Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Kategorie: Predikante Skryf (Page 17 of 40)

Die belangrikheid van voorbidding

In 1 Timoteus 2:1 lees ons dat ons moet voorbidding doen. Wat is voorbidding? Voorbidding is spesifiek om nie net vir jou eie behoeftes te bid nie, maar in besonder vir dié van ander. Voorbidding beteken letterlik in die Griekse taal om “tussen-in te kom”. Dit beteken dat jy vir ander mense of persone of sake bid en pleit voor God. Moses in besonder was ‘n voorbidder, Ps 106:23. 

Die beste voorbeeld van voorbidding is ons Here Jesus Christus self. Joh 17:20 Ek bid egter nie net vir hulle nie, maar ook vir dié wat deur hulle woorde tot geloof in My sal kom.” Jesus Christus het vir sy “liggaam” die kerk gebid. Jesus Christus doen natuurlik meer as net voorbidding, Hy pleit vir ons by die Vader, Rom 8:34. 

Voorbidding is meer as net ‘n gewone gebed. Voorbidding is om met weldeurdagte gebede vir ander mense of sake of omstandighede te bid. Daar moet ‘n erns en opregtheid wees. As ons byvoorbeeld vir Oekraïne bid, moet ons opreg en eerlik wees en God smeek vir genade. 

Ons moet elke dag voorbidding doen vir die kerk, die gemeente, vir elke lidmaat, vir die siekes, vir die predikante, ouderlinge en diakens. Ons moet vir die regering bid, 1 Tim 2:1, vir almal wat gesag uitoefen. 

Om voorbidding te kan doen moet ons natuurlik in ‘n eerlike, opregte, afhanklike verhouding met God staan. Dit beteken ons moet die Bybel lees en ken en weet hoe God ons beveel om voorbidding te doen. Ons kan net voorbidding doen in die Naam van ons Here Jesus Christus deur die kragtige werking en leiding van die Heilige Gees. 

Elkeen van ons wat al gebid het vir jou geliefdes, jou familie, jou gesin het al voorbidding gedoen. 

Daarom…Paulus dring by ons daarop aan… 1 Tim 2:1 

Doen Voorbidding! 

Ds. Gerrit Kruger 

Die getal AGT (8) in die Bybel

Getalle en nommers in die Bybel kan nogal veelseggend wees. So kan die getal sewe (7) ons almal troos, want dit is die getal van vrede tussen God en mens (3+4). God is drie en die getal van die mens/aarde is vier… Vier seisoene en vier windrigtings, ens. Christus het hierdie ewige vrede met God vir ons bewerk en ons met God versoen. Die getal tien (10) en sy veelvoude (100 en 1000 ens) dui op volledigheid en op grootheid of grootsheid. Maar die getal agt (8) kruip eintlik so bietjie weg in sy beskeidenheid. Die Sentrum van Numerologie heg daaraan die waarde van hoop, nuwe horisonne, en ‘n blink toekoms. 

Die eerste verskyning van hierdie getal in die Bybel is by die Sondvloed en die Ark van Noag waarin AGT mense gered en bewaar is. Die hele wêreld of mensdom word in agt mense uit die dood herbore! 

Die besnydenis van jong seuns moes op die agste dag plaasvind en nie later nie! Die geestelike besnydenis (Kolossense 2:11,12) was ook die inlywing in die nuwe lewe van hoop in Christus. 

Meer ongesproke is die feit dat God in ses dae skep en Hy rus die sewende, sodat Hy die agste dag kan begin om te geniet van die lewe van sy skepping! Hy verlustig Homself in die skoonheid van alles wat Hy gemaak het en Hy alleen onderhou en versorg dit. Abraham het ook agt seuns gehad waaruit hy die groot en geseënde nasies word wat méér is as sterre van die hemel en die sand van die see. (Isak by Sara en ses seuns by Ketura – Gen 25:1,2). 

Blykbaar verskyn Jesus ook agt keer na sy opstanding aan mense, waarvan die tweede keer op die agste dag! Op die dag bring hy die ongelowige Thomas tot wedergeboorte en geloof, anders “sou ek/hy nooit glo nie”! Agt dus die syfer van wedergeboorte en nuwe lewe. En as jy nog gedagtes hieroor soek sal jy vind dat die Loofhuttefees sewe dae gevier is en dan volg die agste dag, die Laaste Groot Dag, wat dit ‘n agt-dag fees maak. Dit was die fees van redding en oorwinning in Israel. En dan val Pinkster op die agste dag na sewe weke (7×7) en die volgende dag is 50, Penta (Eng: Pentacost). Die nuwe verbond word waar as Christus by Pinkster sy Gees uitstort op alle vlees tot nuwe lewe en geloof en wedergeboor-te. 

Die getal dui dus meermale op iets van ‘n geestelike wedergeboorte en nuwe lewe en daar-by die oorwinning oor die oue en die bose. En die Jode was dan van gewoonte om nie te praat van “volgende week” nie maar van agt dae later… veral as hulle van iets nuuts of heerliks wou vertel (vgl Luk 9:28evv waar vertel word van die verheerliking van Jesus op die berg). 

