Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Kategorie: Blogs (Page 30 of 53)

Van sterfbed na geboortekamer

Elke predikant sal seker saamstem dat dit van die moeilikste en mooiste dae in jou lewe is, as jy uitgeroep word na iemand se sterfbed en terselfdertyd word daar ‘n kindjie in die volgende saal van dieselfde hospitaal gebore. So was dit twee weke gelede weer die geval toe Oom Pat op 84-jarige leeftyd gesterf het en klein Kobus in ongeveer dieselfde uur gebore is. Vandag is Kobus een van ons dopelinge! 

Ek onthou dat destyds toe my jongste dogter in die Westville hospitaal gebore is, ek ook pastorale begeleiding moes doen by Deon, een van ons lidmate, ‘n jong pa wat besig was om aan ‘n seldsame siekte in dieselfde hospitaal te sterwe! In hierdie tye speel jou eie emosies met jou woer-woer. Een van die baie moeilike omstandighede van ons pastorale werk. 

Daarby egter ook een van die mooiste. Dieselfde evangelie van die lewe word by beide bedien. Dieselfde Here en Verlosser word aangeroep. Dieselfde genade word deur die Gees uitgedeel! ‘n Sondaar wat by sy sterwe pleit om genade. Nog een wat vasgryp aan Jesus Christus wat die dood oorwin het. ‘n Gelowige wat bely dat sy enigste troos is te vinde in sy getroue Saligmaker wat hom met sy bloed losgekoop het van die toorn van God. En dan weer die kind wat gebore word in die verbond wat God al met Abraham gesluit en in Chris-tus vervul het. Om ‘n kind in die wêreld te bring is immers ‘n yslike waagstuk. Nog ‘n son-daar gebore! Maar dan nog een vir wie die Here Jesus sy lewe as offer gegee het. In beide gevalle strek die evangelie veel verder. Verder as die sonde en die dood. 

So kan ons dus mekaar vertroos by die sterfbed én by die kraambed! 

Maar ook van die doopvont tot in die ouderdom! Die doop is nie net ‘n kinder- of baba-ritueel nie. Nee God is aan die werk. Hy alleen. Hy belowe daar aan die dopeling (klein en groot) om getrou te sorg van die wieg tot die graf! Hy neem ons as sy kinders aan en sluit ‘n lewenslange, nee nog meer, ’n ewige verbond met ons. So kan ons by die bababed en by die ouderdomsbed staan en getroos wees in die goddelike genade wat in die Woord en Sakramente aan ons uitgedeel word. 

So kan ons elke dag en heeldag bely dat ons aan Hom behoort wat ons met sy bloed ge-koop en ons kinders van God gemaak het. Ons kan dus ons hele lewe lank bely dat God getrou is, ja selfs al is ons ontrou. Hy kan Homself nie verloën nie (2 Tim 2:13). 

Groete in Christus 

Ds Maarten van Helden 

Volhard in Teleurstelling

Teleurstellings in die lewe is onvermydelik. Sommige word verwag, sommige hoop ons sal nie gebeur nie, maar die meeste kom sonder vooraf waarskuwings, soos ‘n spoedkaartjie in die pos. Ongenooide vergistings wat jou lewe bederf en jou vreugde steel. En so gereeld selfopgelegde verdriet en pyniging wat jy deur jou eie selfverwyt nie kan ontsnap nie. 

Hoeveel keer het jy nie al in jou spyt en selfmarteling jou optrede verwens en met moeite jou skande en sonde moes bely nie? “Ek kan dit net nie glo nie?” “het ek dit regtig gedoen?” 

Terwyl ek teleurgesteld sit en luister na ‘n man en vrou wie se paaie gaan skei, en elkeen hulle storie vertel van die verloop van sake, word dit tog so duidelik dat daar niemand so blind is as die een wat nie wil sien nie. 

