Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Kategorie: Blogs (Page 37 of 53)

Geloof, Hoop, Liefde

Almal sien uit om 2020 agter die rug te kry. Dit is asof die einde van die jaar net nie wil aanbreek nie. Ons wens eintlik om net hierdie nagmerrie jaar, die Annus Horribilis, om te kry. Vir die grootste gros mense oor die wêreld heen was 2020 menslik gesproke ‘n mislukking en ramp. Al die inperkingsregulasies en die aanpassing in ons sosiale en persoonlike lewe sowel as by die huis, werk en die kerk het soveel stremming en spanning veroorsaak.

Wat nog te sê van die isolering, die afsondering, die eensaamheid en die hartseer van mense wat bitter siek geword het, en vir hulle wat gesterf het. Nou beleef ons alweer die oplewing van die virus met ‘n styging in infeksies en moontlike verdere regulasies… Dit voel kompleet asof ons lewe net nie uit tweede rat wil kom nie…

Die groot deel van die boeke in die Bybel is geskryf onder moeilike omstandighede soos ons dit nou beleef. Paulus het selfs briewe uit die tronk geskryf en onder huisarres. Johannes as ‘n banneling op Patmos. Petrus skryf aan mense wat leef in die verstrooiing vanweë vervolging.

As ons hierdie briewe lees, en die aanmoediging en vermaning hoor, dan kom daar ‘n opvallende driedubbele begrip telkens na vore. Drie begrippe wat altyd saam gebruik word. Hulle staan die duidelikste en die meeste bekend uit die 1ste Korintiër brief hoofstuk 13, hoewel hulle in feitlik elke brief prominent is.

Lees gerus weer Romeine 5 en 8, 2 Korintiërs 1, Galasiërs 5, Efesiërs 1, Filippense 1, Kolossense 1, 1 Tessalonisense 1, 2 Tessalonisense 2, 1 Timoteus 1, Titus 1 en 2, 1 Petrus 1 ens…

Geloof, Hoop en Liefde kom op verskillende maniere en in verskillende volgordes voor. Hierdie drie is altyd aanmekaar gekoppel. Want elkeen wat Hoop het, kan tog nie hoop sonder om te glo nie. En elkeen wat glo, glo nie sonder hoop nie. En hoe kan jy glo sonder dat die liefde van Christus aan jou bewys word. God is Liefde, Hy skenk ons geloof en Hy gee Hoop.

Dit is wat ons kan neem uit hierdie jaar. Dat ons die geloof behou wat gewortel en gegrond is in die liefde van Christus wat aan ons bewys is, en wat ons ook aan ander moet bewys. Met ons harte gerig op die toekoms, met hoop. Ons hoop is nie net ‘n vae wens van ‘n beter toekoms nie, maar ‘n geloofsekerheid wat gegrond is in die vaste beloftes van God se woord. Wat bewys is deur Sy liefde en trou.

Hou vas aan die beloftes van God se woord met ‘n onwrikbare geloof. Streef na die toekoms in hoop. Wees verseker van God se liefde en trou. Want in Hom is ons meer as oorwinnaars.

Lourens (vdm)

Kerk – 2020 – God se getrouheid

Hierdie jaar, was ‘n uiters uitdagende jaar gewees.

Uitdagings en swaarkry. Elkeen van ons het die swaarkry beleef. Aanvanklik ‘n totale inperking, huisgebonde… Die ekonomie het en ly daaronder. Ons het almal daaronder gely om nie die “normale” te kon doen nie. Party het hulle besighede verloor, ander hulle werk, sommige het verminderde salarisse gekry. Ons kon nie as gemeente “normaal” bymekaarkom nie. Ons kon nie “normaal” woon, werk, kuier, vakansie hou en sport beoefen nie. As kerk kon ons nie eredienste, vergaderings, Bybelstudies, Jeugaksies ens. hou nie. Daar was baie uitdagings wat ons die hoof moes bied.

