Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Kategorie: Blogs (Page 27 of 53)

Die bloed sal vir julle ‘n teken wees

Paasfees het vir soveel verskillende kulture en gelowe ‘n besondere betekenis. Vir die Jode is die Pesag die begin van die nuwe jaar. Dit is een van die hoogtepunte van die kerklike kalender wat elke jaar gevier moet word. Op hierdie dag, ong 3400 jaar gelede het die Here hulle gered uit Egipte. Vir die Egiptenaars is dit nie juis ‘n fees om te vier nie.

In Christus is die beloftes van die Testament vervul en vier Christene ‘n ander soort Paasfees as die Jode. Maar nie alle Christene vier op dieselfde wyse Paasfees nie. Sommige reis na Jerusalem en gaan wandel in Jesus se spore, en martel hulleself om te deel aan Christus se lyding en smarte.

Sommige assosieer Paasfees met paasbolletjies, ander met kerrievis en ander met ‘n pelgrimsreis na Moria. Daar is natuurlik ook diegene wat in Paasfees slegs die voordeel sien van ‘n langnaweek en ‘n ekstra vakansie.

Wat maak Paasfees vir jou spesiaal?

Aan die een kant sou ons kon redeneer dat Paasfees nie meer vir Christene ‘n fees is om te vier nie, aangesien Christus die betekenis volkome vervul het. Hy het aan ons ‘n ander fees gegee, die Nagmaal.

Tog kan ons ook aan die ander kant die kosbaarheid sien van die waarde wat hierdie vervulling van die Paasfees gebring het. Vergifnis van sondes en gemeenskap van geloof. Die Paasfees is ‘n merker om ons te herinner aan dit wat ons ontvang het in Christus.
Die bloed as teken. Die bloed aan die kosyne was ‘n teken. Nie net ‘n teken van die verlossing nie, maar ook van die dood. Die bloed is ‘n teken van God se oordeel en sy genade. Daardie bloedteken het verlossing gebring. Nie verlossing van die slawerny van die Egiptenaars nie, maar verlossing uit die hand van die Engel van die dood. So word die bloed van Christus ook vir ons ‘n teken.

As die Vader die bloed sien, is dit ‘n teken van die verlossing wat verwerf is. Dan sal die dood ook by jou pasga (verbygaan). Leef dan in daardie gemeenskap met God en dink aan die teken van sy bloed ook met jou doop.

Lourens (vdm)

Soli Deo Gloria

Dit is met groot dank aan elkeen wat gehelp het om die eerste Koningskinders kamp moontlik te maak. Daar was 50 kinders uit ons gemeenskap wat saam gekamp het en 25 lidmate uit ons gemeente wat onder meer gehelp het as groepleiers, kosspan, speletjies en klerasie. Die jongste hulpgroepleier was 13 en die oudste TLC tannie was oor die 70, wat net bewys dat ieder en elk kan betrokke raak. 

Dit sou egter nie moontlik gewees het om die kamp aan te bied sonder al die skenkings en bydraes wat ons ontvang het nie. Aan ieder en elk ‘n hartlike woord van dank. Moet dit egter nie net van my af neem nie, elke kind wat die geleentheid gehad het om daar te wees, het die bederf en liefde so bitterlik baie waardeer. 

‘n Mens besef nie elke dag hoe groot verskil ‘n klein bydrae kan maak nie. Daar was ook twee pleeghuise hier in Lyttelton, wie se kinders saam kom kamp het. Een pleeghuis, Huis Dagbreek het reeds by ons gemeente begin inskakel, en ons hoop om hulle te help om van krag tot krag te gaan in hierdie noodsaaklike en onbaatsugtige opoffering om kinders geleenthede in die lewe te bied. 

Ook ‘n besondere woord van dank aan ons diakonie wat gehelp het om al die middele te ontvang en aan te wend soos nodig. 

Daar is heelwat kinders wat aangedui het dat hulle graag hier by ons wil inskakel. Indien u kan help en graag wil betrokke raak, kom meld gerus aan en word deel. 

Aan God alleen alle eer! 

Lourens(vdm) 

Selfondersoek voor die Nagmaal

Hoekom is dit nodig om onsself te ondersoek voor die nagmaal, om selfondersoek te doen Dit gaan nie daaroor dat ons ‘n lys van ons lewe moet maak en so selfon-dersoek doen, of ons uit onsself werd is om die heilige nagmaal te vier nie. Dit gaan daaroor dat jy weet jy is uit jou eie, nie werd om die nagmaal te vier nie, maar dat dit alleen in en deur Jesus Christus se soenverdienste kan en mag en moet geskied. 

