Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Kategorie: Blogs (Page 27 of 50)

Verbly jou in die Hoop

Solank daar hoop is, is daar lewe… Want hoop is baie meer as net om te wens. Natuurlik is daar niks fout om te wens nie! Ons wens vir ‘n mooi dag of wens om weer geliefdes te sien. Dit is ‘n diep en egte menslike verlange. 

Hoop is nog baie meer as dit. Om te hoop beteken dat daar by jou ‘n verwagting is. Dit word in Hebreeus selfs vertaal met vertroue… Om te hoop is om te vertrou in jou verwagting. Dit word ook so beskryf in die Hebreërbrief met betrekking tot geloof: 

Die geloof dan is ‘n vaste vertroue op die dinge wat ons hoop, ‘n bewys van die dinge wat ons nie sien nie. 

Om te hoop is om te vertrou, om te glo. In die Bybel gaan dit altyd om die beloftes van God. Dat ons kan vertrou dat God sy beloftes getrou sal nakom. En Hy het. Deur Jesus Christus sien ons hoe die beloftes van God op geldige gronde wettiglik vervul word. 

So word ons Hoop ‘n uitkoms van seën wat gefundeer is op die verlossing en verdienste van Jesus Christus. Die Here Jesus is ons Hoop. Hy is ons verwag-ting. Hy gee ons ‘n rede om uit te sien na more, en oormore. 

Daarom kan ons bly wees oor ons verwagting. Die Here gee ‘n rede om bly te wees oor dit wat Hy beloof… 

As jou moed jou wil begewe en die verlange jou bemoei, as die druk jou oorweldig en die onsekerheid jou onderkry onthou dan die woorde: 

Wees nie traag in die ywer nie; wees vurig van gees; dien die Here; verbly julle in die hoop; wees geduldig in die verdrukking; volhard in die gebed. 

Lourens (VDM) 

EENSGESIND VOOR GOD!

Rom 15:5 

“En mag God, die bron van alle standvastigheid en bemoediging, gee dat julle eensgesind onder mekaar sal wees soos Christus Jesus dit wil hê.” 

Ons het die groot vreugde dat ons weer as gemeente gesamentlik God kan dien. Wat ‘n vreugde om in eensgesindheid in liefde die Here te kan aanbid, in ‘n erediens, om van harte tot lof van God te kan sing en God te kan dien en eer. Dit vra steeds van ons dat ons minder sal word en God meer sal word. Dit vra dat ons elkeen onsself sal verloën en God en ons naaste eerste sal stel. Daarom dat ons ook met groot omsigtigheid en verantwoordelikheid die eredienste en kerkbywoning so wil inrig dat elkeen gemaklik, veilig en opreg die Here kan dien. Ons vra daarom dat ons mekaar in hierdie tyd sal verdra. 

Die rye stoele in die saal is juis verder uitmekaar geplaas vir afstand-doeleindes. In die kerkbanke vra ons dat die lidmate sover moontlik afstand van mekaar sal hou, sal maskers bly dra en protokol sal nakom om vir almal die geleentheid te bied om in rustigheid en vrede saam te kan kom in die eredienste. 

Ons verwag dat daar tydens die Nagmaalsdiens van 21 Oktober dalk meer mense die erediens sal bywoon. Daarom het ons ook gereël dat daar ‘n Groot Skerm op die stoep sal wees met ‘n klomp stoele om ook op die stoep te sit en so deel te wees van die nagmaal. Daar sal ook ‘n predikant teenwoordig wees om die nagmaal te bedien. Daar sal ook weer die geleentheid wees om voor aan die tafel te gaan sit, waar kelkies gebruik kan word of die beker, maar elke gesin of individu sal alleen uit ‘n beker kan drink. Ons vra dus in groot liefde dat ons mekaar sal verdra in ‘n eensgesindheid wat tot eer van God sal wees. Daar sal dan ook drie geleenthede wees om die nagmaal te gebruik: tydens die Afrikaanse diens om 09:00, tydens die Engelse diens wat spesiaal tweetalig sal wees om 11:00 en ook tydens die Afrikaanse aanddiens om 18:00. Ons vra die lidmate om vrymoedigheid te neem om twv die druk, te oorweeg om nagmaal te gebruik tydens die Engelse diens of die aanddiens. 

Mag ons almal met groot eensgesindheid en vreugde, nie net in die eredienste vergader nie, maar ook die nagmaal gebruik tot eer van God ons Hemelse Vader. 

Ds Gerrit 

Semper Reformanda ad Fontes

Elke laaste Sondag in Oktober staan in ons Protestantse kerke wêreldwyd bekend as Hervormingsondag, ter gedagtenis aan die omwenteling van die samelewing wat so drastiese verander het na aanleiding van Martin Luther se 95 Stellings. 

Dit was op 31 Oktober 1517 wat Luther die bekende stellings teen die kerkdeur van die Schloßkirche in Wittenberg vasgenael het, wat ‘n algemene en bekende manier was om diskussie oor akademiese sake te inisieer. Dit was nie die eerste en laaste stellinge van Luther nie. Terloops, die vorige maand, op 4 September het Luther op ‘n baie meer drasties wyse vanuit die Skrif die stryd aangesê by wyse van Disputatio-stellings. 