God bly getrou. God bly egter altyd getrou. Ons kon die elektroniese media gebruik vir oordenkings, preke, dienste, katkisasie, vergaderings ens. Ons kon en kan God steeds voluit aanbid in ons binnekamer, in ons huise en nou ook as gemeente, al is ons beperk tot 250 mense per erediens. Ons hou egter nou weer vier dienste per Sondag met katkisasie vir die Hoërskoolkinders. Wat ‘n voorreg om God steeds te kan dien en aanbid, al is dit aangepas, nuwe maniere en met meer moeite om die gemeenskap van die heiliges te kan beleef. God is dieselfde God van geslag tot geslag. God het nog nooit verander nie. God wil steeds gedien word, geëer word en geloof word. God wil steeds dat ons Hom sal liefhê met ons hele hart en siel en verstand en met al ons kragte.

Ons moet in dankbaarheid leef en steeds bou. En ons moet juis met ons hele wese en bestaan, ons dankbaarheid teenoor God betoon. Moet nie ophou om God te dank en te dien en te loof en te prys nie. Al kan sommige weens besondere omstandighede nog nie voluit meeleef met eredienste ens. nie, kom ons verdra en dra mekaar. Kom ons bid vir mekaar. Kom ons dien die Here steeds voluit binne ons omstandighede en ons vermoëns. Stelselmatig soos ons kan en mag begin ons ook weer die kerkbedrywighede en kerkkalender volg soos wat ons kan.

God is getrou. God het nie in 2020 ons alleen gelos nie. God sal altyd by ons wees. Kom ons bou positief, biddend aan die koninkryk van God. Mag God ons genadig wees om spoedig, op Sy tyd, weer voluit as gemeente te mag saamkom in aanbidding en lofprysing.

Ons wag op die Here se tyd, biddend met harte vol verlange!

Ds. Gerrit Kruger

DIE HERE SORG!

Ek herinner my presies ‘n jaar gelede hoe ons in die beplanning van die jaarkalender vir 2020 gesoek het vir die regte jaartema. Na verskeie pogings en oorwegings het een van ons die mense se vrese oor die toekoms aangespreek en het ons tot bemoediging van die gemeente besluit die tema sal wees:

Laat jou lewe aan die Here oor en vertrou op Hom; Hy sal sorg- Ps 37:5.

Die besondere van hierdie besluit is dat nie een van ons daardie aand in die konsistorie geweet het wat rêrig in 2020 op ons wag nie!! En dit is presies die waarheid. Hy weet wat ons nie weet nie, en Hy lei ons ook in ons gedagtes ter voorbereiding.

Kyk ons dus terug op die jaar en dan na die jaartema van 2020, is dit aangrypend mooi om te weet dat Hy lankal besig was om ons voor te berei en te herinner dat Hy in beheer is van die toekoms. So lees ons in Deut 31:8 dat die Here ons vooruitgaan en by ons is. So stel Jes 52:12 dat die Here voor ons uit gaan en agter ons aan kom. So leer ons dat die goeie Herder ons lei. En Jesus self verklaar : “Ek is met julle al die dae…” (Mt28).

En hoe het ons dit nie ervaar nie. Ja, sommige van ons het baie verloor en seergekry. En tog sorg die Here. Hy het ons gedra deur die pandemie en sy nare gevolge. Op persoonlike vlak ons gedra. Op kerklike vlak ons soos ‘n herder versorg. Hy sal ons ook verder dra en versorg soos ‘n Herder en Vader, en soos net die Here alleen kan.

Dit laat mens opnuut weer dink aan Mary Stevenson se pragtige gedig: Voetspore

Ds Maarten

~Voetspore gedig~ Mary Stevenson

Een nag het ek ’n droom gehad. Ek het gedroom dat ek op die strand loop en gebeure uit my verlede het voor my afgespeel. In elke toneel het ek twee rye voetspore in die sand gesien: myne en die Here Jesus s’n. Toe die laaste toneel voor my afspeel‚ het ek teruggekyk na die voetspore in die sand en merk toe op dat daar soms net een ry spore was. Dit was telkens gedurende die eensaamste en droewig-ste tye in my lewe! Dit het my gehinder en ek het gevra: “Here‚ toe ek begin het om U te volg‚ het U beloof dat U my nooit in die steek sal laat nie. Hoekom was daar dan net een ry spore gedurende daardie moeilike tye in my lewe? Ek kan nie verstaan waarom U‚ in die tye wat ek dit die nodigste gehad het‚ my verlaat het nie.” Die Here het geantwoord: “My liewe kind! Ek het jou lief en sal jou nooit verlaat nie. Die tye wat jy net een ry spore gesien het was die tye toe Ek jou gedra het.”

