Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Kategorie: Lukas (Page 1 of 14)

Die pelgrim se strewe!

Skriflesing: Lukas 13 (1983)
Teksvers: Luk 23:24

Op hierdie besondere dag waarop ons die groot Hervorming van die Protestante (16e eeu) herdenk, vra ons die vraag: waar is die hervorming vandag nodig? 

Die vraagsteller in ons teksgedeelte vra eintlik ‘n nommer, ‘n numeriese vraag… hoeveel? Jesus is min gepla oor nommers. Hy roep tot persoonlike hervorming en bekering. Waar is jy? 

Die woord “strewe/inspan” wat as opdrag in ons teks staan, klink in Grieks net soos ‘n Engelse woord …. agonizo… Kan jy die Engelse woord vind? 

Kan jy self die betekenis van daardie opdrag uitwerk? Wat moet christene doen om in te gaan in die koninkryk waarvoor Christus vir hulle die toegangskaartjie betaal het? 

Waar, dink jy, is vandag se ‘hervorming’ dan die dringendste nodig? 

Die onverganklike liefde van die Vader (vir bekerende sondaars)

Skriflesing: Lukas 15:11-20; Romeine 5:8; 8:31-39 (1983)
Teksvers: Lukas 15:17-20
HK: Sondag 33

As ons in die kategismus leer wat bekering is dan raak ons bewus van die radikaliteit daarvan. Bekering is doodgaan en lewend word! Sterwe en opstanding!

Die twee absolutes wat hier gebruik word help ons om te verstaan dat bekering nié maar net ʼn koersverandering of ʼn wending in jou lewe is nie, maar ʼn radikale ommekeer – van dood na lewe!

Eers moet ons die ou sondige lewe doodmaak en dan weer deur die krag van Christus opstaan uit die dood in ʼn nuwe lewe. Van die verlore seun lees ons in ʼn gelykenis, maar dit illustreer bekering so goed. Hy was dood, maar kyk hy lewe, het sy pa gesê! Kyk na die dag van sy bekering dan sien ons dit in die vier dinge wat hy daar by die varktrog doen: daar is inkeer, afkeer, omkeer en terugkeer.

Bekering het ons eenmaal nodig, maar daarna ook elke dag, sodat ons nie in ons sondes bly nie.

Christus het neergedaal na die hel

Skriflesing: Efesiërs 4:6-10; Filippense 2:5-10; Jesaja 53:6,10; Markus 15:34; Lukas 23:42-43,46; Johannes 19:30 (2020)
HK: Sondag 16

Die apostoliese geloofsbelydenis se bewoording volg nie in ‘n chronologiese volgorde as dit gaan oor die lyding van ons Here Jesus nie, maar eerder ‘n verdieping in die lyding. 

Met ander woorde: Jesus se menswording, sy geboorte uit Maria, sy lyding en dood word nie gevolg dat Hy “neergedaal het na die hel” asof Hy hel toe is na sy dood nie. Daarom ook dat ons die bewoording verander het na: Hy het die lyding van die hel ondergaan. 

Maar wat beteken dit? 

Deur geloof word jy gered

Skriflesing: Lukas 17:11-19 (2020)
Teksvers: Lukas 17:18-19
HK: Sondag 7

Tien melaatse manne wag vir die Here by sy aankoms in ‘n dorpie oppad na Jerusalem. Hulle bly op ‘n afstand staan, want daar is streng reëls vir melaatse mense, hulle mag nie te naby kom, dat die siekte aansteek nie. Hulle roep op ‘n afstand nie om gesond gemaak te word nie, maar dat die Here aan hulle genade bewys. 

Op sy woord gaan hulle na die priester wat hulle rein moet verklaar, en word gesond. Maar slegs een man draai om en bring dank aan God. 

Nege manne word rein deur die barmhartigheid van Christus, maar slegs een word rein deur geloof. 

Skuldige gewete?

Skriflesing: Lukas 22 (1983)
Teksvers: Lukas 22:61,62

Dit is Paasfees in Jerusalem en Pilatus was sy hande in sogenaamde onskuld. Hy moet sy gewete tot rus kry. So sien ons menslike mislukte planne om met ons gewetens te werk. En onthou vir Kain… en vele ander. 

Na laas Sondag se prediking oor ‘God wat groter is as ons gewete’, kan ons vandag nog ‘n oomblik stilstaan by die saak van ons gewetes. 

Ons onderskei dan die toegeskroeide en skuldige gewete teenoor ‘n gelowige se gewete, as ‘n gawe van God!

Deur stryd tot oorwinning

Skriflesing: Lukas 9 (1983)
Teksvers: Luk. 9:29,30

Die bogenoemde preektema is eintlik bekende woorde, maar die impak daarvan word maklik deur ons ontken. Laasweek kon ons leer dat God ons uit liefde as sy kinders aangeneem het. Hierdie nuwe identiteit in Christus maak ons egter nie bo swaarkry verhewe nie. 

Volgens die vorige paragraaf (9:23,24) moet ons juis agter Jesus aangaan… Daarom moet ons verstaan hoe die vurk in die hef steek. Ons moet begryp dat ons Koning se heerlikheid anders kom as wat deur die wêreld en sy filosofieë bedink of verwag word. 

Laat ons onsself deeglik oriënteer tov die pad van stryd wat vir die gelowige in hierdie laaste dae inwag. Hy wat ons vooruit gegaan het, sal ook by ons wees. 

« Older posts