Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Kategorie: Blogs (Page 39 of 53)

Grendeltyd Fase 2 Eredienste

Noudat ons in Fase 2 is van die grendeltyd, begin ons stadig maar seker weer terugkeer na die “normale” lewe. Maar wat is normaal? Normaal is nie net om te doen wat ons altyd gedoen het nie, maar normaal is die intense begeerte om die Here VOLUIT saam met jou medegelowiges te dien.

Psalm 84 verwoord die intense verlange van die pelgrims om na die tempel te gaan en daar in die nabyheid van God, Hom te loof en te prys. Die tempel was die simbool van die Here se teenwoordigheid. Die pelgrims was in ʼn vrolike feesoptog vir die moontlike Huttefees. Op die lang en intense reis was daar ‘n intense verlange om in die tempel te wees.

So het ons die afgelope drie en ‘n halwe maand gesmag om weer saam in ‘n erediens te vergader. Hierdie reis van die pelgrims was ook simbolies van die verlange om vir ewig by God te wees, ‘n verlange na die ewige Godstad, die Nuwe Jerusalem, Open 21,22. Die Koragiete kon slegs in die voorhof van die tempel kom. Dit was vir hulle egter genoeg, hulle was in die tempel.

Maar geliefdes, tydens Jesus Christus se kruisiging het die voorhangsel geskeur en het ons vrye toegang tot by God. Heb 10:19-25. Deur Jesus Christus se soenverdienste heen het Hy vir ons die weg gebaan om by God te wees, om God te aanbid. Die Heilige Gees is uitgestort sodat ons ook deur Hom gelei, kan word in gebed, in ons daaglikse lewe om met verlange uit te sien om God elke dag te loof en te prys.

Ons lees in Open 21:22 dat daar nie ‘n tempel in die Nuwe Jerusalem is nie, maar God en die Lam is die tempel. Daarom die hunkering om by God te wees. Daar is ook die hunkering om by God te wees saam met my medegelowiges.

Sien jy ook uit om saam eredienste te kan hou tot eer van God!

ds Gerrit

MISSIO DEI

“My Vader werk tot nou toe en Ek werk ook” (Joh 5:17)

Van tyd tot tyd gaan daar in die teologie begrippe rond waarmee mense probeer om die grootheid en grootsheid van die Goddelike openbaring te beskrywe. Begrippe wat populêr raak en dan soms weer in onbruik. Opsigself is dit net die bewys dat God en sy genadewerk onbeskryflik groot is (Rom 11:33). In die laaste paar dekades kry ons die begrip ‘Missio Dei’ as poging om die missionêre fokus van die kerk te beskrywe. Die Latynse woorde sou vertaal kan word met “God se Sending”. God se groot plan om vir Hom ‘n gemeente van uitverkorenes te versamel (Hbk vr 54).

In wese beskrywe Missio Dei die taak van die kerk van die Here binne die groot plan van God self. Die kerk is dan nie die doel opsigself nie, maar die instrument wat God gebruik om sy werk te voltooi. Dit gaan dus nie net om die kerk te wees nie, maar om as kerk van Christus, die werk wat Hy begin het voort te sit. Hy het sy taak voltooi (dit is volbring), maar Hy maak ons sy medewerkers in die versameling van sy uitverkorenes en die oprigting van sy koninkryk.

Die taak van die kerk is dan om deel te wees van die Missio Dei. God het ‘n plan of ‘n sending in die wêreld en om sy doel te bereik stuur Hy sy eniggebore Seun op die groot sending om mense van hulle sondes te verlos. As Christus na die hemel opvaar maak Hy sy dissipels en ook ons deel van die Goddelike plan of sending, deur ons uit te stuur en met ons saam te gaan na alle nasies om mense sy dissipels te maak (Mat 28).

God is nie soos die heidense afgode wat mense sy slawewerk laat doen nie, maar maak mense na sy beeld en roep hulle as medewerkers in sy koninkryk. Hy wil dus sy werk, sy ewige raadsplan voltooi en ons deelmaak van hierdie sending. Dit gee aan ons elkeen die voorreg en verantwoordelikheid om werklik om te gee vir verlore mense en alles in die stryd te werp om mense vir Christus te wen (Hbk vr 86). Daarby kry ons die belofte dat Jesus Christus self saam met ons sal wees in die uitvoering van hierdie kerklike taak (Mat 28) en dat Hy die verkondiging van die Evangelie onder die nasies seën (Hand 2:47b).

