Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Kategorie: Ander (Page 1 of 5)

Gees, Siel en Liggaam

Aan die einde van die jaar voel baie mense uitgeput en afgetakel deur die eise van die lewe. In sulke tye is dit veral noodsaaklik om bestek te neem van ons verhouding met God. Te dikwels kry die eise van die lewe die oorhand, tot so ‘n mate dat ons verhouding met God daaronder lei. 

Paulus se boodskap aan die gemeente in Thessalonika, is dat elke gelowige selfs in uitdagende tye in hul geloof moet volhard en op God vertrou. Paulus lê ook klem op die rol wat ons as ‘n gemeenskap van gelowiges in mekaar se lewens moet vervul, wanneer hy skryf: “…bemoedig mekaar, en laat die een die ander in geloof opbou, soos julle inderdaad doen” (1 Tessalonisense 5:11). 

Paulus sluit aan by die heiligmaking van gelowiges, dat ons nie in ons geloof moet stagneer nie (Filippense 3:12-14), maar dat ons heiligwording met Hom nastreef in ons lewens (1 Tessalonisense 5:23). Hierdie heiligmaking is nie ’n menslike prestasie nie, maar die werk van die Heilige Gees, wat ons menslike bestaan omvorm. 

Dit is daar waar die samehang tussen gees, siel en liggaam duidelik word. 

Die teks verduidelik dat gees, siel en liggaam nie as afsonderlike komponente beskou moet word nie, maar as die volheid van God se werk in ons lewens. 

Die gees: Hiermee word verwys na ons bewussyn van God en die werking van die Heilige Gees in ons verhouding met God. Christus het hierdie herstel gebring deur sy kruisdood, wat ons weer in ’n regte verhouding met God stel. 

Die siel: Dit is die unieke bepaler van jou menswees – wie jy is. Dit is jou menslike selfbewussyn, die lewe binne jou wat nooit ophou bestaan nie. 

Die liggaam: Dit moet beskou word as die huisvesting van ons gees en siel. Ons moet deur ons liggaam as’t ware God verheerlik (1 Korintiërs 6:19-20). 

Anders gestel, dit is nie moontlik om in ‘n volle verhouding met God te wees sonder die samehang tussen gees, siel en liggaam nie. Sonder die Heilige Gees, kan ons nie ‘n persoonlike verhouding deur ons gees met God hê nie (Romeine 8:12-17); sonder ons unieke menswees en ‘n gesonde siel sal ons nie kan verbly in die Here nie (Matteus 11:28-29), en indien ons nie ons liggame as offer aan God bied nie, bring ons God in oneer en is ons ongehoorsaam (Romeine 12:1). Daar is ‘n verband tussen die gees, siel en liggaam in ons verhouding met God. 

Daarvoor het ons Here Jesus self na hierdie wêreld gekom en mens geword, Hy is Immanuel – God met ons. Hy het ons volkome herstel en weer verbind aan God. 

Daarom, wanneer ons in hierdie tyd van rus en besinning binnegaan laat ons strewe om ‘n hernude verhouding met God te volg- in gees, siel en liggaam. 

“En mag Hy, die God van die vrede, julle volkome heilig maak, en mag julle gees en siel en liggaam geheel en al onberispelik bewaar word by die wederkoms van onse Here Jesus Christus!” 1 Tess. 5:23 

Oudl. Werner Human 

Jubel in die Here

Die almagtige Here red sy kinders uit die ergste krisis 

Skrifgedeelte: Eksodus 13:17-22 Fokusgedeelte: Eksodus 13:18, 21-22 

Die krisis waarin Israel beland het, met die see voor hulle en die Egiptiese magte wat hulle van agter inhaal, het klagtes van twyfel en ongeloof ontlok. Moses kry egter van God die versekering dat Hy hulle sal verlos, tot verheerliking van sy Naam. Daarom word die Israeliete opgeroep om nie bang te wees nie. Hulle moet net stil wees en die verlossing aanskou. Daarby moet hulle mooi kyk, want hulle sal die Egiptenare nooit weer so sien nie. 

Mens kan dieselfde ding op twee maniere sien. Wie in ongeloof na die aardse omstandighede kyk, kom een of ander tyd in ’n krisis. Wie gelowig daarna kyk, word stil en sien hoe God in sy almag daaroor seëvier. 

Vroeër het die Israeliete gesien hoe hulle eie seuntjies in die water van die Nyl sterf. Nou sien hulle hoe die sterk manne van Egipte in die waters van die Skelfsee sterf. Die Here red hulle uit die hand van die Egiptenare. Intussen sien hulle die magtige daad (hand) van die Here oor die Egiptenaars. 

