Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Kategorie: Blogs (Page 29 of 53)

“Nie in die wit paleise”

– NP Van Wyk Louw 

Nie in die wit paleise nie
wou Hy (uit soewereine wil)
tot ons soort staat gebore word;
maar, waar die Kuise en die Arme stil
en buite die hotel se poort
verniet loseer het in die stal,
het Hy, Visarendjie van God,
in ons benoude vlees geval.
Die eerste oë wat Hom sien,
was skaapwagters vol strooi en stof;
kras manne wat in skerms woon
en ruik na bok en rook en mof;
ná baie dwaal en baie soek
en selfs digby Herodes vra! –
kom eindelik die Wyses tóg
met goud en wierook agterna.


Hy het sy eerste kern gekies
nie uit geleerdes in die Skrif
of dié wat hande en borde was
met koue voorgeskrewe drif;
maar vissers en ‘n tollenaar
die ‘t Hy geroep met sagte groet:
manne met harde hande en sweet
en eelte, en ‘n oop gemoed.


En toe Hy sy groot net uit laat gooi
regs van die boot en links en regs,
het Hy ingesleep: ‘n vreemde prooi –
‘n visvangs soos die óú Wet slegs
in skaam vermoede kon vermoed – :
melaats, besete, ryk of klein;
sondaars van elke kleur en geur,
maar in sy glimlag, skielik: rein.”

‘n A-normale jaar snel ten einde

Psalm 139:1-24 

‘n Jaar vol van trauma en onvrede en a-normale sake snel ten einde. ‘n Jaar wat weereens nie normaal kon begin en verloop nie. ‘n Jaar waarin ons weereens nie as gemeente elke Sondag bymekaar kon kom nie. ‘n Jaar wat ons aste ware, dag vir dag moes leef. En tog is God altyd in beheer. Niks het gebeur wat God nie van geweet of toegelaat het nie. God was nie net in beheer nie, maar God het ook geweet, toegelaat en bepaal wat met elkeen van ons gaan gebeur. So het God ons steeds van alle kante omsluit. Juis in Psalm 139 leer ons van hoe God ons van alle kante omsluit en ken. 

Hy is: 

– Alwetend Ps 139:1-6 

– Alomteenwoordig Ps 139:7-12 

– Skeppingsmagtig Ps 139:13-18 

– God laat nie met Hom spot nie Ps 139:19-22 

– ‘n Bede vir leiding van God. Ps 139:23-24 

Ons kan so maklik dink dat God ons vergeet het. Of ons kan wonder hoekom dinge so snaaks en skeef en a-normaal verloop. En tog moet ons nooit vergeet dat God van ewigheid tot ewig-heid nie net daar is nie, maar alles weet en Hom elke dag met ons bemoei. Inteendeel Hy het ons so lief dat Hy sy eie Seun Jesus Christus gestuur het om vir ons sondes te sterf. Juis dit het ons gedra. Want ook in 2021 was, is en sal God elke dag by ons wees. Ons moet nie vra, hoekom het dinge so of so verloop nie, ons moet eerder vra en bid dat God ons op die regte pad sal hou. Want dit is ons hele lewe, dat God ons deur Jesus Christus se soenverdienste, onder leiding van die Heilige Gees sal lei en bewaar. Die doel is ook nie vir ons om ons norma-le lewe te lei wat ons dink normaal is nie, maar dat ons werklik altyd tot Sy eer en verheerliking sal lewe. Want die doel van ons lewe is om God te eer en te verheerlik. Dit doen ons deur DIE GROOT GEBOD van liefde vir God en ons naaste en DIE GROOT OPDRAG, om die evange-lie van God uit te dra. Mag daarom almal wat werklik erns maak met hulle Christenskap die bede bly bid tot eer van God en tot versterking en behoud van ons elkeen: 

Psalm 139:23,24 

23 “Deurgrond my, o God, deurgrond my hart, ondersoek my, sien tog my onrus raak. 

24 Kyk of ek nie op die verkeerde pad is nie en lei my op die beproefde pad!” 

Ds. Gerrit Kruger 

Herinnering

“Gaan roep hierdie woorde uit sodat elkeen in Jerusalem dit kan hoor. So sê die Here: Ek onthou nog hoe getrou jy aan My was in jou jeug; hoe lief jy My gehad het toe jy my bruid geword het, toe jy My die woestyn in gevolg het, in ‘n wêreld waar niks geplant word nie.” JEREMIA 2:2 

Die Here God roep die volk tot herinnering van hulle toewyding in die verlede. Toewyding wat blykbaar verslap het en so kry die Here nie die eer wat Hom toekom nie. 

