Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Kategorie: Blogs (Page 19 of 52)

Verootmoediging bring ons nader aan God 

Dit is ‘n noodsaaklikheid dat gelowiges God eer deur onsself nederig voor die aangesig van God te stel, om voor Hom neer te buig – om bereid te wees om verneder te word voor die kragtige hand van God. 

Waarom vorm verootmoediging so ‘n kerndeel van ons aanbidding tot God? 

In Jakobus 4:7-10 (2020) staan geskrywe: “Onderwerp julle dus aan God. Weerstaan die Duiwel, dan sal hy van julle wegvlug. Nader tot God, dan sal Hy tot julle nader. Reinig julle hande, sondaars, en suiwer julle harte, dubbelhartiges! Weeklaag en treur en huil! Laat julle lag in droefheid verander, en julle blydskap in somberheid. Verneder julle voor die Here, dan sal Hy julle verhoog”. 

Verder in 1 Petrus 5:6 (2020): “Daarom, verneder julle onder die kragtige hand van God, sodat Hy julle op die regte tyd kan verhoog”. 

In tye van swaarkry en beproewing roep die kerk soms ‘n dag van verootmoediging. Alhoewel ‘n oproep van dié aard heeltemal geregverdig kan wees gegewe die konteks van sekere omstandighede, moet daar egter daarteen gewaak word om die beweegrede vir ‘n dag van verootmoediging te plaas buite ons eie geloofslewe. Daarom geskied dit onder leiding van die kerkrade. 

Verootmoediging is vanuit die staanspoor ‘n erkenning van ons eie menslike swakheid en sondige natuur. Dit is ‘n diep betekenisvolle proses is van gereedmaking om ontvanklik te wees vir die werking van Heilige Gees in ons lewe. 

Dit is daarom dat die Kerkraad, na aanleiding van ‘n onlangse versoek om ‘n Dag van Verootmoediging aan te kondig, besluit het om ‘n gebed vir die gemeente voor te hou in die lig van die diep krisisse wat die land en sy mense te staan kom. Verder dat ons as ‘n gemeenskap van gelowiges in aanbidding die betekenis van ootmoed deur prediking herontdek, en ons nederig voor die Here te stel. 

Deur ons te verootmoedig voor die Here stel ons ons hart en siel oop, sodat die Heilige Gees in ons kan meewerk om ons nader aan God kan wees. 

Gebed 

Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u Koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons skulde, soos ook ons hulle vergeef wat teenoor ons skuldig staan. En bring ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan u behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid” 

Ons Vader, daar is niks wat ons ontvang wat nie uit U hand kom nie, daar is ook niks wat ons ontvang wat nie uit genade van U is nie. Ons as gemeente is vanoggend bymekaar om U te dien, om u Naam te loof en prys, en ons afhanklikheid tot U te verklaar. 

Maar ons is ook hier om ons voor U te verootmoedig. Ons wil ons sondes voor U bely. 

Volgens Daniël 9:10ev wil ons bely… 

“10 Ons was nie altyd aan U, Here ons God, gehoorsaam nie… 

ons het nie altyd volgens u wil gelewe nie…” 

Ja, ook ons het oortree en gesondig. Daarom smeek ons om genade en vergifnis en uitkoms. Uitkoms nie tot ons eie voordeel alleen nie, maar dat ons uit diepe dankbaarheid U alleen sal dien en aanbid. 

Ons wil U van harte dien en eer en verheerlik.Mag u hierdie oggend, en in besonder by die bediening van u Woord, seën, dat ons harte ontvanklik daarvoor sal wees en dat die Heilige Gees by ons mag wees waar ons u konkinkryk verder uitbou. 

Here, ons bid tot U in uitdagende omstandighede waar dit voorkom of die swaarkry en onsekerheid, net te veel raak. Ons bid tot U vanweë die afvalligheid van mense en die aanslag wat op u Woord is. 

Stoflik is daar ‘n algehele verval van openbare infrastruktuur, misdaad op onaanvaarbare vlakke, onverantwoordbare leierskap, die misbruik van mag, die voortslepende kragkrisis, ‘n kwynende ekonomie, onvolhoubare sosio-ekonomiese omstandighede van armes en werkloses – die lys kan aangaan. Here, dit voel asof ons uitgelewer is aan al die elemente. Al hierdie omstandighede bring verskeie beproewinge mee. 

En geestelik, Here, weet ons ook die aanslag op die Kerk en op u Woord, is nog groter – en dit kom vanuit die mens se ongehoorsaamheid aan U. U Naam word ydelik gebruik, beswadder en bespot – die beskouing van die mens asof ons in beheer is, en as die bepaler van goed en kwaad, as foutloos en sondeloos, vier hoogty. Die sondige tendens is besig om al meer momentum in die wêreld te verkry .