Dit was egter hierdie 95-stellings wat op byna onberekenbare wyse vlam gevat het en die wêreld se oë geopen het vir die skynheiligheid en valsheid van die “kerk”. Die onbybelse praktyke van die aflate (om met geld vir jou sondes te betaal) het veral die fokus gevorm terwyl die gevolg ook ander wesenlike probleme ontbloot het soos die gesag van die kerk en die gesag van die Skrif. 

Op so wyse het God self ingegryp om die aandag van menslike standpunte en opinies teenoor Sy ewige waarheid op te weeg. God se Woord kan nie gelyk gestel word aan mense se opinies en redenasies nie. God regeer Sy kerk deur Sy Woord en Gees en nie die mens nie. 

Vandag, 504 jaar later is hierdie beginsel nog net so aktueel en noodsaaklik as ooit te vore. Die wêreld waarbinne ons leef is toenemend aggressief teenoor geloof en veral die Christendom. Maar ook die Christene het verval. Elke persoon het ‘n opinie of oortuiging van die waarheid, en mense ervaar hoe die “kerk” (in die breë sin) probeer om relevant te bly in ‘n drastiese veranderende samelewing. Kerke loop leeg, gemeentes doleer en gemeentelede kwyn. 

Mag dit wees dat ons ook weer, soos Luther, en die kerk deur die eeue, sal afsien van ons eie opinies en redenasies, om terug te keer na God se Woord. Immers, ons bely dit as gereformeerdes. Dat God se Woord ons weer mag oor vorm, terug na Sy Beeld! 

Semper reformanda – altyd reformerend, ad fontes – na die bronne. 

Lourens (VDM) 

Van sterfbed na geboortekamer

Elke predikant sal seker saamstem dat dit van die moeilikste en mooiste dae in jou lewe is, as jy uitgeroep word na iemand se sterfbed en terselfdertyd word daar ‘n kindjie in die volgende saal van dieselfde hospitaal gebore. So was dit twee weke gelede weer die geval toe Oom Pat op 84-jarige leeftyd gesterf het en klein Kobus in ongeveer dieselfde uur gebore is. Vandag is Kobus een van ons dopelinge! 

Ek onthou dat destyds toe my jongste dogter in die Westville hospitaal gebore is, ek ook pastorale begeleiding moes doen by Deon, een van ons lidmate, ‘n jong pa wat besig was om aan ‘n seldsame siekte in dieselfde hospitaal te sterwe! In hierdie tye speel jou eie emosies met jou woer-woer. Een van die baie moeilike omstandighede van ons pastorale werk. 

Daarby egter ook een van die mooiste. Dieselfde evangelie van die lewe word by beide bedien. Dieselfde Here en Verlosser word aangeroep. Dieselfde genade word deur die Gees uitgedeel! ‘n Sondaar wat by sy sterwe pleit om genade. Nog een wat vasgryp aan Jesus Christus wat die dood oorwin het. ‘n Gelowige wat bely dat sy enigste troos is te vinde in sy getroue Saligmaker wat hom met sy bloed losgekoop het van die toorn van God. En dan weer die kind wat gebore word in die verbond wat God al met Abraham gesluit en in Chris-tus vervul het. Om ‘n kind in die wêreld te bring is immers ‘n yslike waagstuk. Nog ‘n son-daar gebore! Maar dan nog een vir wie die Here Jesus sy lewe as offer gegee het. In beide gevalle strek die evangelie veel verder. Verder as die sonde en die dood. 

So kan ons dus mekaar vertroos by die sterfbed én by die kraambed! 

Maar ook van die doopvont tot in die ouderdom! Die doop is nie net ‘n kinder- of baba-ritueel nie. Nee God is aan die werk. Hy alleen. Hy belowe daar aan die dopeling (klein en groot) om getrou te sorg van die wieg tot die graf! Hy neem ons as sy kinders aan en sluit ‘n lewenslange, nee nog meer, ’n ewige verbond met ons. So kan ons by die bababed en by die ouderdomsbed staan en getroos wees in die goddelike genade wat in die Woord en Sakramente aan ons uitgedeel word. 

So kan ons elke dag en heeldag bely dat ons aan Hom behoort wat ons met sy bloed ge-koop en ons kinders van God gemaak het. Ons kan dus ons hele lewe lank bely dat God getrou is, ja selfs al is ons ontrou. Hy kan Homself nie verloën nie (2 Tim 2:13). 

Groete in Christus 

Ds Maarten van Helden 

Volhard in Teleurstelling

Teleurstellings in die lewe is onvermydelik. Sommige word verwag, sommige hoop ons sal nie gebeur nie, maar die meeste kom sonder vooraf waarskuwings, soos ‘n spoedkaartjie in die pos. Ongenooide vergistings wat jou lewe bederf en jou vreugde steel. En so gereeld selfopgelegde verdriet en pyniging wat jy deur jou eie selfverwyt nie kan ontsnap nie. 

