Dit is ongeveer 2 maande gelede, aan die einde van Aprilmaand wat die wêreld met afgryse toegekyk het hoe derduisende mense se liggame sommer so in die openbaar in Indië verbrand is, toe hulle deur hierdie selfde vlaag van die virus getref is. 

Die wyse waarop heidene in hulle ongeloof optree sê baie oor wat hulle glo. Hierdie afskuwelike tonele van brandende liggame het baie mense bitter gelaat in die siel. Hoe kan dit wees dat mense sommer so in ‘n openbare park of op straat op ‘n houtstapel geplaas word en net daar aan die brand gesteek word…? 

Ons kan dit net verstaan as ons begrip het vir die heidense oortuiging van Hinduïsme, die grootste panteïstiese geloofsoortuiging in Indië. Die Hindu’s glo dat alles gode is en die gode in alles. Daarom dat hulle nie diere doodmaak nie. En hulle glo in reïnkarnasie. 

Met ander woorde, dat wanneer mense sterf hulle weer in ‘n nuwe vorm lewe vind. Omdat die menslike liggaam in hulle oë net ‘n dop is, moet die liggaam vernietig word so gou moontlik dat die siel nie weer daarheen terugkeer nie, maar eerder na ‘n hoër vorm van goddelikheid sal inkarneer. 

By Christene is die geheel anders. Ons glo dat die liggaam net so kosbaar is soos die siel en die gees. Christus het immers met sy liggaam en bloed betaal, en boonop sit Hy as mens aan die regterhand van sy Vader as verheerlikte Koning. 

Dit is ook die diepe troos van waar ons belydenis begin, by Sondag 1 van die Heidelbergse Kategismus: Dat ons enigste troos daarin bestaan dat ons na liggaam en na siel, in lewe en in sterwe aan Christus behoort. Ons liggaam is immers ‘n tempel van die Heilige Gees wat in ewigheid by God sal wees. 

Mag hierdie troos ook ons berusting en vrede bring in hierdie onsekere tye, dat ons as Christene nie soos die heidene sal wees nie, maar eerder ‘n Lig en Sout wat ons liggame stel as heilige, welgevallige offers om God te verheerlik. 

Lourens (vdm)