Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Kategorie: Hebreërs (Page 1 of 7)

Christus leef vir altyd om in te tree

Skrifgedeelte: Hebreërs 7:12-28
Teksverse: Hebreërs 7:25

Ons belydenis verwoord die vernedering en die verhoging van ons Here Jesus in sy Koninklike, Profetiese en Priesterlike werk. Daarin is die bekendste deel veral sy werk as mens op aarde waar Hy die volkome offer gebring het vir die sonde. Maar sy werk is nog nie klaar nie. Christus is verhoog as ewige Koning, waar Hy as mens steeds vir die gelowiges intree in gebed. Daarom kan Hy volkome red, Hy kan tot die uitsterste red, deur die wat deur Hom tot God gaan, omdat hy altyd leef om vir hulle in te tree.

Sê wie? Sê Gód!

Skriflesing: Hebreërs 1 (2020)
Teksvers: Hebreërs 1:1-2a
HK: Sondag 6

Kan jy oor jou geloof antwoord op die vraag?: “Hoe weet jy dit?” 

GOD HET GESÊ … 

Lank terug het Hy reeds gesê en op baie maniere. 
Nou het Hy deur sy Seun gepraat en klaar gepraat. 

… OOR DIE SEUN AS WARE MENS 

‘n Priester wat reiniging bewerk! 
‘n Volmaakte offer. 
Die gevolge van die offer. 

… OOR DIE SEUN AS WARE GOD 

Hoor jy die krag van sy Godheid? Die skepping, die onderhouding, die heerlikheid. 
Hy dra God se toorn deur die krag van sy Godheid. 
Moenie mompel nie. Sê Wie het gesê en hóé Hy gesê het. 

Een soos ons, maar met medelye

Skriflesing: Hebreërs 4:14 -5:10 (1983)
Teksvers: Hebreërs 4:15,16
HK: Sondag 5

As ons by HK So 4 verby wil kom (die strawwende God), het ons iemand nodig wat werklik in ons plek kan staan. Waarlik een soos ons, maar ook een groter, beter en meer liefdevol as enige van ons. 

Die nagmaal herinner ons vandag weer dat daar wel so iemand bestaan… ons groot Hoëpriester wat deur God geskenk is en wat aan ons gegee is om in ons plek voor God te staan. 

Kom ons gaan dan met groot vrymoedigheid (Gr: paressia) as vrygekooptes en met die toegangsregte wat Hy verkry het, na sy troon van genade (en geregtigheid) en gaan sit aan sy nagmaalstafel. Beleef daar sy verbondsliefde wat nooit ophou nie. 

Christus se dienswerk groter as die engele-diens

Skriflesing: Hebreërs 1:1-5,14; 2:5-11 (1983)
Teksvers: Hebreërs 2:9

Uit Hebreërs 1 het ons besef dat Christus op elke bladsy in die Bybel staan – Ou én Nuwe Testament! Hy is die Bruidegom van Hooglied, Hy is die Koning van Dawid, Hy is die Profeet wat sou kom, Hy is die Tabernakel, Hy is die Seun van God. Ja, Hy is God! Hy is in alles vér bo die engele verhewe. 

Vandag sal ons dan besef dat Hy selfs in sy dienswerk beter is as die engele. Elke dag sorg engele vir ons. Miljoene der miljoene engele in diens van die uitverkorenes (Hb 1:14). En tog is Jesus Christus se dienswerk net beter en groter en meer werd as wat enige engel kan droom om vir ons te doen! 

Christus beter en groter as die Profete!

Skriflesing: Hebreërs 1:1-4; 13:8; Fil 2:5-11; Joh 1:1-3; Kol 2 (1983)
Teksvers: Hebreërs 1:1-4

Ek bepaal u aandag in die prediking steeds by die jaartema en die grootheid of gróótsheid van ons Verlosser. In sy pragtige kommentaar op Hebreërs beskryf Prof Andrie du Toit ons teksverse as een van die keurigste en diepsinnigste sinne in die hele Bybel! (p. 33) 

Keurig omdat die Griekse teks 5 keer met die letter ”p“ allitereer: polumeros kai polutropos palai tois patrasin en tois profetais. As ons daaraan dink dat hierdie boek eintlik ‘n preek is wat aan die gemeente van Rome voorgelees moes word, sou jy verstaan dat by die aanhoor van hierdie keurige verse die mense se aandag dadelik gevange geneem is. 

Diepsinnig omdat dit een eintlik ‘n doksologie is op die oorgang van die Ou Testament na die Nuwe Testament se verstaan oor wie die ware Verlosser van die wêreld is! 

« Older posts