Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Kategorie: Predikante Skryf (Page 1 of 39)

 As U hier was, Here, sou my broer nie gesterf het nie!

 Hierdie woorde van Marta en Maria by die dood van hulle broer Lasarus, laat ‘n diep indruk as jy by jou eie broer se graf moet afskeid neem. Hoe anders kon dinge gewees het, as die Here ingegryp het? Hoe anders kan die lewe wees as God eerste is? 

Ons kan so maklik die Here die skuld gee wanneer onsself nie bereid is om die verantwoordelikheid van ons lewe te neem nie. Ons leef in baie opsigte net vir eie gewin. As gelowiges moet ons anders kyk na die dood. Ons mag nie soos die wêreld net vir hierdie lewe leef nie. Ons verlange en begeerte moet wees na ons hemelse erfenis. 

En tog, wanneer dit soms so skielik kom, dan voel ons oorweldig. Ons emosies wel op en ons hart breek in duisend stukkies. Soos Marta en Maria voel ons kwaad en onseker, want ons broers en susters sterf. Ons voel aan ons eie lyf die gebrokenheid van ons sonde. 

Maar wat van ons ander broer? Die Een wat Seun van God genoem word. Hy het ook gesterf, en dit maak ons nie so hartseer nie. Ons leer ons kinders om bly te wees oor Jesus se dood. Hoekom? Omdat Hy die dood oorwin het. Hy het opgestaan, en Hy leef. 

Dit is ook ons troos wanneer geliefdes sterf. In Christus leef hulle. Dit maak ons tog bly, dit bring vrede en vertroosting. Maar dit neem nie die hartseer weg nie, en die gemis. Daarom mag ons hartseer wees, maar nie soos mense sonder hoop nie. 

Namens ons hele gesin wil ons elkeen persoonlik bedank vir elke oproep en elke boodskap van troos en bemoediging. Dankie vir die liefde en ondersteuning van elke broer en suster in Christus. Dit is vir ons kosbaar. Dan kan ons getuig, die Here was daar, sy seuns en dogters het mekaar bygestaan en ondersteun en in sy liefde gedra. 

Mag u hierdie jaareinde binne gaan en Kersfees vier met die sekerheid en troos van Christus wat Immanuel is, God met ons. 

Ja kyk, die Here is hier. 

Lourens (vdm) 

 Hervorminigsondag

 Die eerste 10 van Martin Luther se 95 stellinge van 31 Oktober 1517 op die kerkdeur van Wittenberg, Duitsland klink in Afrikaans soos volg: 

Uit liefde vir die waarheid en met die begeerte om die waarheid openbaar aan die orde te stel, sal daar in Wittenberg oor die volgende stellings gedebatteer word onder die voorsitterskap van die eerwaarde monnik Martinus Luther, met ’n magistergraad in Vrye kunste (geesteswetenskap) sowel as in die heilige teologie, tans volle professor te Wittenberg. Daarom versoek hy die mense wat nie teenwoordig kan wees en mondelings met ons kan debatteer nie, om dit in hulle afwesigheid skriftelik te doen. 

In die Naam van ons Here Jesus Christus. 

1. Omdat ons Here en Meester Jesus Christus sê: “Doen boete” (Bekeer julle) (Matt. 4:17) wou Hy gehad het dat die hele lewe van gelowiges ’n lewe van boetedoening (bekering) moet wees. 

2. Hierdie woord (bekering)* kan nie in die betekenis van die sakramentele boetedoening verstaan word nie. (Dit is in die sin van bieg en vergoeding wat deur die amp van die priester uitgevoer word nie.) 

3. Nogtans beteken dit, (bekering volgens Matt. 4:17) nie slegs ’n innerlike bekering nie; Eintlik is die innerlike bekering niks werd nie as dit nie uiterlik op baie wyses die afsterwing van die vlees bewerk nie. 

4. Dus bly die straf daar, net solank as wat die vyandskap teen jouself bly (Dit is die ware innerlike bekering). Dit beteken dit bly tot met die binnegaan in die hemelryk in. 

5. Die pous kan en wil geen ander soort straf kwytskeld as die soort straf wat hy volgens sy eie besluit of volgens die kerkreg opgelê het nie. 

6. Die pous kan sondeskuld op geen ander manier vergewe nie as om net te verkondig en te bevestig dat dit deur God vergewe is nie. Die pous kan tog sekerlik net vergewe in die sake waarin hý die reg voorbehou. Minag ’n mens hom hierin, dan bly die (hierdie tipe) skuld verseker voortbestaan. 

