Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Kategorie: Blogs (Page 35 of 50)

Die dringende vervulling van die Heilige Gees

Ons wat in Suid Afrika bly, besef die water-nood van Suid Afrika. Ons besef en weet as dit nie reën nie, dan is daar nie lewe nie. Plante, mense en diere gaan dood. Kyk maar na die onlangse droogtejare in die Kaap met die dreiging van “dag zero”, as daar geen water sou wees nie. So het ons bewus geraak van bv Theewaterskloofdam, wat Kaapstad direk van water voorsien. In 2018 het die dam net 12% water gehad. Nou loop hy oor.

Maar besef ons die geestelike nood wat daar in ons land is. Die probleem is dat die meeste mense nie eers weet dat hulle ’n geestelike nood het nie. Ja ook sommige Christene besef nie eers dat hulle geestelike nood het nie. Want soos wat ons elke jaar opkyk vir reën en bid vir reën, so kyk ons nie op na God vir hulp nie. As ons nie biddend en in afhanklikheid opkyk na die God vir reën, geestelike reën, vervulling met die Heilige Gees nie, gaan ons weens ’n geestelike droogte al meer agteruit.

God het ’n verbond met ons gesluit dat Hy altyd vir sy kinders sal sorg. Dit is so waar, maar Hy het ook beveel dat ons vir Hom ’n volk moet wees. God wil hê ons moet biddend voor Hom buig en ook ons geestelike dam biddend, afhanklik, vertrouend op Hom, self ook vul.

Hoe vul ons ons geestelike dam? Ons doen dit deur te dors na die lewende water? Lees: Joh 4:10,11; Joh 7:38

Vervulling met die Heilige Gees is veral baie nodig namate die oordeelsdag nader kom. Die dringende dors moet al meer daar wees om staande te kan bly teen die Satan wat dringend anargie, wetteloosheid en ongeloof wil bewerk. Maar as ons vol is van die Woord en die Gees, is daar niks wat ons sal kan skei van die liefde van Jesus Christus nie. Dan is ons in staat om oor te loop en uit te deel en soos reënwater die land te benat. Dan sal ons ‘n lig en ‘n sout in ons land wees, wat die geestelike dors sal les tot eer van God.

Vul jou geestelike dam elke dag deur gebed en Bybellees!

Ds. Gerrit

KEN JOU VYAND

(Maar onthou, Ek stuur julle soos lammers tussen wolwe in -Lukas 3:10)

Die vyande van God se kinders kom gewoonlik soos wrede wolwe in skaapsklere (Mat 7:15). Die duiwel loop rond soos ‘n brullende leeu (1 Pet 5:8) en bied homself aan as ‘n engel van die lig (2 Kor 11:14).

Die bose is reeds oorwin en dus is hy nou té lafhartig om openlik op te tree. Daarom waarsku Paulus dat ons stryd nie teen mense (vlees en bloed) is nie, maar teen die vors van die duisternis en sy bose geeste in die lug. Dit is dus ‘n geestelike oorlog en die teiken is nie ‘n volk of ‘n groep mense nie, maar die “hearts and minds of the people”. En dit is hier waar gelowiges nie verlei moet word om die morele hoëgrond van die geloof te verlaat nie.

Daarom laat Jesus Petrus sy swaard in sy skede terugsit (Mat 26:52) en genees hy die oor van sy vyand en leer Hy hulle én ons om vir ons vyande en vervolgers te bid “sodat julle kinders kan wees van julle Vader in die hemel” (Mat 5:45). En self bied die apostel dan ook die geestelike wapenrusting aan om in die stryd die geloof te behou (Ef 6).

Volgens ons belydenis is die vyande van ons tyd die drie grotes: die wêreld en sy verleiding, die duiwel en sy skelm stoeigrepe en slinkse planne en dan ook die eie vlees, dus jyself. Pasop vir jouself. Pasop vir jou eie sin vir geregtigheid. Jy was selfs ook eens verlore en sonder Christus! Nou is jy gered en nou behoort jy aan die ewige koninkryk van jou Koning, Jesus Christus, wat die stryd reeds oorwin het en die bose verslaan het. Jy is meer as oorwinnaar deur die geloof in Hom.

