Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Kategorie: Blogs (Page 28 of 53)

‘n Banier vir die volke

Toe die volk deur die woestyn getrek het, het elke stam ‘n banier gehad. Dit was ‘n vlag of embleem wat gedien het as aanwysing. Hierdie banier het die norme en waardes en identiteit van elke stam voorgestel. Ons vind dit vandag nog, dat baie maatskappye so ‘n embleem het. Selfs ‘n land se vlag is so ‘n banier. Wanneer jy die vlag of banier sien, dan weet jy onmiddellik waarvoor dit staan. 

‘n Banier word gewoonlik hoog opgehys op ‘n paal sodat almal dit van ver af kan sien. So is die Christus ook ‘n banier. Hy wat self op die houtpaal gehang is tussen hemel en aarde, Hy is die banier, die teken van God se genade en vrede en oordeel! 

Hy wys op die teken van God se verlossingswerk. Christus self is die banier wat ons norme en waardes vasstel. Hy is die vlagskip wat die weg oop baan waarop ons elkeen Hom moet navolg! By Hom sien ons die verskriklike oordeel van God oor die sonde, maar ons sien ook die uitnemende liefde van die Vader. 

Hy is die teken van ‘n nuwe eksodus. Nie meer ‘n uittog uit Egipte na ‘n land van melk en heuning met voorspoed en welvaart nie, maar na ‘n ewige Kanaän. ‘n Land van vrede, waar die bome hulle vrugte gee, elke maand van die jaar. ‘n Land waar daar ware rus is, waar daar nie meer moeite en sweet is en vervloeking nie! 

Hy sal sy banier ophef vir die nasies en bymekaar laat kom al die kinders van God wat verdryf is oor die oppervlaktes van die aarde. Christus self versamel sy kerk. Hy maak weer ‘n grootpad vir sy volk om hulle uit te lei uit die slawerny van die sonde. Hy koop hulle los van die vyand en die dood om onder sy vaandel, sy banier saam te kom. 

Jesus Christus is die banier van ons sonde-vergifnis. Hy is die banier van ons vrede! Hy is die banier wat opgerig is waaronder ons kan skuil! Deur sy krag en genade het Hy die dood gesterf en aan ons die Gees gegee tot wysheid, verstand, raad, sterkte kennis en vrees van die HERE. 

Gaan dan in Sy vrede, en leef onder Sy Banier! 

Lourens (vdm) 

Die belangrikste keuse in jou lewe

Die lewe bestaan uit baie keuses. Van kleins af moet jy keuses maak. As jy baie klein is, maak jou ouers vir jou die keuses. Hulle besluit wat jy moet aantrek, eet, met wie kan jy speel. Hulle leer jou van die Here en lees vir jou Bybel en neem jou kerk toe en katkisasie toe. Namate jy groter word, moet jyself al meer en meer keuses maak. Jy begin self besluit wat jy wil aantrek, wat jy van hou, wat jy wil doen. Soms word daar vir ons keuses gemaak deur die gesagsdraers twv goeie orde in die gesin, skool by die werk en in die land. 

Daar is egter een keuse wat jy self moet maak en dit gaan nie net oor die nou en hier nie, maar in besonder oor die ewige lewe. Antwoord jy op die roepstem van God. God se genade dat Hy sy kinders uitgekies het en liefhet omdat dit in Sy almag so bepaal is. God roep ons om Hom te volg. Geen mens kan God se roeping werklik weerstaan, as jy ‘n kind van God is nie. Paulus het die roeping weerstaan tot die tyd wat hy op die pad na Damaskus was. Daar het God hom kragdadig geroep. Jona het God se roeping weerstaan, maar God het hom deur ‘n vis wat hom ingesluk en uitgespoeg het op die plek waar hy moes gaan werk, gedring en gedwing om die roeping op te volg. Daar is sommige wat die roeping versaak, dink maar aan Demas, Judas Iskariot. 

Maar die dag wat jy belydenis van jou geloof gaan doen, is die belangrikste dag van jou lewe. Dan staan jy alleen, met jou eie besluit voor God om te belowe dat jy Sy kind is en dat jy Hom wil dien. Daarom is belydenis van geloofsaflegging nie net nog ‘n mylpaal in jou lewe nie, maar dit is dié belangrikste besluit en dag in jou hele lewe. Hierdie belofte wat jy maak, kan jy nie terugtrek nie. Dit is geldend vir ewig. Maar hierdie keuse vra ook van jou gehoorsaamheid en toegewydheid. Dit is nie om som-mer net ‘n keuse te maak wat jy weer kan verander nie. Dit is nie om maar net van sportklub of van jou huwelik of wat ookal te verander nie, dit het EWIGHEIDSWAARDE Hierdie besluit bepaal die res van jou lewe en jou ewigheid. 

Is jy gehoorsaam aan God? Antwoord jy op sy roepstem? Ons dank die Here vir hierdie tien jongmense wat vanmôre openbare belydenis van hulle geloof doen. Ons bid vir hulle en dra hulle in ons gebede en liefde. 

