Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Kategorie: Predikante Skryf (Page 23 of 40)

“Jou geloof het jou gered.” – Luk 17:19b

Hierdie woorde het ons Here Jesus vir die dankbare, Samaritaanse, geneesde, melaatse man gesê, nadat hy omgedraai het en Jesus gedank het vir sy genesing van die verskriklike siekte, melaatsheid. 

Vandag het ons die voorreg om weer die nagmaal te vier. Ons gesindheid om die nagmaal te vier, moet ook ‘n gesindheid van groot dankbaarheid wees. Want ook ons as gelowiges is almal vanweë ons sondes, as ‘n ware wit van melaatsheid. Ons is so sondig omdat ons in sonde ontvang en gebore is en daagliks nog die sonde meer en meer maak. Ons is geseënd, om vanmore Nagmaal te vier, omdat dit vanweë die inperkings vir baie lidmate nie moontlik is om saam met ons Nagmaal in die kerkgebou te vier nie. 

Maar Jesus Christus het ook ons genees. Jesus Christus het ook ons totaal en al van ons sondes genees deur aan die kruis in ons plek ‘n vervloekte te word. Hy het ons so skoon gewas dat ons in skitterwit klere voor die aangesig van God verskyn. Hoe dankbaar moet ons nie wees vir hierdie genade nie? Ons genesing het nie net met ‘n woord van Jesus Christus gebeur soos vir die tien melaatses manne nie. Jesus het vir hulle bloot gesê, gaan wys julle aan die priesters. Nee, Jesus het self, vir ons, in ons plek gesterf, met helse pyn en lyding en smarte, die Onskuldige vir die skuldiges. 

Daarom moet ons oorloop van dankbaarheid. Dankbaarheid is ook dat ons nie die Heilige Nagmaal as vanselfsprekend sal aanvaar nie, maar dat ons met groot erns, met diepe ootmoed en sondebesef dit sal gebruik. Ons moet God elke dag dank vir hierdie groot genade dat ons herinner en versterk kan word tydens die nagmaalviering. 

Ja tydens hier inperkings vanweë Covid-19 kom ons agter hoe geseënd en bevoorreg ons nog altyd was om te besluit, hoe, wanneer en waar ons nagmaal gaan gebruik. Hoeveel keer ‘n jaar ens. Nou is dit nie meer moontlik nie. Ons moet met nougesette reëlings, in agneming van protokolle en veiligheid, nagmaal vier. Daarom moet ons so leef dat God geëer word. Ons moet elke dag in die teenwoordigheid van ons hemelse Vader leef en Hom dank. Aan die liefde van God is daar geen einde nie. Sy genade is vir ons genoeg. Kom ons waardeer opnuut die Nagmaal as ‘n versterking van ons geloof en ons bid vir diegene wat nie die voorreg het om fisies saam met die gemeente nagmaal te gebruik nie. 

Ds. Gerrit 

SELF-ISOLASIE

‘n Derde golf van die virus. Lidmate wat positief getoets word, Covid-19. Lidmate wat al gesterf het vanweë die virus. 

Die staat se verantwoordelikheid. 

Die werk, skool, universiteit se verantwoordelikheid. 

Die kerkraad se verantwoordelikheid. 

 Elkeen se eie verantwoordelikheid! 

Hierdie virus het ‘n uitwerking op elkeen van ons se lewens, psigies, sowel as fisies. Die fisiese invloed en uitwerking is duidelik. Dit beteken protokolle moet gehandhaaf word. Hande moet gewas word. Gesigsmaskers moet gedra word. Afstande moet gehandhaaf word. Dan kan ons verder gaan en vitamine ens. drink om ons immuni-teit op te bou. Fisies is merkbaar en meetbaar en soms behandelbaar. 

So het dit dan ook met my gebeur dat ek verlede Maandag huisbesoek gedoen het by lidmate wat op daardie stadium nie naastenby gedink het dat hulle positief vir Covid getoets het nie, maar dit eers Dinsdag geweet het. Daarom het hulle my onmiddellik teen Dinsdag laat weet, hulle is positief getoets vir Covid. 

