Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Kategorie: Nuwe Testament (Page 103 of 129)

Soos goud gelouter!

Skriflesing: 1 Petrus 1:1-12
Teksvers: I Petrus 1:6,7

Dit is nogal ‘n hele proses om die goud uit die gouderts te haal. (1 metrieke ton erts lewer net tien gram suiwer goud!)

In kort gebeur die volgende: Nadat die erts fyn gemaal is word dit met water (deesdae ook met sianied in die oplossing) gemeng om geskei te word. Met die hulp van sinkstof word die goud uit die oplossing gehaal en die residu word met verdunde swaelsuur behandel om die ander metale te verwyder.

Die ru-goud (staafgoud) word na die raffinadery gestuur waar dit in die smeltkroes van tot 1150 grade C verhit word om dit nog suiwerder te maak – die louteringsproses! In die proses dryf die metaalchloriede bo-op die goud en kan maklik afge-skep word. Elke keer wat die proses herhaal word, word die goud suiwerder, om so 9, 18, 24 karaat of selfs beter goud te verkry.

Laai af

Goeie werke het ewigheidswaarde!

Skriflesing: Op 14:1-13
Teksvers: Op 14:12 en 13

God wys aan ons in die Openbaringsboek by wyse van simboliese taal en beelde hoe die toekoms van die kerk en die wêreld lyk tussen die koms en die wederkoms van ons Here Jesus Christus. Ons kyk die toekoms in en sien hoe lyk die hemel en die hel. En dit is skrikwekkend! Met ‘n volheidsgetal van 7 sien ons hoe die toekoms afspeel met die 7 kandelaars (visitasie) die 7 seëls, die 7 weë, die sewe basuine en eindelik ook die 7 skale.

Hiertussen verweef is 7 saligsprekinge. Die eerste het ons reeds met die openingswoorde gehoor. Vandag staan ons stil by die tweede met die tema: Goeie werke het ewigheidswaarde!

Laai af

God kan doen wat jyself nie kan nie

Skriflesing: Joh 3:1-10; Joh 7:45-52; Joh 19:38-42 (Nikodemus); II Kor 3:18
Teksvers: Joh 3: 3
HK: Sondag 3

Niemand is so blind as die een wat nie kan sien nie! Ag, ek bedoel, as die een wat nie wil sien nie. Die blindheid van die sondaar is so ernstig dat net ʼn wonderwerk hom kan help. In sonde ontvang en gebore – geestelik blind gebore – so is die sondaarmens sedert die sondeval.

Die klem moet op ons onvermoë gelê word: Ons kan nie! Wel, ons kan nie, tensy ons weergebore word. En dit is presies die bedoeling van Jesus se boodskap aan Nikodemus en die Jode. Voordat jy waarlik getroos in Christus kan lewe, móét elke mens eers sy eie onmag ken en bely, en dan sal ook die evangelie ’n soete bevryding wees wat jou dank vir die Here se genade wakker maak.

Laai af

Die wet ontbloot ons gebrek aan liefde

(Last updated on Februarie 14th, 2020)

Skriflesing: Matteus 5:17-48
Teksvers: Matteus 17-19
HK: Sondag 2

‘n Mens kan jou maklik misgis met die wet… Baie Christene verklaar met groot bravade dat die wet geen betekenis of plek meer het in Christus nie, maar helaas.

In Christus spreek die wet nog baie skerper. Jesus wys ons deur die vervulling van die wet hoe gebrek-kig ons begrip van die wet en daarmee van die liefde is.

Ons staan vanaand stil by die tema: Die wet ontbloot ons gebrek aan liefde.

Laai af

HEILIG, HEILIG, HEILIG is die HERE ONSE GOD!

Skriflesing: Op 4; Esegiël 1 en Jer 23:23
Teksvers: Op 4:8b en 11

Hoe lyk die Here? Kan ons Hom sien. Miskien moet ons maar tevrede bly met die beskrywing van Johannes, wat die Here op aarde gesien het, toe hy sy dissipel was en daarna Hom wéér gesien het as die Verheerlikte, die Seun van die mens! Hy gee bepaalde beskrywinge van Jesus en van God die Vader! (Op 1, 4 en 5)

Miskien is Hy werklik so groot dat ons Hom nie (lees: nooit) anders kan sien as in die simboliek waarmee Johannes Hom vir ons beskrywe nie. Want geen mens kan God sien en bly lewe nie! Miskien word sy grootheid (én sy grootsheid) op dié manier beskrywe sodat ons op die regte manier teenoor Hom reageer en optree…

Laai af

‘n Lewe in totale Kontras!

Nagmaal


Skriflesing: Efes 5:1-20
Teksvers: Efesiërs 5:8
HK:Sondag 1 vr 2

Die Kategismus word ingedeel in drie dele – nogal volgens die antwoord op vraag 2. In kort: Ellende – verlossing – dankbaarheid. Ons teks het ‘n soortgelyke indeling. Was, is en word/wees. Verlede, hede, toekoms. En alles in die konteks van hierdie driedeling het te make met die kontras tussen lig en duisternis.

Nou vra ons voor én by én na die Nagmaalviering die vraag, of jy en ek dieselfde mens gaan wees, gaan bly, wat ons was voor die nagmaal…? Of gaan ons die verandering sien en soek en probeer leef? Ons kan tog nie dieselfde mens bly na so ‘n wonderlike evangeliese belewenis soos die Nagmaal van ons Here Jesus nie!

Laai af

« Older posts Newer posts »