Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Kategorie: Blogs (Page 36 of 53)

Ek en my Huis, ons sal die Here dien

My gesin en die verbond in die 21 ste eeu 

Die geykte woorde van Josua aan die volk op die vooraand van sy vertrek na die ewige Kanaan, is diep gesetel in die verbond. Dit is ook vir ons ‘n herinnering van ons eie verbondsaandeel deur die doop en belydenis van dieselfde belofte.

Ons het die afgelope jaar, en vir die voorsiene toekoms ‘n andersoortige geleentheid in die wyse waarop ons gesinslewe funksioneer met kinders wat tuis bly en ouers wat van die huis af werk.

Hierdie andersoortige noodsaaklikheid het besondere geleenthede tot gevolg, wat in die “normale” gejaagde lewe nie altyd moontlik was nie. Dit het egter ook ons gesinsbestaan met nuwe uitdagings gekonfronteer.

In die Bybelskool van die eerste kwartaal gaan ons in besonder ons aandag fokus op wat die Bybel ons leer oor huisgesin, huwelik, ouerskap en al die uitdagings wat daarmee gepaard gaan. Ons gaan so bietjie kyk na die moderne vorm van geslagsidentiteit en die “woke” en “cancel culture” wat al hoe meer ‘n realiteit word. En ons sal by die gewone “hoof-pyne” stilstaan waarmee ons as gesinne daagliks te doen kry.

Die bedoeling is nie om ‘n huwelikskursus te wees of ‘n gesinsberading of terapie nie, maar eerder ‘n doodgewone benadering van elke dag se gesinslewe oor die dinge wat ons soms vergeet.

As die Here wil, sal ons Dinsdag, 16 Februarie afskop met die inleiding. Om die toegang te vergemaklik sal dit ook beskikbaar wees per internet uitsending. Ons wil graag kontak opbou met almal wat die geleentheid wil saam bywoon. Stuur asseblief ‘n boodskap aan ds Lourens by 082 5292 330 vir verdere inligting.

Lourens (vdm)

Uitdagings – 2021 – Geleenthede

Ons het gedink 2020 was ‘n moeilike jaar. Ons het gedink, in 2021 gaan alles net vir ons beter gaan, en gaan alles weer terugkeer na ons normale omstandighede soos voor 2020, ten minste wat die kerk aanbetref. Wat ‘n teleurstelling om weer ingeperk te wees met geen kerkdienste meer nie. Wat ‘n teleurstelling nadat die kerkraad besluit het ons gaan weer ten volle met die kerkaktiwiteite aan en nou kan ons nie. Niks werk uit soos wat ons graag wil nie. Maar die Psalmdigter sê ook in Psalm 119:71 “Dit is vir my goed dat ek swaargekry het, want daardeur het ek u voorskrifte geleer.” Daarom weet ons ook dat God is altyd en steeds in beheer en God regeer. Daar sal nie ‘n haar van ons hoofde val of God weet dit nie (Mat 10:30). Ja verseker wil die Here hê dat ons Hom saam moet dien as ‘n gemeente wat ywerig saamkom rondom die Woord van God, maar wat gebeur nou? Ons kan in sak en as gaan sit en treur omdat ons so ingeperk is, of ons moet die beste gebruik maak van elke geleentheid. Ons moet die tyd uitkoop. Ons lees in Ef 5:16,17 “Maak die beste gebruik van elke geleentheid, want ons lewe in ‘n goddelose tyd. 17) Moet daarom nie onverstandig optree nie, maar probeer te wete kom wat die Here wil dat julle moet doen.” So is daar in 2021 baie geleenthede, afgesien van wat die president op 15 Februarie gaan sê. Ons mag God steeds vrylik dien en aanbid in ons huise. Ons mag steeds inluister en so meedoen aan die eredienste, al is dit oor die internet, selfoon of radio. Daar is altyd geleentheid om voorbidding te doen, sonder ophou, vir ons mede-broeders en susters en kinders, vir die kerk, vir die owerheid vir die wêreld. Die tyd vir bekering en regmaak en terugkeer na God is nou. Elke huisgesin het ‘n Bybel. Niemand kan sê dat hulle nie die Here kan dien nie. Maak gebruik van elke geleentheid om God te aanbid en te dien. Een van die belangrikste plekke is tog om in jou binnekamer te gaan bid, (vgl Mat 6:5-9). Daar is baie geleenthede weer in 2021 om God te dien en te aanbid en te loof en te prys. Aanbid en dien God met entoesiasme en opregtheid. Dien Hom met ywer en liefde. Moet nie ophou om met jou medegelowiges intens mee te leef deur vir mekaar te bid nie. Sien uit na die dag dat ons weer as gemeente bymekaar kan kom om voluit in alle fasette van kerkwees, God te aanbid en te dien. Intussen lees jou Bybel, bid vir mekaar en dien God in liefde. Daar is talle geleenthede om God te dien.
Mag U ‘n geseënde 2021 beleef en mag u elke geleentheid aangryp.

