Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Kategorie: Blogs (Page 33 of 50)

Is REG regtig reg?

Wanneer is dit wat reg is, nie eintlik meer reg nie? Dit is die vraag op so baie van ons se harte. Die inperking het lankal reeds ‘n onmeetbare tol ge-eis. En niemand van ons weet hoe lank ons nog so sal kan of moet aanhou nie. Dit voel soms soos ‘n nagmerrie maar niemand wil jou wakker maak nie. Want dit wat verkeerd is, is reg en dit wat reg is, is verkeerd. 

So wat is die regte ding nou werklik om te doen? Dit is asof ons nie eintlik meer weet nie. Asof die lyne tussen reg en verkeerd heeltemal vervaag. Want dit wat jy dink reg is, is nie eintlik meer reg nie. 

Dit wat jy jou lewe lank glo, en dit waarvan jy oortuig was, om God te aanbid in die erediens, het ‘n oortreding geword en wek onsekerheid. Dit wat ons die meeste vrede en berusting en vreugde moet gee, het nou ‘n vrees geword waarin ons onveilig voel. 

Dan besef ons ook dat woorde en wette soms net oë-verblindery kan wees. Soos die opskrif, kan die woordorde en die klemverskuiwing soms ‘n wêreld se verskil maak. Die woordjie reg vorm op so baie maniere deel van ons woordeskat. Regtig – Dit wat waarlik so is. Regverdig – Om reg op te tree teenoor verskillende partye. Geregtig – Dit waarop jy kan aanspraak maak. Voorreg – Iets wat jy geniet sonder enige ver-dienste. Gereg – Die wetlike owerheid (of iets wat jy kan eet)… Regsinnig – Iemand wat reg dink. Ens. 

Sondag 23 van die Heidelberger vra drie vrae wat hierop gemik is: 

1. Wat is die waarde van jou geloofsbelydenis? 

2. Hoe is jy regverdig voor God en 

3. Waarom kan jy alleen deur die geloof regverdig wees. 

Die antwoorde op hierdie vrae help ons ook om te verstaan hoe om te onderskei wat regtig reg is. Want die waarde van jou geloof is dat jy in Christus geregverdig is, en ‘n erfgenaam is van die ewige lewe. Hierdie regverdiging kom alleen deur die geloof. 

Dan word die antwoord tog so duidelik: Die regverdige deur die geloof, sal lewe. 

Lourens (vdm) 

Wees altyd dankbaar!

Kol 3:15 

“En die vrede wat Christus gee, moet in julle lewens die deurslag gee. God het julle immers geroep om as lede van een liggaam in vrede met mekaar te lewe. Wees altyd dankbaar.” 

Op ons standaardvraag: Hoe gaan dit met jou? Is bykans altyd die standaardantwoord: Kan nie kla nie! Terwyl ons soveel het om voor dankbaar te wees. God is getrou. Selfs in hierdie tyd van die Covid pandemie is daar soveel om voor dankbaar te wees. Van ons lidmate wat oorlede is, glo ons van harte is “huistoe”, dit beteken na die ewige Vaderhuis, ‘n dankbaarheid. Vir diegene wat siek was en herstel het, is daar dankbaarheid. Vir almal wat gebuk gaan onder werkspanning ens. is daar steeds die geloof in Jesus Christus. Ons bekommer ons so maklik oor die dag van môre, terwyl ons vergeet dat God belowe het dat Hy vir ons sal sorg. Ons sien so dikwels net die hartseer en swaarkry raak, terwyl daar soveel is om voor dankbaar te wees. Ons geloof in ons Here Jesus Christus en dat ons in lewe en in sterwe net aan Hom behoort, vul ons harte met dankbaarheid. So of ek siek of gesond is, jonk of oud is, lewend of sterwend… “In lewe en in sterwe behoort ek aan Jesus Christus.” Daarby saam gee God aan ons liefde. Liefde van God aan ons en ons liefde vir Hom en vir ons medemens. 