Ongelukkig is dit waar dat ons sukkel met volharding in toewyding. Dit wil voorkom of oorgawe en toewyding nie maklik van een geslag na die volgende oorgedra word nie. Die opwinding van ‘n jong geloof taan maklik, en die vreug-de van die godsdiens verflou sommer gou. Die eerste liefde wat verlaat word omdat die self en die eie-ek tog so ‘n groot rol in ons voortbestaan speel. Die Kategismus draai nie doekies om nie as dit stel dat “ons van nature geneig is om God en ons naaste te haat”. 

Die Here roep sy volk en kerk om sy groot dade in herinnering te roep. Ook die sonde-verlede waaruit jy gered is. Onthou wie jy was. Onthou wie jy was, sonder Christus! En roep in herinnering die groot dade van God. Maak sy Naam aan die mense bekend. Laat die nasies hoor en laat hulle jou liefde, oor-gawe en toewyding sien. 

O kerk van Christus, onthou die toewyding van jou Verlosser. Hy wat jou bruidegom met volle oorgawe is en jou met sy dure bloed gekoop het. Kom vandag weer aan sy tafel en roep in herinnering wat Hy vir jou gedoen het, en laat ons, Hom weer met oorgawe dien en eer. 

“Mag God, wat vrede gee, julle volkome aan Hom toegewyd maak en julle geheel en al, na gees, siel en liggaam, so bewaar dat julle onberispelik sal wees wanneer ons Here Jesus Christus weer kom!” (1 Tess 5:23) 

Ds Maarten 

Verbly jou in die Hoop

Solank daar hoop is, is daar lewe… Want hoop is baie meer as net om te wens. Natuurlik is daar niks fout om te wens nie! Ons wens vir ‘n mooi dag of wens om weer geliefdes te sien. Dit is ‘n diep en egte menslike verlange. 

Hoop is nog baie meer as dit. Om te hoop beteken dat daar by jou ‘n verwagting is. Dit word in Hebreeus selfs vertaal met vertroue… Om te hoop is om te vertrou in jou verwagting. Dit word ook so beskryf in die Hebreërbrief met betrekking tot geloof: 

Die geloof dan is ‘n vaste vertroue op die dinge wat ons hoop, ‘n bewys van die dinge wat ons nie sien nie. 

Om te hoop is om te vertrou, om te glo. In die Bybel gaan dit altyd om die beloftes van God. Dat ons kan vertrou dat God sy beloftes getrou sal nakom. En Hy het. Deur Jesus Christus sien ons hoe die beloftes van God op geldige gronde wettiglik vervul word. 

So word ons Hoop ‘n uitkoms van seën wat gefundeer is op die verlossing en verdienste van Jesus Christus. Die Here Jesus is ons Hoop. Hy is ons verwag-ting. Hy gee ons ‘n rede om uit te sien na more, en oormore. 

Daarom kan ons bly wees oor ons verwagting. Die Here gee ‘n rede om bly te wees oor dit wat Hy beloof… 

As jou moed jou wil begewe en die verlange jou bemoei, as die druk jou oorweldig en die onsekerheid jou onderkry onthou dan die woorde: 

Wees nie traag in die ywer nie; wees vurig van gees; dien die Here; verbly julle in die hoop; wees geduldig in die verdrukking; volhard in die gebed. 

Lourens (VDM) 

EENSGESIND VOOR GOD!

Rom 15:5 

“En mag God, die bron van alle standvastigheid en bemoediging, gee dat julle eensgesind onder mekaar sal wees soos Christus Jesus dit wil hê.” 

Ons het die groot vreugde dat ons weer as gemeente gesamentlik God kan dien. Wat ‘n vreugde om in eensgesindheid in liefde die Here te kan aanbid, in ‘n erediens, om van harte tot lof van God te kan sing en God te kan dien en eer. Dit vra steeds van ons dat ons minder sal word en God meer sal word. Dit vra dat ons elkeen onsself sal verloën en God en ons naaste eerste sal stel. Daarom dat ons ook met groot omsigtigheid en verantwoordelikheid die eredienste en kerkbywoning so wil inrig dat elkeen gemaklik, veilig en opreg die Here kan dien. Ons vra daarom dat ons mekaar in hierdie tyd sal verdra. 

