Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Kategorie: Blogs (Page 20 of 50)

God bepaal die tyd!

Pred 3:1-17 

Ons sien uit na ’n nuwe jaar. ’n Nuwe jaar met nuwe uitdagings, goed of sleg, troosvol of uitdagend, rustig of onrustig. Daar is ’n uitsien na kinders wat gebore word, kinders wat skool toe gaan, matriekjaar doen, finale studiejare ens. Daar is jongmense wat gaan trou, wat begin werk ander wat gaan aftree. Maar by dit alles, is dit vir die Christen-gelowige ’n ryke troos: God bepaal die tyd! 

God het alles in ’n bepaalde tydsorde geplaas. God bepaal alles buiten die sonde. God weet alles want Hy is alwetend. Trouens, ons lees in Psalm 139:4 “Daar is nog nie ‘n woord op my tong nie of U, Here, weet wat dit gaan wees.” 

So vra ons dikwels vir mekaar wat is jou nuwejaarsvoornemens. Ons wil so graag hierdie jaar alles inpas wat ons beplan en dink en doen. Is dit egter altyd in lyn met God se wil? 

Die Skrywer van die boek prediker, het oor baie lewensvrae geworstel. Hy het besin oor die lewe, oor oorlog en vrede, oor liefde en haat, oor geboorte en sterwe, oor planttyd en oestyd, oor lag en huil…. 

“Die Boek Prediker vra dat jy met ‘n wedergebore hart en verstand na die dinge kyk en God se soewereiniteit en beslissingreg oor alles erken. Anders bly die dinge rondom jou in werklikheid vir jou ‘n geslote boek, en God se wet met die mens bly vir jou ‘n frustrerende raaisel” (Helberg 1982:58/9). 

Ons lees in Ps 33:6 “Want wat God doen is blywend.” 

– Alles wat God doen staan vir ewig vas. 

– Dit is so bepaal in sy raadsplan. 

* God is ‘n EWIGE God. (Ps 90:2) 

* God se Verbond staan vir EWIG. (Gen 9:16; Ps 111:5) 

Omdat ons kinders van God is wat duur gekoop is, kan en mag en moet ons die lewe voluit leef, maar tot eer van God. Wat ons ookal beplan of dink of doen, kom ons doen dit met volharding met die oog op God gerig. Alles tot eer van God. Alles tot verheerliking van God. 

Mag ons ‘n 2023 beleef, waarin ons aan God, al die eer en die lof en die aanbidding, vanuit die Gereformeerde Kerk Centurion, ten volle aan God gee. 

Ds. Gerrit 

As jy min van God se lig in hierdie wêreld sien, kyk en doen radikaal nuut!

Is daar nog lig as die magte van die duisternis die wêreld om ons beheer? Juis in Desember, die maand waarin Kersfees reg oor die wêreld gevier word, kom die vraag by ‘n mens op: “Verlig die Lig wat in hierdie wêreld ingekom het (vgl. Johannes 1), regtig die wêreld waarin ons woon?” Dit lyk eintlik eerder of die magte van die duisternis die wêreld beheer. 

In 2 Konings 24-25 lees ons ook hoe die magte van die duisternis die wêreld beheer het. God se volk is in ballingskap weggevoer, koning Jojagin is in die gevangenis en sy opvolger is gevange geneem. Die laaste ding wat hierdie opvolger gesien het voor sy oë uitgesteek is, is hoe sy nageslag deur die vyand geslag word. Die kandelaar wat die ware lig wat God aan sy volk gegee het, uitgebeeld het, het nie meer in die tempel gebrand nie. Die tempel is deur die vyand afgebrand en alle skatte van die tempel is weggevoer. Die magte van die duisternis het die wêreld beheer. Die vraag is: “Skyn die ware lig nog in hierdie wêreld as die magte van die duisternis alles beheer?” 

God eis dat ons radikaal nuut sal kyk – Hy self is die lig. Hoewel 2 Konings afsluit met die donker prentjie van Israel se geskiedenis, is daar tog heel aan die einde ‘n ligpunt. Koning Jojagin word begenadig. Hy kry hoër status as al die ander konings wat in die gevangenis was, hy mag sy gevangenisklere uittrek en mag aan die koning se tafel eet. 

‘n Mens sal ‘n fout maak as jy dink dat dit (die genade wat die koning Ewil-Merodak skenk) op sigself die ligpunt was. Die koning van Israel was immers nog steeds onder beheer van die koning van Babel. Die ligpunt is egter dat God in dit wat Hy met Jojagin laat gebeur, iets van Homself openbaar. Hy laat nie werke van sy hande vaar nie. Sy beloftes staan, ondanks die “oorwinnings” van die duisternis, steeds vas. Die Een wat Hy beloof het, sal steeds kom. Die genade van Ewil-Merodak is maar net ‘n aanduiding van God se genade vir hulle wat aan Hom behoort. Wie net duisternis sien, moet radikaal nuut kyk. God self is die Lig. Al lyk dit of die duisternis alles oorheers, wie naby God leef, sal die lig hê. 

