Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Kategorie: Blogs (Page 38 of 53)

VEROOTMOEDIGING

Psalm 51:18,19 (NAV)

(18) “‘n Offer vra U nie, anders sou ek dit bring; ‘n brandoffer wil U nie hê nie. (19) Die offer wat U wil hê, o God, is verootmoediging: U sal ‘n hart vol ootmoed en berou nie gering ag nie, o God.”

Wat beteken verootmoediging? Verootmoediging beteken om voor God neer te buig. Dit beteken om jou afhanklikheid van God te erken. Dit beteken om te erken dat jy is diep afhanklik van God se genade. Daarom dat Jesus ook aan ons leer in die bergpredikasie, Mat 5:3: “Geseënd is die wat weet hoe afhanklik hulle van God is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel..” Maar ook ‘n baie belangrike saak in verootmoediging is om te erken dat jy sondig is en sonde doen.

Hoekom ‘n algemene dag van verootmoediging? Ons land en die hele wêreld is in ‘n diepe nood vanweë die uitwerking van die Coronavirus. Baie van ons lidmate het die virus opgedoen en was gevolglik baie siek. As ons rondom ons kyk is daar steeds baie nood op maatskaplike, ekonomiese en kulturele gebied. Ons kinders lei onder die inperkings. Die kerk lei daaronder. Ons kan nog steeds nie in volle getalle die eredienste hou nie. Die katkisasie van die laerskoolkinders kon nog nie in aanvang neem nie. Dit is vir ons almal ‘n lyding en opoffering.

DAAROM verootmoedig ons onsself voor die Here. Ons as gemeente saam en elke gelowige individueel moet daarom voor God in nederigheid buig om ons volkome afhanklikheid van God se genade te bely. Sonder God se genade en hulp en vergifnis kan ons nie lewe nie. Ons smag daarna om weer as gemeente voluit met al ons aanbidding en dienswerk God te dien. Ons smag daarna om weer as gemeente in lofsange uit te breek tot eer van God. Ons smag daarna om met harte vol ootmoed en berou voor God te verskyn. En dit is wat ons as gemeente en kerkverband ook vandag doen. Ons verootmoedig ons voor God. Ons bely ons afhanklikheid. Ons smeek vir genade. Ons wil steeds en al meer en meer in ‘n lewende verhouding met God staan. Aan God al die eer en die lof en die aanbidding wat Hom alleen toekom.

ds. Gerrit Kruger

So is ek gedra in my stryd met Covid-19

Na my huisbesoek by ondergetekende lidmate van wyk C08, waarin ons die Here gedank en geloof het vir sy genade en versorging, het ek vir Frikkie gevra om iets op skrif te stel.

Sy getuienis betreffende die liefdevolle ondersteuning van sy wyk en die res van die gemeente was opvallend en wil ek graag as aanmoediging vir die res van die gemeente hier deel.

(Ds Maarten)

2 Kor 12:26 “As een lid ly, ly al die lede saam; en as een lid geëer word, is al die lede saam bly.”

So is ek gedra in my stryd met Covid-19

(Aug 2020)

Die lyfseer, kortasem en hoofpyn, so tiperend, was my voorland, en die toets het dit wat ek instinktief geweet het, bevestig. Koud en klinies was die dokter se opdrag: jy word opgeneem.

Dit was ʼn skok ja, maar ons weet ons hulp is van die HERE, ons sal geen onheil vrees nie. Uit Sy hand ontvang ons dag-vir-dag die goeie, maar ook die onvermydelike van hierdie lewe, laat Hy toe om ons te louter en te suiwer vir Sy Koninkryk.

Die dae in die hospitaal was uiters lank en onpersoonlik, maar ek volg instruksies getrou. Maar ure se moedeloosheid oor die onmagtigheid wat my soms soos ʼn kombers wou vers-moor, het my elke keer opnuut laat soek na God en het Hy my versterk op sy tyd.

Toe ek uiteindelik weer kon kommunikeer bring die selfoon talle boodskappe en oproepe, ʼn inspirasie wat toe só nodig was. Baie belangrik was die persoonlike oproepe van ons leraars. Woorde van bemoediging en ook die wete dat hulle omgee vir ons was meer as goud werd .

Baie dankie aan al die lede van ons wyk se whattsapp-groep wat ons ondersteun het en ook vir ons gebid het. Aan al die gemeentelede wat vir ons gebid het, baie dankie vir julle en dat julle vir almal wat dit nodig het, bid. Dankie vir die blomme en kos wat aangedra is!

Aan my wederhelfte van 49 jaar, baie dankie ook vir jou gebede en versorging toe ek kon huis toe kom.

Die belangrikste van alles en almal is GOD ons Hemelse Vader wat ons elke dag bestuur en dat Sy Heilige Gees ons lei en bewaar. Aan U, ons Vader, al die eer, die lof, die dank en die aanbidding.

