Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Kategorie: Predikante Skryf (Page 16 of 42)

Bely met jou mond tot redding!

Baie van ons het al vergeet wat dit beteken het om ons geloof te bely in die openbaar. Geloof het ‘n baie private saak geword. Dit is iets vir die binnekamer. Ons besef ook nie altyd hoe groot voorreg dit is om in die kerk groot te word, en nog altyd die binnekant van die kerk te ken nie! Ons is eintlik so gewoond en bekend met al die gebruike, dat belydenis en doop en nagmaal nie meer so spesiaal is nie. 

Tog is daar iets aangrypend en uitsonderlik in openbare belydenis. 

In Matteus 10:32 sê ons Here Jesus: “Daarom, elkeen wat My voor die mense bely, sal Ek ook voor my Vader in die hemele bely. 33Maar wie My voor die mense verloën, sal Ek ook voor my Vader in die hemele verloën.” 

Hierdie is aangrypende woorde. ‘n Tweesnydende swaard. Bely of verloën. Alles of niks. Lewe of dood. 

Belydenis is ‘n saak van verlossing. Dit is nie maar ‘n rand saak, ‘n middelmatige saak nie. Vir die belydenis van hulle geloof in Jesus Christus het menige gelowiges deur die eeue hulle lewens verloor. Vir hulle geloof en belydenis word daar vandag nog Christene oor die wêreld heen vervolg. So het ons ook die afgelope Sondae die aangrypende verhale gehoor van die vervolgde kerk. 

Vandag het ons weer so wonderlike voorreg om jong mense te sien wat hulle geloof in Jesus Christus voor die mense bely. Hierdie belydenis bring ook ‘n geweldige groot verantwoordelikheid daarmee saam. Nou moet jy jou belydenis uitleef. Jy moet doen wat jy sê. 

Daarvan is ook u as gemeente getuies. U dra ook ‘n verantwoordelikheid om hierdie jong mense te hou aan hulle woord. Om hulle deel te maak van die gemeente, om hulle te ontvang as broers en susters in Christus. 

Mag hierdie dag ook weer nuwe vreugde in u hart werk. Mag u weer u eie belydenis ter harte neem. 

9Want as jy met jou mond bely dat Jesus die Here is, en jy glo met jou hart dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy verlos word. 10Want met die hart glo ons, en word so regverdig verklaar; met die mond bely ons, en word so verlos. 11Die Skrif sê tog: “Elkeen wat in Hom glo, sal nie beskaamd staan nie.” Romeine 10:9-11 

Lourens (vdm) 

Vervolging

“Almal wat ook godvrugtig wil lewe in Christus Jesus, sal vervolg word” – 2 Tim 3:12 

Vandag, 6 November, is afgesonder as Internasionale Biddag vir die vervolgde kerk. Die bedoeling is dat ons mekaar as gelowiges oproep om nie van ons broers en susters wat weens hulle volharding in die geloof swaarkry, te vergeet nie. Die ‘lyding’ waarna in die Bybel gereeld verwys is nie maar net die armoede of siekte wat ons dikwels oorkom nie, maar eerder die aanslag op die lewe van hulle wat glo. Volgens die bostaande teks is dit een van die dinge wat noodwendig die getroue kerk van die Here sal oorkom. As ons dus die voorreg van vryheid van aanbidding geniet moet ons nie in ons gerief en gemaksones van die gelowiges wat in ander plekke waar daar vervolging is, vergeet nie. 

Vervolging van gelowiges was in die geskiedenis deel van die swaarkry van die kerk onder die Romeinse bewind en later weer die Protestante (die aan Hugenote, ens) onder die vervolging van die Roomse Kerk! Deesdae is daar egter ‘n geweldige toename van die openlike en blatante vervolging van die kerk in baie lande in die wêreld. Volgens Geopende Deure se waarnemings-verslag is daar reeds 12 lande in Afrika wat onder die 50 lande tel waar die vervolging van Christene die ergste en gevaarlikste is! (kyk gerus onder opendoors.org.za) 

Die bedreiging van ons geloof kom dus stadig maar seker nader en moet ons nie op ons louere sit nie, maar onsself en veral ons kinders voorberei om gereed te wees as sodanige blatante vervolging ook deel van die kerklike lewe in SA sou word. Wat egter netso gevaarlik kan wees is die subtiele aanslag op ons en veral ons kinders. Die antichris is aan die kom en die hele wêreld wil vir sy verskyning homself gereed maak. Hy sal die kerk so vervolg dat dit selfs lyk asof hy gaan oorwin. 

In 2 Tess 2 lees ons egter: “en dan sal die wettelose self op die toneel verskyn. Maar wanneer die Here Jesus kom, sal Hy hom met die asem uit sy mond verdelg en deur die glans van sy verskyning vernietig.” 