Die teleurstelling by elkeen is so voelbaar en in my eie gemoed kan ek nie anders nie as om te dink, hoeveel keer veroorsaak ons nie self ons eie smarte nie? Hoeveel keer veroorsaak ons nie self die probleem waarby ons nie kan verby kom nie..? Hoeveel keer kon ons dinge so anders hanteer het en so anders benader het om al die teleurstelling te vermy? 

En ek wonder oor my eie lewe… Sal ek leer uit my eie foute? Sal ek leer uit ander se foute? 

Terwyl ek die jong ma vas in die oë kyk, en sien hoe die fontein van trane al droog gehuil is, is daar beslistheid in haar stem: “Ek sal nie laat hierdie ding my onder kry nie. Ek sal nie moed opgee nie.” Hoe groot haar teleurstelling ook al is, hoe sleg die toekoms ook al lyk, sal sy volhard en nie moed opgee nie. 

In ‘n oomblik flits daardie woorde van ons Here Jesus in Johannes 16 net voordat Hy sterf: “Hou goeie moed, Ek het die wêreld oorwin”. 

Mag die Here jou bewaar in jou teleurstelling. En mag jy ook sien hoe jy kan groei, en opstaan en volhard as dinge moeilik gaan. Gryp dan vas aan die beloftes van God se woord, hou vas aan die Evangelie van vreugde, die Blye Boodskap van genade en weet dat God jou nie sal los nie. 

Lourens (vdm) 

Hef op julle hoofde o poorte, ja verhef julle, ewige deure, dat die Erekoning kan ingaan

Dis nou meer as ‘n jaar dat ons kerkgang onder druk staan van regulasies en kommer weens die virus-bedreiging. Ons het daarmee probeer om mekaar te beskerm en om aan die owerheid se voorstelle gehoor te gee. Dit het egter tot groot hartseer gelei weens die klein getalle van eredienste en aanbidding in ons gemeente. Soms het ons selfs voor ‘n totaal leë kerk gepreek! Waar die eredienste die hoogtepunt van ons aanbidding van die week is en die enigste ware samekoms in eenheid van God se volk, was dit pynlik om in klein getalle en met versplinterde eredienste die beste van ‘n slegte saak te probeer maak. Ons is dankbaar vir die elektroniese uitsendings wat gedurende hierdie tyd kon plaasvind sodat ons nog steeds ons lidmate kon bereik. Maar die vreugde van ʼn erediens met koinonia en gesamentlike aanbidding het ontbreek. 

Nou het die kerkraad besluit om weer vanaf 17 Oktober net een oggenddiens en een aanddiens te hou ter wille van die herstel van die gemeentelike samekomste en die eensgesinde aanbidding van sy Naam. Ook die kategese en die koinonia (gemeenskap van die heiliges) moet weer voortgaan en almal word opgeroep om dit in die geloof te omhels. 

Alhoewel die Skrif nêrens ‘n direkte opdrag gee tot spesifieke Sondag-eredienste nie, is dit wel die verstaan van die hele Bybel dat die erediens die hoogtepunt van die week is waar God in ontmoeting met sy volk tree. So behou ons die geloof en kry Hy die nodige eer en lofprysing wat Hom toekom. Die ontmoeting met God is dus heilig en heerlik en roep sy Gees ons weekliks daartoe op, en ons gaan in gehoorsaamheid kerk toe saam met ons kinders wat Hy ons gegee het. Ons vra Hom ook om in ons midde te wees en ons te seën met sy teenwoordigheid. 

In Psalm 24 sing die koor die eerste deel as die ark gedra word tot voor die deure van die tempel. En dan kom die groter koor en sing die tweede deel: Maak oop! Die Ere-Koning wil ingaan!! En die ou stadspoorte of selfs mooiste tempelpoorte is té klein, té gewoon, té aards,… verhef julle. Verhoog julle! Maak groter oop!! Christus wil deur sy Gees in julle midde en in julle harte woon! 