Seker nie toevallig nie, dat die AGSTE dag van die week ook die EERSTE dag van die volgende week is! Die dag van die Here! Die nuwe week. Die nuwe dag. Die opstandings-dag. Die dag van groot dinge. Die dag van nuwe en heerlike lewe. Sondag! 

Op hierdie dag sou ek dink ons sou wou kerk toe gaan om die Here te dank en weer opnuut onder sy seën te vergader en met sy groetseën huis toe gaan. 

Ds Maarten 

Die bloed sal vir julle ‘n teken wees

Paasfees het vir soveel verskillende kulture en gelowe ‘n besondere betekenis. Vir die Jode is die Pesag die begin van die nuwe jaar. Dit is een van die hoogtepunte van die kerklike kalender wat elke jaar gevier moet word. Op hierdie dag, ong 3400 jaar gelede het die Here hulle gered uit Egipte. Vir die Egiptenaars is dit nie juis ‘n fees om te vier nie.

In Christus is die beloftes van die Testament vervul en vier Christene ‘n ander soort Paasfees as die Jode. Maar nie alle Christene vier op dieselfde wyse Paasfees nie. Sommige reis na Jerusalem en gaan wandel in Jesus se spore, en martel hulleself om te deel aan Christus se lyding en smarte.

Sommige assosieer Paasfees met paasbolletjies, ander met kerrievis en ander met ‘n pelgrimsreis na Moria. Daar is natuurlik ook diegene wat in Paasfees slegs die voordeel sien van ‘n langnaweek en ‘n ekstra vakansie.

Wat maak Paasfees vir jou spesiaal?

Aan die een kant sou ons kon redeneer dat Paasfees nie meer vir Christene ‘n fees is om te vier nie, aangesien Christus die betekenis volkome vervul het. Hy het aan ons ‘n ander fees gegee, die Nagmaal.

Tog kan ons ook aan die ander kant die kosbaarheid sien van die waarde wat hierdie vervulling van die Paasfees gebring het. Vergifnis van sondes en gemeenskap van geloof. Die Paasfees is ‘n merker om ons te herinner aan dit wat ons ontvang het in Christus.
Die bloed as teken. Die bloed aan die kosyne was ‘n teken. Nie net ‘n teken van die verlossing nie, maar ook van die dood. Die bloed is ‘n teken van God se oordeel en sy genade. Daardie bloedteken het verlossing gebring. Nie verlossing van die slawerny van die Egiptenaars nie, maar verlossing uit die hand van die Engel van die dood. So word die bloed van Christus ook vir ons ‘n teken.

As die Vader die bloed sien, is dit ‘n teken van die verlossing wat verwerf is. Dan sal die dood ook by jou pasga (verbygaan). Leef dan in daardie gemeenskap met God en dink aan die teken van sy bloed ook met jou doop.

Lourens (vdm)

Soli Deo Gloria

Dit is met groot dank aan elkeen wat gehelp het om die eerste Koningskinders kamp moontlik te maak. Daar was 50 kinders uit ons gemeenskap wat saam gekamp het en 25 lidmate uit ons gemeente wat onder meer gehelp het as groepleiers, kosspan, speletjies en klerasie. Die jongste hulpgroepleier was 13 en die oudste TLC tannie was oor die 70, wat net bewys dat ieder en elk kan betrokke raak. 

Dit sou egter nie moontlik gewees het om die kamp aan te bied sonder al die skenkings en bydraes wat ons ontvang het nie. Aan ieder en elk ‘n hartlike woord van dank. Moet dit egter nie net van my af neem nie, elke kind wat die geleentheid gehad het om daar te wees, het die bederf en liefde so bitterlik baie waardeer. 

‘n Mens besef nie elke dag hoe groot verskil ‘n klein bydrae kan maak nie. Daar was ook twee pleeghuise hier in Lyttelton, wie se kinders saam kom kamp het. Een pleeghuis, Huis Dagbreek het reeds by ons gemeente begin inskakel, en ons hoop om hulle te help om van krag tot krag te gaan in hierdie noodsaaklike en onbaatsugtige opoffering om kinders geleenthede in die lewe te bied. 

Ook ‘n besondere woord van dank aan ons diakonie wat gehelp het om al die middele te ontvang en aan te wend soos nodig. 

Daar is heelwat kinders wat aangedui het dat hulle graag hier by ons wil inskakel. Indien u kan help en graag wil betrokke raak, kom meld gerus aan en word deel. 

Aan God alleen alle eer! 

Lourens(vdm) 

Selfondersoek voor die Nagmaal

Hoekom is dit nodig om onsself te ondersoek voor die nagmaal, om selfondersoek te doen Dit gaan nie daaroor dat ons ‘n lys van ons lewe moet maak en so selfon-dersoek doen, of ons uit onsself werd is om die heilige nagmaal te vier nie. Dit gaan daaroor dat jy weet jy is uit jou eie, nie werd om die nagmaal te vier nie, maar dat dit alleen in en deur Jesus Christus se soenverdienste kan en mag en moet geskied. 