Ds. Gerrit

Die Vaders het groen druiwe geëet en die tande van die kinders het stomp geword

Dit is baie swaar om te dra aan ‘n las van die verlede wat jou opgelê word, sonder dat jy self daarvoor verantwoordelik is. Die afgelope week was daar baie geskryf in die openbare media oor die boek: The lie of 1652 wat onlangs verskyn het. Hiermee maak die skrywer sekere aannames en gevolgtrekkings wat direk toegepas word op vandag. 

Dit herinner aan die woorde van die Here deur die profeet Esegiël in hoofstuk 18 dat die ouers (vaders) groen druiwe geëet het en die tande van die kinders het stomp geword. Daarmee verwys die Here self na die spreekwoord van die Israeliete wat voel dat die kinders die las moet dra van die ouers se optrede. 

So word vandag se nageslag ook verantwoordelik gehou vir die optrede van voorgeslagte bykans 400 jaar gelede. Is dit billik of regverdig of iemand verantwoordelik te hou vir iets wat hulle nie gedoen het nie? Dit is ‘n baie moeilike en soms netelige saak oor presies hoe ons verantwoordelikheid kan neem om die verkeerdhede van die verlede reg te stel? Word die sondes van die vaders dan “gestraf” aan die kinders, die derde en vierde geslag? Of tot aan die duisendste geslag? 

Ongelukkig is dit so dat aksies gevolge het. Dit wat jy doen sowel as dit wat jy nie doen nie. 

Net so is dit ook waar dat die geskiedenis een ding bewys, dat ons nie leer uit die geskiedenis nie. Immers, niks onder die son is nuut nie, soos die Prediker sê. Om uit ons perspektief terug te kyk na die verlede, is dit baie maklik om sekere dinge duidelik te sien. Dit geld nie net vir ons eie lewe nie, maar ook vir die geskiedenis van die mensdom. 

Dit maak die koms van ons Here Jesus so belangrik en merkwaardig. Dat ons vergewe word vir ons verkeerdhede en sondes, en dat ons deur ons lewens te verander, sekere dinge kan regstel. Vergifnis is sekerlik een van die kragtigste dade wat ‘n mens se lewe verander. 

Daarom leer ons Here Jesus ons om te bid: vergewe ons ons skulde net soos ons ons skuldenaars vergewe… 

Dink maar aan die swaar las wat soveel mense dra omdat hulle nie kan vergewe nie, omdat hulle nie kan vrede maak met die verkeerdhede en sondes van ander mense nie. En soms ook nie met hulle eie sondes nie. 

Die kruisiging van ons Here Jesus Christus bring elke mens voor vergifnis en oordeel. Die twee misdadigers neem elkeen hul eie standpunt in. Die een wat pleit om vergifnis en genade, die ander een wat veroordeel. Die dissipels wat vlug en verraai en verloën word gekonfronteer met skuldgevoelens. Petrus wat pleit om genade en in trane uitbars en Judas wat nie kan vrede maak met wat hy gedoen het nie… 

As ons binnekort Kersfees vier, dan dink ons terug aan die verlede. Aan die onreg wat Jesus aangedoen is. Hy wat sonder sonde is, moes sterf ter wille van ons s’n. Maar Hy verkwalik ons nie daaroor nie, Hy gee ons nuwe hoop en nuwe moed. Niemand wat ploeg en agtertoe kyk is immers geskik vir die koninkryk van God nie. 