Maar dan moet jy eers selfondersoek doen en jou sondes erken en bely. Jy moet kyk of jy moedswillig in jou sondes volhard, doen jy dit doelbewus elke dag sonder om daaroor berou te hê, dan is jy op die verkeerde pad. Jy moet jouself elke dag voor God verootmoedig. Jy moet jou sondes erken en bely en daaroor vergiffenis vra, dan kan jy voor God gaan staan. Dan weet jy dat Jesus Christus vir jou sondes, ten duurste met sy eie liggaam en bloed, aan die kruis betaal het. Dan weet jy Hy is jou advokaat wat vir jou by God intree. En dit is juis hierdie wete wat maak dat jy die heilige nagmaal kan vier. 

As jy jou vertroue absoluut op Jesus Christus stel, dan kan jy verseker wees dat jou oortredinge vergewe is. Dan moet ons ook daarna strewe om elke dag al heiliger te leef. Ons moet die sonde aflê en tot eer van God leef. Ons moet ‘n abso-lute dankbaarheids-lewe leef tot eer van God en in ware liefde vir ons medemens. Selfondersoek bring ons ook by die verlede, hede en toekoms. 

Verlede: Jesus Christus het alreeds vir ons sondes betaal met sy liggaam en bloed. 

Hede: Jesus Christus is nou elke dag by ons en met ons, want Hy is die Hoof van die kerk, Ef 1:22. 

Toekoms: Jesus Christus is ook die Bruidegom wat in die hemel vir ons ‘n bruilofsmaal voorberei. 

Mag ons elkeen dan opreg selfondersoek gedoen het en so met vrymoedigheid nagmaal gebruik. 

Ds. Gerrit 

Bid gedurig! (1 Tess 5:17)

Hierdie woorde beteken nie dat jy die hele dag in jou binnekamer moet vertoef nie, maar dat alles wat jy doen deur gebed gedra moet word. Gebed is soos asemhaal, jy doen dit byna sonder om te dink. Dan word jy ook weer gereeld in jou stiltetyd (persoonlik of in ‘n gemeentelike samekoms) stil voor die Here in danksegging en smeking en voorbidding (Fil 4). 

Gebed is in wese nie ‘n wapen of ‘n beheermiddel nie. Ons hoor deesdae weer van sogenaamde gebedsvegters (‘prayer warriors’) wat ‘n gebed-skans moet oprig teen die vyand. Verskeie versoeke rondom die huidige oorlogsituasie in Europa gebruik hierdie soort taal wat eintlik vir ons vreemd is. 

Gebed is nie deel van die wapenrusting van die gelowiges nie (Ef 6). Ons trek die wapens wel biddend aan (6:18), want die krag en oorwinning kan net van die Here kom. Die krag lê ook nie in die aantal bidders of die lengte van gebede nie. Die krag en heerlikheid behoort aan die Here en die gebed is ons afhanklikheidverklaring van Hom aan wie die mag en krag behoort! (Lees ook Jak 5:16 oor die krag van een gelowige se gebed). 

Gedurende die afgelope week het ons weer gehoor en geleer dat wanneer ons groot aksies aanpak in die gemeente dat ons moet weet dat die duiwel dit beslis gaan teenstaan. Daarom is dit nodig dat die hele gemeente eendragtig sal volhard om vir die bedieningsaktiwiteite van hierdie gemeente te bly bid. Die duiwel hou nie van die suksesse van die kerk van Christus nie en sal ons met al sy mag teen staan. Hoewel die Here hierdie teenstand toelaat, kan daar niks gebeur sonder Sy beskikking nie. Daarom dat Paulus vra dat die gemeentes vir hom bly bid. Hy skryf daaroor so mooi in 2 Kor 1:10-11 

“Dit is die Here wat ons uit so ‘n groot doodsgevaar gered het en ons weer sal red. Op Hom is ons hoop gevestig: Hy sal ons ook verder red. Daartoe werk julle mee deur vir ons te bid. So sal die gebede van baie ‘n seën van God vir ons bring, en dan sal baie Hom vir ons dank.” 

Dat daar ernstig vir die bediening van leraars en ampsdraers in die gemeente gebid moet word is seker. Ons is egter ook medewerkers deur veral ook te bid vir die uitreikaksies van evangelisasie (Brugbediening, Crossroads, Koningskinders, Biblos, Alethea, etc). 