My eerste reaksie is dat ek nog jonk en sterk en gesond is en ‘n sterk immuniteitstel-sel het. My tweede reaksie is om vir die lidmate te bid en hulle spesifiek aan die Here op te dra., maar ook vir myself. Dan skop die verantwoordelikheid in. Die Skrif is tog duidelik in Mat 22:37-40: “Jy moet God eerstens liefhê en daarna jou naaste SOOS jouself.” Dit beteken dat jy in verantwoordelikheid, ook ander se gesondheid moet oppas net soos jy jou eie oppas. 

Op aanbeveling van my dokter, sewe dae van SELF-ISOLASIE. As jy dan geen simptome het nie kan jy weer aangaan met jou werk. Jy moet toesien dat jy nie die oorsaak is dat ander siek word nie. Maar ons is almal in die Here se hand. Ons vertrou op Hom alleen. Hy is die groot geneesheer. 

Jer 17:14 

Maak Ú my gesond, Here, dan sal ek gesond wees! Bevry Ú my, dan sal ek vry wees! Dit is vir U wat ek wil loof.” 

Ds. Gerrit 

PINKSTER: Vervulling met die Heilige Gees (Ef 5:18)

Tydens die Pinksterfees (Oesfees) in Jerusalem word die Heilige Gees uitgestort op al God se kinders. Die eersteling van die volle oes van die offerwerk van Christus! Vroeër kon net sekere mense sporadies aanspraak maak op die krag van die Heilige Gees (Dink aan Simson en ander profete). Nou mag elkeen weet dat, as jy tot geloof gekom het, dan woon die Heilige Gees in jou. Dan geld die woorde van die Here aan Josua in Deut 31:8 –“Ek sal jou nie begewe of verlaat nie”.

Ons moet dus aanvaar dat die Gees net één keer uitgestort is. Dus kan ‘n gelowige nie méér van die Heilige Gees kry nie. Vervulling van/met die Heilige Gees gaan nie om meer Gees nie. Jy kan nie méér Gees kry nie. So kan mens ook nie méér geloof kry nie. Om dus te bid vir nog ‘n uitstorting van die Gees, nog ‘n pinkster-ervaring, sal nie Bybel wees nie.

As die Gees aan ons wedergeboorte en geloof gee, dan is dit gegee. Daarmee saam kom ‘n groot verantwoordelikheid. As die mosterdsaad van die geloof geplant is, kan die saadjie nie groter nie, maar dit kan wel ontkiem en vrugdra.

Die gawe is die genade van geloof deur die Gees.

Die verantwoordelikheid is die gehoorsaamheid deur die Heilige Gees.

In plaas dus om te bid vir meer geloof, wil die Here dat ons bid vir meer gehoorsaamheid! Meer toewyding. Meer tyd en soeke na die groei van die saad. Méér van jouself aan die Gees gee…

Dan roep Pinkster ons nie op tot ‘n nuwe uitstorting nie, maar tot ‘n nuwe gehoorsaamheid en gevolglik die noodwendige vrugdra wat by die bekering pas .

Geseënde Pinksterfees!

Ds Maarten

Waar Ruwe Rotse

Twee vader-oë kyk verward … sy seun, die afgrond lag oor wilde skuurgedreun. 

Die kruit en stof vlek oor die lug se blou, die vader bly sy hand oor sy oë hou. 

En dan gewaar hy in die skemering sy kind, deur rotseskouers vasgedring. 

’n Riem rol na die seun daaronder neer, “Bind vas, my kind … en Pa die sal probeer.” 

Maar dis vergeefs … die kransedraak hou vas, die riem bly stukkend breek, kry las op las. 

En hulp snel by … die rotsetande gryns, hier moet die mensverstand terug voor deins. 

Dan klaag daar uit die diepte, sag en flou: “Ek smeek dat Pa my skiet … en nou … ” 

’n Roer die bewe in die growwe hand, sag sif in skemerafgrond korrels sand. 