Lourens Venter (vdm) 

MARANATHA

Kom Here Jesus kom gou!

Openbaring 22:6-21 (20): “Hy wat dit getuig sê: Ja, Ek kom gou. Amen,
ja kom Jesus onse Here!”

Maranata is die Griekse weergawe van die Aramese bede, “Kom Here Jesus”. Dit lees ons in 1 Kor 16:22. Dit is ‘n hartsgebed, ‘n eerlike versugting van die gemeente wat uitsien na die wederkoms van die Here Jesus Christus met die wolke, ‘n opregte en eerlike versugting.

Die slot van Openbaring word gekenmerk deur herhaaldelike aankondigings van Christus se spoedige terugkoms.

Open 22:7 “Jesus sê toe: “Kyk, Ek kom gou!…”

Open 22:12 “Jesus sê toe weer: “Kyk, Ek kom gou! …”

Open 22:20 “Hy wat dit alles getuig sê: Ja, Ek kom gou!…”

En juis die feit dat dit drie keer genoem word, maak dit so belangrik. Want in die Hebreeuse kultuur, as ‘n saak baie belangrik was, is dit drie maal herhaal. Die Gees Self is die Een wat hierdie woorde se waarheid in die harte van mense moet inbrand. Daarom volg die dringende uitnodiging in Open 20:17 aan letterlik alle mense deur die Gees en die bruid (vgl. Jes. 55:1) om te kom deel in sy ewige redding. Na ʼn ernstige waarskuwing om hierdie profetiese woorde nie te verag of af te water nie, omdat dit ewige implikasies inhou vir mense wat so dwaas sou wees (vers 18-20), volg ʼn laaste seën as Christus vir die derde keer in hierdie gedeelte uit-roep:

“Ja, Ek kom gou!” Open 22:20

Wat in Openbaring staan, is die ware en betroubare getuienis van Jesus Christus. (vgl. 22:6) Die inhoud van die boek handel oor die voleinding van die wêreld met die wederkoms van Christus. Dit is so dringend. God stel nie Jesus Christus se wederkoms uit nie. Maar ons moet onthou dat ‘n dag is soos duisend jaar en duisend jaar is soos een dag vir God. Jesus Christus se wederkoms is verseker. Maar daar is tyd om gereed te maak. Daar is tyd om tot bekering te kom. Maar die tyd is vinnig besig om uit loop. Die Wederkoms is naby. Dit kom soos ‘n dief in die nag. Ons weet nie wanneer nie. Daar is ‘n tyd om te vra:

IS EK REG VIR DIE WEDERKOMS?

Op daardie woorde van Jesus antwoord Johannes, en met hom die gelowiges saam: Amen! Kom Here Jesus!

Roep ons ook uit …

Maranata! Kom Here Jesus kom!
Asseblief, kom tog gou met die wolke!

Ds. Gerrit

Oor die engele is Hy nie besorg nie, maar oor die nageslag van Abraham

In Johannes 1 openbaar die Heilige Gees aan ons dat Jesus Christus, die Logos, die Woord, mens word en onder ons kom woon. Dit is ook wat so mooi verwoord is in die belydenis van Nicea: “Hy het ter wille van ons mense en ons saligheid, uit die hemel neergedaal en het deur die Heilige Gees, uit die maagd Maria, vlees geword, Hy het mens geword.”

Dit is hierdie menswording waarin ons die volle openbaring van God aanskou. Hy wat Jesus is, is die ware mens. Hy is die Woord van God. Hy is die volle openbaring, die volle bekendmaking van God se genade en oordeel.

Dit is waarna die hele Skrif verwys. Dit is waarop die hele “testament” gebou word. Petrus skryf dat die profete aangaande hierdie saligheid ondersoek ingestel en navorsing gedoen het hoe en waar en wanneer die Christus sou verskyn om die belofte van die testament te vervul.

