Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Kategorie: Predikante Skryf (Page 24 of 40)

Euangelion: Die BLYE Boodskap

Ons hoor so gereeld as iemand uit die erediens stap die opmerking: “Dit was ‘n goeie boodskap” of dalk: “ek het nie ‘n boodskap gekry nie… ” 

Dit laat ‘n mens diep nadink wat is die doel van die erediens en of die erediens die plek is waar die Woordbedienaar ‘n “boodskap” moet bring. Gaan jy na die erediens om die boodskap van die predikant te hoor? Of gaan jy na die erediens om jou “offer” te bring. 

Natuurlik is daar ‘n boodskap wat oorgedra word. Soms ‘n goeie en soms nie so goeie boodskap. Maar het u al ooit besef die Evangelie self die BOODSKAP is. Dit is immers wat die woordjie evangelie beteken: Die Blye Boodskap. 

Dit is dus nie die woordbedienaar se taak om iets anders te sê as die boodskap van die evangelie nie! Inteendeel, die prediking is slegs die verduideliking en die toeligting van die Evangelie self. Daarom is dit vir ons as gereformeerdes altyd so noodsaaklik en belangrik dat die Here Self aan die Woord is in die erediens. 

Hy is aan die Woord deur die hele erediens in al die vorme van die liturgie. By die Votum verklaar ons openlik dat ons hulp alleen in die Naam van die Here is, Hy seën ons, ons sing Sy lof by wyse van Sy Woord… Hy spreek tot ons direk in Sy Eie woorde deur die Wet, en die lees van die Woord. Ons antwoord die Here deur die sing van Sy Woord as antwoord en deur die Woord te bely as die waarheid. 

So word die erediens ‘n meelewing in die ontmoeting van die Heilige God in die erkenning Wie Hy is. Ons bring ons “offer” ons gebede, ons gawes, ons hartsbegeertes. Ons kom met die goeie werke van ons geloof om dank te offer op die altaar van Christus se volmaakte offer. 

Hoe lieflik is die Blye boodskap, want die boodskap is Christus. 

Lourens (vdm)

MOET NIE VAN DIE EREDIENSTE AF WEGBLY NIE!

Heb 10:25 Ons moenie van die samekomste van die gemeente af wegbly soos party se gewoonte is nie, maar mekaar eerder aanmoedig om daarheen te gaan, en dit des te meer namate julle die oordeelsdag sien nader kom.” 

Die samelewing is stadig maar seker besig om terug te keer na normaal. Ja die vraag bly wat is normaal? Wel normaal voor die Covid pandemie was dat, wat die kerk aanbetref, almal vrylik die eredienste kon en moes bywoon. Dit is wat God van ons vra. Die eredienste is nie net ‘n jolige byeenkoms van die gelowiges nie. Die erediens is nie net ‘n noodsaaklikheid waar ek die Woord aanhoor nie. As dit so was kon ons maar goedsmoeds by die huis gebly het, op die rusbank gesit het en oor die internet geluister het. Maar nou is die erediens ‘n ontmoeting van die Drie-enige Verbondsgod, saam met al my medegelowiges. Dit is ‘n byeenkoms waar ons tot eer van God bymekaarkom om letterlik deur God geseën te word, saam tot sy eer te sing en die lof aan Hom toe te bring, saam ons geloof te bely tot versterking van ons eie geloof en tot erkenning wat ons glo, saam na God se Woord te luister en saam gevoed te word deur die prediking daarvan. Dan is ook die “koinonia” so belangrik. 

So is dit dat daar talle bejaardes en mense met onderliggende siektes is wat verseker nie die eredienste sonder kommer kan bywoon nie. Dit verstaan elke gelowige, maar die meeste ander gelowiges het nou die geleentheid om die eredienste een maal per Sondag te kan bywoon. 

Hiermee ‘n ernstige oproep vir elke lidmaat, sover dit vir jou veilig en moontlik is, kom ywerig saam met die gemeente om aan ons Hemelse Vader die lof toe te bring. Die Kerkraad neem verseker die nodige voorsorg en “protokolle” om met verantwoordelikheid en opregtheid almal se veiligheid te verseker. 

Mag die Here dit so beskik dat ons spoedig weer in groot getalle kan saamkom om Hom te aanbid. 

Ds. Gerrit 

Die Vervloekte Kruis

Net die feit dat Jesus gekruisig is, is Skrifvervulling. As ons goed oplet dan sien ons dat die Jode Jesus toe nie gestenig het, soos hulle gebruik was nie, want dit is hoe God alles beskik het. Hy moes gekruisig word sodat Hy die vloek vir ons kon dra. Dit sou nie die geval gewees het tydens steniging nie! 

