Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Kategorie: Blogs (Page 32 of 50)

Die Vervloekte Kruis

Net die feit dat Jesus gekruisig is, is Skrifvervulling. As ons goed oplet dan sien ons dat die Jode Jesus toe nie gestenig het, soos hulle gebruik was nie, want dit is hoe God alles beskik het. Hy moes gekruisig word sodat Hy die vloek vir ons kon dra. Dit sou nie die geval gewees het tydens steniging nie! 

Reeds in Deut 21:23 word elkeen wat aan ‘n boom of paal opgehang word deur God vervloek! So moes dit Skrifvervulling wees. Christus moet die vloek dra (HK Sondag 15 vr 39). 

Die Romeine het kruisiging uitgedink en toe as vonnisvoltrekking regoor die Romeinse Ryk gebruik om vrees by mense in te boesem. Hulle kon net regeer deur vrees. Vrees is die wapen van die duiwel. God se antwoord op vrees is geloof, liefde en hoop! 

Aan ‘n kruis moes iemand in die openbaar hang, en so lank as moontlik ly. Meesal sonder enige klere aan. ‘n Skande vir die samelewing. ‘n Vreeslike lyding. Spykers deur jou gewrigte en voete, op ‘n ruwe kruispaal (boomstomp), hang jy daar aan jou arms. Jy versmoor stadig. Die elemente is teen jou: son, wind en weer. Dan nog die veragting van die omstanders. 

Uiteindelik die vloek. Vervloek! Verwerp! Weggestoot, uitgegooi, vergete. Soos gemors in die asblik beland, om nooit weer aan gedink te word nie. Christus ly en dra die vloek van God in ons plek. Daarom is Hy toe nie gestenig nie. Die Jode was onder Romeinse bewind en mog niemand ter dood teregstel nie. So presies het God die plaasvervangende lyde van Christus beskik en bepaal en laat gebeur. 

Hy het ons vervloeking op Hom geneem, om ons met sy seën te vul (Nagmaalsformulier). 

Halleluja, loof die Here! 

Ds Maarten 

Eensaamheid

Om eensaam te wees is nie lekker nie. My pa het altyd gesê: “Elke mens wil geken wees in die lewe!”

Dit is so belangrik dat ons in die gemeente dit nooit sal vergeet nie, want ons is een groot geestelike gesin. ‘n Gesin sorg vir mekaar, bly bymekaar, verdra mekaar en het mekaar lief. So het hierdie Covid-19 pandemie sy merk nie net op die gemeente gelaat nie, maar ook op baie lidmate en veral ons ouer lidmate.

Die afgelope week doen ek huisbesoek by een van ons bejaarde lidmate wat in ‘n aftree-oord bly. Hulle is al vir ‘n jaar lank in die aftree-oord gekluister waarvan lang tye in hulle kamers was, weens die gevaar van die pandemie. Ek kon sien ons suster hunker intens na mense, na haar familie, na die gemeente, na liefdevolle omgee. Hulle mag nie eers besoekers ontvang het nie. So sê ook ‘n alleenloper die afgelope week dat die eensaamheid hulle “opeet!”

Daarom wil ek vanmôre vir almal in die gemeente vra: Identifiseer ‘n alleenlopende, ‘n bejaarde, ‘n eensame mens in die gemeente en besoek hulle of bel hulle. Gee om vir mekaar.

Kom ons bewys ons liefde deur veral in hierdie tyd na mekaar om te sien. Vra vir die dominees, die ouderlinge, die diakens, die susters wie eensaam is en wie julle kan besoek. Maak moeite om die eensaamheid te verlig. In die bevestigingsformulier vir die diakens is dit ‘n opdrag dat niemand weens armoede of eensaamheid van die geloofsgemeenskap uitgesluit mag word nie.

Doen moeite om mekaar te bedien met Christelike liefde!

Ds. Gerrit

‘n GLOBALE EVANGELIE

Daar is ‘n baie groot verskil in die gelykenise van die verlore skaap en die verlore penning en die verlore seun. Die ooreenkoms gaan oor die feit dat wat verlore was gevind is. Dat wat dood was lewe. En daaroor is daar blydskap in die hemel! Die verskil is egter dat daar nie noodwendig blydskap op die aarde daaroor is nie! Die eerste verse van Lukas 15 gee immers die leidraad. Die hemel probeer die aarde tot ware blydskap oorhaal… maar hulle wil nie! 

