Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Kategorie: Nuwe Testament (Page 1 of 129)

Die doel van God se openbaring

Skriflesing: Openbaring 4,5 (1983)
Teksvers: Op 4:1

As die Here vir Johannes die hemeldeur oopmaak is dit ‘n openbaring van God self aan ‘n mens. Die apostel moet alles wat hy sien opskryf en aan die kerk van Christus uitstuur (vgl Op 1:11). 

Die doel van hierdie ‘openbaring’ kan nie maar net voorspelling wees nie. Daar sit veel meer daarin. God openbaar iets van Homself! Hy het ons immers gemaak sodat ons Hom kan ken. Hier sien ons dan in ‘n visioen die hemele oop en ons sien simbolies wie en wat God is en daarna ook wat Hy doen. 

Kyk ons na die rampe en aardbewings en natuurverskynsels van ons tyd weet ons dat Hy aan die werk is en dat die koms van Christus naby is. Die beste manier om jou daarvoor voor te berei is, om nog dieper in hierdie openbaring van God (die héle Skrif!) in te delf. 

Om regtig te kan sien

Skriflesing: Joh 9: 1-17, 34-41 (2020)
Teksvers: Johannes 9: 2-3
HK: Sondag 10

In Johannes 9:2 vra Jesus se dissipels Hom uit oor die rede waarom ‘n man wat hulle sien blind is. Hulle neem aan dat blindheid ‘n gevolg van sonde in die persoon se lewe is, maar omdat die man van geboorte af blind is, is hulle nie seker of dit sy eie sonde kan wees wat dit veroorsaak het nie, en of dalk die gevolg van sy ouers se optrede. 

Uit die Here se antwoord blyk egter baie duidelik dat hulle vraag en die aanname wat hulle daarin maak nie rekening hou met die voorsienigheid van God nie. Die besef dat alles in God se hand is en Hy ‘n doel met alles het, mag nie verruil word vir ‘n geloof in bloot oorsaak en gevolg nie – dat goeie of slegte dinge noodwendig volg op hoe ‘n mens lewe of glo nie. 

1. Oorsaak van swaar 
2. Doel van swaar 
3. Insig in swaar 

Rus vir die skuldige gewete

Skriflesing: Romeine 3 (1983)
Teksvers: Romeine 3:21-24
HK: Sondag 23

Jou gewete is ‘n gawe van die Here. Elke mens het een. Die gelowige se gewete kla jou by jouself en by God aan, sodat ons weens ‘n goeie gesonde sondebesef tot bekering kan kom. 

Die vraag is egter nou hoe kry ek my gewete weer stil, want ek kan nie maar net vir myself lieg nie. Jy hoef ook nie, want die waarheid sal jou vry maak. 

Die waarheid van die evangelie van Christus is ons redding, sodat ons gewete ons nie gyselaar kan hou nie. 

Jou Hart is waar jou Skat is…

Skriflesing: Matteus 26:1-16; Kronieke 29:1-22 (2020)
Teksvers: Matteus 26:8

Ons dink verder na oor die betekenis om TOT God te leef. Dit is ten eerste om te verstaan wat is die doel van ons lewe, om God te eer, om tot lof van sy heerlikheid te leef, maar daarmee saam ook waarin ons vreugde vind, in God self. 

Dit word duidelik en sigbaar in die openbaring van ons hart. Hier in Matteus 16, by die bekende gedeelte van Maria wat Jesus salf, vind ons twee teenpole van die mens se hart en ons staan vervolgens stil by: 

1. Die hart van Jesus. 
2. Die hart van Maria. 
3. Die hart van Judas. 

Christus neem my siel, verheerlik my liggaam en skenk my die ewige lewe

Skriflesing: Fil. 3:17-21
Teksvers: Fil. 3:20-21
HK: Sondag 22

Hoofpunte: 

Christus… 
1. Neem my siel tot Hom. 
2. Verheerlik my liggaam. 
3. Skenk my die ewige lewe. 

20 “Maar ons is burgers van die hemel, van waar af ons ook die Here Jesus Christus as Verlosser verwag. 21 Deur die krag waarmee Hy alles aan Homself onderwerp, sal Hy ons nederige liggame verander om soos sy verheerlikte liggaam te wees.

Fil. 3:20-21 

Wat is die doel van my lewe?

Skriflesing: Efesiërs 1:1-14; Prediker 2 (1983)
Teksvers: Efesiërs 1:4

In ’n stukkende wêreld vol pyn en trauma lyk alles dikwels so doelloos en leeg. Dit is nie snaaks dat mense na die ware sin van die lewe soek nie. Die hele boek Prediker gee byvoorbeeld op ’n besondere wyse aandag aan hierdie vraag. Hy bekyk die vraag vanuit die oogpunt van ’n ongelowige en dan kry hy geen antwoord nie… totdat hy by God self uitkom: “Dien God en onderhou sy gebooie” (Pred 12:13). Daar kry mens die sin van jou bestaan. Anders nie! 

Paulus draai nie doekies om nie. Vir die Efesiërs gee hy die antwoord ondubbelsinnig: God het ons gemaak om Hom te dien. Niks anders nie. En selfs toe die mens nie meer aan sy doel kon beantwoord nie, weens die sonde en die gevolge daarvan, het God ingegryp en ’n plan gemaak. Hy het ons in en deur Christus weer sy kinders gemaak, SODAT ons weer aan ons oorspronklike skeppingsdoel kan beantwoord: Om Hom te prys en te dien. 

« Older posts