Die dringende vervulling van die Heilige Gees

Ons wat in Suid Afrika bly, besef die water-nood van Suid Afrika. Ons besef en weet as dit nie reën nie, dan is daar nie lewe nie. Plante, mense en diere gaan dood. Kyk maar na die onlangse droogtejare in die Kaap met die dreiging van “dag zero”, as daar geen water sou wees nie. So het ons bewus geraak van bv Theewaterskloofdam, wat Kaapstad direk van water voorsien. In 2018 het die dam net 12% water gehad. Nou loop hy oor.

Maar besef ons die geestelike nood wat daar in ons land is. Die probleem is dat die meeste mense nie eers weet dat hulle ’n geestelike nood het nie. Ja ook sommige Christene besef nie eers dat hulle geestelike nood het nie. Want soos wat ons elke jaar opkyk vir reën en bid vir reën, so kyk ons nie op na God vir hulp nie. As ons nie biddend en in afhanklikheid opkyk na die God vir reën, geestelike reën, vervulling met die Heilige Gees nie, gaan ons weens ’n geestelike droogte al meer agteruit.

God het ’n verbond met ons gesluit dat Hy altyd vir sy kinders sal sorg. Dit is so waar, maar Hy het ook beveel dat ons vir Hom ’n volk moet wees. God wil hê ons moet biddend voor Hom buig en ook ons geestelike dam biddend, afhanklik, vertrouend op Hom, self ook vul.

Hoe vul ons ons geestelike dam? Ons doen dit deur te dors na die lewende water? Lees: Joh 4:10,11; Joh 7:38

Vervulling met die Heilige Gees is veral baie nodig namate die oordeelsdag nader kom. Die dringende dors moet al meer daar wees om staande te kan bly teen die Satan wat dringend anargie, wetteloosheid en ongeloof wil bewerk. Maar as ons vol is van die Woord en die Gees, is daar niks wat ons sal kan skei van die liefde van Jesus Christus nie. Dan is ons in staat om oor te loop en uit te deel en soos reënwater die land te benat. Dan sal ons ‘n lig en ‘n sout in ons land wees, wat die geestelike dors sal les tot eer van God.

Vul jou geestelike dam elke dag deur gebed en Bybellees!

Ds. Gerrit

KEN JOU VYAND

(Maar onthou, Ek stuur julle soos lammers tussen wolwe in -Lukas 3:10)

Die vyande van God se kinders kom gewoonlik soos wrede wolwe in skaapsklere (Mat 7:15). Die duiwel loop rond soos ‘n brullende leeu (1 Pet 5:8) en bied homself aan as ‘n engel van die lig (2 Kor 11:14).

Die bose is reeds oorwin en dus is hy nou té lafhartig om openlik op te tree. Daarom waarsku Paulus dat ons stryd nie teen mense (vlees en bloed) is nie, maar teen die vors van die duisternis en sy bose geeste in die lug. Dit is dus ‘n geestelike oorlog en die teiken is nie ‘n volk of ‘n groep mense nie, maar die “hearts and minds of the people”. En dit is hier waar gelowiges nie verlei moet word om die morele hoëgrond van die geloof te verlaat nie.

Daarom laat Jesus Petrus sy swaard in sy skede terugsit (Mat 26:52) en genees hy die oor van sy vyand en leer Hy hulle én ons om vir ons vyande en vervolgers te bid “sodat julle kinders kan wees van julle Vader in die hemel” (Mat 5:45). En self bied die apostel dan ook die geestelike wapenrusting aan om in die stryd die geloof te behou (Ef 6).