Wat ‘n groot voorreg is dit dan om saam met Paulus en baie ander gelowiges oor die eeue heen deel te wees van die sendingwerk van die kerk van die Here. Mag Hy gee dat ons elkeen altyd ‘n oop en gewillige hart het om aan ander mense die evangelie van Christus te bring.

Ds Maarten

Om ‘n mens te wees…

Ons hoor gereeld dat mense op ‘n “onmenslike” wyse moet oorleef. Daar is baie landsburgers wat in onmenslike omstandighede elke dag ‘n bestaan moet maak; wat onmenslike werksomstandighede moet verduur; wat onmenslike behandeling ontvang ens.

Tog is daar ‘n diep vraag wat dit werklik beteken om mens-”waardig” te wees. Ongelukkig word hierdie twee uiterste pole as die enigste vorm menslikheid gesien, waarby menseregte dan die skeidsregter is.

Volgens menseregte moet jy so en so behandel word en die volgende dinge ontvang om menswaardig te wees… As jy dit nie kry nie, het jy die reg om op jou menswaardigheid aanspraak te maak deur te protesteer…

So word die gedrag van mense negatief ingestel deur mensgemaakte wette om ons samelewing te orden om ons wese te laat leef en te bestaan met destruktiewe gedrag. Op hierdie wyse word die mens sy eie god. Elke mens moet deur sy eie opinies en eie regte self veg vir sy menswees. Die moderne eksistensialisme is bloot petrol op die vuur deur identiteitspolitiek en die “woke”kultuur. Want nou word elke mens vertel dat hulle self kan besluit wat hulle liggaam is…

Hierbinne lê ‘n diepgewortelde tweestryd tussen Platoniese dualisme wat natuur en genade skei. Die liggaam is net die kerker van die siel. Maar terselfde tyd ook ‘n eksistensiële realisme, dat ek net vir die hier en nou bestaan. Ek moet my beste lewe nou leef…

Nie een van hierdie filosofiese denkstrome kom egter by die antwoord uit wat dit beteken om mens te wees nie. Want al hierdie denke is gerig op die mens. Die begin en einde van alles gaan net oor ons. Dit kaap soms ook die Skrif om te beweer dat alles net gaan oor die mens. “Want so lief het God die wêreld gehad….”

Dit gaan egter oor meer as “die mens” in hierdie skepping. Die mens is geskep, nie vir homself nie, maar vir God. As kroon van die skepping is die doel van die mens om God te verheerlik. “…sodat elkeen wat glo, die ewige lewe kan hê…” Dit is, om God te dien en Hom lief te hê en Hom te verheerlik…

U sien, om mens te wees is om te verstaan dat jy broos is, soos Enos, om God te aanbid. Om te begryp wat Dawid uitroep in Psalm 8: “Wat is die mens dat U aan hom dink…?” Dan kom ons uit by die ware mens, Jesus Christus… Soos Pilatus Jesus aan die skare wys: “Daar is die mens!” Johannes 19:5

Om mens te wees is om te verstaan dat jy geskep is deur God, met die doel om Hom te dien en te eer. Om mens te wees is om deel te hê aan die ware mens, Jesus Christus. Dit is om herstel te word na die beeld van God – om die Heilige Gees te ontvang.

Dan verstaan ons dat ons liggaam ‘n tempel is van God! ‘n Tempel waarin die Heilige Gees woon. Die liggaam is nie nikswerd nie, Jesus Christus het met Sy eie liggaam vir ons liggame betaal sodat ons nie in die helse vuur gewerp sal word nie, maar in die hemelse heerlikheid sal deel.

Dit is tog wat ons bely aan die Nagmaalstafel, dat die brood ons gemeenskap is met die liggaam van Christus… En dan eet ons daardie brood sodat ons liggaam versterk kan word.

Daarom bely ons ook, as die fondament van dit wat ons glo, wat ons ENIGSTE troos is, dat ons na liggaam en siel, in lewe en in sterwe aan Christus behoort.

Mag die Here ons versterk en moed gee ook in hierdie tyd van Covid 19, om te onthou dat ons volkome aan Hom behoort, na liggaam en siel. Dat ons nie hoef te vrees nie. Dat die dood ons nie van Hom kan skei nie… Maar dat ons met ‘n volkome hart Hom sal dien en eer en verheerlik, in lewe en in sterwe want daartoe het Hy ons vry gekoop!

Lourens (vdm)

Ken jouself! Wees beskeie oor jouself! Roem in God alleen!