“Om ‘n dankbare hart te hê is lewensveranderend. Dan kyk ek verby die dinge wat vir my moeilik is en sien ek God se oorvloedige seën raak. Mense wat dankbaar is het gelukkige lewens en hulle is tevrede, minder gespanne en depressief. Dankbaarheid is ‘n manier van lewe en nie net ‘n gevoel nie. Dankbaarheid is die kern van ‘n Christen se lewe. 1 Tess 5:18” (van der Westhuizen E. https://www.ekerk.org/singlepost/2017/08/10/dankbaarheid) 

Om dankbaar op te staan elke dag en die dag met God te begin. Om dankbaar te wees vir elke klein seëninkie in jou lewe. Om dankbaar te wees vir jou Christenskap. Dit sal jou lewe verander in blymoedigheid en vreugde. 

Ds.Gerrit Kruger 

Statistieke

Ons het die afgelope jaar nogal gewoond geraak om statistieke te hoor en daarop te reageer. Veral die Covid-syfers wat elke dag uitgesaai is… en as jy nie die konteks behou nie, kan dit maklik vrees en angs by jou opwek. Dit was en is ongelukkig een van die neweeffekte van die pandemie se gereelde statistieke. Dan daal die syfers weer en die pendulum swaai oor na die ander kant. In sulke tye van verwarring vlug ons maar na die veilige arms van die troue God en Vader wat alles weet, alles in geheel sien, lei en rig. 

Ander statistiek wat u dalk nooit regtig hoor of sien nie, al is u self deel daarvan, is dié van ons erediensuitsendings. Volgens ons elektroniese kommissie kan hulle presies sien en bereken hoeveel keer die video- of oudio-opnames bekyk of beluister word, hetsy in tyd of latere opnames daarvan. Net die laaste paar weke waar daar niemand toegelaat is om na die eredienste te kom nie, was dié syfers egter baie bemoedigend. Soggens was daar gereeld meer as 2000 luisteraars en saans ongeveer 700. 

As u uself so bietjie in die prediker se posisie plaas om op die preekstoel te staan en daar is niemand of regtig weinig mense in die kerk (want nét die diensdoenende ampsdraers was daar vir toesig oor die woordbedienaars, soos die kerkorde dit vereis), dan raak hierdie syfers mens nogal baie. Om vir ‘n letterlik leë kerk te preek, is nie so maklik as wat dit dalk lyk nie. Ek dink die ander leraars sal saamstem dat ons nie kan wag om weer vol kerke te sien nie. 

Om egter te besef dat ons in hierdie uitdagende omstandighede byna méér luisteraars na die Woordbediening trek, is ‘n riem onder die hart. Dit ‘bewys’ ook dat die omstandighede mense weer terugdwing na die Woord en na die God van die Woord. Nou is dit my stille wens dat, sodra die kerkgebou weer meer en meer oopgestel word, die gemeente in dieselfde volle krag sal optrek kerk toe. 

Vergun my dus ‘n spesiale woordjie van dank aan die hele elektroniese span wat met groot toewyding deur die hele grendeltyd gesorg het dat die eredienste onverpoosd uitgesaai en op verskeie maniere beskikbaar gestel is aan die hele gemeente. 

Ons sien mekaar DV binnekort in die kerkgebou vir die eredienste!

Ds Maarten 

Ek en my Huis, ons sal die Here dien

My gesin en die verbond in die 21 ste eeu 

Die geykte woorde van Josua aan die volk op die vooraand van sy vertrek na die ewige Kanaan, is diep gesetel in die verbond. Dit is ook vir ons ‘n herinnering van ons eie verbondsaandeel deur die doop en belydenis van dieselfde belofte.

Ons het die afgelope jaar, en vir die voorsiene toekoms ‘n andersoortige geleentheid in die wyse waarop ons gesinslewe funksioneer met kinders wat tuis bly en ouers wat van die huis af werk.