Die Bybel is nie bedoel vir die engele nie. God gee sy Woord aan ons as mense. Hy bekommer Hom nie oor die engele nie, maar oor die nageslag van Abraham, dws oor die gelowiges, is Hy besorg. Hierdie woorde kom uit Hebreërs 2 waar die skrywer Psalm 8 verklaar en wys op die Mens na wie verwys word. Hy wat skaars minder as die engele geword het. Hy wat Sy heerlikheid neergelê het, om aan mense gelyk te word.

Dit is hierdie wonderlike evangelie, die Blye Boodskap wat ons vandag in ons eie taal mag ontvang en lees en daaruit naspeur wie die Christus is. Die splinternuwe 2020 direkte vertaling word vandag in gebruik geneem na baie jare se harde werk.

Ons hoop en vertrou dat elkeen nie net die nuwe vertaling van die Bybel sal hou op die rak as vertoonstuk nie, maar dat hierdie woorde ingedrink, ingeasem en oordink mag word. Want hierdie woord word aan ons gegee sodat ons sal leer ken wie Hy is en wat Hy doen. Hy lê Sy woord in ons harte en messel dit vas deur die kragtige werk van die Heilige Gees. Laat die Heilige Gees dan in elkeen se hart strome van lewende geloofswater vloei deur ywerige Bybelstudie om geloofswaarhede keer op keer te herbevestig. Dan is ons toegerus om aan gewillige luisteraars in gehoorsaamheid aan Mat 28:19 hierdie nuwe lewe in Christus te getuig sodat daar ook lewe in hulle dooie harte kom en God daardeur die lof en eer ontvang.

Lourens Venter (vdm)

Die Mens wat verdien het om Hemel toe te gaan

Jesus Christus was die enigste Mens wat verdien het om hemel toe te gaan. Ons sê Mens met ‘n hoofletter, want Hy was die enigste Ware God en tegelykertyd Ware mens. Maar juis met sy vertrek na die hemel het daar ook vir ons ‘n ontsettende vertroosting gekom. Dit was die voltooiing van Sy taak, sy dienswerk op aarde. Dit was die vervulling van die beloftes van God. Vir baie mense is die hemelvaart maar net ‘n onverstaanbare gebeure, ‘n vaagheid en ʼn saak wat moeilik is om te verstaan… op wolke na die hemel!

Maar juis in hierdie laaste daad van Jesus op aarde is daar vir ons sekerlik die grootste sigbare troos in opgesluit. Dit het werklik gebeur voor die oë van sy dissipels en Jesus het nie net opgevaar nie, maar seënend het Hy opgevaar. “Terwyl Hy hulle seën…”

Hy seën hulle en daarmee verseker Hy hulle dat Hy hulle onder die troue hand van God stel. Hy verseker hulle dat Hy hulle sou bewaar en versorg. In daardie seënende houding neem Hy van sy dissipels afskeid en word Hy in die hemel opgeneem. Maar dit was nie al nie. Met daardie seënende weggaan het Hy ook bevestig dat Hy altyd vir hulle sou sorg.

Ja, Jesus het nie weggevaar en van die kerk vergeet nie, maar Hy is steeds aktief elke dag besig om vir ons plek te berei. Hy is elke dag besig om vir ons te pleit. Terwyl ons as vreemdeling op aarde, as bywoners op aarde voortleef tot sy eer, berei Hy vir ons plek voor. Want die seën impliseer, en het tot gevolg dat daar ‘n dankbaarheidsaksie van aanbidding by ons as sy kinders is.

Hierdie seën het ook tot gevolg gehad dat hulle Hom aanbid het en met groot blydskap teruggegaan het na Jerusalem. Daarom is daar vreugde in kerkwees, in liggaam wees van ons Here Jesus Christus. Ons is Sy kinders. Hy berei vir ons plek voor. Hy pleit vir ons. Hy het dit vir ons verdien om ook hemel toe te gaan.

Ds. Gerrit

« Older posts Newer posts »