7. Eintlik vergewe God nie een se skuld wat hom nie ter selfde tyd aan die priester as God se verteenwoordiger geheel en al deemoedig onderwerp nie. 

8. Die kerkregtelike boetebepalings is net van toepassing op mense wat lewe. Mense wat gesterf het, mag nie aan kerkregtelike bepalings onderwerp word nie. 

9. Die Heilige Gees bewys deur die pous sy goedheid vir ons daarin dat wanneer die pous dekrete uitvaardig, hy elke keer die dood en uiterste noodsaak uitsluit (uit sy regsbevoegdheid uit) 

10.’n Priester wat vir mense wat gesterf het nog steeds kerkregtelike boetestraf laat voortbestaan tot binne in die vagevuur, tree onkundig en sleg op. 

Lourens (vdm) 

 God se Voorsienigheid

 Josef se lewe het vir ons so baie lesse om te leer. Vir die afgelope klompie weke het ek baie tyd spandeer om daaroor na te dink. Telkens vind ek myself bepeins oor die gebeure van my eie lewe en hoe anders dinge dalk sou uitdraai as iets op ‘n ander manier sou gebeur as wat dit het. Met elke gebeurtenis kan ek God se hand sien in hoe Hy my gelei het, al kon ek dit nie voorsien of verstaan op daardie oomblik nie. 

Een van die grootste uitdagings is om te sien wat God se plan is vir ons lewens wanneer ons teleurstellings ervaar. Waarom laat God dit toe dat Josef se broers hom ten onregte mishandel? Waarom kry hy nie eerbied of respek vir die wyse waarop hy teenoor Potifar se vrou optree nie? 

In kort sou die antwoord wees: want die lewe is nie regverdig nie. 

Dit is egter nie ‘n genoegsame antwoord nie. Want dit beteken dat Gods water maar oor Gods akker loop, en ek kan niks daaraan doen nie. Die lewe is maar net wat dit is. Jy moet maar net aanvaar wat met jou gebeur… 

Dit sou tog maar net ‘n halwe waarheid wees. Want in ons groot teleurstellings en onregte wat ons moet verduur, is die hand van die Almagtige aan die werk. God gebruik die “nee’s” van die lewe om op ‘n ander manier vir ons “ja” te sê. Hy gebruik ons gebrokenheid om tot sy heerlikheid te wees. 

Dink net daaroor: sou die verhaal van Josef so aangrypend gewees het, as Jakob die Farao se goeie vriend was en vir Josef ‘n plekkie in die kabinet gereël het? So is ook elkeen van ons se lewe uniek en kosbaar, want God is al die tyd daarin aan die werk. Daarom kan ons berus by die goeie en die slegte van die lewe, want God beskik oor al hierdie dinge. In sy voorsienigheid sien Hy vooruit en voorsien Hy in die toekoms. 

Daarom kan ons met vrede en gerustheid en geloofsvertroue bid: Laat U wil geskied, soos U dit wil in die hemel, dat U dit mag uitvoer in my lewe hier op aarde. 

Lourens (vdm) 

 Die Here bewaar

 Die Here bewaar jou uitgang en jou ingang (Ps121) 

 Die afgelope week was vir ons as gemeente een van baie hartseer. Binne 24 uur word drie lidmate skielik uit ons midde weggeruk en dan boonop is daar nog die talle siekes waarvan sommige baie ernstig is. 

Nie alleen is daar Sondag twee lidmate wat met hartprobleme sterf nie, maar Maandagoggend sterf die jonge suster Melinda op haar verjaarsdag in ‘n motorongeluk en haar man Liam Pilkington beland in ‘n kritieke toestand met veelvuldige kop en rugbeserings, in die hospitaal. Om die donker prentjie nog te vererger begrawe ds Lourens sy oom die afgelope week nadat hy deur ʼn vragmotor in Pretoria omgery is! 

En tog sien ons dat die digter van Ps 121 bely dat dit alles nie toevallig plaasgevind het, omdat die Here dalk sou slaap of sluimer nie. Nee, Hy is soos die skadu aan ons regterhand. 

Hy bewaar ons nie maar net VAN die dood nie maar ook IN die dood. Hy, die Bewaarder van Israel, laat niks toevallig oor ons kom nie. 

So skryf die digter dat God ons uitgaan en ingaan beheer. Eerstens dui dit gewoon op ons daaglikse lewensgang – jy gaan uit om te werk of te leer, en keer weer terug huistoe na ‘n bepaalde tyd. En Hy, die almagtige God en Here, Hy sorg vir jou. 