Nou moet dit ook uit ons lewe wys dat ons die stryd teen die vyand nie op wêreldse wyse voer nie. En as jy dan moet ly en as jy dalk onreg moet ly, dan sal jy saam met Petrus bely: “Daarom moet die wat ly volgens die wil van God, hulle lewe toevertrou aan die getroue Skepper en aanhou goeddoen” (1 Pt 4:19).

Moet jou dus nie deur die kwaad van ander laat oorwin nie, maar oorwin die kwaad deur die goeie” (Rom 12:21).

Ds Maarten

Oktobermaand, Reformasiemaand…

In Oktober vier die protestantse kerke wêreldwyd elke jaar die hervorming (of Reformasie). Dit is reeds 503 jaar gelede wat Luther se bekende 95 stellings die aarde geskud het. Op so baie maniere kan ons in 2020 nadink oor die rol tussen kerk en staat, maar veral ook die rol van die kerk self.

Ons kan sekerlik vra of die kerk werklik in die samelewing gemis word? En of ons werklik ook ‘n gemis voel aan kerkwees?

Vandag is daar in Duitsland baie min van die nalatenskap van Luther te bemerk wat die evangelie aanbetref. Dit is opmerklik dat soveel stede Lutherstad heet, maar dan gerig op die mens as volksheld en nie as hervormer nie…

Wat ons vandag ervaar in die bywoning van ‘n erediens en die gemeenskap van geloof is feitlik onbekend aan die moderne Duitse nasie. Die duisternis in Duitsland ten opsigte van die geloof en die evangelie is sigbaar in die volgende illustrasie:

  • Duits, is met sowat 100 miljoen moedertaalsprekers die sterkste moedertaal in Europa.
  • Van al die Duitssprekende kinders in Europa kom sowat 94% nooit ’n erediens of kerk nie.
  • Van amptelike kerklike kant mag daar nie meer onder Jode of Moslems sending gedoen word nie.
  • Teoloë wat die Skrif as Woord van God aanvaar, is ’n klein minderheid …
  • Die honger na die Woord is groot, predikante wat die Skrif onvoorwaardelik as Woord verkondig, is egter baie min.

Sedert Junie vanjaar is die Geref. Kerk Postmasburg die sendende kerk wat dr. Victor d’Assonville na Duitsland stuur vir die voortsetting van sy opdrag daar om aan ’n teologiese skool in Duitsland (RTS – Reformatorisch-Theologisches Seminar Heidelberg) klas te gee om predikante en sendelinge – hoofsaaklik vir die Duitssprekende wêreld – op te lei.

Indien u die VSOD wil ondersteun, en aan ander mense kan bekendstel en hulle kan aanmoedig om hierdie grootse sendingprojek te help dra, sal dit opreg waardeer word. Stuur gerus ‘n epos indien u belangstel om in ’n nuusbrief oor hierdie werk in Duitsland ingelig te word.

Indien u ‘n bydrae wil maak gebruik gerus die besonderhede: Naam: Vereniging vir sending onder Duitssprekendes (VSOD) Bank: ABSA • Tak: Ben Swartstraat • Rekeningnommer: 93 1760 4596.

Mag die Here weer herlewing bring, net soos 500 jaar gelede, nie alleen in Duitsland nie, maar oor die wêreld heen.

Lourens (vdm)

VEROOTMOEDIGING

Psalm 51:18,19 (NAV)

(18) ‘n Offer vra U nie, anders sou ek dit bring; ‘n brandoffer wil U nie hê nie. (19) Die offer wat U wil hê, o God, is verootmoediging: U sal ‘n hart vol ootmoed en berou nie gering ag nie, o God.”