Volgens ons belydenis is die vyande van ons tyd die drie grotes: die wêreld en sy verleiding, die duiwel en sy skelm stoeigrepe en slinkse planne en dan ook die eie vlees, dus jyself. Pasop vir jouself. Pasop vir jou eie sin vir geregtigheid. Jy was selfs ook eens verlore en sonder Christus! Nou is jy gered en nou behoort jy aan die ewige koninkryk van jou Koning, Jesus Christus, wat die stryd reeds oorwin het en die bose verslaan het. Jy is meer as oorwinnaar deur die geloof in Hom.

Nou moet dit ook uit ons lewe wys dat ons die stryd teen die vyand nie op wêreldse wyse voer nie. En as jy dan moet ly en as jy dalk onreg moet ly, dan sal jy saam met Petrus bely: “Daarom moet die wat ly volgens die wil van God, hulle lewe toevertrou aan die getroue Skepper en aanhou goeddoen” (1 Pt 4:19).

“Moet jou dus nie deur die kwaad van ander laat oorwin nie, maar oorwin die kwaad deur die goeie” (Rom 12:21).

Ds Maarten

Oktobermaand, Reformasiemaand…

In Oktober vier die protestantse kerke wêreldwyd elke jaar die hervorming (of Reformasie). Dit is reeds 503 jaar gelede wat Luther se bekende 95 stellings die aarde geskud het. Op so baie maniere kan ons in 2020 nadink oor die rol tussen kerk en staat, maar veral ook die rol van die kerk self.

Ons kan sekerlik vra of die kerk werklik in die samelewing gemis word? En of ons werklik ook ‘n gemis voel aan kerkwees?

Vandag is daar in Duitsland baie min van die nalatenskap van Luther te bemerk wat die evangelie aanbetref. Dit is opmerklik dat soveel stede Lutherstad heet, maar dan gerig op die mens as volksheld en nie as hervormer nie…

Wat ons vandag ervaar in die bywoning van ‘n erediens en die gemeenskap van geloof is feitlik onbekend aan die moderne Duitse nasie. Die duisternis in Duitsland ten opsigte van die geloof en die evangelie is sigbaar in die volgende illustrasie:

  • Duits, is met sowat 100 miljoen moedertaalsprekers die sterkste moedertaal in Europa.
  • Van al die Duitssprekende kinders in Europa kom sowat 94% nooit ’n erediens of kerk nie.
  • Van amptelike kerklike kant mag daar nie meer onder Jode of Moslems sending gedoen word nie.
  • Teoloë wat die Skrif as Woord van God aanvaar, is ’n klein minderheid …
  • Die honger na die Woord is groot, predikante wat die Skrif onvoorwaardelik as Woord verkondig, is egter baie min.

Sedert Junie vanjaar is die Geref. Kerk Postmasburg die sendende kerk wat dr. Victor d’Assonville na Duitsland stuur vir die voortsetting van sy opdrag daar om aan ’n teologiese skool in Duitsland (RTS – Reformatorisch-Theologisches Seminar Heidelberg) klas te gee om predikante en sendelinge – hoofsaaklik vir die Duitssprekende wêreld – op te lei.

Indien u die VSOD wil ondersteun, en aan ander mense kan bekendstel en hulle kan aanmoedig om hierdie grootse sendingprojek te help dra, sal dit opreg waardeer word. Stuur gerus ‘n epos indien u belangstel om in ’n nuusbrief oor hierdie werk in Duitsland ingelig te word.

Indien u ‘n bydrae wil maak gebruik gerus die besonderhede: Naam: Vereniging vir sending onder Duitssprekendes (VSOD) Bank: ABSA • Tak: Ben Swartstraat • Rekeningnommer: 93 1760 4596.

Mag die Here weer herlewing bring, net soos 500 jaar gelede, nie alleen in Duitsland nie, maar oor die wêreld heen.

Lourens (vdm)

« Older posts Newer posts »