Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Kategorie: Ander (Page 1 of 10)

 OM IN CHRISTUS TE STERF

(1 Tessalonisense 4:13 – 18) 

 Ons as gemeente het die afgelope tyd heelwat mense aan die dood afgestaan. Daar is baie verskillende maniere waarop mense die dood verwerk. Daar is sommige wat verval in rou asof dit die einde van alles is. Daar is ook ander wat hartseer is, maar sê “kom ons herdenk met dankbaarheid die lewe van ons geliefde.” Die een groep treur sonder hoop, die ander treur met hoop. 

Paulus sê in hierdie skrifgedeelte: “Broeders en susters ons wil nie hê dat julle onkundig moet wees oor wat met die ontslapenes gaan gebeur nie. Dan sal julle ook nie treur, soos die ander mense wat geen hoop het nie. Ons glo immers dat Jesus gesterwe het maar ook opgestaan het. So glo ons ook dat God saam met Jesus die ontslapenes, wat in hom geglo het, na hom toe sal neem.” 

Hy sê nie dat ons nié moet treur nie, maar ons moet nie treur soos hulle wat geen hoop het nie. Paulus is realisties oor die hartseer wat die dood teweeg bring. Dit is nie verniet dat hy elders die dood bestempel as die “laaste vyand” van ons lewe op aarde nie. Die dood is ons laaste vyand want dit ontneem ons van ons geliefdes en hulle kan nie vervang word nie. 

Ons hoor so dikwels, wanneer iemand met ‘n dodelike siekte gediagnoseer word, dat daar gesê word dat hy/sy het die stryd teen die siekte verloor het. Eintlik sê ons as Christene: ons het miskien die geveg verloor, maar die oorwinning behaal, en daarom treur ons mét hoop en nie daarsonder nie. 

So hoe kan ons treur met hoop? Paulus se woorde sê dit so duidelik: “Ons glo immers dat Jesus gesterwe het maar opgestaan het. Net so glo ons ook dat God saam met Jesus die ontslapenes wat in Hom geglo het, na Hom toe sal neem.” En dan val die klem op Wie in Hom geglo het. 

Aanhaling van Charles Henry Brent: “Wat is sterwe – Ek staan op die strand, ‘n boot span sy seile en die wind begin om haar weg te neem. Dit is ‘n pragtige gesig om te sien. 

Hierdie boot vol goedere gelaai met haar groot maste en seile verdwyn dan oor die horison en iemand langs my sê: Sy is weg, Weg waarheen? Heeltemal uit my gesigsveld uit. En op daardie oomblik sien iemand aan die anderkant haar en sê hier kom sy. En dit is sterwe. Uit my gesigsveld.” 

Mag die Here ons deur sy Gees so lei dat ons nooit sonder hoop sal treur nie, maar met verwagting sal uitsien na Jesus se koms. 

Oudl Sollie Nel 

 Sinode 2026 Terugvoer

 Tydens die afgelope Algemene Sinode 2026, is daar meer as 100 besluite geneem oor sake wat die kerke raak. Daar is veral baie aandag gegee aan die opleiding van predikante, wat weens die NWU se onttrekking, in die spervuur beland het. 

Die eenheid van die GKSA, of te wel die kerkverband, is geskoei op gesamentlike Skrifgefundeerde besluite, wat met meerderheid stemming bepaal word wanneer afgevaardigdes van verskeie selfstandige gemeentes, van tyd tot tyd bymekaarkom (klassis of sinode). Wanneer verskeie selfstandige kerke vergader, word dit geag as ‘n meerdere vergadering. Die spesifieke sinode moet sake ondersoek en opdragte uitvoer en saam biddend onder leiding van die Heilige Gees besluite neem in die lig van die Skrif, belydenis en kerkorde, waarna die sinode weer ontbind. 

Die Gereformeerde Kerke is in Christus aan mekaar in eenheid verbind ingevolge die hierdie besluite op grond van die Skrif, belydenis en kerkorde, wat in die verskeie artikels ten doel het om goeie orde in die kerk van Christus te onderhou (sinode besluite is volgens Art 31 KO bindend vir alle kerke in die kerkverband). 