So roep die Heilige Gees ons ook op om die deure van jou hart groter te maak. Die Here wil daar woon en jou seën met sy teenwoordigheid. Laat jou hele week dan een wees van uitsien en voorberei vir die volgende geleentheid om kerk toe te gaan en maak die deure van julle harte wyer en wyer oop. So sal die Here groter en groter lof ontvang en ons sal vervul raak met sy goedheid en vermenigvuldig en sy genade en vrede. 

Di Maarten, Gerrit, Lourens 

Is dit maklik om ’n christen te wees?

Hierop is daar nie ’n eenduidige, enkelvoudige antwoord nie. Aan die een kant ja, aan die ander kant nee. Daar is ’n eenvoudige antwoord: Joh 3:16 “God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê.” 

En tog vra God ook dat ons Hom voluit moet dien. Pred 12:13 “Die slotsom van alles wat jy gehoor het, is dit: Dien God en gehoorsaam sy gebooie. Dit is wat van die mens gevra word”. Maar ons glo en bely dat alles is net GENADE. Is dit dan nog maklik om ‘n christen te wees? Die probleem kom in as ek christenskap koppel aan… my verwag-tinge, my dade, my doen en late en werke. Want juis wat ék wil, strook nie altyd met wat God wil nie. God se raadsplan staan vas. En tog vra God net dat ons opreg en eerlik, vas en seker, in Hom sal glo. Ons bely elke Sondagoggend ons geloof. Ja ons dwaal af, ons is dikwels kleingelowig, maar tog bely ons alles voor God: “Deurgrond my, o God, deurgrond my hart, ondersoek my, sien tog my onrus raak. Kyk of ek nie op die ver-keerde pad is nie en lei my op die beproefde pad!” (Ps 139:23,24) Nooit het God aan ons geleer dit gaan maklik wees nie. Maar altyd leer God aan ons dat daar by Hom ge-nade, barmhartigheid en lankmoedigheid te vinde is. Daarom slaan ons ons oë op na God. By God is daar vergifnis en redding. By God is daar genade. By God is daar vergewing. By God is daar vir my rus. 

As ek dit dus net regkry om voluit op God te vertrou, in Hom te glo, Hom te dien, selfs bereid is om minder te word, sodat God meer word en in nederigheid voor Hom staan, is dit maklik. Dan lê die klem nie meer by my en wat ek moet doen nie, maar die klem is by God en wat God vir my doen. Dan is dit maklik, omdat ons voluit op God vertrou! 1Joh 5:3-5 “Die liefde vir God bestaan dan daarin dat ons sy gebooie gehoorsaam. Sy gebooie is ook nie moeilik om te gehoorsaam nie, 4 want enigeen wat ‘n kind van God is, kan die sondige wêreld oorwin. En die oorwinning wat ons oor die wêreld behaal het, is deur ons geloof. 5 Wie anders is dit wat die wêreld oorwin as hy wat glo dat Jesus die Seun van God is?” 

Ds. Gerrit 

My erfenis is vir my mooi

“Die Here is die deel van my erfenis en van my beker; Ú onderhou my lot. Die meetsnoere het vir my in lieflike plekke geval, ja, my erfenis is vir my mooi.” (Psalm 16:5 – 6 AFR53) 

As ons genoop word om in September na te dink oor ons erfdeel of erfenis, dan gaan dit dikwels net oor besitting van grond of goedere of geld. Dit wat ek geërf het of dalk gaan erf. My erfdeel. In Israel sou mens heel eerste dink aan die grond of die land. Elke stam van Israel het sy erfdeel gekry. Josua het dit met die lot bepaal soos die Here vir elke stam en familie sy deel gegee het. En met wat die Here gee moet mens tevrede en dankbaar wees. My erfdeel is mooi. 

So ook ons. Hy gee ons die mooi land, maar ook die probleme en uitdagings wat daarmee gepaard gaan. Wat die Here gee is altyd goed en mooi. Nie altyd lekker nie. Ook die beproewinge van jou lewe en die mate van jou gesondheid. Jou lot. Hoe jou lewe uitval word immers net deur Hom bepaal. 