By ons kom so maklik twyfel oor God en sy almag om ons werklik in krisisse te help. Twyfel kom so maklik by die oproep tot geloof, veral as jy nog niks sien nie. Nou het Israel weer gesien. Dan vrees hulle God en glo weer in Hom. Die evangelie van ons Here Jesus Christus word gedra deur sigbare getuies. Boonop word dit ook deur die Heilige Gees in ons harte bevestig deur sy Woord en sakramente. Laat ons dan ook bid: Gee my geloof om alleen in God te glo wat my in sy genade en almag uit die grootste krisis van sonde, ja die dood en hel verlos het. Laat ek dankbaar in u jubel. 

Ds. SA (Sarel) Cilliers (Emeritus) 

Uittreksel uit Dagstukkies van die Almanak 2025. Beskikbaar by die kerkkantoor @ R130 

Kerklose Christene

Ek sal nooit Joel Beeke se woorde vergeet wat hy in 2004 by ‘n predikante konferensie gesê het nie. Hy het uit Handelinge 20:28 gepreek. Sy presiese woorde was: ‘The Church was worth His blood, is it not worth your time?’ Wanneer God mense red, plaas Hy hulle in ʼn liggaam en nie in ‘n hoek nie. Die Skrif sê: “Die wat toe sy woord met blydskap aangeneem het, is gedoop; en daar is op dié dag omtrent drie duisend siele toegebring… En die Here het daagliks by die gemeente gevoeg die wat gered is.” (Handelinge 2:41, 47). En weer: “Want ons is almal ook deur een Gees gedoop tot een liggaam” (1 Korintiërs 12:13). 

Iemand wat glad nie in ander gelowiges belangstel nie, is ongered. Johannes skryf: “Ons weet dat ons oorgegaan het uit die dood in die lewe, omdat ons die broeders liefhet. Hy wat sy broeder nie liefhet nie, bly in die dood.” (1 Johannes 3:14). Die feit dat jou naam op die lederol van ’n gemeente verskyn, beteken nie noodwendig dat dit in die Boek van die Lewe is nie. “Die Here ken die wat syne is” (2 Timoteus 2:19). Jy kan uiterlik deel wees van ’n kerk sonder dat jy innerlik deel is. Johannes skryf oor sulke mense en sê dat baie van hulle uiteindelik die kerk verlaat: “Hulle het van ons uitgegaan, maar hulle was nie van ons nie; want as hulle van ons was, sou hulle by ons gebly het; maar dit moes aan die lig kom dat hulle nie almal van ons is nie.” (1 Johannes 2:19). Let asseblief op dat daar volgens Johannes net twee kategorieë is. Iemand wat nie binne die kerk is nie, is buite; iemand wat nie deel van Christus se liggaam is nie, is in die wêreld en ongered. Moet asseblief nie dink jy kan ’n ware gelowige wees en geen belang hê by die kerk nie. As dit so is, beteken dit dat Jesus ‘n Hoof is sonder ‘n liggaam. 

Ek kan hoor hoe sommige van my lesers sê: ‘Daar bestaan in die Bybel nie iets soos lidmaatskap nie.’ ‘I beg to differ.’ Feitlik elke brief in die Nuwe Testament is aan gemeentes of hulle leraars geskryf. Selfs ’n brief aan ’n individu soos Filemon sê: “aan die gemeente wat in jou huis is” (Filemon 2). Dit is ook duidelik dat die vroeë Christene geweet het wie deel was van die gemeente en wie nie. Volgens Handelinge 1:15 was daar eers 120 mense. In 2:41 het daar omtrent 3000 bygekom, en in 4:4 het die getal van die mans alleen tot omtrent 5000 gegroei. Volgens Romeine 16:1 was Febe deel van die gemeente in Kenchreë (Korinte se hawestad). Mense wat sê lidmaatskap is nie Bybels nie, praat onsin. 

Die Bybelverse oor lidmaatskap lê dwarsoor die Nuwe Testament versprei soos kosmos in die Vrystaat. Daar is 58 ‘mekaar’-opdragte in die Nuwe Testament: dra mekaar se laste, bid vir mekaar, vergewe mekaar, vermaan mekaar, bou mekaar op, ens. Hoe kan enige gelowige hierdie opdragte effektief uitvoer as hy nie deel is van ‘n gemeente nie? As ‘n gelowige na vele waarskuwings in sy sonde volhard, moet hy van die gemeente afgesny word (Matteus 18:17). Maar hoe kan hy van die gemeente afgesny word as hy in die eerste plek nie deel was daarvan nie? Trouens, om deel te wees, is niks anders as lidmaatskap nie. 