Die sensitiewe saak rondom vroue in besondere dienste is al verskeie jare deur die Algemene Sinodes ondersoek en het sedert 1988 studies, besware en appèlsake aangehoor. ‘n Spesiale Sinode in 2009 het tot die gevolgtrekking en besluit gekom dat vroue nie in die amp van leierskap dws ouderlinge en predikante mag dien nie, maar wel in die diakonale amp. Hierdie saak het weer gedien op verskeie opvolgende sinodes van 2015, 2018 en 2023, waar die gevolgtrekking en besluit telkens weer bevestig is. Hierdie saak het nie weer op vanjaar se sinode gedien nie. 

Die opdrag aan Sinode 2023 was om in 2026 advies te gee oor kerke wat nie sinodebesluite as bindend ag en daarby hou nie. Die Sinode 26 het as volg besluit: 

Die nie-onderhouding van Sinode besluite insake VIDA kom neer op self-losmaking van die kerkverband. Kerke word opgeroep om hulle te bekeer en in gehoorsaamheid aan Christus sinode besluite te handhaaf. 

Die sinode roep kerke, wat hulle nie aan die sinodebesluite insake VIDA hou nie, op om die eenheid in die kerkverband te soek en te beleef. Aan die betrokke kerke word ‘n jaar tyd gegee om hulle besluit om vroue in die ouderling amp te bevestig terug te trek …” 

Die Algemene Sinode het dus besluit dat gemeentes volgens Art 31 KO by die sinodebesluite moet hou of die kerklike weg moet volg, terwyl daar op pastorale wyse met hul omgegaan moet word om binne die volgende 12 maande die besluite te eerbiedig. 

Aangesien GK Centurion, as bruid van Jesus Christus, haarself nog al die jare met sinodebesluite vereenselwig, het hierdie kwessie rondom vroue in besondere dienste geen direkte impak op ons gemeente se bediening nie. In ons strewe na eenheid in die kerk, sal dit egter diepe hartseer veroorsaak en betreurenswaardig wees indien kerke as gevolg hiervan van die kerkverband wil afskei. 

Die kerkraad besef dat hierdie besluit na aan die hart van sommige lidmate is en diepe ontsteltenis kan veroorsaak. Ons versoek u in liefde, dat indien jy onseker voel of ontsteld is oor die besluit van die sinode, om eerder te fokus op die bediening van die GK Centurion en die uitbreiding van die Evangelie in ons gemeenskap. 

Mag ons die eenheid in die kerk van Christus altyd kosbaar ag en mag ons troue Koning ook hierin sy kerk bewaar. 

U broers in Christus 

Die kerkraad 

 WORSTELING BRING SOMS TWYFEL

 Lees Psalm 73 : 1 – 20. Wie van ons kan in alle eerlikheid sê: dat hy nog nooit getwyfel het nie. Ons almal twyfel een of ander tyd. Asaf het sy eie omstandighede met die van goddelose vergelyk en toe het hy oor God se goedheid en regverdigheid begin twyfel. Die probleem het ontstaan toe hy nie meer sy oë op die Here gehou het nie, maar na mense rondom hom begin kyk het en daardeur het hy byna koers verloor het. 

As swaarkry op jou pad kom, voel dit asof die Here jou vergeet het en aan jou eie lot oorgelaat het. Jy begin dan ook twyfel want selfs jou gehoorsaamheid en toewyding blyk soms nutteloos te wees. As jy jouself en jou omstandighede met ander mense vergelyk voel dit asof jy jou geestelike balans verloor. Jy begin gly en dan die twyfelvraag: Waarom laat U dit met my gebeur Here? 

Hoe kry ‘n mens jou voete weer op vaste grond? Jou balans en perspektief word weer herstel as jy in die heiligdom van God ingaan (Ps 73:17). Jy kry weer perspektief, as jy God en jou medegelowiges in die kerk ontmoet. Dan besef jy dat die Here besig was om jou geloof te toets. 

