Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Kategorie: Predikante Skryf (Page 22 of 40)

Maak die Rooidag wakker!

Psalm 108 

Dawid het Psalm 108 saamgestel uit die volgende twee Psalms nl. Psalm 57:8-12 en Psalm 60:7-14. God se waarheid is altyd waar en daarom kan daar nuwe lofsange oor Hom gemaak word. Dawid het twee van sy vorige Psalms geneem en ‘n nuwe Psalm gemaak. Die opskrif is “Toon u grootheid, o God.” Dawid sing ‘n lied tot eer van God vir sy beskerming. Hierdie is nie sommer net ‘n lied laat in die nag nie, dit is ‘n lied wat hy vroegoggend sing as hy vars en wakker is. 

Psalm 108:2-6 

2 Ek voel weer veilig, o God, ek wil ‘n lied sing, ja, ek wil sing, ek wil vroeg opstaan, met harp en lier wil ek die rooidag wakker maak! 3 Onder die volke wil ek U loof, Here, onder die nasies u lof besing, 4 want u liefde reik tot in die hemel, u trou tot in die wolke. 5 Toon u grootheid, o God, hoog bo die hemel, hoog bo die aarde u mag.” 

Dit is die voorreg van vroeg opstaan om Bybelstudie te doen. In die oggend na ‘n goeie nagrus is jy vars en fris en kan jy met onverdeelde aandag jou tyd aan lofprysing bestee. Dit is wanneer Dawid sy harp en lier uitgehaal het en God geloof en geprys het. 

So moet ons dalk ook vroeg opstaan, veral in die Herfs en Somer, die Rooidag tegemoet, met die Bybel in die hand, en God loof en prys en aanbid. 

NP van Wyk Louw, befaamde digter, het ook ‘n gedig geskryf met die opskrif: 

ROOIDAG 
N.P. van Wyk Louw 
“Rooidag, rooidag, wat bring jy? 
Ek weet nie waarom voel ek so bly;

my hart die klop, en dit voel vir my, 
sowaar, sowaar, vandag kom hy.” 

“Ek wil vroeg opstaan en die rooidag wakker maak!” 

Ds. Gerrit 

“Ek is die Helder Môrester!”

Die laaste “Ek is…” uitspraak in die Bybel. 

Lyk die toekoms vir jou duister? Wonder jy oor wat gaan van die land word? Wonder jy of jy jou kinders of kleinkinders in hierdie land moet grootmaak? Vrae en vrae en vrae… Positiewe antwoorde en negatiewe antwoord. 

Die toekoms is helder verlig! Ja dit is die belofte van die laaste “Ek is…” uitspraak in die Bybel. Jesus openbaar Homself as die helder Môrester. 

Miskien sien ons nie meer altyd die helder môrester nie. Maar ek het ‘n vriend wat ‘n melkery het naby Reitz in die Vrystaat. Elke oggend moet hy al vyfuur in die melkstalle wees. Die helder môrester is vir hom elke dag ‘n wonderwerk sê hy. Vir ons in die stad, sien ons nie meer die sterre gereeld nie en dit is ook soms dof vanweë die besoedeling, maar op die platteland is dit helder en duidelik. 

Wanneer sien mens die helder môrester? Wyle ds. Willem Vogel het dit so beskryf: (http://gkcachet.org.za/preke/2013-05-12-aand/) 

“Die môrester kom op wanneer die nag aan die verbygaan is. 

  • Die môrester skyn op sy helderste net voordat die dag breek. 
  • Die môrester sê dat die nag amper verby is en die nuwe dag amper daar is. 
  • Die môrester dien as ’n gids, ’n vaste punt. 
  • Die donker is besig om deur die lig vervang te word.” 

Jesus Christus openbaar Homself as die “HELDER MÔRESTER!” 

