Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Kategorie: Ou Testament (Page 1 of 69)

Wat is jóú nalatenskap?

Skriflesing: 2 Kon. 13:14-21; 2 Kon. 2:5-25; Hebreërs 11:1-4; Efesiërs 1:8-20 (1983)
Teksvers: 2 Konings 13:21

Na die kragtige bediening van 60 jaar sterf die profeet Elisa en word hy soos ‘n gewone Israeliet begrawe. 

Alhoewel hy waarskynlik groter dinge vermag het as sy voorganger, Elia, vaar Elisa dus nie op na die hemel in die heerlikheid van vurige strydwaens nie. 

En tog is daar ná sy dood troos aan die volk in die vreemde gebeure wat by die graftombe van die profeet plaasvind! 

Dink bietjie na wat hierdie gebeure vir my en jou kan beteken en hoe dit selfs heenwys na die graftombe van ons Here Jesus! 

As my hart beswyk

Skriflesing: Ps. 61 (2020)
Teksvers: Ps. 61:3

Dawid is in groot benoudheid. Hy voel homself aan die einde van die aarde. 

Wat staan hom te doen? Hy bid. Hy roep God aan in die nood. As sy hart beswyk, as sy moed hom begewe en hy geen Antwoord of hoop het nie, dan neem hy sy toevlug na God. 

In sy nood besef Dawid hy het ‘n stewige fundament nodig om op te staan, ‘n rots. Maar die rots moet ook bo hom wees, dit moet hoër wees as hy, sodat die rots hom kan help met wysheid en insig. 

Laastens besef Dawid ook dat hy self nie die rots kan vind as God hom nie daarheen lei nie. 

Bly getrou aan God, selfs onder groot druk

Skriflesing: 1 Konings 21 (2020)
Teksvers: 1 Konings 21:2,3

Uit die geskiedenis van Nabot se wingerd leer ons wat geloof, integriteit en gehoorsaamheid aan die Here inhou. Nabot by getrou en gehoorsaam aan die Here, al het hy gesterf vir sy geloofsoortuiging. Ons leer uit hierdie geskiedenis dat ons deur die werk van die Heilige Gees aan God getrou sal kan bly, selfs al sou ons doodgemaak word. Getrouheid aan God se Woord bo menslike vrees is dalk juis in ons tyd so nodig. 

Nabot was nie sommer net koppig of sentimenteel oor die grond wat hy besit het nie. Sy optrede kan ons verstaan as ons na Levitikus 25:23 kyk. Nabot het God se opdragte hoër geag as die wil van ‘n magtige aardse koning. 

Mag jy getrou bly aan die Here se wil, al is daar geweldige druk om toe te gee aan mense en moondhede wat sterker en magtiger as jy hier op aarde is. 

Waar is my eer?

Skriflesing: Daniël 7; Esegiël 1; Op 1,4,5 (1983)
Teksvers: Daniël 7:9,10

Meeste mense ken die basiese storie van die profeet Daniël, die man wat die Here so getrou gedien het, ja selfs daar in die vreemde land van die ballingskap, vér van huis en haard. Hy eet net rein kos, bid op gereelde tye en beland selfs in die leeukuil. 

Die profetiese apokaliptiese deel van die boek Daniël is egter minder bekend. Daar sien die profeet die hemele geopen in visioene van Hom wat die toekoms van die mens en die aarde en die kerk bepaal! 

Kom ons nader nog ‘n slag hierdie troonvisoene deur die oog van God se profete, en bepaal en vergelyk dan óns eerbetoning en aanbidding van Hom wat op die troon sit en alles in sy heilige almag regeer! 

“Aan Hom behoort die heerlikheid tot in alle ewigheid” 

Die Hemele Geopen

Skriflesing: Esegiël 1:1-3 (2020)
Teksvers: Esegiël 1:1
HK: Sondag 31

In Sondag 31 kom ons aan die einde van ons belydenis aangaande ons verlossing. Die 12 artikels is stukkie vir stukkie verduidelik, en daarby die sakramente wat ons geloof versterk. 

Die vraag wat begin het by Sondag 7 – oor wat geloof is, eindig nou by wyse waarop die koninkryk van God oop en toegesluit word. Ons noem dit die sleutels van die koninkryk. 

Ons staan vanaand stil by die wyse waarop God die hemele vir sondaars open. 

Ware Lewe by die dooie boom

Skriflesing: Genesis 2:4-15 (1983)
Teksvers: Genesis 2:4-5

Die Here skep die mens om in ‘n persoonlike verbondsverhouding met hulle te leef. Hy plaas die mens in die tuin van Eden, ’n plek van bome wat wys op oorvloed, skoonheid en gemeenskap met Hom. 

Die sondeval verbreek hierdie gemeenskap, bring swaarkry en die dood, en sluit die mens van die boom van die lewe uit. In Christus, die Lewe aan die kruis, herstel God egter die verhouding en gee Hy nuwe lewe deur die Heilige Gees. 

« Older posts