Hierdie andersoortige noodsaaklikheid het besondere geleenthede tot gevolg, wat in die “normale” gejaagde lewe nie altyd moontlik was nie. Dit het egter ook ons gesinsbestaan met nuwe uitdagings gekonfronteer.

In die Bybelskool van die eerste kwartaal gaan ons in besonder ons aandag fokus op wat die Bybel ons leer oor huisgesin, huwelik, ouerskap en al die uitdagings wat daarmee gepaard gaan. Ons gaan so bietjie kyk na die moderne vorm van geslagsidentiteit en die “woke” en “cancel culture” wat al hoe meer ‘n realiteit word. En ons sal by die gewone “hoof-pyne” stilstaan waarmee ons as gesinne daagliks te doen kry.

Die bedoeling is nie om ‘n huwelikskursus te wees of ‘n gesinsberading of terapie nie, maar eerder ‘n doodgewone benadering van elke dag se gesinslewe oor die dinge wat ons soms vergeet.

As die Here wil, sal ons Dinsdag, 16 Februarie afskop met die inleiding. Om die toegang te vergemaklik sal dit ook beskikbaar wees per internet uitsending. Ons wil graag kontak opbou met almal wat die geleentheid wil saam bywoon. Stuur asseblief ‘n boodskap aan ds Lourens by 082 5292 330 vir verdere inligting.

Lourens (vdm)

Uitdagings – 2021 – Geleenthede

Ons het gedink 2020 was ‘n moeilike jaar. Ons het gedink, in 2021 gaan alles net vir ons beter gaan, en gaan alles weer terugkeer na ons normale omstandighede soos voor 2020, ten minste wat die kerk aanbetref. Wat ‘n teleurstelling om weer ingeperk te wees met geen kerkdienste meer nie. Wat ‘n teleurstelling nadat die kerkraad besluit het ons gaan weer ten volle met die kerkaktiwiteite aan en nou kan ons nie. Niks werk uit soos wat ons graag wil nie. Maar die Psalmdigter sê ook in Psalm 119:71 “Dit is vir my goed dat ek swaargekry het, want daardeur het ek u voorskrifte geleer.” Daarom weet ons ook dat God is altyd en steeds in beheer en God regeer. Daar sal nie ‘n haar van ons hoofde val of God weet dit nie (Mat 10:30). Ja verseker wil die Here hê dat ons Hom saam moet dien as ‘n gemeente wat ywerig saamkom rondom die Woord van God, maar wat gebeur nou? Ons kan in sak en as gaan sit en treur omdat ons so ingeperk is, of ons moet die beste gebruik maak van elke geleentheid. Ons moet die tyd uitkoop. Ons lees in Ef 5:16,17 “Maak die beste gebruik van elke geleentheid, want ons lewe in ‘n goddelose tyd. 17) Moet daarom nie onverstandig optree nie, maar probeer te wete kom wat die Here wil dat julle moet doen.” So is daar in 2021 baie geleenthede, afgesien van wat die president op 15 Februarie gaan sê. Ons mag God steeds vrylik dien en aanbid in ons huise. Ons mag steeds inluister en so meedoen aan die eredienste, al is dit oor die internet, selfoon of radio. Daar is altyd geleentheid om voorbidding te doen, sonder ophou, vir ons mede-broeders en susters en kinders, vir die kerk, vir die owerheid vir die wêreld. Die tyd vir bekering en regmaak en terugkeer na God is nou. Elke huisgesin het ‘n Bybel. Niemand kan sê dat hulle nie die Here kan dien nie. Maak gebruik van elke geleentheid om God te aanbid en te dien. Een van die belangrikste plekke is tog om in jou binnekamer te gaan bid, (vgl Mat 6:5-9). Daar is baie geleenthede weer in 2021 om God te dien en te aanbid en te loof en te prys. Aanbid en dien God met entoesiasme en opregtheid. Dien Hom met ywer en liefde. Moet nie ophou om met jou medegelowiges intens mee te leef deur vir mekaar te bid nie. Sien uit na die dag dat ons weer as gemeente bymekaar kan kom om voluit in alle fasette van kerkwees, God te aanbid en te dien. Intussen lees jou Bybel, bid vir mekaar en dien God in liefde. Daar is talle geleenthede om God te dien.
Mag U ‘n geseënde 2021 beleef en mag u elke geleentheid aangryp.