Dit blyk dus dat die vervolging van die kerk ook deel is van die tekens van die tyd, die tyd dat Jesus Christus as oorwinnaar finaal weer op die wolke sal kom om sy kinders te kom haal en ons vir ewig van die gebrokenheid en vervolging te verlos. Laat ons dus op ons hoede wees vir die aanslae van die wêreld, maar ook gereed wees vir die wederkoms wat op hande is. En hou aan om te bid vir hulle wat ter wille van Christus ly! 

Ds Maarten 

Hervormingsondag

Vandag is ‘n besondere dag in die kerkgeskiedenis. Ons ken die laaste Sondag van Oktober as Hervormingsondag. Dit was op hierdie dag in 1517 wat Martin Luther die bekende 95 stellings teen die kerkdeur van die Schlosskirche in Wittenberg geslaan het, wat die koers van die geskiedenis sou verander. 

Dit was nie soseer die 95 stellinge in opsig self wat die verskil gemaak het nie, as die insig wat Luther gehad het in die Skrifte. Natuurlik was daar opponerende opinies, maar selde was daar soveel oortuigende vasberadenheid waardeur die gewete van die mens gebind word deur die Woord van God. 

Die Rooms Katolieke gebruik van aflate waardeur mense se siele losgekoop word uit die vagevuur en die noodsaaklikheid van goeie werke wat meriete verdien was totaal teenstellend met die Bybelse getuienis van verlossing deur geloof. 

Romeine 1:16Ek skaam my immers nie vir die evangelie nie, want dit is die krag van God tot verlossing vir elkeen wat glo, eerste vir die Jood, maar ook vir die Griek. 17Want daarin word geopenbaar dat die •geregtigheid van God geheel en al op geloof berus, soos daar geskryf staan: “Die regverdige op grond van geloof sal leef.” 

Vandag kan ons hierdie getuienis van geloof saam met ons broers en susters wat belydenis aflê, gedenk. God spreek ons vry alleen op grond van ons geloof! Die Evangelie is ‘n krag van God wat red. 

So kan elke lidmaat vanoggend getuig van hulle lewens wat drasties verander is deur hul geloof in die Seun van God. Soms vergeet ons hoe heerlik die verlossingsbelofte van God se Blye Boodskap is. Ons raak so maklik vasgevang in die sorge en belange van die lewe dat ons die uitsonderlikheid van ons Here Jesus Christus miskyk in die algemene bekendheid. 

Mag ons vandag weer herinner word aan die kosbare getuienis van ons geloof. Mag die Heilige Gees weer nuwe vreugde en opgewondeheid wek in jou hart deur die tekens van water en bloed. 

Romeine 10: 9Want as jy met jou mond bely dat Jesus die Here is, en jy glo met jou hart dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy verlos word.” 

Lourens Venter (vdm) 

God is Liefde

God is liefde!” lees ons in 1 Joh 4:8,16. Liefde is nie ‘n eienskap van God nie, maar dit is Wie God is. Hy is totaal en al liefde. God se wese is liefde. God se liefde is egter volmaak want God is volmaak. Alles wat God doen doen Hy uit ‘n hart van liefde. 

Soms het ons vrae omdat alles op aarde nie so goed en glad en mooi verloop as wat ons graag wil hê nie. Dan word daar maklik gevra: “Is dit hoe ‘n God van liefde slegte dinge toelaat?” Ons vra dit omdat ons nie God se liefde verstaan nie. Ons erken egter nie maklik dat ons nie volmaak is nie, dat ons die oorsaak is van die gemors op aarde nie. Dit is ons wat dikwels liefdeloos handel teenoor jou medemens, ja selfs teenoor jou man of vrou of kinders of familie. Steeds wil ons egter die slegte dinge voor God se deur lê asof God die bewerker is van die slegte. Tog is God se liefde in Jesus Christus alles omvattend. 

Ons lees in Ef 3:17-19 dat ons liefde moet verstaan soos dit in Jesus Christus se liefde geopenbaar is. Jesus Christus het in volle gehoorsaamheid aan Sy Vader vir ons aan die kruis gesterf. Hy het ten volle betaal vir al ons oortredinge vir al ons sondes. Daarom kan ons net verstaan wat liefde werklik is as ons die versoenings-werk aan die kruis verstaan. 

Nooit het God alles net goedgekeur wat die mens doen nie. Hy het ook die volk Israel gestraf vir hulle oortredinge. Hy het Homself geweldig vertoorn oor Israel se sondes en daarom is hulle in ballingskap weggevoer. God se liefde is egter so groot dat Hy barmhartigheid en genade in Christus aan ons betoon het. Hy het die Heilige Gees gestuur om ons te lei. Hy het die Woord gegee sodat ons daardeur God en sy wil kan leer ken. 