Die rye stoele in die saal is juis verder uitmekaar geplaas vir afstand-doeleindes. In die kerkbanke vra ons dat die lidmate sover moontlik afstand van mekaar sal hou, sal maskers bly dra en protokol sal nakom om vir almal die geleentheid te bied om in rustigheid en vrede saam te kan kom in die eredienste. 

Ons verwag dat daar tydens die Nagmaalsdiens van 21 Oktober dalk meer mense die erediens sal bywoon. Daarom het ons ook gereël dat daar ‘n Groot Skerm op die stoep sal wees met ‘n klomp stoele om ook op die stoep te sit en so deel te wees van die nagmaal. Daar sal ook ‘n predikant teenwoordig wees om die nagmaal te bedien. Daar sal ook weer die geleentheid wees om voor aan die tafel te gaan sit, waar kelkies gebruik kan word of die beker, maar elke gesin of individu sal alleen uit ‘n beker kan drink. Ons vra dus in groot liefde dat ons mekaar sal verdra in ‘n eensgesindheid wat tot eer van God sal wees. Daar sal dan ook drie geleenthede wees om die nagmaal te gebruik: tydens die Afrikaanse diens om 09:00, tydens die Engelse diens wat spesiaal tweetalig sal wees om 11:00 en ook tydens die Afrikaanse aanddiens om 18:00. Ons vra die lidmate om vrymoedigheid te neem om twv die druk, te oorweeg om nagmaal te gebruik tydens die Engelse diens of die aanddiens. 

Mag ons almal met groot eensgesindheid en vreugde, nie net in die eredienste vergader nie, maar ook die nagmaal gebruik tot eer van God ons Hemelse Vader. 

Ds Gerrit 

Semper Reformanda ad Fontes

Elke laaste Sondag in Oktober staan in ons Protestantse kerke wêreldwyd bekend as Hervormingsondag, ter gedagtenis aan die omwenteling van die samelewing wat so drastiese verander het na aanleiding van Martin Luther se 95 Stellings. 

Dit was op 31 Oktober 1517 wat Luther die bekende stellings teen die kerkdeur van die Schloßkirche in Wittenberg vasgenael het, wat ‘n algemene en bekende manier was om diskussie oor akademiese sake te inisieer. Dit was nie die eerste en laaste stellinge van Luther nie. Terloops, die vorige maand, op 4 September het Luther op ‘n baie meer drasties wyse vanuit die Skrif die stryd aangesê by wyse van Disputatio-stellings. 

Dit was egter hierdie 95-stellings wat op byna onberekenbare wyse vlam gevat het en die wêreld se oë geopen het vir die skynheiligheid en valsheid van die “kerk”. Die onbybelse praktyke van die aflate (om met geld vir jou sondes te betaal) het veral die fokus gevorm terwyl die gevolg ook ander wesenlike probleme ontbloot het soos die gesag van die kerk en die gesag van die Skrif. 

Op so wyse het God self ingegryp om die aandag van menslike standpunte en opinies teenoor Sy ewige waarheid op te weeg. God se Woord kan nie gelyk gestel word aan mense se opinies en redenasies nie. God regeer Sy kerk deur Sy Woord en Gees en nie die mens nie. 

Vandag, 504 jaar later is hierdie beginsel nog net so aktueel en noodsaaklik as ooit te vore. Die wêreld waarbinne ons leef is toenemend aggressief teenoor geloof en veral die Christendom. Maar ook die Christene het verval. Elke persoon het ‘n opinie of oortuiging van die waarheid, en mense ervaar hoe die “kerk” (in die breë sin) probeer om relevant te bly in ‘n drastiese veranderende samelewing. Kerke loop leeg, gemeentes doleer en gemeentelede kwyn. 

Mag dit wees dat ons ook weer, soos Luther, en die kerk deur die eeue, sal afsien van ons eie opinies en redenasies, om terug te keer na God se Woord. Immers, ons bely dit as gereformeerdes. Dat God se Woord ons weer mag oor vorm, terug na Sy Beeld! 

Semper reformanda – altyd reformerend, ad fontes – na die bronne. 

Lourens (VDM) 

« Older posts Newer posts »