Wie die ware Lig ken, word deur hierdie lig verlig. Hoewel Babel as die mag van die duisternis opgetree het, was die groot duisternis nie by Babel geleë nie. Dit was in die harte van die mense van Juda. Hulle het God verlaat en self die duisternis binne gestap. Wie egter die ware Lig ken, word deur hierdie Lig verlig – word self ‘n lig (vgl. Mat. 5:14) wat in hierdie wêreld skyn. 

Gelowiges wat merk dat daar min van die ware lig in hierdie wêreld skyn, moet na hulle eie lewe kyk. Wanneer ek naby dié Lig leef, sal Hy wat aan my die ware lig gegee het, my ‘n lig in hierdie wêreld laat wees. Wie net duisternis sien, moet radikaal nuut doen. 

Dr Douw Breed 

Trek vyf kledingstukke aan

Kol 3:12 (’53 vertaling) “Beklee julle dan, as uitverkorenes van God, heiliges en geliefdes, met innerlike ontferming, goedertierenheid, nederigheid, sagmoedigheid, lankmoedigheid.” 

Paulus noem die Kolossense hier uitverkorenes. Wat ’n gelaaide term, wat ‘n voorreg en genade om so genoem te word. 

“Uitverkorenes van God, heiliges en geliefdes.” 

God het hulle/ons uitverkies. God het hulle/ons geheilig, afgesonder. 

God het hulle/ons lief. So, die uitverkiesing is ‘n gegewe vir almal wat waarlik in Jesus Christus glo. Die uitverkiesing is ‘n feit. Jy werk nie om dit te verdien nie. Jy moet nie iets bewys daarvoor nie. Dit is in God se soewereine groot genade. 

Met hierdie groot genade wil ons nie anders, as om dankbaarheid teenoor God te bewys nie, ‘n dankbaarheidslewe tot sy eer nie. 

God verwag dat ons lewe sal bewys dat ons uitverkies is. (2 Pet 1:10) 

Jy moet beklee word met… en Paulus noem vyf eienskappe in Kol 3:12. Hierdie eienskappe word ook in die Bybel gebruik om God en Christus se optredes te omskryf. En dit is juis hoekom die uitverkore volk ook al meer en meer hierdie eienskappe nastreef. 

Die vyf kledingstukke, wat ons geestelikgewys moet aantrek is, meelewendheid, goedgesindheid, nederigheid, sagmoedigheid en verdraagsaamheid. 

Dit is dan deel van die nuwe lewe van ‘n Christen. Dit is om in liefde teenoor mekaar te lewe en so ook jou liefde teenoor God te bewys. Dit is hoe ons dan ook as gemeente wil saamleef om God te vereer en te verheerlik. 

Mag ons ook deur die genade van God en die werking van die Heilige Gees ons so beklee. 

Ds. Gerrit 

Vol van Genade en Waarheid

Johannes, die apostel vir wie Jesus lief was, beskryf in die eerste hoofstuk van die evangelie die koms van die Christus van God met die bekende woorde: 

“114En die Woord het vlees geword en onder ons kom woon, en ons het sy heerlikheid aanskou, ‘n heerlikheid soos die van die unieke Seun van die Vader –vol genade en waarheid.” 2020-vertaling 

Met die wêreld wat om ons verlig word deur liggies en fees versierings, kan ‘n mens maklik verswelg word in die kersfeesgees van Jesus se geboorte. Almal maak planne en sien uit na die kosbare tyd in die jaar. Familie is op reis en vriende kom by mekaar. Kinders is natuurlik die heel meeste opgewonde! 

Oor Jesus se menswording kan ons nie stilbly nie. Dit het die gang van die wêreldgeskiedenis bepaal. In hierdie versie staan daar: Hy het onder ons kom woon. Daar staan in die Grieks as te ware: Hy het by ons kom tent opslaan. Hy het onder ons kom tabernakel. 

Hy het sy heerlikheid, sy glans en majesteit aan die wêreld bekend gemaak. Hierdie heerlikheid, is uniek. Dit is enig in soort. Dit is uitsonderlik. Want dit is vol van genade en waarheid. Hierdie twee begrippe genade en waarheid bring volheid. 

Genade dui op God se karakter. Hy is ‘n genadige God, wat groot is in goedertierenheid. Hy vergewe menigvuldig, maar laat nooit die sonde ongestraf bly nie. Want sy genade is nooit sonder waarheid nie. God is in sy wese self die waarheid. So maak Christus Homself ook bekend as Johannes in hoofstuk 14 beskryf: Hy is die Weg, die WAARHEID en die Lewe

Mag die Here u ook vervul met die volheid van sy heerlikheid deur sy genade en waarheid. 