Terwyl die groot gebod die liefde is, vind ons die groot finale opdrag van Jesus in sy globale visie vir die mensdom: Gaan dan na AL die nasies toe en verkondig… Maak mense uit AL die nasies dissipels van MY! Jesus Christus het sy kinders onder al die mense-soorte, en al die wêreldoorde. Hy sal weer kom as die Evangelie “aan AL die nasies verkondig word”. (Markus 13:10) Vroeër het ekself nogal gewonder hoe op dees aarde gaan ons dit regkry… AL die nasies? En nou met die pandemie het ons gesien dat in ‘n paar weke het almal die protokol van maskers en sanitering aangeleer… Al die nasies! 

Jesus Christus ons Koning en Verlosser is ook die een wat beheer het oor alle dinge, Ook die tegnologie behoort aan Hom. Alhoewel die bose die tegnologie misbruik en ons selfs tot sonde aanspoor, beteken dit nog nie dat die bose in beheer is nie. God het die duiwel toegelaat om baie tot sonde te verlei. Dit staan op die sondaar se eie rekening, en daarom kom die hemelse Regter om regverdig te oordeel. Aan die meer positiewe kant sien ek nou hoe die Here self alle nasies kan bereik met die Evangelie. Die tegnologie is ‘n magtige middel daartoe. Ons bronne wys byvoorbeeld dat ons Afrikaanse en Engelse eredienste wêreldwyd beluister en later afgelaai word: Afrika, Nederland, Italië, Amerika, Kanada, Australië, Nieu-Zeeland en selfs Saoedi-Arabië. Die getalle is soms selfs asemrowend. En dit is net ons gemeente. 

As ons dink hoeveel die lugruim (media en internet) tans gevul is met die ware evangelie van Christus, dan moet daar BLYDSKAP in ons harte kom! Daar moet ook blydskap op aarde kom, omdat God kan doen wat ons nalaat om te doen. Net soos by die drie gelykenisse is daar nie baie wat soek na verlore mense nie. Kyk mooi hoe soek die herder én die vrou na hulle verlore goedere. Maar niemand soek die verlore mens nie! God soek wel. Hy vind die seun by die varkhok. Hy lei hom na die Vader. 

Die vraag is dan of daar ten minste ook by jou die blydskap is dat daar mense die evangelie hoor op ander plekke as net in ons gemeente. Die Kommissie vir Evangelisering van ons gemeente lei ons om wyd en syd uit te reik. Bid vir die sending van God in en deur hierdie gemeente, en wees bly. Wees bly dat God doen wat ons nalaat. Anders sou die Here Jesus seker nooit kom nie. Nou wag ons met blydskap op sy koms, want Hy het gekom om te soek en te vind wat verlore is. Mag Hy ons en ons bedieninge gebruik en blydskap daagliks vermeerder!

Ds Maarten 

Doen dit tot my gedagtenis…

Dink aan die Here Jesus. Gedenk sy dood totdat Hy weer kom… Dit is die opdrag wat ons ontvang van die Here Jesus self. Gedenk my dood! Dink na oor dit wat Ek VIR jou doen en dit wat Ek IN jou doen. Hy het vir al jou sondes betaal met sy Eie lewe en Hy skenk aan jou ‘n nuwe lewe deur die wedergeboorte van die Heilige Gees. 

Vandag, volgende week en die week daarna gaan ons saam kom as gemeente om hierdie gebeurtenis te herdenk. Om na te dink oor die betekenis van die dood van ons Here Jesus Christus. 

Want die nagmaal is nie net ‘n gedenkmaaltyd nie. Dit is nie ‘n “memorial” nie. Dit is ook ‘n gemeenskapsmaaltyd. Dit is om in werklike tyd te erken en te beleef hoe Jesus Christus deur sy kruis en opstanding ons ‘n nuwe lewe skenk en saam bind aan ander gelowiges. 

Dit is immers vir ons uiters noodsaaklik om wel aan die Here se dood te dink, veral in die lig van die pandemie. Ons moet nadink oor ons eie lewe in die lig van die virus. Ons moet nadink oor wat ons lewens bedoel is om te wees in die midde van die wêreld wat gebuk gaan onder die oordele van God. 

Ons moet nadink oor die ware betekenis van Christus se dood vir ons lewe. Dat Hy die vrees uit die dood wegneem. Dat Hy ons leer om anders te leef. Dat Hy ons vrede en troos skenk. 