Hoeveel keer het jy nie al in jou spyt en selfmarteling jou optrede verwens en met moeite jou skande en sonde moes bely nie? “Ek kan dit net nie glo nie?” “het ek dit regtig gedoen?” 

Terwyl ek teleurgesteld sit en luister na ‘n man en vrou wie se paaie gaan skei, en elkeen hulle storie vertel van die verloop van sake, word dit tog so duidelik dat daar niemand so blind is as die een wat nie wil sien nie. 

Die teleurstelling by elkeen is so voelbaar en in my eie gemoed kan ek nie anders nie as om te dink, hoeveel keer veroorsaak ons nie self ons eie smarte nie? Hoeveel keer veroorsaak ons nie self die probleem waarby ons nie kan verby kom nie..? Hoeveel keer kon ons dinge so anders hanteer het en so anders benader het om al die teleurstelling te vermy? 

En ek wonder oor my eie lewe… Sal ek leer uit my eie foute? Sal ek leer uit ander se foute? 

Terwyl ek die jong ma vas in die oë kyk, en sien hoe die fontein van trane al droog gehuil is, is daar beslistheid in haar stem: “Ek sal nie laat hierdie ding my onder kry nie. Ek sal nie moed opgee nie.” Hoe groot haar teleurstelling ook al is, hoe sleg die toekoms ook al lyk, sal sy volhard en nie moed opgee nie. 

In ‘n oomblik flits daardie woorde van ons Here Jesus in Johannes 16 net voordat Hy sterf: “Hou goeie moed, Ek het die wêreld oorwin”. 

Mag die Here jou bewaar in jou teleurstelling. En mag jy ook sien hoe jy kan groei, en opstaan en volhard as dinge moeilik gaan. Gryp dan vas aan die beloftes van God se woord, hou vas aan die Evangelie van vreugde, die Blye Boodskap van genade en weet dat God jou nie sal los nie. 

Lourens (vdm) 

Hef op julle hoofde o poorte, ja verhef julle, ewige deure, dat die Erekoning kan ingaan

Dis nou meer as ‘n jaar dat ons kerkgang onder druk staan van regulasies en kommer weens die virus-bedreiging. Ons het daarmee probeer om mekaar te beskerm en om aan die owerheid se voorstelle gehoor te gee. Dit het egter tot groot hartseer gelei weens die klein getalle van eredienste en aanbidding in ons gemeente. Soms het ons selfs voor ‘n totaal leë kerk gepreek! Waar die eredienste die hoogtepunt van ons aanbidding van die week is en die enigste ware samekoms in eenheid van God se volk, was dit pynlik om in klein getalle en met versplinterde eredienste die beste van ‘n slegte saak te probeer maak. Ons is dankbaar vir die elektroniese uitsendings wat gedurende hierdie tyd kon plaasvind sodat ons nog steeds ons lidmate kon bereik. Maar die vreugde van ʼn erediens met koinonia en gesamentlike aanbidding het ontbreek. 

Nou het die kerkraad besluit om weer vanaf 17 Oktober net een oggenddiens en een aanddiens te hou ter wille van die herstel van die gemeentelike samekomste en die eensgesinde aanbidding van sy Naam. Ook die kategese en die koinonia (gemeenskap van die heiliges) moet weer voortgaan en almal word opgeroep om dit in die geloof te omhels. 

Alhoewel die Skrif nêrens ‘n direkte opdrag gee tot spesifieke Sondag-eredienste nie, is dit wel die verstaan van die hele Bybel dat die erediens die hoogtepunt van die week is waar God in ontmoeting met sy volk tree. So behou ons die geloof en kry Hy die nodige eer en lofprysing wat Hom toekom. Die ontmoeting met God is dus heilig en heerlik en roep sy Gees ons weekliks daartoe op, en ons gaan in gehoorsaamheid kerk toe saam met ons kinders wat Hy ons gegee het. Ons vra Hom ook om in ons midde te wees en ons te seën met sy teenwoordigheid. 

In Psalm 24 sing die koor die eerste deel as die ark gedra word tot voor die deure van die tempel. En dan kom die groter koor en sing die tweede deel: Maak oop! Die Ere-Koning wil ingaan!! En die ou stadspoorte of selfs mooiste tempelpoorte is té klein, té gewoon, té aards,… verhef julle. Verhoog julle! Maak groter oop!! Christus wil deur sy Gees in julle midde en in julle harte woon! 

So roep die Heilige Gees ons ook op om die deure van jou hart groter te maak. Die Here wil daar woon en jou seën met sy teenwoordigheid. Laat jou hele week dan een wees van uitsien en voorberei vir die volgende geleentheid om kerk toe te gaan en maak die deure van julle harte wyer en wyer oop. So sal die Here groter en groter lof ontvang en ons sal vervul raak met sy goedheid en vermenigvuldig en sy genade en vrede. 

Di Maarten, Gerrit, Lourens 

« Older posts Newer posts »