Reeds in Deut 21:23 word elkeen wat aan ‘n boom of paal opgehang word deur God vervloek! So moes dit Skrifvervulling wees. Christus moet die vloek dra (HK Sondag 15 vr 39). 

Die Romeine het kruisiging uitgedink en toe as vonnisvoltrekking regoor die Romeinse Ryk gebruik om vrees by mense in te boesem. Hulle kon net regeer deur vrees. Vrees is die wapen van die duiwel. God se antwoord op vrees is geloof, liefde en hoop! 

Aan ‘n kruis moes iemand in die openbaar hang, en so lank as moontlik ly. Meesal sonder enige klere aan. ‘n Skande vir die samelewing. ‘n Vreeslike lyding. Spykers deur jou gewrigte en voete, op ‘n ruwe kruispaal (boomstomp), hang jy daar aan jou arms. Jy versmoor stadig. Die elemente is teen jou: son, wind en weer. Dan nog die veragting van die omstanders. 

Uiteindelik die vloek. Vervloek! Verwerp! Weggestoot, uitgegooi, vergete. Soos gemors in die asblik beland, om nooit weer aan gedink te word nie. Christus ly en dra die vloek van God in ons plek. Daarom is Hy toe nie gestenig nie. Die Jode was onder Romeinse bewind en mog niemand ter dood teregstel nie. So presies het God die plaasvervangende lyde van Christus beskik en bepaal en laat gebeur. 

Hy het ons vervloeking op Hom geneem, om ons met sy seën te vul (Nagmaalsformulier). 

Halleluja, loof die Here! 

Ds Maarten 

Eensaamheid

Om eensaam te wees is nie lekker nie. My pa het altyd gesê: “Elke mens wil geken wees in die lewe!”

Dit is so belangrik dat ons in die gemeente dit nooit sal vergeet nie, want ons is een groot geestelike gesin. ‘n Gesin sorg vir mekaar, bly bymekaar, verdra mekaar en het mekaar lief. So het hierdie Covid-19 pandemie sy merk nie net op die gemeente gelaat nie, maar ook op baie lidmate en veral ons ouer lidmate.

Die afgelope week doen ek huisbesoek by een van ons bejaarde lidmate wat in ‘n aftree-oord bly. Hulle is al vir ‘n jaar lank in die aftree-oord gekluister waarvan lang tye in hulle kamers was, weens die gevaar van die pandemie. Ek kon sien ons suster hunker intens na mense, na haar familie, na die gemeente, na liefdevolle omgee. Hulle mag nie eers besoekers ontvang het nie. So sê ook ‘n alleenloper die afgelope week dat die eensaamheid hulle “opeet!”

Daarom wil ek vanmôre vir almal in die gemeente vra: Identifiseer ‘n alleenlopende, ‘n bejaarde, ‘n eensame mens in die gemeente en besoek hulle of bel hulle. Gee om vir mekaar.

Kom ons bewys ons liefde deur veral in hierdie tyd na mekaar om te sien. Vra vir die dominees, die ouderlinge, die diakens, die susters wie eensaam is en wie julle kan besoek. Maak moeite om die eensaamheid te verlig. In die bevestigingsformulier vir die diakens is dit ‘n opdrag dat niemand weens armoede of eensaamheid van die geloofsgemeenskap uitgesluit mag word nie.

Doen moeite om mekaar te bedien met Christelike liefde!

Ds. Gerrit

‘n GLOBALE EVANGELIE

Daar is ‘n baie groot verskil in die gelykenise van die verlore skaap en die verlore penning en die verlore seun. Die ooreenkoms gaan oor die feit dat wat verlore was gevind is. Dat wat dood was lewe. En daaroor is daar blydskap in die hemel! Die verskil is egter dat daar nie noodwendig blydskap op die aarde daaroor is nie! Die eerste verse van Lukas 15 gee immers die leidraad. Die hemel probeer die aarde tot ware blydskap oorhaal… maar hulle wil nie! 

Terwyl die groot gebod die liefde is, vind ons die groot finale opdrag van Jesus in sy globale visie vir die mensdom: Gaan dan na AL die nasies toe en verkondig… Maak mense uit AL die nasies dissipels van MY! Jesus Christus het sy kinders onder al die mense-soorte, en al die wêreldoorde. Hy sal weer kom as die Evangelie “aan AL die nasies verkondig word”. (Markus 13:10) Vroeër het ekself nogal gewonder hoe op dees aarde gaan ons dit regkry… AL die nasies? En nou met die pandemie het ons gesien dat in ‘n paar weke het almal die protokol van maskers en sanitering aangeleer… Al die nasies! 