Dawid dink egter nie net materieel nie. Daar was immers die stam van die Leviete wat geen erfdeel gekry het nie. Hulle was voltyds in diens van die Here en sy tabernakel. Ook hulle erfdeel is mooi. Dit beskryf die koning Dawid dan as hy verder dink as die stoflike en ligaamlike. Die geestelike deel is die mooiste! Natuurlik solank die Here daarvan deel is. Solank die Here deel is van jou hele bestaan. 

Die vraag is dus op Erfenisdag: Is die ware Koning, die Here Jesus Christus deel van jou erfdeel. Is dit eerstens jou geestelike gawes en sy genade-beloftes wat die swaarste weeg? Is Hy deel van alles wat jy dink en doen en sê? Dan sal Hy ook deel wees van jou toekoms en wat jy daar as erfdeel gaan ontvang, nl. Die ewige lewe by God. 

As jy in hierdie daardie lewe kan sê, die Here is deel van my beker, my omstandighede, nou en vir ewig, dan kan jy ook sing en bely: “Die meetsnoere het vir my in lieflike plekke geval, ja my erfenis is vir my mooi”. 

Ds M 

Calvyn kan nou Afrikaans ook praat…

Die meeste van ons ken die naam Johannes Calvyn. Indien iemand Calvyn aanhaal, is daar in die tradisionele gereformeerde kringe erkenning of aanvaarding van die standpunt, want, Calvyn het immers so gesê. Op ‘n sekere manier is Calvinisme die enigste vorm van -isme wat nie ‘n -isme is nie. 

Die interessante is dat nog bitter min van Calvyn se werke in Afrikaans beskikbaar is. En dat bitter min gewone lidmate ooit in hulle lewe, self die werke van Calvyn gelees het. Die meeste predikante het dus ‘n Engelse of Hollandse vertaling van Calvyn se werk. Met die gevolg dat die aanhalings wat u dus tot dusver gehoor het van Calvyn, niks anders is nie as die dominee se vertaling van die Engels of Nederlands, wat ‘n vertaling is van die Latyn of Frans. 

Ja, Calvyn het in Latyn geskryf, alhoewel hy ‘n Fransman was. Latyn was die algemene taal van die akademie. Omtrent soos Engels vir ons vandag. Baie van Calvyn se werke is dan ook in Frans vertaal vanuit die Latyn. 

Die grootste werk van Calvyn wat in Afrikaans beskikbaar is, is die bekende 4 blou bundels van die institusie wat deur wyle prof. Simpson direk uit die Latyn vertaal is vanaf 1984 tot 1992. Prof Fanus Postma het onderneem om hierdie werk voort te sit en het die eerste keer in 2008 ‘n kommentaar in Afrikaans die lig laat sien. Die Romeine kommentaar. Ek het die voorreg gehad om daardie bekendstelling by te woon, daar in Potchefstroom. 

Twee weke gelede het ek weer die voorreg gehad om by nog ‘n bekendstelling te wees na byna 13 jaar, waar 4 werke van Calvyn in Afrikaans bekend gestel by GK Wilropark. Hoewel prof. Postma nie meer met ons is nie, het hy die 4 kommentare wat oorspronklik in een bundel uitgegee is, vertaal nl. Galasiërs, Efesiërs, Filippense en Kolossense. 

Dit is ‘n wonderlike skat wat die besondere gawes van Calvyn soveel meer persoonlik aan ons in ons eie taal weergee. Hierdie werke is beskikbaar by ons GKSA Admin buro en is ‘n wonderlike aanwins vir ons in Afrikaans en in ons geloof en vir enige huis. 

Immers, nou kan Calvyn met ons ook in Afrikaans praat! 

Lourens (vdm) 

« Older posts Newer posts »