Die Here Jesus Christus wil aan ons die versekering gee deur die tekens van sy bloed en liggaam wat sigbaar is in ons hande deur die brood en die wyn dat ons deel is van sy oorwinning. 

Meer as oorwinnaars in Christus… 

Mag die Here ook vandag u harte versterk en u geloof met nuwe ywer vul in die krag van Sy sterkte in die Heilige Gees deur die hierdie heilige Nagmaal. 

Lourens (vdm) 

Ons gaan DV Nagmaalvier

Vanaf 14 Maart 2021 tydens al drie die dienste, sal daar per erediens 120 belydende lidmate uitgenooi word om dan tydens die 08:00; 09:30 of die18:00 die Heilige Nagmaal te vier. 

Die Nagmaal sal vir drie agtereenvolgende Sondae aangebied word en wel 14, 21 en 28 Maart 2021. 

Daar sal dus 9 eredienste wees waartydens nagmaal per uitnodiging aan betrokke wyke bedien sal word. 

Daar sal die Maksimum veiligheid en protokolle tydens die nagmaal gebruik word onder die genade van die Here. 

 Daar sal ‘n Nagmaalstafel voor in die kerk wees waar die dominee en twee ouderlinge met hulle vrouens aansit. 

 Daar sal wyn in kelkies bedien word wat die diakens sal uitdeel. Daar sal wel bekers by die tafel wees vir diegene wat die bekers verkies. 

 Die broodjies sal so veilig voorberei word sodat elke Nagmaalganger wat die broodjie neem die eerste persoon sal wees wat aan die brood raak. 

 Daar is juis 9 geleenthede sodat maksimum protokol en veiligheid gehandhaaf sal word. 

 Dit is elkeen se keuse of hy/sy in hierdie tyd die Nagmaal wil gebruik of dit net siende doen. 

Vanaf 4 April 2021 sal daar DV 450 lidmate per erediens kan bywoon volgens die protokolle. Dit is 100 in die kerkgebou, 100 in die saal en 250 op die stoep of in die tuin. 

Seën vir almal van U toegebid. 

Ds Gerrit 

Openbare Belydenis van jou Geloof

Ek onthou nog my belydenisaflegging jare gelede. Die dag toe ek in die kerk groot geword het. Toe kon ek ‘n ‘belydende lidmaat’ wees en ek mog ook self die brood en wyn van die Here se Nagmaal gebruik. ‘n Hele nuwe dimensie gaan vir jou oop. Skielik kry hierdie dooplidmaat nou eie verantwoordelikhede en word gereken om by te dra tot die voortgang van die gemeente van Christus. 

Vandag lê 21 jongmense van die GK Centurion belydenis van hulle geloof af en ons is saam met hulle opgewonde oor die toekoms. Veral hulle toekoms as lede van die kerk van Christus. Vir die laaste 18 jaar het ons ouers en die gemeente saamgewerk aan die uitvoering van ons doopsbeloftes. En die Here het dit geseën. Nou mag ons hulle sien en hoor (belydenis) en seën toebid op die pad wat voorlê. 

In die tye wat kom sal ons almal se geloofsbelydenis nog meer uitgedaag word. Vervolging ter wille van jou geloof word daagliks ‘n groter realiteit. Petrus skryf dat ons “altyd gereed moet wees om verantwoording te doen van die hoop wat ons bely”. (1 Pet 3:15) 

Laat ons gebed vir elke jong lidmaat van die kerk dan wees: 

Efesiërs 3:16-20 

16Ek bid dat Hy deur sy Gees uit die rykdom van sy heerlikheid aan julle die krag sal gee om innerlik sterk te word, 17dat Christus deur die geloof in julle harte sal woon en dat julle in die liefde gewortel en gegrondves sal wees. 18Mag julle in staat wees om saam met al die gelowiges te begryp hoe wyd en ver en hoog en diep die liefde van Christus strek. 19Mag julle sy liefde ken, liefde wat ons verstand te bowe gaan, en mag julle heeltemal vervul word met die volheid van God. 

20Aan Hom wat deur sy krag wat in ons werk, magtig is om oneindig meer te doen as wat ons bid of dink, 21aan Hom kom die eer toe, in die kerk, deur ons verbondenheid met Christus Jesus, deur al die geslagte heen tot in alle ewigheid. Amen. 

Ds Maarten 

« Older posts Newer posts »