Verder sê die Bybel dat ons gereeld die nagmaal moet vier. Volgens 1 Korintiërs 10:16-17 en 11:17-34 moet ons dit doen wanneer ons saamkom… SAAMKOM. Dit is onbybels om lidmaatskap te verag en die nagmaal saam met jou gesin te vier. Volgens Hebreërs 13:7 en 1 Tessalonisense 5:12 moet Christene hulle leiers gehoorsaam, liefhê, en respekteer. Impliseer dit nie dat jy deel moet wees van ‘n gemeente met leiers nie? As jy opsetlik by die huis bly en die preke op RSG of DSTV wil luister – iemand wat siek is het ‘n geldige verskoning – moet jy nie verwag dat die plaaslike dominee jou in die hospitaal moet besoek nie. Vra vir RSG om iemand te stuur. Ek verkies om my by Martyn Lloyd-Jones te skaar. In 1927 het hy die volgende woorde geskryf: 

‘People complain about the dwindling congregations and how the churches are going down. Why are people ceasing to attend places of worship? Why is it, that last Sunday night I noticed that, while the places of worship in Cardiff were only sparsely attended, the trains coming from Porthcawl and other sea-side places were packed out? Why did these people spend their Sunday at the sea-side and in other places rather than in the House of God worshipping? Well, the answer is perfectly plain. They obviously prefer to be at the sea-side and feel that they get more benefit there than they do in their chapels and churches. Now it is no use our arguing with people like that, it is no use our telling them that they really do not get greater benefit there, because they honestly believe that they do… What I feel like saying to these trippers is this: If you honestly believe…that you derive greater benefit by spending your day in the country than you do by attending a place of worship, well then, go to the country. Don’t come here if you honestly feel that you could do better elsewhere. Unless you feel that something is being offered and given to you here which no other institution can offer or equal, well then, in the name of Heaven, go out into the country or to the sea-side. The church of Christ is a church of believers, an association of people banded togeth-er by a common belief and a common love. You don’t believe? Well, above all, do not pretend that you do. Go to the country and the sea-side. All I ask of you is, be con-sistent. When someone dies in your family, do not come to ask the church in which you do not believe to come to bury him. Go to the sea-side for consolation…’ 

Liewe leser, jy moet asseblief besef dat lidmaatskap nie ’n blote formaliteit is nie. God verwag toewyding. In die eerste gemeente het die gelowiges hulleself aan goeie prediking, geestelike gemeenskap, die nagmaal en gesamentlike gebed gewy
(Handelinge 2:42). Ek verstaan nie hoe mense sonder gemeenskap deur e-kerk of
preke op die radio wil groei nie. Die Skrif sê dan: “en laat ons op mekaar ag gee om
tot liefde en goeie werke aan te spoor; en laat ons ons onderlinge byeenkoms nie
versuim soos sommige die gewoonte het nie, maar laat ons mekaar vermaan, en dit des te meer namate julle die dag sien nader kom.” (Hebreërs 10:24-25). As jy nie saam met die gelowiges wíl vergader nie, sal Jesus jou nie spesiaal in jou sitkamer ontmoet nie. Toe Jesus ná sy opstanding met die dissipels ontmoet het, was Thomas nie daar nie. Jesus het nie moeite gedoen om hom in die week te ontmoet nie.

Thomas moes wag tot die volgende Sondagaand (Johannes 20:24-29).
As jy van die gemeentelike byeenkomste af wegbly, sal jy seën mis. Volgens Paulus
en Johannes openbaar Jesus sy heerlikheid in die gemeente (Efesiërs 3:21,
Openbaring 1:13, 20, 2:1). Martyn Lloyd-Jones het gesê:

‘People who neglect attendance at the house of God are not only being unscriptural – let me put it bluntly – they are fools. My experience in the ministry has taught me that those who are least regular in their attendance are the ones who are most troubled by problems and perplexities… Moreover, those who do not attend God’s house will be disappointed some day, because on some favoured occasion the Lord will descend in revival and they will not be there. It is a very foolish Christian who does not attend the sanctuary of God as often as he possibly can, and who does not grieve when he
cannot.’

Dalk ken jy die storie van die man in die noorde van Skotland? Hy was baie ongereeld by die kerk. Die dominee het hom op ‘n koue wintersaand besoek. ‘n Kaggelvuur het gebrand. In doodse stilte het die dominee en die man na die vuur gekyk. Die dominee het later opgestaan en met ‘n ystertang ‘n kooltjie uit die vuur gehaal en eenkant gesit.

