Skriflesing: 1 Timotues 6
Teksvers: 1 Tim 6:17-19

Wat sal ‘n mens gee in ruil vir sy lewe? Daar is soveel dinge wat ‘n mens van sy fokus op Jesus Christus kan aftrek. Een van die dinge is materialisme. Ons fokus en verknogtheid op besittings, kan maklik ‘n struikeling word tussen ons en die Here.
Ongelukkig kan dit gebeur dat ons by die gebrek aan dit wat ons dink ons behoort te hê, ook skeiding tussen ons en die Here kan meebring. Daarom kom Paulus onder leiding van die Heilige Gees om mense met ‘n fokus op aardse goedere al dan nie (dit sluit baie van ons in) te ver-maan om hulle skat in die Here te soek en te vind.
Kom laat ons nie ons hoop op die onsekerheid van aardse besittings vestig nie, maar op God wat alles ryklik aan ons gee om te geniet. Die Here is die gewer van alles wat ek is en het.
Ons fokus as gelowiges is om met die aardse middele wat die Here vir ons gee, goed te doen aan ander en om ryk te wees in goeie dade, vrygewigheid en mededeelsaamheid.
Gelowiges met ‘n ingesteldheid op die Here, vergader so vir hulle ’n ewige skat as ’n goeie belegging vir die toekoms, sodat hulle die ware lewe sal verkry.

Laai af