Ds. Gerrit 

Is jy gereed?

“Eerbiedig Christus in julle harte, altyd gereed om julle te verantwoord teenoor elkeen wat van julle rekenskap eis oor die hoop wat in julle leef” – 1 Pet 3:15 (2020) 

As ek nou mag aanneem dat die leser hier sekerheid het van die liefde van die Here, absoluut oortuig is dat jou sonde vergewe is en dat jy besig is om elke dag gereed te maak om ewig saam met jou Here te lewe, dan kan ons oor hierdie teks praat. Dan is dit my aanname dat die leser HOOP het. Die Christelike hoop is nie wispelturig nie. Dit is vas en seker. Christus is my hoop. In Hom het ek ‘n ewige uitsig op ‘n lewe saam met God. ‘n Lewe vry van sonde en pyn en swaarkry. ‘n Lewe sonder stryd en mislukking. Wat ‘n heerlik en onbeskryflike uitsig en troos. My hoop in die tye van hierdie stukkende w reld is dat ek aan Jesus Christus behoort en dat Hy vir my ‘n ewige vrede met God bewerk het. Niemand kan dit ooit weer van my af wegneem nie. Dit maak my bestendig en ‘n mens van vrede wat ook vrede uitdeel en in liefde met my naaste lewe.

Dit is die werk van God wat Hy deur Christus en sy Heilige Gees IN my lewe tot stand gebring het. HY is my HOOP. Hy gee my hoop. Hy gee vrede. Die vraag is egter nie net wat IN jou is nie, maar ook wat UIT jou uitgaan. Ons is dankbaar vir sy werk in ons, maar as dit VRUGDRA dan gaan daar ook iets daarvan UIT ons uit. Mense sien ons vrede. Mense sien ons bestendigheid. Mense sien ons vrugdra. Mense sien ons hoop! En dan moet ek en jy daaroor kan praat. Dit moet gedeel word. Uitgedeel word. Hoop is aansteeklik. Hoop gee altyd plek vir die liefde. Hoop gee ruimte vir versoening en vrede. Hoop maak rustig. Dit stabiliseer jou denke en emosies. Hoop bewaar jou teen paniek. Hoop gee uitsig in swaarkry, styg uit bo beproewing en strek verder as die dood en graf!

Maar dan weer die vraag: Is jy gereed om daaroor met mense te praat? Ons is geroep om getuies te wees (Hd 1:8). Die Heilige Gees sal jou lei en krag en woorde gee. Maar die Naam van ons HOOP moet ook op jou lippe kom. Jesus Christus moet as die HOOP vir die hele w reld bekend gemaak word. Hierin is ek en jy God se mede-werkers. Soms hoef jy geen woord te s  nie, maar soms moet jy wel openlik getuig dat jou veilige hoop en verwagting alleen in Christus l , sodat ander ook die hoop kan vind en die vrede van God mag ken.
Is jy altyd gereed om verantwoording te doen oor jou geloof en hoop in liefde?

Ds Maarten

Geroep tot Vryheid

Soms kan ons deur ons eie toedoen onsself soos met kettings vasbind. Deur jou eie begeertes en wense, word jy ‘n gevangene, ‘n slaaf van jou eie omstandighede. Ons is almal vir die afgelope twee jaar deur inperkings aan bande gelê. Ons vryheid is ingeperk en ons lewens het ʼn drastiese verandering ondergaan. Daar kom egter ‘n punt in ‘n mens se lewe waar jy nie meer so wil leef nie. Jy wil vrykom. Jy wil die vryheid terug hê wat jy ken en altyd kon geniet… 

Hoewel dit maklik is om ‘n rede aan te voer vir die inperking, doen ons baie maal dieselfde met ons eie lewens, sonder dat ons dit besef. Deur ons denke en ons oortuigings word ons martelare van ons eie lot. Soms is dit deur dinge wat met ons gebeur, en ander male dinge wat ons nie kon voorsien nie. 

Dink maar net hoeveel mense leef met ‘n wrok in hulle hart van dit wat iemand hulle aangedoen het. Hoeveel mense is kwaad en ongelukkig oor ander se optrede teenoor hulle. Hoeveel mense is teleurgesteld en hartseer omdat mense hulle in die steek gelaat het, gejok het of dalk sommer heeltemal vergeet het. 

Dalk het jy so worsteling in jou lewe. Jou kinderjare wat swaar op jou rus. Jou broer of suster met wie jy nie praat nie. Jou kinders wat niks met jou te doen wil hê nie. ‘n Vriend of vriendin wat vervreem geword het… 

Nou kan jy nie meer nie. Jy is moeg om die las te dra van hierdie gevangenisskap van jou hart. Jy wil die kettings breek, maar jy weet nie hoe nie. 

Daarom pleit die apostel: julle is tot vryheid geroep. Die Here maak ons vry. Die Here leer ons ook met hierdie Nagmaal dat ons nie slawe van die verganklikheid moet wees nie, maar dienaars van die ewige God. 