Maar dan moet jy eers selfondersoek doen en jou sondes erken en bely. Jy moet kyk of jy moedswillig in jou sondes volhard, doen jy dit doelbewus elke dag sonder om daaroor berou te hê, dan is jy op die verkeerde pad. Jy moet jouself elke dag voor God verootmoedig. Jy moet jou sondes erken en bely en daaroor vergiffenis vra, dan kan jy voor God gaan staan. Dan weet jy dat Jesus Christus vir jou sondes, ten duurste met sy eie liggaam en bloed, aan die kruis betaal het. Dan weet jy Hy is jou advokaat wat vir jou by God intree. En dit is juis hierdie wete wat maak dat jy die heilige nagmaal kan vier. 

As jy jou vertroue absoluut op Jesus Christus stel, dan kan jy verseker wees dat jou oortredinge vergewe is. Dan moet ons ook daarna strewe om elke dag al heiliger te leef. Ons moet die sonde aflê en tot eer van God leef. Ons moet ‘n abso-lute dankbaarheids-lewe leef tot eer van God en in ware liefde vir ons medemens. Selfondersoek bring ons ook by die verlede, hede en toekoms. 

Verlede: Jesus Christus het alreeds vir ons sondes betaal met sy liggaam en bloed. 

Hede: Jesus Christus is nou elke dag by ons en met ons, want Hy is die Hoof van die kerk, Ef 1:22. 

Toekoms: Jesus Christus is ook die Bruidegom wat in die hemel vir ons ‘n bruilofsmaal voorberei. 

Mag ons elkeen dan opreg selfondersoek gedoen het en so met vrymoedigheid nagmaal gebruik. 

Ds. Gerrit 

Bid gedurig! (1 Tess 5:17)

Hierdie woorde beteken nie dat jy die hele dag in jou binnekamer moet vertoef nie, maar dat alles wat jy doen deur gebed gedra moet word. Gebed is soos asemhaal, jy doen dit byna sonder om te dink. Dan word jy ook weer gereeld in jou stiltetyd (persoonlik of in ‘n gemeentelike samekoms) stil voor die Here in danksegging en smeking en voorbidding (Fil 4). 

Gebed is in wese nie ‘n wapen of ‘n beheermiddel nie. Ons hoor deesdae weer van sogenaamde gebedsvegters (‘prayer warriors’) wat ‘n gebed-skans moet oprig teen die vyand. Verskeie versoeke rondom die huidige oorlogsituasie in Europa gebruik hierdie soort taal wat eintlik vir ons vreemd is. 

Gebed is nie deel van die wapenrusting van die gelowiges nie (Ef 6). Ons trek die wapens wel biddend aan (6:18), want die krag en oorwinning kan net van die Here kom. Die krag lê ook nie in die aantal bidders of die lengte van gebede nie. Die krag en heerlikheid behoort aan die Here en die gebed is ons afhanklikheidverklaring van Hom aan wie die mag en krag behoort! (Lees ook Jak 5:16 oor die krag van een gelowige se gebed). 

Gedurende die afgelope week het ons weer gehoor en geleer dat wanneer ons groot aksies aanpak in die gemeente dat ons moet weet dat die duiwel dit beslis gaan teenstaan. Daarom is dit nodig dat die hele gemeente eendragtig sal volhard om vir die bedieningsaktiwiteite van hierdie gemeente te bly bid. Die duiwel hou nie van die suksesse van die kerk van Christus nie en sal ons met al sy mag teen staan. Hoewel die Here hierdie teenstand toelaat, kan daar niks gebeur sonder Sy beskikking nie. Daarom dat Paulus vra dat die gemeentes vir hom bly bid. Hy skryf daaroor so mooi in 2 Kor 1:10-11 

“Dit is die Here wat ons uit so ‘n groot doodsgevaar gered het en ons weer sal red. Op Hom is ons hoop gevestig: Hy sal ons ook verder red. Daartoe werk julle mee deur vir ons te bid. So sal die gebede van baie ‘n seën van God vir ons bring, en dan sal baie Hom vir ons dank.” 

Dat daar ernstig vir die bediening van leraars en ampsdraers in die gemeente gebid moet word is seker. Ons is egter ook medewerkers deur veral ook te bid vir die uitreikaksies van evangelisasie (Brugbediening, Crossroads, Koningskinders, Biblos, Alethea, etc). 

Ons gebed sal nie die suksesse bepaal nie, maar so doen dan alles in diepe afhanklikheid van Hom wat die Bose sal teenstaan. Hy is ons Verlosser en Here wat die duiwel en sy magte op Golgota oorwin het en nie sal toelaat dat ons bo ons kragte versoek word nie! 

Is jy ook ‘n medewerker? 

Bid dan gedurig!

Ds Maarten 

« Older posts Newer posts »