Wat beteken verootmoediging? Verootmoediging beteken om voor God neer te buig. Dit beteken om jou afhanklikheid van God te erken. Dit beteken om te erken dat jy is diep afhanklik van God se genade. Daarom dat Jesus ook aan ons leer in die bergpredikasie, Mat 5:3: Geseënd is die wat weet hoe afhanklik hulle van God is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel..” Maar ook ‘n baie belangrike saak in verootmoediging is om te erken dat jy sondig is en sonde doen.

Hoekom ‘n algemene dag van verootmoediging? Ons land en die hele wêreld is in ‘n diepe nood vanweë die uitwerking van die Coronavirus. Baie van ons lidmate het die virus opgedoen en was gevolglik baie siek. As ons rondom ons kyk is daar steeds baie nood op maatskaplike, ekonomiese en kulturele gebied. Ons kinders lei onder die inperkings. Die kerk lei daaronder. Ons kan nog steeds nie in volle getalle die eredienste hou nie. Die katkisasie van die laerskoolkinders kon nog nie in aanvang neem nie. Dit is vir ons almal ‘n lyding en opoffering.

DAAROM verootmoedig ons onsself voor die Here. Ons as gemeente saam en elke gelowige individueel moet daarom voor God in nederigheid buig om ons volkome afhanklikheid van God se genade te bely. Sonder God se genade en hulp en vergifnis kan ons nie lewe nie. Ons smag daarna om weer as gemeente voluit met al ons aanbidding en dienswerk God te dien. Ons smag daarna om weer as gemeente in lofsange uit te breek tot eer van God. Ons smag daarna om met harte vol ootmoed en berou voor God te verskyn. En dit is wat ons as gemeente en kerkverband ook vandag doen. Ons verootmoedig ons voor God. Ons bely ons afhanklikheid. Ons smeek vir genade. Ons wil steeds en al meer en meer in ‘n lewende verhouding met God staan. Aan God al die eer en die lof en die aanbidding wat Hom alleen toekom.

ds. Gerrit Kruger

So is ek gedra in my stryd met Covid-19

Na my huisbesoek by ondergetekende lidmate van wyk C08, waarin ons die Here gedank en geloof het vir sy genade en versorging, het ek vir Frikkie gevra om iets op skrif te stel.

Sy getuienis betreffende die liefdevolle ondersteuning van sy wyk en die res van die gemeente was opvallend en wil ek graag as aanmoediging vir die res van die gemeente hier deel.

(Ds Maarten)

2 Kor 12:26 “As een lid ly, ly al die lede saam; en as een lid geëer word, is al die lede saam bly.”

So is ek gedra in my stryd met Covid-19

(Aug 2020)

Die lyfseer, kortasem en hoofpyn, so tiperend, was my voorland, en die toets het dit wat ek instinktief geweet het, bevestig. Koud en klinies was die dokter se opdrag: jy word opgeneem.

Dit was ʼn skok ja, maar ons weet ons hulp is van die HERE, ons sal geen onheil vrees nie. Uit Sy hand ontvang ons dag-vir-dag die goeie, maar ook die onvermydelike van hierdie lewe, laat Hy toe om ons te louter en te suiwer vir Sy Koninkryk.

Die dae in die hospitaal was uiters lank en onpersoonlik, maar ek volg instruksies getrou. Maar ure se moedeloosheid oor die onmagtigheid wat my soms soos ʼn kombers wou vers-moor, het my elke keer opnuut laat soek na God en het Hy my versterk op sy tyd.

Toe ek uiteindelik weer kon kommunikeer bring die selfoon talle boodskappe en oproepe, ʼn inspirasie wat toe só nodig was. Baie belangrik was die persoonlike oproepe van ons leraars. Woorde van bemoediging en ook die wete dat hulle omgee vir ons was meer as goud werd .

Baie dankie aan al die lede van ons wyk se whattsapp-groep wat ons ondersteun het en ook vir ons gebid het. Aan al die gemeentelede wat vir ons gebid het, baie dankie vir julle en dat julle vir almal wat dit nodig het, bid. Dankie vir die blomme en kos wat aangedra is!