  • Ons lees alreeds dat die profeet Jesaja in Jes 9:1 geprofeteer het van die volk wat in donkerte geleef het, sal ‘n groot lig sien, wat hulle lewens sal verlig. 
  • Bileam het al geprofeteer in Num 24:17 dat “’n Ster sal te voorskyn kom uit Jakob.” 
  • Die Wyse manne uit die Ooste is in die nag van Jesus se geboorte deur ‘n ster gelei na Jesus toe. Mat 2:2 

Watter troos is dit vir ons? 

As daar lig is, kan daar nie duisternis wees nie. Die lig verwyder die duisternis. Nou dink ons die toekoms is dalk donker. Maar die toekoms word al ligter. Die Môrester, Jesus Christus skyn al helderder en duideliker vir ons wat Hom ken en wat gereed maak vir die wederkoms. Ons moet nie vaskyk teen die aardse stryd, waar die Satan die lig wil uitdoof nie, maar ons moet opkyk en die helder Môrester raaksien. Jesus Christus leef. Jesus Christus is besig om vir ons plek voor te berei in die hemel. Jesus Christus laat sy lig helder skyn vir almal wat Hom moet raaksien in die geloof. Daarom is ons nie bang nie. Daarom is dit nie donker nie. Dit is helder verlig vir elkeen wat Jesus Christus ken en in sy hart het.

Ds. Gerrit 

Ons Enigste Troos

Dit is ongeveer 2 maande gelede, aan die einde van Aprilmaand wat die wêreld met afgryse toegekyk het hoe derduisende mense se liggame sommer so in die openbaar in Indië verbrand is, toe hulle deur hierdie selfde vlaag van die virus getref is. 

Die wyse waarop heidene in hulle ongeloof optree sê baie oor wat hulle glo. Hierdie afskuwelike tonele van brandende liggame het baie mense bitter gelaat in die siel. Hoe kan dit wees dat mense sommer so in ‘n openbare park of op straat op ‘n houtstapel geplaas word en net daar aan die brand gesteek word…? 

Ons kan dit net verstaan as ons begrip het vir die heidense oortuiging van Hinduïsme, die grootste panteïstiese geloofsoortuiging in Indië. Die Hindu’s glo dat alles gode is en die gode in alles. Daarom dat hulle nie diere doodmaak nie. En hulle glo in reïnkarnasie. 

Met ander woorde, dat wanneer mense sterf hulle weer in ‘n nuwe vorm lewe vind. Omdat die menslike liggaam in hulle oë net ‘n dop is, moet die liggaam vernietig word so gou moontlik dat die siel nie weer daarheen terugkeer nie, maar eerder na ‘n hoër vorm van goddelikheid sal inkarneer. 

By Christene is die geheel anders. Ons glo dat die liggaam net so kosbaar is soos die siel en die gees. Christus het immers met sy liggaam en bloed betaal, en boonop sit Hy as mens aan die regterhand van sy Vader as verheerlikte Koning. 

Dit is ook die diepe troos van waar ons belydenis begin, by Sondag 1 van die Heidelbergse Kategismus: Dat ons enigste troos daarin bestaan dat ons na liggaam en na siel, in lewe en in sterwe aan Christus behoort. Ons liggaam is immers ‘n tempel van die Heilige Gees wat in ewigheid by God sal wees. 

Mag hierdie troos ook ons berusting en vrede bring in hierdie onsekere tye, dat ons as Christene nie soos die heidene sal wees nie, maar eerder ‘n Lig en Sout wat ons liggame stel as heilige, welgevallige offers om God te verheerlik. 

Lourens (vdm) 

Die derde plaag tref Egipte en die derde golf van die virus tref ons

Die derde plaag wat Egipte getref het was muggies. Ironies dat die eerste twee plae, nl. die water wat in bloed verander het en tweedens die padda-plaag, kon die Egiptiese towenaars ook doen. Maar die derde plaag, wat miskien nie so erg klink nie, nl. ’n muggieplaag, kon die towenaars van Egipte Moses nie nadoen nie. Dit het tot gevolg gehad dat die towenaars gesê het: Ex 8:19 Toe sê die towenaars vir die Farao: “Dit is die vinger van God!” Hulle het uitein-delik erken aan die Farao dat dit God is wat met Egipte handel. 