Ons gebed sal nie die suksesse bepaal nie, maar so doen dan alles in diepe afhanklikheid van Hom wat die Bose sal teenstaan. Hy is ons Verlosser en Here wat die duiwel en sy magte op Golgota oorwin het en nie sal toelaat dat ons bo ons kragte versoek word nie! 

Is jy ook ‘n medewerker? 

Bid dan gedurig!

Ds Maarten 

Koningskinders

Armoede ken geen grense nie. Dit spaar niemand en dit vra nie vrae nie. Armoede vat net. Dit vat al jou goed, dit vat jou besittings, jou ambisie, jou geleenthede, jou drome, jou vreugde. Armoede is ‘n sluipmoordenaar wat hoop uit jou uit wurg, en uiteindelik jou menswees in die stof vertrap. 

Vandag is daar meer as ooit mense in ons samelewing wat verarm en wat leef sonder hoop. Dit is nie noodwendig mense wat van altyd af arm was nie. Sommige oorleef hulle pensioene, sommige kan net nie byhou met inflasie nie. Sommige het verkeerde keuses gemaak en ander het kanse gevat en alles verloor. 

Om arm te wees beteken nie dat jy ook geestelik arm hoef te wees nie. Koningskinders wil graag hierdie geestelike armoede aanspreek deur kinders uit ons gemeenskap te nooi op ‘n kamp wat ons gemeente gratis aanbied, omdat baie kinders dit nie kan bekostig nie. 

Tydens hierdie kamp wil ons hulle weer moed en hoop gee vir die toekoms uit die blye evangelie van God se genade. Ons wil aan elkeen die vooruitsig bied van die heerlike stad Jerusalem. Maar ons kan dit nie alleen doen nie. 

As gemeente kan ons hierdie geleentheid saam aanbied. Daarom vra ons elkeen se hulp. Ons vra u gebede. Ons vra u liefde en omgee en meelewing. As u middele het om te deel, sal ons dit van harte waardeer. Meer nog, as jy jouself kan gee, is dit eerste prys. 

Kom gee saam met ons die liefde van die evangelie. 

Jesus het ons immers geleer: Om te gee, is beter as om te ontvang. 

Lourens (vdm) 

Pynlike keuses wat ewige vreugde bied!

Keuses bepaal ons lewens. Keuses bepaal wat jy eendag gaan word, of jy gelukkig of geseënd gaan wees. Ons lees in Mat 4:18-22 van die roeping van die eerste dissipels. Hulle was vissers van beroep. Hulle was besig met aktiewe werk om vis te vang en nette reg te maak, toe Jesus hulle geroep het. Dadelik, ja dadelik lees ons het hulle, hulle werk gelos, hulle familie gelos en Jesus gevolg. Hierdie was nie sommer net ’n ligte keuse nie, dit was ’n keuse waar hulle, hulle werk verlaat het, hulle families verlaat het en dadelik vir Jesus gevolg het. 

Die klem val hier op die onvoorwaardelike navolging van Christus. So moet ons die hele wêreld roep. Almal wat kinders van God is sal die roeping opvolg. Almal dalk nie dadelik nie, maar eventueel sal God se kinders Hom volg. Daarom almal wat Jesus waarlik volg, dit is om waarlik in Hom te glo, Hom bely en Hom liefhet, is deel van die kerk en vorm die kerk. 

Die begin van Jesus se prediking lees ons juis van in Mat 4:17 “Bekeer julle, want die koninkryk van die hemel het naby gekom.” Die oproep is voortdurend daar, om ons van ons sondige en verkeerde weë te bekeer, terug na God toe. Ons moet die regte keuse maak en dit is om God van ganser harte te dien. Ons kan Hom net dien as ons deur die Heilige Gees gelei, deur die Woord versterk, kies vir God. 

Elke dag in die lewe moet ons keuses maak. Daar is keuses wat tot eer van God is en keuses wat nie tot eer van God is nie. Die vraag is of ek God in hierdie keuse van ganser harte dien. Die pad wat ek kies om te loop, is dit die nou pad. 

Mat_7:13,14 “Gaan deur die nou poort in. Die poort wat na die verderf lei, is wyd en die pad daarheen breed, en dié wat daardeur ingaan, is baie. Maar die poort wat na die lewe lei, is nou en die pad daarheen smal, en dié wat dit kry, is min.” 

Ds. Gerrit 

« Older posts Newer posts »