Ds. Gerrit

Die Vaders het groen druiwe geëet en die tande van die kinders het stomp geword

Dit is baie swaar om te dra aan ‘n las van die verlede wat jou opgelê word, sonder dat jy self daarvoor verantwoordelik is. Die afgelope week was daar baie geskryf in die openbare media oor die boek: The lie of 1652 wat onlangs verskyn het. Hiermee maak die skrywer sekere aannames en gevolgtrekkings wat direk toegepas word op vandag. 

Dit herinner aan die woorde van die Here deur die profeet Esegiël in hoofstuk 18 dat die ouers (vaders) groen druiwe geëet het en die tande van die kinders het stomp geword. Daarmee verwys die Here self na die spreekwoord van die Israeliete wat voel dat die kinders die las moet dra van die ouers se optrede. 

So word vandag se nageslag ook verantwoordelik gehou vir die optrede van voorgeslagte bykans 400 jaar gelede. Is dit billik of regverdig of iemand verantwoordelik te hou vir iets wat hulle nie gedoen het nie? Dit is ‘n baie moeilike en soms netelige saak oor presies hoe ons verantwoordelikheid kan neem om die verkeerdhede van die verlede reg te stel? Word die sondes van die vaders dan “gestraf” aan die kinders, die derde en vierde geslag? Of tot aan die duisendste geslag? 

Ongelukkig is dit so dat aksies gevolge het. Dit wat jy doen sowel as dit wat jy nie doen nie. 

Net so is dit ook waar dat die geskiedenis een ding bewys, dat ons nie leer uit die geskiedenis nie. Immers, niks onder die son is nuut nie, soos die Prediker sê. Om uit ons perspektief terug te kyk na die verlede, is dit baie maklik om sekere dinge duidelik te sien. Dit geld nie net vir ons eie lewe nie, maar ook vir die geskiedenis van die mensdom. 

Dit maak die koms van ons Here Jesus so belangrik en merkwaardig. Dat ons vergewe word vir ons verkeerdhede en sondes, en dat ons deur ons lewens te verander, sekere dinge kan regstel. Vergifnis is sekerlik een van die kragtigste dade wat ‘n mens se lewe verander. 

Daarom leer ons Here Jesus ons om te bid: vergewe ons ons skulde net soos ons ons skuldenaars vergewe… 

Dink maar aan die swaar las wat soveel mense dra omdat hulle nie kan vergewe nie, omdat hulle nie kan vrede maak met die verkeerdhede en sondes van ander mense nie. En soms ook nie met hulle eie sondes nie. 

Die kruisiging van ons Here Jesus Christus bring elke mens voor vergifnis en oordeel. Die twee misdadigers neem elkeen hul eie standpunt in. Die een wat pleit om vergifnis en genade, die ander een wat veroordeel. Die dissipels wat vlug en verraai en verloën word gekonfronteer met skuldgevoelens. Petrus wat pleit om genade en in trane uitbars en Judas wat nie kan vrede maak met wat hy gedoen het nie… 

As ons binnekort Kersfees vier, dan dink ons terug aan die verlede. Aan die onreg wat Jesus aangedoen is. Hy wat sonder sonde is, moes sterf ter wille van ons s’n. Maar Hy verkwalik ons nie daaroor nie, Hy gee ons nuwe hoop en nuwe moed. Niemand wat ploeg en agtertoe kyk is immers geskik vir die koninkryk van God nie. 

Lourens Venter (vdm) 

« Older posts Newer posts »