvers: Eksodus 19:4

1. Insig in die beslissende oorwinning 

Israel het self die saakmakende oorwinning oor Egipte gesien. Israel is nie meer slawe nie. Ken jy jou vryheid volgens God se plan, gelowige? 

2. Helderheid oor versorging 

Israel ontvang ‘n goddelike perspektief op die pad vol worstelinge deur die woestyn. Ken ek hierdie goddelike perspektief? 

3. Duidelikheid oor die sentrum van God se plan 

Die kern van God se plan vir Israel was nie die verlossing uit die mag van Egipte nie. Hy het hulle na Homself gebring. Het ek helderheid oor die kern van God se plan vir my? 

Elkeen moet betaal vir sy Lewe

Skriflesing: Eksodus 30:11-16 (2020)
Teksvers: Eksodus 30:12-16

Moses is nog op die berg Sinai waar hy al die opdragte van die HERE ontvang hoe die volk Israel moet leef. Die tabernakel word beskryf en die priesters se werk, maar dan staan hier iets vreemd. Die Israeliete moet getel word, maar om getel te word, om deel van die getal van God se volk gereken te word, moet elke persoon bo die ouderdom van 20 jaar, hulleself loskoop van die HERE. 

Elkeen moet betaal vir sy lewe. So moet die Israeliete hulle lewe loskoop van God, aan wie hulle behoort. As die volk verlos is uit Egipte deur die HERE se groot mag en krag, waarom moet hulle betaal vir hulle siele? 

Geloofsdissipline van die nuwe mens       in Christus (1): Tyd om die Here te ken

Skriflesing: Eksodus 33:11-17; Joh 17:1-2; Matteus 25:1-13 (1983)
Teksvers: Eksodus 33:12,13,17

In die laaste kwartaal van hierdie jaar, onder die hooftema – Die Nuwe Mens – gee ons nou aandag daaraan hoe ons godsdienstige lewe moet wees vir gesonde groei en geloofsvolharding. 

Vandag dink ons na oor die belang van stil-wees of stil-raak om die teenwoordigheid van die Here te soek. 

In die dolle gejaag van die alledaagse lewe het ons dikwels nie tyd vir stil-sit of stil-raak nie. Dalk kort ons ook hier so bietjie vernuwing of bekering. 

Die gebooie is verbondseise

Skriflesing: Eksodus 20:1-17 (1983) 
Teksvers: Eksodus 20:3 
HK: Sondag 34 

God het hierdie een hoofdeel van die Bybel, die Tien Gebooie, met sy eie vinger geskryf. Daarin kan ons sien dat Hy, God, ag die gebooie as baie belangrik vir jou en elke ander mens se lewe op aarde. Vir Hom is dit belangrik dat jy goed sal verstaan wat die Tien Gebooie is en met watter gesindheid jy hulle moet gehoorsaam. 

As die regte gesindheid ontbreek, kan dit of daartoe lei dat jy die gebooie van God minag, omdat jy nie God se stem daarin hoor nie, of dat jy die gebooie van God – jou afgod maak. Jou vertroue is dan nie meer op God gestel nie, maar op jou eie onderhouding van die gebooie soos jy dit graag wil interpreteer. 

Juis die inleidende woorde van die wet: “Ek is die Here, jou God, wat jou uit Egipte, uit die plek van slawerny verlos het”, verduidelik juis met watter gesindheid jy hierdie gebooie moet onderhou. 

Die Verbond en die Wet

Skriflesing: Eksodus 19:10-20:1evv
Teksvers: Eksodus 20:1

Die duiwel se metodiek is gewoonlik een van vrees. Sy misleiding kan gesien word in die wanbegrip as dit by die wet van God kom. Hy saai die leuen dat dat die wet ʼn voorwaarde vir redding is. Of as jy sondig en die wet oortree gaan jy braai… Hy werk met vrees. 

Die Here werk egter heeltemal andersom. Hy werk met die liefde (en geloof en hoop). Hy gee sy wet as die liefdesgebod – die doel en die inhoud van die gebooie gaan oor liefde! Daarom is die wet nie voorwaarde vir die saligheid nie, maar wel die reël vir ons dankbaarheid, omdat die Here ons so ontsaglik liefhet. 

Hy vra eintlik net in sy Tien Gebooie: My kind, gee my jou hart, gee my jou lewe! 

« Older posts