In Romeine 8 : 31 – 39 verseker die apostel Paulus elke gelowige dat niks van die aardse ellendes ons van die liefde van God kan skei nie. In Christus is ons meer as oorwinnaars, nie uit eie krag nie, maar deur Hom wat ons liefhet. 

Ons weet ons verdien die dood en ewige verderf, maar Hy het ons deur sy Gees in Christus as ware gelowiges ingelyf wat die ewige heerlikheid sal geniet. Ons is sy kinders en daarom sal Hy ons nooit begewe of verlaat nie 

Oudl Theo Westerveldt 

 DIE VERSOENING DEUR CHRISTUS

 Ons glo dat Jesus Christus kragtens ʼn eed ʼn ewige Hoëpriester is volgens die orde van Melgisedek “…en is deur God genoem ‘n hoëpriester volgens die priesterorde van Melgisedek.” (Heb. 5:10). Hy het homself in ons naam voor sy Vader gestel om sy troon met volledige betaling te stil deur Homself aan die kruishout te offer en sy kosbare bloed tot afwassing van ons sonde uit te stort soos die profete dit voorspel het. 

Want daar staan geskrywe dat die straf wat vir ons vrede aanbring, op die Seun van God was, en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom. Verder dat Hy soos ʼn lam na die slagplek gelei en by die misdadigers gereken is, dat Hy as misdadiger deur Pontius Pilatus veroordeel is, al het die hom eers onskuldig verklaar (Matt 26). 

Hy het na liggaam en siel as regverdige vir ons onregverdiges gely. Hy het die verskriklike straf wat ons sondes verdien ervaar, sodat sy sweet soos bloeddruppels geword het, wat op die grond val, en Hy het aan die kruis uitgeroep: 

“…My God, my God waarom het u my verlaat?” (Matt 27:46). Dit alles het Hy ter wille van die vergewing van sondes gely. “Die Hoëpriester wat ons het, is nie Een wat geen medelye met ons swakhede kan hê nie; Hy was immers in elke opsig net soos ons aan versoeking onderwerp, maar Hy het nie gesondig nie.” (Heb. 4:15). 

Ons word daarom deur die gebruik van die heilige nagmaal tot ʼn vurige liefde vir God en ons naaste opgewek. 

’n Geseënde Sondag en Nagmaal vir u elkeen toegewens. 

Oudl Wim Prinsloo 

 ‘n Riglyn vir Bybelstudie en gebed

 Hierdie is ‘n riglyn vir en stappe vir Bybelstudie wat ook gebruik kan word om ‘n gebed te vorm. Die geheim is om konsekwent deur die Bybel te werk om die hele boodskap van ‘n boek te kry. Daar is ook baie hulpbronne beskikbaar bv die webwerf van Ligonier Ministries (met ‘n gereformeerde grondslag in die VSA) wat kan help. Hiermee die stappe: 

  1. Werk sistematies deur die Bybel. Begin bv met die boek van Johannes en werk dit deur. Kry ‘n skryfboek en skryf gedagtes neer. Dit is nie ‘n teologiese tese nie maar bloot om gedagtes te orden en te oordink eerder as om die Bybel soos ‘n koerantberig te lees, toe te maak en grootliks te vergeet. 
  2. Hou die gedeelte hanteerbaar. Die Bybel is opgedeel in gedagte eenhede en doen een op ‘n slag vir Bybelstudie. 
  3. Bid altyd voor Bybelstudie en vra vir die leiding van die Heilige Gees 
  4. Lees die stuk ‘n paar keer aandagtig deur en beantwoord dan die volgende vrae:
    • a. Wat het ek van God geleer? 
    • b. Wat verwag God van my en waarom?
    • c. Watter beloftes gee God in die stuk? 
    • d. Wat is die toepassing op my lewe? 
  5. Vir gebed, gebruik punt (a) se notas om die Here te loof, punt (c) om die Here te dank en punte (b) en (d) om die Here doelgerig te vra om dit tot uitvoering te bring. 
  6. Bv gedagtes oor Joh 1:1 ter illustrasie van punt (a): 

i. Die Woord bestaan van altyd (dus ‘n Persoon, wie? – sien later) 
ii. Hy is sonder begin, sonder einde. 
iii. Die Woord is self God, dus nie ‘n gewone mens of engel nie. 
iv. Waarom “Woord” eerder as ‘n naam? Aksie: hou in jou agterkop en soek die antwoord. 