Frikkie (en Poppie Brits) Wyk C08

‘n Dag van verootmoediging

Vandag word ons almal opgeroep om onsself voor die Here te verootmoedig…

Vanweë uiters streng inperkingsregulasies, voel die kerke die druk, nood en dringende behoefte om weer in die volle gemeenskap van die heiliges te funksioneer.

Ons versoek dat:

1. Elkeen selfondersoek doen en verootmoedig voor die Here.

2. Elkeen die koningsheerskappy van Christus sal erken en nie die uitkoms by mense soek nie.

3. Ons voorbidding doen vir die owerheid in hierdie belangrike saak om in verantwoordelikheid voor God op te tree.

4. Ons voorbidding doen vir ’n goeie reënseisoen, sodat daar genoeg kos en werk sal wees vir alle mense in die land.

5. Die kerk in gehoorsaamheid aan God, ons lig in besonder sal uitstraal in hierdie tyd met liefde en omgee vir alle mense en in besonder vir die mense in nood, sodat die triomf van die evangelie eindeloos sal wees.

6. Die kerke die Here dank vir die bewaring wat die kerk grootliks ontvang het en die seëning van ʼn hoë herstelpersentasie onder mense wat die virus opgedoen het.

Ootmoed word verklaar in die HAT as “‘n besef van nederigheid, onderworpenheid, veral teenoor God.” Hoewel dit nie meer so algemene Afrikaanse woord is nie, is dit nog altyd ‘n belang-rike begrip in Bybelse terme.

Met hierdie woordjie, wat vandag baie meer algemeen vertaal word met nederigheid, sit daar tog iets dieper in, om jouself neer te buig, om jouself te verneder voor God. Dit gaan oor ‘n baie spesifieke aksie/reaksie.

Die verklarende woordeboek vertaal dit met: Humility, meekness, poverty.

Ons Here Jesus begin die saligsprekinge met hierdie gesindheid wat in ons moet wees om “arm van gees” te wees. Dit is om van jou eie moedigheid af te sien en volkome op die Here te vertrou.

Daarom ook dat die Here afsien van Sy kwaad en toorn as sy kinders hulle verneder in hulle swakheid en hulle voor Hom verootmoedig. Moses leer die volk in Deuteronomium 8 dat hulle 40 jaar deur die woestyn gereis het omdat die Here hulle nederigheid (ootmoed) geleer het om hulle op die proef te stel of hulle Hom waarlik liefhet. Salomo pleit in sy gebed in 1 Konings 8 dat die Here sal uitkoms gee as daar nood is en die volk hulle tot die Here bekeer (verootmoedig). So het Dawid en Jehiskia en die profete hulle voor die Here verootmoedig. Ja ook die volk het by tye in nederigheid gebuig, en die Here het hulle genadig aangesien.

Jesaja verkondig in hoofstuk 61 oor die koms van die Messias: “Die Gees van die Here my God het oor my gekom, die Here het my gesalf om ‘n blye boodskap te bring aan die mense in nood (ootmoediges), Hy het my gestuur om die wat moedeloos is, op te beur….”

Mag ons dan hierdie blye boodskap ter harte neem as ons onsself vandag voor die Here in nederigheid verootmoedig en ons van harte bekeer en ons vertroue volkome op Hom rig. Mag die Here ons gebed verhoor. Want die nederiges sien Hy genadig aan, maar die hoogmoediges werp Hy neer.

Lourens (VDM)

Nie selfvoldaanheid nie maar dankbaarheid!

Pred 9:1-12

Ons kan so maklik dink dat EK ‘n geweldig impak by die werk, skool in my omgewing maak. Die eie-ek is tog so dikwels ons norm. Daarom meet ons andere aan onsself, ek is die vinnigste, slimste, sterkste, oulikste, mooiste, rykste ens.

Maar wat het ek of besit ek wat ek self verdien het? Is alles nie genade van God nie? Is alles wat ek het nie aan my gegee om te dien nie. Die Skrif is duidelik dat hy wat die belangrikste wil wees, moet die minste wees. Ons Here Jesus Christus, die Koning van die konings, het op ‘n donkie gery. Op aarde het Hy nie sondaars voor Hom weggevee nie, maar vir hulle gebid, hulle bemoedig, vertroos en die evangelie verkondig. Trouens Hy het vir ons as sondaars Sy lewe kom aflê.

Die dissipels het gestry wie van hulle is die belangrikste in die koninkryk, selfs gestry oor wie langs Jesus sal sit. Dieselfde geld natuurlik vir intellektuele kapasiteit. Dit is nie noodwendig die intellektueles wat die beste daaraan toe is of wat die kitaar moet slaan nie. Dit is diegene wat biddend voor God staan, diep afhanklik van Hom.

Dit beteken nie dat jy jou eie talente moet minag nie, maar bloot dat jy dit na waarde skat soos wat God dit aan jou gegee het en dit gebruik tot eer van God en tot voordeel van jou naaste. Ons lees in Prediker 9 dat die goeie en die slegte met alle mense gebeur. Nie een is gevrywaar van die swaarkry op aarde nie. God gee reën en droogte, rykdom en armoede.