Die kooltjie het al hoe flouer begin brand, totdat dit swart was. Die dominee het die kooltjie in die vuur teruggesit. Na ‘n kort rukkie het dit weer gegloei. Die dominee het opgestaan en die man gegroet. Hy het die boodskap gekry.

Ivor Jefferies
(https://goeietyding.wordpress.com/2016/02/24/die-probleem-met-kerklose-christene/)

DORDTSE LEERREËLS

Die beslissing van die Nasionale Sinode van die Gereformeerde Kerke van die Verenigde Nederlande, wat in die jare 1618 en 1619 in Dordrecht gehou is oor die bekende vyf leerstellings waaroor in die Gereformeerde Kerke van hierdie Verenigde Nederlande verskil ontstaan het. 

Hoofstuk 1: GODDELIKE UITVERKIESING EN VERWERPING 

1. Alle mense het in Adam gesondig en hulle skuldig gemaak aan die vloek en die ewige dood. Daarom sou God niemand verontreg het as dit sy wil was om die hele menslike geslag in die sonde en vervloeking te laat bly en vanweë die sonde te veroordeel nie. Daarom leer die apostel: “die hele wêreld is voor God doemwaardig (Rom 3:19). Almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God” (Rom 3:23) en: “Die loon van die sonde is die dood” (Rom 6:23). 

2. Die liefde van God is egter hierin geopenbaar dat Hy sy eniggebore Seun in die wêreld gestuur het “sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê” (1 Joh 4:9; Joh 3:16). 

3. Om mense tot geloof te bring, stuur God uit louter goedheid verkondigers van hierdie vreugdevolle boodskap na wie Hy wil en wanneer Hy wil. Deur hulle diens word die mense geroep tot bekering en geloof in Christus, die gekruisigde, want: “Hoe kan hulle in Hom glo van Wie hulle nie gehoor het nie? En hoe kan hulle hoor sonder een wat preek? En hoe kan hulle preek as hulle nie gestuur word nie?” (Rom 10:14,15). 

4. “Die toorn van God bly op hulle wat hierdie evangelie nie glo nie. Hulle wat die evangelie egter aanneem en die Verlosser, Jesus, met ‘n ware en lewende geloof omhels, word deur Hom van die toorn van God en van die verderf verlos, en Hy skenk hulle die ewige lewe“ (Joh 3:36; Mark 16:16). 

5. Die oorsaak of skuld van daardie ongeloof, net soos van alle ander sondes, lê beslis nie by God nie, maar by die mens. Die geloof in Jesus Christus en die saligheid deur Hom is egter ‘n genadegawe van God. Soos geskrywe is: “Uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God” (Ef 2:8), ook: “Dit is aan julle genadiglik gegee om in Christus te glo” (Fil 1:29). 

6. Dat God aan sommige mense in die tyd die gawe van die geloof skenk en aan ander dit nie skenk nie, volg uit sy ewige besluit. Immers: “Aan God is al sy werke van ewigheid af bekend (Hand 15:18), en Hy doen alles volgens die raad van sy wil” (Ef 1:11). Volgens hierdie besluit maak God genadiglik die harte van die uitverkorenes ontvanklik – hoe verhard hierdie harte ook al mag wees – en buig hulle om tot geloof. Hulle wat egter nie uitverkies is nie, laat Hy volgens sy regverdige oordeel in hulle boosheid en verharding bly. Hierin veral kom vir ons tot openbaring die diepe, barmhartige en tegelyk regverdige onderskeiding tussen die mense wat almal ewe verlore is. Dit is die besluit van die uitverkiesing en verwerping wat in die Woord van God geopenbaar is. Verkeerde, onreine en onstandvastige mense verdraai hierdie leer tot hulle eie verderf, maar aan die heiliges en godvresendes gee dit ‘n onuitspreeklike troos. 

In God alleen kan ons Rus vind

Die afgelope semester het ek vir Aurelius Augustinus beter leer ken. ‘n Man uit Afrika, en enigste sg. Roomse “heilige” uit die vasteland. Augustinus het egter geleef lank voor die Rooms Katolieke kerk selfstandig geword het. Tereg word hy ‘n kerkvader genoem. Hoewel hy in ‘n Christelike huis groot geword het, is dit eers op ongeveer 33 jarige ouderdom wat hy tot bekering kom. Een van die eerste dinge wat hy gedoen het, en ook een van die bekendste werke, is sy Confessionnes (Belydenisse). 

Hierdie is nie gewone belydenisse nie, dit is persoonlike gebede wat ‘n mens se hart aangryp. As professor in welsprekendheid, is dit gepas dat Augustinus ons leer waaroor ons kan bely: om God te loof en te prys vir Sy genade. 