Seën op hierdie reis deur die Woord van God! 

Oudl Marlou vd Berg 

 JESUS IS DIE WARE HERDER

Psalm 23(1933-vertaling); Johannes 10:1-21 

 Psalm 23 is een van die mees vertroostende gedeeltes in die Bybel, en die belofte daarvan is iets waaraan menige siek of sterwende mens al vasgehou het. En vir baie ander sal dit ook nog ‘n vertroosting wees, veral as ons dit saamlees met ander gedeeltes (bv. Eseg 34 en Joh 10) wat vertel van die Here, ons Herder. 

Die Psalm is niks anders as ‘n Ou Testamentiese gelykenis nie. Dit is seker gebore uit Dawid se tye as skaapwagter. Na analogie van die interaksie tussen die skaapwagter en die skape, sien hy die verhouding tussen die Here en sy kinders. 

In die Ou Testamentiese tye het elke dorpie of familieboerdery sy eie sentrale skaapkraal gehad. In die aand los die herder die skape daar en ‘n wag pas die skape gedurende die nag op. Geen skelm kan by die ingang inkom nie, daarom sê Jesus dat Hy die ingang is – iemand wat sy skape benader deur oor die muur te klim is rowers en diewe. Hulle is die vals herders (Eseg 34) en die vals leraars(Hand 20:29 en 1Pet 5:2-3). Hulle nader die kudde vir eie gewin, en nie omdat hulle die skape se welstand op die hart het nie. Ons sien hierdie tipe diewe en rowers vandag nog afsluip op Jesus se skape. 

In die oggend kom elkeen van die herders om hulle skape uit die kraal te haal. Hulle roep hulle by die naam, en hulle volg gewillig. Só roep God ons elkeen by die naam. Die herder lei sy skape na waar hulle groen gras kan eet. Ons Herder lei ons om die groen gras van sy Woord in te neem. As ons nie daarvan eet nie, sterf ons geestelik. Hy praat met ons in ons Bybelleestyd, in preke, in Bybelstudie, in geestelike gesprekke en in ons blootstelling aan die Woord. 

Die dag word soms baie warm, dan lei hy sy skape na ‘n oasis, so bring die Here daagliks verkwikking vir ons, deur sy Gees wat ons laaf in allerlei situasies. Die 1953 vertaling praat van “verkwik my siel”. Dit beteken: Hy gee vir ons nuwe geestelike krag. 

Daar is ook baie gevare op die pad van die skaapkudde. Van hulle dwaal af en beland op hoë rotse, of val in ‘n gat of ‘n put. Soms verdwaal een en land in ‘n “Dal van doodskaduwee”. Maar selfs dan sê Dawid weet hy dat die Here hom bewaar, bloot omdat hy kind van die Here is. Dit verwys seker na fisiese tye, soos siekte, oorlog of vyande wat Dawid bekruip. Maar dit dui ook op die mens se geestelike nood. Die lewensnood van ‘n verlore siel. 

Hoewel die Here reeds in die Ou Testament die uitkoms van hierdie sielenood beloof en profeteer, realiseer dit in die Nuwe Testament, deur Jesus Christus, die Goeie Herder (Joh 10), wat sy lewe vir sy skape aflê. Jesus sterf in die dal van doodskaduwee, sodat ons kan leef! Jesus ontvang ons soos eregaste (Ps 23:5) wanneer Hy ons laat aansit by sy maaltyd, die Nagmaal. Maar nie net fisies met Nagmaalsviering in die gemeente nie, maar ook op simboliese wyse omdat ons elke dag as’t ware aan sy tafel sit. 

Mag u en ek die Goeie Herder ken, en elke dag leef onder sy versorging en bewaring! Want Jesus is die ware Herder. 

Oudl Sollie Nel 

« Older posts