Kom dan na die Nagmaal, en sien en ervaar hoe die Here jou vry maak. Moenie net ‘n toeskouer wees van Christus se kruisiging nie, nee, neem self jou kruis op, na Golgota, en word saam met Jesus Christus gekruisig in jou sonde. Eers dan, as jy in jou self sterf, sal jy saam met Hom in ‘n nuwe lewe kan opstaan. 

Kom dan, met jou hele hart, na Christus, en word vry. Jy word daartoe geroep. 

Lourens (vdm) 

Die vrug van die Gees!

2022 
Gal 5:22,23 

“Die vrug van die Gees, daarteenoor, is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelik-heid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing.” 

Ons begin elke jaar met goeie voornemens. Ons het planne, drome en verwagtings van elke nuwe jaar. Dit is wonderlik hoe die Here ons in staat stel om nuut te dink en te beplan. Elke jaar ‘n vars voorneme, ʼn lewe toegewy aan God! 

Hierdie jaar het Centurion gemeente die tema gekies met ‘n doel. Die doel is om te groei in ons geloof. Hierdie is ‘n proses wat geen mens op sy eie kan doen nie. Soos wat ‘n gelowige boer in die geloof die grond bewerk en plant, so moet elke Christen elke jaar in geloof die jaar begin. Om die grond vir ons geloof opnuut voor te berei, is om biddend voor God te buig en te vra dat Hy ons sal lei, behoed en bewaar en ons harte sal reinig, sodat ons vrugbaar kan wees. 

Psalm 1:1 stel dit duidelik dat die mens wat in die Woord van die Here sy vreugde vind, is soos ‘n boom wat by waterstrome geplant is. Die mens se groei kom uit die Woord. Die vrugte wat ons dra kom vanweë die regte bemesting, die Woord en die Heilige Gees wat ons lei om met wysheid uit die Woord te leef. 

Hierdie vrug wat ons moet dra het nege segmente. Dit is soos ‘n nartjie, een vrug, maar dit bestaan uit ‘n klompie segmente, skyfies. Elke mens moet biddend daarna strewe om al nege hierdie segmente in sy of haar lewe te openbaar. As ons dit bid-dend nastreef, sal God ons vernuwe. Ons sal die diepe besef van sondevergifnis deur Jesus Christus ontvang. Ons sal die leiding van die Heilige Gees ontvang. Ons sal dan vreugde en vrede in ons Here Jesus Christus beleef. 

Kom ons pak die nuwe jaar aan met die vaste voorneme om “die vrug van die Gees” te dra en God al meer en meer te verheerlik. 

Ds. Gerrit 

Begin en Einde

Open 21:6
“…Ek is die Alfa en die Omega, die Begin en die Einde….”

Vir elke mens is daar ’n tyd om gebore te word en ’n tyd om te sterwe, behalwe vir Henog en Elia. Selfs na sy mensheid was daar vir Jesus ’n geboortedag en ’n sterfdag. Dit is weer die einde van nog ’n jaar. ’n Jaar waar ons terugkyk en ook die geweldige impak sien wat dit op ons en die hele wêreld gehad het. Maar die einde van die jaar is dit ook ’n tyd van dankbaarheid. ’n Tyd van dankbaarheid dat ons nog ’n jaar kon leef tot eer van God. Ja en selfs waar ons nie tot Sy eer geleef het nie, het God dit so gemaak dat ons wel tot sy eer kon leef in en deur Jesus Christus se versoeningswerk. 

  • Vir ons as mense is daar in alles ’n begin en ’n einde. 
  • Vir Jesus Christus is daar net ’n ewigheid. 

As Jesus homself openbaar as die Alfa en die Omega, die Begin en die Einde, dan beteken dit Hy is aan die begin reeds daar gewees. Aan ons einde is Hy steeds daar en sal altyd daar wees. Want Jesus Christus het nie ’n begin en ’n einde nie, maar Hy IS die Begin en die Einde, die Alfa en die Omega. 

So vier ons weer Chrisus se geboorte op aarde. Vir ons is dit die begin van Sy lewe op aarde, ja natuurlik as ’n mens, maar Hy is God van ewigheid af. So by God is daar nie’n begin en ’n einde nie, maar ’n Ewigheid. Dit is ons groot troos. Dit is wel die einde van 2021, maar dit is deel van die ewigheid van God. 

  • Kom ons bly dus glo en bly in vreugde God dien. 
  • Kom ons geniet ook nog ’n jaar wat God aan ons gegee het. 

 Weet dat ons nog in vreugde sal leef op aarde totdat God die einde daarvan bepaal het, maar dit is dan die begin van ’n ewigheid by God. 

Geniet die rustyd van die einde van die jaar. Mag ons met vreugde ook weer uitsien na die begin van die nuwe jaar. 

Geseende Christus fees vir almal toegebid. 

Ds. Gerrit 

« Older posts Newer posts »