Vas lê die kolf teen vaderskouer aan, en langs die sneller glans ’n afloop-traan. 

“Vergeef my, God!” … ’n skoot gedemp en dof … en bo die bergegraf styg kruit en stof. 

Nog skuur iets rog’lend in die diepte daar, dis stil … die aasvoëls kras … ’n vader staar. 

Hierdie gedig van CM van den Heever het my lewe diep geraak sedert ek dit die eerste keer gelees het. Dit is gegrond op die gebeure wat by Aasvogelkop oorkant die Caledonrivier by Gladdedrif in die Smithfielddistrik afgespeel het. Dit handel oor ‘n pa wie se seun in ‘n klipskeur geval het. Na dae se geswoeg om die seun tevergeefs uit te kry, laat dit die pa geen ander keuse as om sy seun uit die klipskeur te verlos met die dood nie. 

Hoe moeilik, nee, onmoontlik moet dit wees om jou eie kind met ‘n skoot van sy ellende te verlos. Maar dan dink ek aan ons Here Jesus en besef dat sy uitroepe om verlossing net in die stilte ongeantwoord bly as Hy uitroep: Eli, Eli, lama Sabagtani… 

Hoe geweldig groot moet die liefde wees van ons hemelse Vader om Sy Eie Seun te gee om die straf van die sonde te dra. Om Sy Eie lewe te offer. So leer ons Here Jesus ons om ook bereid te wees om ons naaste lief te hê soos onsself. Selfs nog meer as dit: Het ons die Here waarlik lief? 

Die afgelope jaar het ons gemeente deur die Skep Hoop fonds ongeveer R600 000 ingesamel en reeds 60% daarvan gebruik om meer as 30 gesinne in hierdie tyd van nood te help. Ons weet daar lê nog baie uitdagings voor. Daarom word ieder en elk van harte bedank. 

Mag die Here ons die wysheid gee om aan sy Woord en sy beloftes vas te hou en ons medemens nooit uit die oog verloor nie. 

Soos Paulus skryf aan die Korintiërs oor die wysheid wat God ons gee deur Christus: “Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor en in die hart van ‘n mens nie opgekom het nie, wat God berei het vir die wat Hom liefhet. Maar God het dit aan ons deur sy Gees geopenbaar, want die Gees ondersoek alle dinge, ook die dieptes van God.” 

Mag die Here ook ons harte ondersoek en bevind dat ons gevul is met Goddelike wysheid en ontferming en meelewing, met Geloof en Hoop en Liefde!

Lourens (vdm) 

Hoe moet ons as kerk in 2021 leef?

Spurgeon, ’n beroemde Engelse prediker, (1834 –1892), het treffend teen die Arminianisme, ook bekend as die Remonstrante van die 16de-17de eeu gereageer deur hulle dwaalleer uit te wys. Hulle hang die leer van die vrye wil van die mens aan, asof God van ons besluite en wil afhanklik is, en asof dit in die geloof slegs maar om elkeen se persoonlike en individuele verhouding met God gaan. Hiervan het hy gesê: dis ‘n mooi godsdiens, soos ‘n beskilderde bootjie op ‘n spieëlgladde meer, maar in tye van krisis het ons die Calvinisme nodig. 

Hoekom sou dit so wees? Omdat dit vir ‘n gereformeerde Calvinis om die vervulling van sy roeping oor die hele spektrum van die lewe en samelewing gaan, en nie meer net om sy eie persoonlike saligheid nie. Dit gaan om roeping. 