Die derde plaag van die Covid-19 infeksies het Suid Afrika nou getref en veral ons in Gauteng loop die ergste deur. Met die eerste twee plae was dit dalk nog ver van ons af en enkele mense het siek geword. Nou is dit so dat daar feitlik in elke wyk ’n hele paar huisgesinne getref en geaffekteer word. Dit het nou werklik ’n pandemie geword. Dank die Here die medici begin die virus al ’n bietjie verstaan met die nodige behandeling, maar nog steeds sterf daar mense vanweë die virus. 

Nou kan ons sekerlik steeds vra: Waar kom die virus vandaan? Hoekom tref dit ons en die hele wêreld? Wat moet ons doen en hoe moet ons dit hanteer? 

Sekerlik is daar meer vrae as antwoorde! Daar is sekerlik vrae waarop ons nooit die antwoorde sal verkry nie. MAAR verseker vra dit van ons om afgesien van ons verantwoordelikheid, van protokolle wat gevolg moet word, OM na God toe terug te keer en ons te bekeer. Ons moet ons voor God verootmoedig en ons voor God werp in gebed. Ons moet ons opnuut voor God verootmoedig. Mat_10:28 Moenie bang wees vir dié wat die liggaam doodmaak, maar die siel nie kan doodmaak nie. Nee, vrees Hom eerder wat sowel die liggaam as die siel in die hel kan laat vergaan.” 

Luk_12:4 “Aan julle, my vriende, sê Ek: Moenie bang wees vir dié wat die liggaam doodmaak en daarna niks verder kan doen nie.” 

Ons moet nie bevrees wees nie. God is altyd en steeds in beheer. Steeds sal daar nie ’n haar van ons hoof val sonder dat God dit weet nie. God sal ons nie bo ons vermoë beproef nie. Ja natuurlik is al hierdie gebeure traumaties. Natuurlik is die dood veral vanweë die virus baie traumaties. Maar kom ons bly vertrou en bid. Kom ons bly erken dat God almagtig en in beheer is. Kom ons bid vir genade en beskerming, SODAT ons God kan dien en aanbid en voor Hom buig.

Ds. Gerrit 

Tweedehandse Christen?

Deur die genade het ek en my vrou tans 15 kleinkinders. Wat ‘n vreugde en seën! Maar het u geweet dat God nie kleinkinders het nie! Hy het net kinders. Mens is nie ‘n kind van God net omdat jou ouers kinders van die Here is nie. Voorbeeld: Jakob en Esau. 

Terwyl ek voorberei vir Sondag se Engelse diens (Alethea) en Bybelstudie loop ek dieselfde soort raak in die storie van Abraham en Lot. Die neef Lot is ‘n tweedehandse gelowige. Hy is alewig in die kring van Abraham se flappende tente. Hy volg Abraham byna op die voet. Al doer van Haran af deel hy soort van in Abraham se hoë roeping (Gen 12). Hy beland selfs saam met Abraham in Egipte, en oorleef saam ‘n hongersnood (Gen 12), en hy nogal word later deur Abraham van sy ‘hijackers’ verlos (Gen 14)! Sien dit help nogal om die geselskap van God se kinders te lewe. Dit is baie goed en selfs aan te bevele dat jy en jou gesin christelike vriende het en mekaar se kuiers geniet. Dit is selfs baie goed dat jou kinders in ‘n spesifiek christelike skool opgevoed word en dit is hoogs nodig dat jy by ‘n goeie skrifgetroue christelike gemeente aansluit. MAAR… dit beteken nog nie dat jy ‘n ware Christen is nie!! 