Daarom moet daar geen selfvoldaanheid wees nie, maar dankbaarheid. Daar moet dankbaarheid in ons harte wees dat ons kinders van God is. Dankbaarheid dat Hy ons gekoop het met Christus se kosbare liggaam en bloed. Dankbaarheid dat ons meer as oorwinnaars, deur Jesus Christus is. Doen alles dus met toewyding en werk hard maar rustig. God is in beheer.

ds Gerrit

Veranderinge in die Suidland (Psalm 126)

Om Namakwaland se blomme te gaan kyk is ‘n groot voorreg en eintlik ‘n móét vir elkeen wat dit kan doen. Kyk ek na ons foto’s van die afgelope naweek dan besef mens jy kan die prentjie-mooi land nie op film vaslê of oorvertel nie. Die Here het kwistig sy verfkwas gebruik en ‘n wonderwêreld opgetower vir ons om te sien en Hom te verheerlik.

Psalm 126 kom by my op soos ons deur die semi-woestyn van Namakwaland en die Knersvlakte ry. Eintlik is dit ‘n dorre en barre wêreld, waar dit meesal met temperature rondom die veertig grade worstel. So ook die Suidland van Israel. Die Hebreeus gebruik die naam van die Negevwoestyn suid van Judea. Harde wêreld! Dorre aarde, ja, maar laat dit net reën in die winter, dan kom die blomme in die vroeë lente in krag uit die aarde, net soos in die Weskaap van Namakwaland!

Die digter van hierdie psalm roep in herinnering dié kere dat God ingegryp het en hulle lot drasties verander het. Nou vra hy dit moet weer gebeur. Die woestyn kan ‘n lushof word, maar net die Here kan so iets vermag.

Ook ons gebed is vandag so. Ons soek weer die vreugde van die vryheid van pandemie en misdaad en korrupsie. Ag Here, verander tog ons lot, soos u die Negev in waterstrome en lentebloeisels verander. Net u kan dit doen omdat Jesus dit vir ons met sy bloed gekoop het.

Bid maar hierdie gebed gereeld in jou trane, want as God verhoor sal jy met vreugde maai wat jy gesaai het! (vs6)

Eintlik is ons gebed dat die groot verandering van die wederkoms kom wanneer Hy ons van hierdie woestynlewe kom verlos, en die poorte van die paradystuin oopsluit: Maranata, kom Here Jesus, ja, kom gou!

Ds Maarten

Verkondig Christus en Hom as gekruisigde

Die meeste van ons ken van kindsbeen af die frase: “Jesus het vir ons sondes gesterwe”.

Maar het u al ooit gedink watter vreemde gedagte dit inhou. Dat iemand se dood ons moet bly maak. Nie net moet bly maak nie, maar jou hele lewe verander. In die meeste gevalle is die dood iets wat ons selfs ons vyande nie eens toewens nie, wat nog te sê dat jy ‘n vriend of geliefde die dood toewens.

Tog praat ons met ons kinders oor die dood asof dit nie net normaal is nie, maar goed is. Jesus se dood is wonderlik! Jesus het vir jou en my aan die kruis gesterf…

Die afgelope tyd is my gedagtes geprikkel deur wat dit beteken om Christus te verkondig? Beteken dit bloot om vir ons kinders te vertel ‘n jong man van so in die dertig het ongeveer 2000 jaar gelede gesterf aan ‘n kruis en die lewe vir ons daardeur beter gemaak?

Of sit daar dalk iets dieper in die betekenis en die verandering van ons harte wat Christus se dood verkondig totdat Hy weer sal kom. Om Christus te verkondig beteken tog in wese dat die koninkryk van die hemele naby gekom het. Dat die dood geen mag oor die mens meer het nie. Dat ons die eiendom van God is. Dat ons lewe ‘n doel en betekenis het. Dat ons elke dag ons lewe kan rig tot die eer van God. Dat ons vreemdelinge en bywoners is in hierdie wêreld.

Om Christus te verkondig is om te leef met die hoop op die onvervulde beloftes van God, wat rotsvas gevestig is in Sy woord met die bewyse van sy liefde deur Sy dood en opstanding.

Om Christus te verkondig is om vry te lewe van die vrees en verskrikking van die aanslae van hierdie lewe, met ‘n diepgewortelde sekerheid in God se troue sorg en liefde. Dit is om te weet jy behoort, jy is kosbaar, jy is ‘n gawe uit God se hand aan jou medemens.

Laat ons dan besef, om Christus te leef is nie om iets te kry nie, nie om bakhand te bedel vir genadekrummels van die dominee nie, maar om as erfgenaam self deel te kry aan die ewige en heerlike erfenis wat in die hemel bewaar word in Christus. Dit is om iets te gee. Dit is om te aanbid. Om jou lewe met al jou begeertes, en bo alles jou hart te offer. Om jou lewenseer aan God te gee.

Mag ons Here ons deur die krag van die Heilige Gees daartoe versterk

Lourens (VDM)

« Older posts Newer posts »