Lourens (vdm) 

Verdraagsaamheid in die Christen se lewe

As Christene is dit verseker een van ons dure pligte om verdraagsaam te wees. Verdraagsaam beteken om met mekaar geduld te beoefen. Iemand beskryf dit as “geduldigheid, grootmoedigheid, lankmoedigheid, liefdadigheid, lydsaamheid, toegeef-likheid, toegewendheid en toleransie”. 

Verdraagsaamheid beteken nie om noodwendig nie standpunt in te neem en maar met alles saam te stem bloot om nie konflik te veroorsaak nie. Verdraagsaamheid beteken nie om die verkeerde, goed te keur of te tolereer nie. Verdraagsaamheid beteken om in die liefde van God, mekaar te verdra, reg te help en in liefde saam te lewe, al verskil jy ook van iemand anders. 

Om mense met minagtiging te behandel is, om ongehoorsaam te wees aan God se gebooie. Lui die spreekwoord nie: “Woorde wek maar voorbeelde trek nie” of “Die liefde oorwin alles.” Daar is vandag in die wêreld al meer onverdraagsaamheid tussen volkere, nasies, lande en selfs tussen families en Christene. Ons kyk mekaar met agterdog aan en sodoende vlieg die liefde dikwels by die agterdeur uit. 

Jesus Christus het medelye gehad met die mense. Ons lees dat by Jesus se kruisiging het Hy selfs gebid: Luk 23:24 “Vader vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie!” 

Daarom moet ons eerder vir mekaar bid as ons verskil in opinie, of siening. Ons moet bid en vra vir liefde en versoening. Dit is grootmoedig om minder te word, om nie meer te wil word nie. Dit is ‘n opdrag dat God altyd meer en meer moet word in ons lewens (Joh 3:30). 

 Mag God ons help om Hom onvervals en in opregtheid te dien. 

 Mag God ons help om in eerlikheid die waarheid na te jaag. 

 Mag Christus altyd in ons lewens die weg, die waarheid en die lewe wees. 

Ds. Gerrit 

Bely met jou mond tot redding!

Baie van ons het al vergeet wat dit beteken het om ons geloof te bely in die openbaar. Geloof het ‘n baie private saak geword. Dit is iets vir die binnekamer. Ons besef ook nie altyd hoe groot voorreg dit is om in die kerk groot te word, en nog altyd die binnekant van die kerk te ken nie! Ons is eintlik so gewoond en bekend met al die gebruike, dat belydenis en doop en nagmaal nie meer so spesiaal is nie. 

Tog is daar iets aangrypend en uitsonderlik in openbare belydenis. 

In Matteus 10:32 sê ons Here Jesus: “Daarom, elkeen wat My voor die mense bely, sal Ek ook voor my Vader in die hemele bely. 33Maar wie My voor die mense verloën, sal Ek ook voor my Vader in die hemele verloën.” 

Hierdie is aangrypende woorde. ‘n Tweesnydende swaard. Bely of verloën. Alles of niks. Lewe of dood. 

Belydenis is ‘n saak van verlossing. Dit is nie maar ‘n rand saak, ‘n middelmatige saak nie. Vir die belydenis van hulle geloof in Jesus Christus het menige gelowiges deur die eeue hulle lewens verloor. Vir hulle geloof en belydenis word daar vandag nog Christene oor die wêreld heen vervolg. So het ons ook die afgelope Sondae die aangrypende verhale gehoor van die vervolgde kerk. 

Vandag het ons weer so wonderlike voorreg om jong mense te sien wat hulle geloof in Jesus Christus voor die mense bely. Hierdie belydenis bring ook ‘n geweldige groot verantwoordelikheid daarmee saam. Nou moet jy jou belydenis uitleef. Jy moet doen wat jy sê. 

Daarvan is ook u as gemeente getuies. U dra ook ‘n verantwoordelikheid om hierdie jong mense te hou aan hulle woord. Om hulle deel te maak van die gemeente, om hulle te ontvang as broers en susters in Christus. 

Mag hierdie dag ook weer nuwe vreugde in u hart werk. Mag u weer u eie belydenis ter harte neem. 

9Want as jy met jou mond bely dat Jesus die Here is, en jy glo met jou hart dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy verlos word. 10Want met die hart glo ons, en word so regverdig verklaar; met die mond bely ons, en word so verlos. 11Die Skrif sê tog: “Elkeen wat in Hom glo, sal nie beskaamd staan nie.” Romeine 10:9-11 

Lourens (vdm) 

« Older posts Newer posts »