Ef 3:19 “Mag julle sy liefde ken, liefde wat ons verstand te bowe gaan, en mag julle heeltemal vervul word met die volheid van God.” 

Ds. Gerrit 

Die werke van die vlees staan teenoor die vrug van die Gees

Ons jaartema het vandag die hoogtepunt bereik met die afsluiting van ons Familie Naweek. Miskien het u dit al vergeet, maar hierdie familie naweek is eintlik ons gemeentekamp van 2020. Vir meer as twee jaar is ons ontwrig en ontwortel van die gewone gang van ons gemeente aktiwiteite.

Dit is natuurlik ook vir ons as gemeente noodsaaklik om hieroor na dink en te reflekteer wat werklik die prioriteite is wat ons nie kan of mag mis nie. Vir hierdie rede het ons doelbewus die jaartema gerig op die Vrug van die Heilige Gees. En ons familie naweek was in geheel hierop gefokus: Hoe leef ons anders as die wêreld. Of soos dit in Galasiërs genoem word die werke van die vlees staan teenoor die vrug van die Gees…

Hoe lyk die werke van die sondige natuur, die vleeslike werke teenoor die Vrug van die Gees wat gelowiges behoort te kenmerk? Dit is ‘n totale kontras. Waar die vleeslike werke gekenmerk word deur eie belang en selfsug, is die vrug van die Gees gerig op die vervulling van die wet om jou naaste lief te hê.

Noudat ons lewens weer begin spoed optel, ervaar ons hoe gejaagd dit weer word. Ons beleef die spanning van verantwoordelikheid en stres van bybly. Vir ander is die spoed optel ‘n groot verligting en uitkoms, vanweë die gebrek aan besigheid.

By dit alles word ons getoets in ons geloof. Sal ons verval in die begeertes en behoeftes van die vlees, of sal ons volhard om goed te doen, en vrug dra van die Gees?

Onthou dan Galasiërs 5 “16 Leef deur die Gees, dan sal julle beslis nie die begeertes van die vlees uitvoer nie.” En “24Almal wat aan Christus Jesus behoort, het die vlees met sy hartstogte en begeertes gekruisig. 25Aangesien ons deur die Gees leef, laat ons ook met die Gees in pas bly.”

Lourens (vdm)

‘n Eselsbegrafnis!

Ek kan nogal dink dat ongelowiges of agnostiese mense nie so baie van die Bybel hou nie (dis nou as mens die Bybel in geheel lees). Daar is gedeeltes soos Jer 22:19 en 36:30 wat vertel van die uiteinde van koning Jojakim. Hy word nie eens begrawe nie.
Wanneer iemand destyds gesterf het is hy of sy gou begrawe, meesal nog dieselfde dag. Die weer kan nogal baie warm word in die Midde-Ooste. Niemand is egter op ‘n Sabbat of Feesdag begrawe nie, maar dan in reukolie en linne toegedraai en die vol-gende dag begrawe. Die oë toegedruk, liggaam is gewas en op ‘n draagbaar geplaas (nie in ‘n kis nie), en so in die graf gelê.
Die liggaam is nie gebalsem nie. Ook nooit verbrand nie, behalwe as dit ‘n misdadiger was of iemand wat ‘n vreeslike sonde gepleeg het.
Die grootste skande was om onbegrawe gelaat te word. En dit is presies wat met hierdie koning Jojakim gebeur. Sy sonde was so groot en sy verwerping van die profetiese woorde (die boekrol wat hy openlik verskeur en in die vuur verbrand) so erg, dat God hom verwerp. Hy word soos ‘n domme dier behandel. Begrawe soos ‘n donkie – maw weggegooi, sonder begrafnis, in die veld.
Hierdie gedeelte wys ons weereens dat God nie met Hom laat speel nie, en dat sy profete en hulle profetiese woorde (vandag die Bybel) nie geminag mag word nie. Wie werklik nie wil glo nie en sy Woord verwerp word voor God nie eintlik veel beter beskou en behandel as ‘n domme dier wat nie eens ‘n siel het nie!
Die wonder is egter dat God ons anders as diere maak. Hy gee ons ‘n siel en gees wat diere nie het of ooit gehad het nie (die werklike antwoord op die evolusioniste). Hy sluit ‘n verbond met ons en ter wille van sy verbond gee Hy sy Seun. Jesus betaal vir die ergste van ons sondes en was ons skoon en vry. Hy word begrawe en staan op om selfs die graf te oorwin.
Vir so ‘n mens het God plek en tyd, selfs by jou begrafnis!
Daarom hanteer ons ook die liggame van ons afgestorwe medegelowiges met eer. So word God ook by die begraafplaas verheerlik.
Ds Maarten

« Older posts Newer posts »