Mag jou lewe ook ‘n belydenis wees tot lof en eer van God se genade. Hier is sy eerste hoofstuk van sy eerste boek. Mag hierdie jaar ook vir jou ‘n nuwe hoofstuk bring. 

“Here, U is groot en baie lofwaardig. U is groot in mag en U wysheid is onberekenbaar. ‘n Mens, ‘n deeltjie van U skepping, wil U loof. Ja, ‘n mens wat sy eie sterflikheid met hom saamdra, wat die bewys van sy eie sonde met hom saamsleep, ook die bewys dat U die hoogmoediges weerstaan, dié mens, dié stukkie van U skepping, wil U tog loof. U wek hom op om vreugde daarin te vind om U te loof, omdat U ons vir Uself geskep het, en daarom is ons harte ook onrustig in ons totdat dit rus vind in U. 

Here, gee tog dat ek kan weet en verstaan wat eerste is: om U aan te roep of om U te prys? Wat is eerste: om van U te weet of om U aan te roep? Maar wie roep U aan as hy nie van U weet nie? In sy onkunde kan hy mos ‘n ander wese in U plek aanroep. Of bid mense eerder tot U sodat hulle U kan leer ken? Maar hoe sal mense tot iemand bid aan wie hulle nie tot geloof gekom het nie? En hoe kom mense tot geloof as iemand U nie aan hulle verkondig nie? 

Mense wat die Here soek, sal Hom prys. As hulle die Here soek, vind hulle Hom en wanneer hulle Hom vind, sal hulle Hom prys. Ek wil na U soek, Here, wanneer ek U aanroep en ek wil U aanroep omdat ek in U glo. U is immers aan ons verkondig. My geloof roep U aan, Here, die geloof wat U aan my geskenk het, die geloof wat U in my ingeblaas het deurdat u Seun mens geword het, en deur die werk van hom wat U aan my verkondig het.” 

(Vertaling van prof Jan Scholtemeijer, eggenoot van sr Rina) 

Gebed is die suurstof van die geloof

Jak 1:2-8

Jakobus skryf in hierdie paar verse oor beproewings en die geloof wat die toets moet kan deustaan. Die doel hiervan is dat ons geestelik ryp kan word. Sodoende kan ons leer om te volhard, om aan te hou sonder ophou. Jakobus sê dat as jy dink dat jy verdere wysheid hieroor nodig het, moet jy dit van God bid. Daar is mense wat bid, maar daar gebeur niks nie! Die rede hiervoor, sê Jakobus, is dat hulle verkeerd bid. Verder het Jakobus dit oor mense wat altyd twyfel, altyd onbestendig is, d.w.s. veranderlik, nie blywend nie en wispelturig. So ’n mens, sê Jakobus, sal niks van die Here ontvang nie. Dit gaan hier onder andere oor die manier van bid ook oor die belangrikheid van die gebed vir die Christen. Iemand het dan ook die gebed die suurstof van die geloof genoem. 

Gebed is ook die vernaamste deel van dankbaarheid teenoor die Here. Om te bid is om te glo dat God daar is en sal doen wat Hy beloof het. 

Die mens kan nie meer in volle oorgawe en ongestoord bid nie. Voor jy gaan slaap, begin jy bid en voor jy die amen uitgespreek het, het jy soms al aan die slaap geraak. God het aan die gelowig die wonderlikste gawe geskenk, naamlik om te kan bid. Iemand anders noem gebed die asemhaling van die siel vir die gelowige. 

Die wonderlike van die gebed is dat dit aan geen bepaalde plek gekoppel is nie. Ons kan en mag orals bid: In die kerk, in die huis, in die trein, in die kombuis, in die kantoor, in die motor. Ons kan en mag en moet vir alles bid: ons studies, ons kerk, ons huwelik, ons kinders, ons landsprobleme, ons gesondheidstoestand, werksomtandighede, eensaamheid, ouderdom en gebreke, ja vir alles! Jesus het dikwels vir die dissipels gesê dat hulle in hulle binnekamer moet gaan om te gaan bid. 

’n Christen sonder gebed is ondenkbaar. As ’n gewlowige nie meer gereeld en opreg bid nie, is dit die eerste en ernstige krakie in sy geloofslewe. Gebed is daarom die asemhaling van jou geloof, die suurstof vir jou hele lewe. “Bid gedurig.” 1 Tes 5:17 

(Bron: Askes, H. 1993. Die Ouderling vandag. bl. 113ev) 

« Older posts