Aan my wederhelfte van 49 jaar, baie dankie ook vir jou gebede en versorging toe ek kon huis toe kom.

Die belangrikste van alles en almal is GOD ons Hemelse Vader wat ons elke dag bestuur en dat Sy Heilige Gees ons lei en bewaar. Aan U, ons Vader, al die eer, die lof, die dank en die aanbidding.

Frikkie (en Poppie Brits) Wyk C08

‘n Dag van verootmoediging

Vandag word ons almal opgeroep om onsself voor die Here te verootmoedig…

Vanweë uiters streng inperkingsregulasies, voel die kerke die druk, nood en dringende behoefte om weer in die volle gemeenskap van die heiliges te funksioneer.

Ons versoek dat:

1. Elkeen selfondersoek doen en verootmoedig voor die Here.

2. Elkeen die koningsheerskappy van Christus sal erken en nie die uitkoms by mense soek nie.

3. Ons voorbidding doen vir die owerheid in hierdie belangrike saak om in verantwoordelikheid voor God op te tree.

4. Ons voorbidding doen vir ’n goeie reënseisoen, sodat daar genoeg kos en werk sal wees vir alle mense in die land.

5. Die kerk in gehoorsaamheid aan God, ons lig in besonder sal uitstraal in hierdie tyd met liefde en omgee vir alle mense en in besonder vir die mense in nood, sodat die triomf van die evangelie eindeloos sal wees.

6. Die kerke die Here dank vir die bewaring wat die kerk grootliks ontvang het en die seëning van ʼn hoë herstelpersentasie onder mense wat die virus opgedoen het.

Ootmoed word verklaar in die HAT as “‘n besef van nederigheid, onderworpenheid, veral teenoor God.” Hoewel dit nie meer so algemene Afrikaanse woord is nie, is dit nog altyd ‘n belang-rike begrip in Bybelse terme.

Met hierdie woordjie, wat vandag baie meer algemeen vertaal word met nederigheid, sit daar tog iets dieper in, om jouself neer te buig, om jouself te verneder voor God. Dit gaan oor ‘n baie spesifieke aksie/reaksie.

Die verklarende woordeboek vertaal dit met: Humility, meekness, poverty.

Ons Here Jesus begin die saligsprekinge met hierdie gesindheid wat in ons moet wees om “arm van gees” te wees. Dit is om van jou eie moedigheid af te sien en volkome op die Here te vertrou.

Daarom ook dat die Here afsien van Sy kwaad en toorn as sy kinders hulle verneder in hulle swakheid en hulle voor Hom verootmoedig. Moses leer die volk in Deuteronomium 8 dat hulle 40 jaar deur die woestyn gereis het omdat die Here hulle nederigheid (ootmoed) geleer het om hulle op die proef te stel of hulle Hom waarlik liefhet. Salomo pleit in sy gebed in 1 Konings 8 dat die Here sal uitkoms gee as daar nood is en die volk hulle tot die Here bekeer (verootmoedig). So het Dawid en Jehiskia en die profete hulle voor die Here verootmoedig. Ja ook die volk het by tye in nederigheid gebuig, en die Here het hulle genadig aangesien.

Jesaja verkondig in hoofstuk 61 oor die koms van die Messias: “Die Gees van die Here my God het oor my gekom, die Here het my gesalf om ‘n blye boodskap te bring aan die mense in nood (ootmoediges), Hy het my gestuur om die wat moedeloos is, op te beur….”

Mag ons dan hierdie blye boodskap ter harte neem as ons onsself vandag voor die Here in nederigheid verootmoedig en ons van harte bekeer en ons vertroue volkome op Hom rig. Mag die Here ons gebed verhoor. Want die nederiges sien Hy genadig aan, maar die hoogmoediges werp Hy neer.

Lourens (VDM)

« Older posts Newer posts »