Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Kategorie: Nuwe Testament (Page 106 of 129)

Eer in skande?

Skriflesing: Filippense 3
Teksvers: Filippense 3:17-21

Die Here waarsku die gelowiges in Filippi om op te pas vir die honde, die slegte werkers en die vals besnyding. Dit is die dwase mense en die dwaalleraars wat mense so maklik op sleeptou kan neem om die sondige en die verkeerde sommer te glo. Dit is mense wat op uiterlike dinge vertrou en nie op die Here se genade in Christus Jesus nie. Dit is mense wat vyande van die kruis van Christus is. Dit is aardse mense wat die verderf tegemoet gaan, wie se maag hulle god is en wat hulle eer in hulle skande vind.

Daarteenoor het die Heilige Gees vir Paulus geleer om die Here sy alles te maak. Dit wat eers ‘n bate was, beskou hy as verlies ter wille van Christus. Daarom span hy hom in om die ewige burgerskap deur Jesus Christus in die hemel te kan binnegaan.

Waarna luister jy, wat en wie glo jy as daar omstrede sake in die geloofswêreld ter sprake kom? Is Christus my alles of is die skande en sonde van die wêreld besig om vir my sin te maak?

Laai af

“Julle is my vriende!”

Skriflesing: Joh 15:1-17
Teksvers: Joh 15:14-16 (v14)

Jesus Christus is die Hoof van die Kerk. Jesus word geopenbaar as ons Verlosser, Saligmaker, Hoogste Profeet, Koning, Herder. Maar nou noem Hy ons sy vriende. Wat ’n ontsaglike voorreg en genade dat Hy ons sy vriende noem. Daar ontstaan sekerlik baie vrae: Wat bedoel Jesus met ons as sy vriende? Is Hy ook ons Vriend? Hoe hanteer jy ’n vriend en wanneer is iemand jou vriend? Ons gaan na drie sake kyk:

  • Jesus noem ons vriende!
  • Jesus het ons uitgekies!
  • Jesus verwag dat ons vrugte sal dra!

Laai af

My grootste skat is Jesus Christus

Skriflesing: 1 Timotues 6
Teksvers: 1 Tim 6:17-19

Wat sal ‘n mens gee in ruil vir sy lewe? Daar is soveel dinge wat ‘n mens van sy fokus op Jesus Christus kan aftrek. Een van die dinge is materialisme. Ons fokus en verknogtheid op besittings, kan maklik ‘n struikeling word tussen ons en die Here.
Ongelukkig kan dit gebeur dat ons by die gebrek aan dit wat ons dink ons behoort te hê, ook skeiding tussen ons en die Here kan meebring. Daarom kom Paulus onder leiding van die Heilige Gees om mense met ‘n fokus op aardse goedere al dan nie (dit sluit baie van ons in) te ver-maan om hulle skat in die Here te soek en te vind.
Kom laat ons nie ons hoop op die onsekerheid van aardse besittings vestig nie, maar op God wat alles ryklik aan ons gee om te geniet. Die Here is die gewer van alles wat ek is en het.
Ons fokus as gelowiges is om met die aardse middele wat die Here vir ons gee, goed te doen aan ander en om ryk te wees in goeie dade, vrygewigheid en mededeelsaamheid.
Gelowiges met ‘n ingesteldheid op die Here, vergader so vir hulle ’n ewige skat as ’n goeie belegging vir die toekoms, sodat hulle die ware lewe sal verkry.

Laai af

God is lig, in Hom is daar geen duisternis nie

Skriflesing: 1 Johannes 1
Teksvers: 1 Johannes 1:5

Die blye boodskap van Jesus Christus is dat God deur Jesus Christus vir ons die ware Lig geword het. Hy is die Lig wat lewe vir ons gebring het. In Hom is daar daarom geen duisternis nie. Daarteenoor kom die Here om deur die Heilige Gees vir elkeen te waarsku dat die wat aan Hom deel het, nie in die duisternis van die sonde kan of wil bly lewe nie. Die wat steeds volhardend in die donkerte van die sonde wil lewe, praat daarom nie die waarheid nie. Jy word opgeroep en in staat gestel om in die lig van Jesus Christus te lewe. Hy is die Lig en Hy self leef in die lig. Elkeen wat in en deur die Ware Lig lewe, het die sekerheid dat die bloed van Jesus hom/haar reinig van elke sonde. Ons kan daarom nooit beweer dat ons nie sonde het nie. Dan jok ons vir onsself en dan is die waarheid van Jesus Christus nie in ons nie. Die Heilige Gees dring ons om ons sondes te bely. Jesus Christus is getrou en regverdig en daarom vergewe Hy ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid. Ons wat in die lig van Jesus Christus lewe, kan nie beweer dat ons nie gesondig het nie. Mag Hy wat die Ware Lig is, vir ons uit die donkerte van ons sondige aard lig.

Laai af

Die gelowige se roeping in’n bose wêreld

Skriflesing: 1 Pet 2:11-17
Teksvers: 1 Pet 3:8-12

  1. Die wêreld waarin ons geroep is. Die apostel Petrus skryf vir “vreemdelinge en bywoners” wat ter wille van hulle geloof ly. Die mens wat in Christus verlos is, gaan ʼn vreemdeling wees in die wêreld en ter wille van Hom gespot word. Die wêreld se stryd teen die kerk duur al vanaf die sondeval voort tot vandag toe.
  2. Die inhoud van ons roeping. Petrus sê egter ons is geroep om in hierdie bose wêreld in liefde te lewe. Dit geld in die eerste plek vir medegelowiges onder mekaar in die kerk, maar dit sprei ook uit na buite om selfs die mense wat jou kwaad aandoen, te seën.
  3. Die seën op ons roeping. Hierdie roeping behoort die gelowige vol te staan sodat ons die seën van God kan erf (v. 9). Hierdie erfdeel is in die eerste plek die ewige lewe wat ons deur genade alleen van God af ontvang, maar gedeeltelik word die seën in hierdie wêreld reeds sigbaar in God se teenwoordigheid ten midde van ons swaarkry.

Laai af

« Older posts Newer posts »