Paasfees het vir soveel verskillende kulture en gelowe ‘n besondere betekenis. Vir die Jode is die Pesag die begin van die nuwe jaar. Dit is een van die hoogtepunte van die kerklike kalender wat elke jaar gevier moet word. Op hierdie dag, ong 3400 jaar gelede het die Here hulle gered uit Egipte. Vir die Egiptenaars is dit nie juis ‘n fees om te vier nie.

In Christus is die beloftes van die Testament vervul en vier Christene ‘n ander soort Paasfees as die Jode. Maar nie alle Christene vier op dieselfde wyse Paasfees nie. Sommige reis na Jerusalem en gaan wandel in Jesus se spore, en martel hulleself om te deel aan Christus se lyding en smarte.

Sommige assosieer Paasfees met paasbolletjies, ander met kerrievis en ander met ‘n pelgrimsreis na Moria. Daar is natuurlik ook diegene wat in Paasfees slegs die voordeel sien van ‘n langnaweek en ‘n ekstra vakansie.

Wat maak Paasfees vir jou spesiaal?

Aan die een kant sou ons kon redeneer dat Paasfees nie meer vir Christene ‘n fees is om te vier nie, aangesien Christus die betekenis volkome vervul het. Hy het aan ons ‘n ander fees gegee, die Nagmaal.

Tog kan ons ook aan die ander kant die kosbaarheid sien van die waarde wat hierdie vervulling van die Paasfees gebring het. Vergifnis van sondes en gemeenskap van geloof. Die Paasfees is ‘n merker om ons te herinner aan dit wat ons ontvang het in Christus.
Die bloed as teken. Die bloed aan die kosyne was ‘n teken. Nie net ‘n teken van die verlossing nie, maar ook van die dood. Die bloed is ‘n teken van God se oordeel en sy genade. Daardie bloedteken het verlossing gebring. Nie verlossing van die slawerny van die Egiptenaars nie, maar verlossing uit die hand van die Engel van die dood. So word die bloed van Christus ook vir ons ‘n teken.

As die Vader die bloed sien, is dit ‘n teken van die verlossing wat verwerf is. Dan sal die dood ook by jou pasga (verbygaan). Leef dan in daardie gemeenskap met God en dink aan die teken van sy bloed ook met jou doop.

Lourens (vdm)