Die kerk (ekklesia) beteken uitgeroepenes; geroep deur die Woord en Gees tot ‘n gemeenskap van gelowiges. Ons is geroepe uit die duisternis tot die wonderbare lig, lees 1 Petr 2:9. In die Ou en Nuwe Testament word hierdie volk van God aangespreek as geroepenis. Geroep tot diens in die koninkryk van God in hierdie wêreld. Ons sê dat ons in die Calvinistiese tradisie staan. Dit beteken nie dat ons volgelinge van ‘n mens is nie, maar dat ons grotendeels vanweë sy insigte onsself aan God en sy Woord gebonde ag.” (Du Plooy. Die Kerkblad. Mei 2009:15) 

Dit is baie belangrik dat ons werklik kerk sal bly. Om kerk te bly beteken om EENSGESIND God te bly aanbid. Ons moet as Gereformeerdes werklik biddend God se wil in die Bybel soek en Hom daarvolgens dien en aanbid. Ons moet opnuut ons beloftes en voornemens wat ons tydens die belydenis van ons geloof gedoen het, nakom. Ons moet ywerig saam met die gemeente, een van gees, God aanbid. Moet daarom nie kerkvreemd word nie! Moet nie ophou om saam met die gemeente God te aanbid nie. As jy gesond is en nie onderliggende siektes het nie, kom ywerig saam om God te dien. Soli Deo gloria! – Aan God alleen die eer. 

Ds. Gerrit 

BEWONDER DIE MURE VAN SION

“Gaan om Sion, trek reg rondom, tel sy torings, bewonder sy mure, bekyk sy versterkings, sodat julle dit aan ‘n volgende geslag kan vertel!” (Psalm 48:13,14) 

Oor die eeue heen het Jerusalem ontwikkel van die klein stadjie, Jebus – die goed versterkte stad waar die Jebusiete gewoon het – tot “die stad van die groot Koning” (Ps 48:3). Nie net die stad van koning Dawid nie, maar uiteindelik die stad waar die Here Jesus deur sy kruisdood en opstanding die groot verlossing vir sy volk berei het. Die voleinding van sy werk word voorgestel in ons verwagting van die komende nuwe stad Jerusalem (Op 21). Dit is ook die stad, die nuwe Jerusalem, wat uit die hemel sal neerdaal! 

Jerusalem, alias Sion, is die metafoor van die werk wat God in en deur sy kerk op aarde tot stand bring. Natuurlik het ons nie ’n fisiese stad met steenmure nodig nie, want die kerk van die Here is eintlik soos ’n “stad sonder mure”, omdat die Here self, soos ’n vuur rondom die stad, sy kerk, sal wees (Sag 2:4,5). Ons, sy kerk, is die “lewende stene” wat opgebou word tot ’n “geestelike huis” (1 Petrus 2:5). 

As ons dus gehoor gee aan die oproep van Psalm 48:13 om die stad met sy mure, torings en versterkings te gaan bekyk, sal ons in verwondering God prys vir sy groot dade. En ons sal rede hê om dit aan ons kinders te vertel (48:14). 

So is dit ons plig om die vaste torings vir ons kinders duidelik te laat sien en te laat verstaan. Hiervan is hul Doop die eerste toring. Daarna styg die torings van die Nagmaal en Eredienste uit, omring deur die wonderlike versterkings van Bybelstudiegroepe, kleingroepe, omgeegroepe en ouderdomsgroepe (tieners, jongmense, seniors). Versterkings wat elkeen staande hou teen die aanslae van die bose; veilige skanse waar broers en susters mekaar kan aanmoedig en versterk om te volhard in die geloof. Ons kerkverband is soos ’n muur van veiligheid en elke ampsdraer op huisbesoek, is soos ’n wagter op die mure wat vanuit die torings oor elkeen se geestelike lewe waghou. 

En so word die kerk van Centurion soos ’n stad wat op ’n berg gebou is (Mat 5:14). Ons is immers geroep om ’n lig vir die nasies te wees. “Laat julle lig so voor die mense skyn, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik” (Mat 5:16). 

As ons sou terugkyk op die werk van die Here hier oor die jare heen is dit net met die bedoeling om die Here te prys vir sy standhoudende genade. Hy is hier in Centurion steeds in en deur ons aan die werk. Hy sal dit wat Hy begin het, ook voleindig! (Fil 1:6) 

Ds Maarten 

« Older posts Newer posts »