Maar as ons na die volgorde van die twee woorde kyk, dan sien ons dat die Here ook in ons UITGAAN uit hierdie lewe die enigste sê het, en dat juis Hy bepaal wat daarna, dws in die dood, met ons gebeur. 

Jesus se ‘uitgang‘ wat Hy in Jerusalem kom voltooi het (Luk 9:31), kom gee aan ons uitgang uit die lewe sin, sodat ons nou kan ‘ingaan’ in die hemelse heerlikheid. 

So bewaar Hy ons uitgaan én ons ingaan, om ewig by die Vader te wees. En so word die hartseer van die afgelope week, beperk deur die heerlike wete dat ons verlies hul wins is. 

Mag die Here wat die dood oorwin het, uit die hoë hemel deur die Heilige Gees aan elke bedroefde hart sy lieflike troos en bystand gee. 

Ds Maarten 

EINDE 2024

Ons het sowaar by die laaste nuusbrief van die jaar gekom. ‘n Jaar met sy eie dinge, maar voorwaar nog ʼn jaar geseën deur ons troue Here en groot Herder. Ons dank Hom vir genade op genade. 

Ons sluit nou die jaar se verrigtinge af met die beste wense vir almal in hierdie feesgety en met die bede dat u mag rus en uitrus in die vrede van God. As u dalk op reis gaan bid ons julle ‘n veilige en voorspoedige reis toe. Mag u elkeen die nabyheid van die Here op ‘n besondere manier ervaar. 

Volgende jaar se uitsig is die groot feesviering van ons gemeente se Jubeljaar. Ons roep vyftig jaar se genade in herinnering en beplan vir die groot naweek van 1 Junie 2025. Ons hoop en glo dit gaan in baie opsigte ‘n baie spesiale jaar wees onder liefdevolle hand van die Here se seën. 

Al ons lof en eer en dank aan Hom wat kan doen vér bo dit wat ons bid of dink. Aan Hom die heerlikheid tot in ewigheid. 

Vergun my om namens u leraars en die kerkraad u elkeen ʼn vreugdevolle Kerstyd en vakansie toe te wens. Mag dit vir ons almal ʼn ware herinnering wees aan die grootste gawe van God en laat ons nie ophou om Hom daarvoor te loof en te dank nie. 

Ds Maarten 

Handelinge 29? 

Aangesien die boek Handelinge nie soos die ander Nuwe-Testamentiese boeke met “Amen” eindig nie, is kommentatore van mening dat die boek onvolledig is. Daar is ook die oorlewering dat die boek wel ‘n laaste hoofstuk gehad het wat dan verlore gegaan het. Sou jy dus op Google gaan soek dan vind jy jou werklikwaar daardie hoofstuk! U kan dit lees by die Google skakel https://rejectedscriptures.weebly.com/acts-of-the-apostles-chapter-29.html, en u sal verras wees hoe anders die boek Handelinge oorkom as dit sy einde moes wees. 

Die Bybel is egter nie ‘n storie of lewensverhaal van mense soos Paulus of Petrus nie maar die openbaring van die woorde en werke van God in die daarstelling van sy koninkryk deur Jesus Christus. Daarom het die boek Handelinge letterlik ‘n veelseggende “oop” einde (28:31). 

Van hierdie oorlewering oor die laaste moontlike hoofstuk lees ons in die Sonnini’s Travels in Turkey and Greece

Die Sonnini-manuskrip bevat die verslag van Paulus se reis na Spanje en Brittanje. Die dokument, wat na bewering die slotgedeelte van die “Handelinge van die Apostels” is, dek ‘n gedeelte van die tydperk ná Paulus se twee jaar gedwonge verblyf in sy eie huurhuis, in Rome. Dit is geskryf in die styl van die boeke Handelinge en lees nogal soos ‘n voortsetting. 

Die manuskrip is ingevleg gevind in ‘n kopie van Sonnini se Reise in Turkye en Griekeland en is gekoop by die verkoop van die biblioteek en besittings van wyle Regse eerbare sir John Newport Bart, van Ierland. Sir John se familiewapen is op die omslag van die boek gegraveer. Dit was al meer as dertig jaar in sy besit. 

By die boek was ‘n dokument van die Sultan van Turkye, wat aan C.S. Sonnini toestemming verleen om in alle dele van die Ottomaanse heerskappye te reis. Die dokument is vertaal deur C.S. Sonnini uit ‘n oorspronklike Griekse manuskrip wat in die Argief in Konstantinopel gevind is, en aan hom voorgehou deur die Sultan Abdoul Achment

Ds Maarten 

« Older posts