Rom 12:3 “…Moenie van jouself meer dink as wat jy behoort te dink nie. Nee, lê jou liewer daarop toe om beskeie te wees in ooreenstemming met die maat van geloof wat God aan elkeen toebedeel het.”

God het aan elkeen van ons gawes gegee. Sommige het meer gekry en ander minder. Een gawe is egter nie belangriker as ’n ander nie. Hoe meer gawes jy gekry het, beteken nie jy is belangriker nie, maar jy het ’n groter verantwoordelikheid om al jou gawes reg te gebruik.

Om meer van jouself te dink, is tipies hoe hierdie wêreld ons wil breinspoel. Dit word aan ons voorgehou om altyd te strewe na die belangrikste, die beste, om te presteer, sodat jy, of mense om jou, jou op die skouer kan klop. Dit is in direkte lyn met wat die Bybel aan ons leer. Die gawes wat God jou gegee het moet jy voluit gebruik, nie soos jy wil nie, maar soos wat God wil. As daar die geringste selfvoldaanheid is, soek jy nie meer God se wil nie, maar jou eie wil.

Nee, vra en soek biddend van God, wat is my gawes? Waarin is ek goed? Ken jouself, waarin jy goed is, wat jou gawes is. Erken die gawes wat God aan jou gegee het en gebruik dit biddend tot voordeel van sy koninkryk. Dit beteken om vol blydskap, met dankbaarheid, God te dien en tot voordeel van jou naaste te doen wat jy doen. Paulus noem verder in die perikoop, gawes wat mense ontvang het is die van, profesie, diens, onderrig, bemoediging, om te kan leiding gee, te kan uitdeel en met toewyding en blymoedigheid te werk.

Daarom is dit so belangrik dat ons die gesindheid van Jesus Christus sal navolg. Hy het op ’n donkie Jerusalem binnegery. Hy het nie vir materiële rykdom gewerk nie, alles behoort tog aan Hom. Hy het nagte deur vir sy kerk, vir sondaars gebid. Hy het sy lewe gegee vir son-daars. Hy was bereid om fisies en geestelik, helse pyn en lyding, te ondergaan ter wille van sy mense.

  • Kom ons erken en ken ons gawes wat God aan ons gegee het.
  • Kom ons gebruik dit tot voordeel van die kerk, van ons medemense.
  • Kom ons waardeer ons medemense, prys hulle, met hulle gawes.
  • Kom ons dien God en eer God en loof en prys Hom.

ds. Gerrit

Verlies en wins

2 Kor 5: 1 Ons weet dat wanneer ons aardse woning, wat maar ‘n tent is, afgebreek word, ons ‘n vaste gebou in die hemel het. Dit is ‘n woning wat nie deur mense gemaak is nie, maar deur God, en dit bly ewig staan. 2 Terwyl ons in die tentwoning leef, sug ons, want ons verlang daarna dat ons woning uit die hemel ons sal oordek. 3 Ons wil nie ontklee wees en naak voor God staan nie. 4 Ons wat nog in die tentwoning is, sug en voel bedruk, omdat ons nie van die aardse liggaam afstand wil doen nie; ons wil die hemelse bo-oor die aardse aantrek, sodat wat sterflik is, verteer kan word deur die lewe. 5 Hy wat ons vir hierdie oorgang voorberei het, is God. As waarborg hiervan het Hy ons sy Gees gegee.

As u my toelaat om vandag ‘n persoonlike ervaring te deel, wil ek graag praat oor verliese wat gedurende die afgelope tyd ervaar is. Ek voel die verlies aan my eie lyf op verskillende vlakke, en u sal u eie daarby kon voeg, of dalk met myne identifiseer.

Hierdie jaar was daar vir my die uitsig van ons veertigste huweliksherdenking. Ons wou ons onsself trakteer met ‘n bederftyd wat nou heeltemal nie kon realiseer nie. Onder andere sou ons saam na ‘n konsert van André Rieu in Maarsticht, Nederland, gaan kyk het! My twee Bybelland-toere hierdie jaar, én my langverlof, het onder die pandemie gesneuwel. En dan daarby – die verlies aan die gewone roetine, aan koinonia, kontak en saamwees. Ook nog die vreemde, abnormale regulasies wat ons gemaksones kom toets het. Nog intenser, voeg daarby die daaglikse gesprekke oor die seer en pyn van die eensame Covid-geïsoleerdes. Ander wat hulle werk of salaris verloor het. Daar-by ook diegene wat geliefdes aan die dood afgestaan het, en helaas! … tydens die doods-ure nie die nodige onderskraging kon gee, of kry nie weens die regulasies. Dié soort afskeid is swaar. In al hierdie dinge beleef ons ‘n bedekte voosheid en verlamming weens die abnormale, aanhoudende dra van maskers, die aanhoudende sanitering en die aanhoudende onsekerheid oor wat die diepte-punt (sic: hoogtepunt, piek) van die pandemie gaan wees.