Lot is ‘n soort van “tag-along” by Abraham. Abraham luister na die Here. Hy volg sy roeping. Hy word geseën . Hy dien tot ‘n seën vir ander (Gen 12:3,4). Lot, aan die anderkant, tap van sy oom se genade en loop hom al agterna en leef maar net van die krummels wat van Abraham se tafel afval. Uiteindelik kies hy om weg te gaan van Abraham en kies net sy eie voordeel (Gen 13) – die waterryke landstreke van die Jordaan, daar naby Sodom. En dan uiteindelik vind ons hom waar hy binne-in Sodom woon (Gen 14:12), en later selfs op die stadsraad in die poorte sit van die goddelose stad (Gen 19:1). 

Lot was in die omgewing van Abraham. In die omgewing van die God van Abraham. Hy het die regte kultuur en taal soos Abraham, maar self ken hy nie die Here nie. Abraham bou altare en offer aan die Here, maar die man Lot soek net sy eie voordeel en tydelike goeters en rykdom. Dit sluk hom en sy huis heeltemal in. 

Tweedehandse christenskap lyk mooi maar is leeg en waardeloos. Om lidmaat van die regte kerk te wees vra meer… ook moet ons die Here persoonlik ken en dien, ons lewe aan God offer in die Naam van Hom wat sy lewe vir ons geoffer het. Vra die Here om in die Naam van Jesus en deur die krag van sy Gees jouself weer aan Hom toe te wy en oor te gee. Ons is immers geroep tot kind-wees van die Here. 

God het nie kleinkinders nie! Mag ons én ons kinders én ons kleinkinders God so ken! 

Ds Maarten 

Die evangelie is ‘n ope GEHEIM…

Alle mense het geheime. Baie geheime. Daar is geheime familie-resepte, geheime doepas, geheime plekke en geheime wat net jy in jou hart bewaar… Wat is jou diepste geheim? 

Dink maar net wat sal gebeur as jou geheim uitkom? Sal jy kwaad wees of ongelukkig of teleurgesteld? Want nou is jou geheim nie meer kosbaar nie. Jou geheim is nie meer geheim nie. Dit is nie meer iets spesiaal wat niemand anders weet nie. 

As kinders het ons baie keer geheime wat jy met net jou beste maat deel. As jy en jou maat kwaai vriende raak, dan vertel jy soms, of andersom, sommer daardie geheim vir almal om jou maat te na te kom. 

Met die Bybel is dit nie so nie. Die Bybel is ‘n ope geheim. En dit is nogal ‘n snaakse manier om daaraan te dink. U sien, die boodskap van die Bybel is oop vir enige iemand om dit te lees. Maar nie almal wat dit lees, verstaan wat dit beteken nie. Nie almal glo die boodskap nie. Daarin lê ‘n misterie… In die werk van die Heilige Gees. 

Die boodskap van die Bybel is ‘n blye boodskap van vergifnis en vrede en innerlike blydskap. Dit is ‘n belofte wat ons nou alreeds kan ontvang in ons harte, maar wat ons met ons hele lewe op vertrou – ‘n hoop op die toekoms. Dit word verseker en bevestig deur die werk van die Gees en die bewys van ons dade en woorde… 

Hierdie boodskap van Hoop is in Christus. Dit is die ware geheim van die lewe. Dit is Christus self. Hy is ons HOOP. Dit is die geheim wat ons in ons harte bewaar, maar ‘n geheim wat ons ook met ander MOET deel. Moenie die geheim van Christus net vir jouself hou nie! 

Onthou ook om nie jou hartsgeheim van jou verlossing weg te steek of daarvan te vergeet nie. Moenie vergeet van die hoop wat ons het in Christus nie, nee, laat die geheim van jou hart ook vir die wêreld sigbaar word. 

Lourens (vdm) 

« Older posts Newer posts »