Jesus Christus ons Koning en Verlosser is ook die een wat beheer het oor alle dinge, Ook die tegnologie behoort aan Hom. Alhoewel die bose die tegnologie misbruik en ons selfs tot sonde aanspoor, beteken dit nog nie dat die bose in beheer is nie. God het die duiwel toegelaat om baie tot sonde te verlei. Dit staan op die sondaar se eie rekening, en daarom kom die hemelse Regter om regverdig te oordeel. Aan die meer positiewe kant sien ek nou hoe die Here self alle nasies kan bereik met die Evangelie. Die tegnologie is ‘n magtige middel daartoe. Ons bronne wys byvoorbeeld dat ons Afrikaanse en Engelse eredienste wêreldwyd beluister en later afgelaai word: Afrika, Nederland, Italië, Amerika, Kanada, Australië, Nieu-Zeeland en selfs Saoedi-Arabië. Die getalle is soms selfs asemrowend. En dit is net ons gemeente. 

As ons dink hoeveel die lugruim (media en internet) tans gevul is met die ware evangelie van Christus, dan moet daar BLYDSKAP in ons harte kom! Daar moet ook blydskap op aarde kom, omdat God kan doen wat ons nalaat om te doen. Net soos by die drie gelykenisse is daar nie baie wat soek na verlore mense nie. Kyk mooi hoe soek die herder én die vrou na hulle verlore goedere. Maar niemand soek die verlore mens nie! God soek wel. Hy vind die seun by die varkhok. Hy lei hom na die Vader. 

Die vraag is dan of daar ten minste ook by jou die blydskap is dat daar mense die evangelie hoor op ander plekke as net in ons gemeente. Die Kommissie vir Evangelisering van ons gemeente lei ons om wyd en syd uit te reik. Bid vir die sending van God in en deur hierdie gemeente, en wees bly. Wees bly dat God doen wat ons nalaat. Anders sou die Here Jesus seker nooit kom nie. Nou wag ons met blydskap op sy koms, want Hy het gekom om te soek en te vind wat verlore is. Mag Hy ons en ons bedieninge gebruik en blydskap daagliks vermeerder!

Ds Maarten 

Doen dit tot my gedagtenis…

Dink aan die Here Jesus. Gedenk sy dood totdat Hy weer kom… Dit is die opdrag wat ons ontvang van die Here Jesus self. Gedenk my dood! Dink na oor dit wat Ek VIR jou doen en dit wat Ek IN jou doen. Hy het vir al jou sondes betaal met sy Eie lewe en Hy skenk aan jou ‘n nuwe lewe deur die wedergeboorte van die Heilige Gees. 

Vandag, volgende week en die week daarna gaan ons saam kom as gemeente om hierdie gebeurtenis te herdenk. Om na te dink oor die betekenis van die dood van ons Here Jesus Christus. 

Want die nagmaal is nie net ‘n gedenkmaaltyd nie. Dit is nie ‘n “memorial” nie. Dit is ook ‘n gemeenskapsmaaltyd. Dit is om in werklike tyd te erken en te beleef hoe Jesus Christus deur sy kruis en opstanding ons ‘n nuwe lewe skenk en saam bind aan ander gelowiges. 

Dit is immers vir ons uiters noodsaaklik om wel aan die Here se dood te dink, veral in die lig van die pandemie. Ons moet nadink oor ons eie lewe in die lig van die virus. Ons moet nadink oor wat ons lewens bedoel is om te wees in die midde van die wêreld wat gebuk gaan onder die oordele van God. 

Ons moet nadink oor die ware betekenis van Christus se dood vir ons lewe. Dat Hy die vrees uit die dood wegneem. Dat Hy ons leer om anders te leef. Dat Hy ons vrede en troos skenk. 

Die Here Jesus Christus wil aan ons die versekering gee deur die tekens van sy bloed en liggaam wat sigbaar is in ons hande deur die brood en die wyn dat ons deel is van sy oorwinning. 

Meer as oorwinnaars in Christus… 

Mag die Here ook vandag u harte versterk en u geloof met nuwe ywer vul in die krag van Sy sterkte in die Heilige Gees deur die hierdie heilige Nagmaal. 

Lourens (vdm) 

« Older posts Newer posts »