In hierdie proses het ek besef dat die swaarste verlies vir seker is dat ons ons menslike vryheid ingeboet het. Vryheid wat ons as vanselfsprekend aanvaar het en die onsekerheid van die toekoms wat ons dalk gedink het onsself kon uitdroom: dus, verlies aan planne en drome!

Geleerdes het lankal bepaal dat mens tydens verlies die volgende prosesse deurgaan – elke mens op sy eie manier en met sy eie intensiteit: Eers die skok en gou daarna die ontkenning van die werklike gebeure. Dit word gevolg deur aggressie en lei op sy beurt tot ‘n onderhandelingsfase. Meesal kom aanvaarding nadat iets van ‘n swaarmoedige fase (lees: depressie), van langer of korter duur, beleef is.

Maar dan is dit nog nie klaar nie. Hierna volg eintlik die belangrikste deel van die trauma en beproewing van verlies, naamlik om betekenis te soek en te vind en selfs te gee aan dit wat jy deur die verlies belewe het. Waarskynlik soek die wêreld betekenis op die horisontale vlak, maar vir ons as kinders van die Here, vind ons dit in die Here. Die Heilige Gees vul die leemtes van verlies met woorde van die ewige lewe. Die Gees bring ons by Christus; Christus wat soveel verlies ervaar het, sodat ons die ewige lewe as wins kan verkry!

Ek kry so stadigaan die idee dat mens deur die effek van die globale pandemie, in jou besef van afhanklikheid groei, en dat jy die genade van die Here (jou vryheid, familie, vriende en gesondheid) nie meer as vanselfsprekend sal kan sien nie.

Laat ons in hierdie gevoel van gestropenheid, die Here altyd dank vir die genade van hierdie lewe en nie té styf vashou aan die mense of goeters van hierdie verganklike bestaan nie. Ons maak liewer die beste van ‘n slegte saak en hou ons oë op die wenpaal.

Die wenpaal …, waar Christus vir ons sal laat deel in die wins van sy ewige koninkryk: die kroon van die lewe!

Ds Maarten

As iemand wysheid kortkom…

Soms voel dit asof ‘n mens net nie genoeg wysheid het om te weet wat reg is of nie. Daar is so baie mense wat worstel met “waar om die lyn te trek” as dit kom by verskillende uitdagings in die lewe.

Baie mense vra die vraag: Waar moet ons die lyn trek as dit kom by burgerlike gehoorsaamheid? Waar moet ons die lyn trek om weg te bly van die erediens? Waar moet ons die lyn trek om jou besigheid en daarmee jou lewensonderhoud te red?

Hierdie is nie maklike vrae om te beantwoord nie… En elke persoon se gegewe omstandighede verskil… Tog is daar ‘n duidelike riglyn in die Skrif oor beginselsake. Die Bybel is nie ‘n naslaan boek moet probleemoplossings nie. Dit is nie ‘n “kitsgids” vir hoe om dinge gou gou reg te maak nie…

Die Bybel is vir ons die rigtingwyser, maar uiteindelik moet ons elkeen op ons knieë gaan en tot God bid… So skryf Jakobus (1:5ev) aan die gemeentelede wat verstrooid is: As iemand wysheid kortkom, laat hom dit van God bid… Maar dan moet jy in die geloof bid!

Dan sal jy dalk wonder: Maar wat moet ek bid? Hoe moet ek bid? Dit antwoord die Heilige Gees ons in die brief aan die Romeine hoofstuk 8: die opregtheid van hart in die hoop op Christus… En al weet ons nie reg wat ons moet bid nie, kom die Gees ons swakhede te hulp en tree vir ons in met onuitspreeklike versugtinge!

Laat ons dan biddend nader tot die hemeltroon in hierdie moeilike tyd om te bid vir wysheid en genade, met ‘n dankbare hart. Want God wat die harte deursoek weet wat die bedoeling is, Hy ken ons harte. Hy sal aan ons vrede en berusting gee, dat Hy ook hierdie omstandighede vir ons tot goede sal laat meewerk…

Lourens (vdm)

« Older posts Newer posts »