Here, ons draai juis daarom as ‘n gemeente na u toe U is ‘n God van liefde en
genade, u oordeel is regverdig. Ons bid daarvoor Here, dat:
• Vir die huisgesin: Mag U, u hand van beskerming oor elke huisgesin plaas, mag die
man en vrou hul unieke rol soos u in u Woord vir ons leer, nakom. Ons bid vir die
welstand van kinders, sodat kinders onderrig mag word in u Woord. Sonder kennis
van u Woord, en sonder die werking van die Heilige Gees in elkeen, sal die
uitdagings van die tyd ondraagbaar wees.
• Vir die gemeente: Ons dank u vir die groot seën in ons gemeente, vir broers en
susters wat ywerig werk om u Woord te verkondig, dat ons gemeente deel vorm van
die gemeenskap van gelowiges. Ons dank U dat u vir die gemeente so goed
voorsien en bid, gee volharding in geloof vir elkeen.
Ons Almagtige God, ons bely ons swakhede en sondes voor U en bid vir vergifnis.
Ons bid vir versterking deur die Heilige Gees omdat ons weet óns hoop is in ons
Hemelse Vader wat die hemele en die aarde geskep is, en in u Seun Jesus Christus
ons Here.
Ons bid dat ons oë op u gerig sal bly, dat ons gemoed nie deur stoflike sake afgetakel
word afvallig word in ons geloofslewe nie.
Ons bid dit in die Naam van ons Here Jesus Christus
AMEN.

Dag van verootmoeding – GKSA – 18 Junie 2023
Oudl Werner Human 

Die Apostolicum 

Die Apostoliese Geloofsbelydenis rangskik die noodsaaklike waarhede van die Christelike geloof in terme van ‘n natuurlike en logiese vooruitgang. Die orde van die Goddelike openbaring, gebou op die fondament van die Drie-eenheid, word getrou gevolg. Die belydenis beweeg van God die Vader en sy skepping na die persoon en werk van Jesus Christus – sy bonatuurlike geboorte, lewe, dood en opstanding. Daarna kom ons by die Heilige Gees, die kerk en ander toekomsgebeure. [Die Belydenis van Nicea volg dieselfde orde.] 

Die Apostoliese Geloofsbelydenis is nie ‘n logiese beskrywing van abstrakte leerstellings nie, maar ‘n belydenis van feite wat leef en red. Augustinus het na die belydenis verwys as “a brief and grand regulator of true faith”. Luther glo dat die Christelike geloof nie in ‘n korter en duideliker manier gestel kan word nie. Calvyn noem dit ‘n korrekte opsomming van die Christelike geloof. 

Hierdie belydenis is nie deur die apostels geskryf nie, maar dit verteenwoordig ‘n ware en getroue raamwerk van dit wat die apostels verkondig het. Waarskynlik is vroeë belydenisse by die doop van gelowiges gebruik. Die vroegste belydenis was kort en eenvoudig: Jesus is die Here. Hierdie vroeë en kort belydenisse word uitgebrei om die implikasies duidelik uit te bring. Ons weet ook dat die kerke in die vierde eeu almal stellings en belydenisse gebruik het om te verduidelik wat hulle geglo het. Hierdie belydenisse was almal feitlik identies. 

Drie eienskappe van die Apostoliese Geloofsbelydenis 

• Die belydenis beklemtoon dat geloof primêr vertroue in die lewende en ware God is: Ek glo in God die Vader, die Almagtige … En in Jesus Christus, sy eniggebore Seun … Ek glo in die Heilige Gees. Die belydenis sê nie dat ek dit of dat glo nie – ek glo in. 

• Die belydenis in primêr ‘n ware geskiedkundige verhaal. Kyk net na die name wat gebruik word: Maria Pontius Pilatus, Jesus. Dit verwys ook na spesifieke gebeure in die geskiedenis – Jesus se dood, begrafnis en opstanding. Dit berus op werklike geskiedkundige gebeure. Die belydenis is nie abstrakte teologie nie, maar goeie nuus. 

• Die belydenis praat van die Drie-eenheid lank voor ‘n kerkvergadering hierdie leer bespreek het. 

Alle kerke behoort die belydenis te gebruik, maar dan nie as ‘n gewoonte nie, maar as ‘n uitdrukking wat ons geloof bevestig. (Oorgeneem.) 

Ds Maarten 

Opus Dei 

Hierdie Latynse woorde beteken “die werk van God”. Ons kan dit ook beskryf as die “heilige dienswerk aan God”. Die erediens en die heiligheid van God moet nie net in die “kerkdiens” wees nie, maar dit omvat die volheid van ons lewe. 

Die lewe is ‘n erediens. Ons ganse bestaan moet in die heiligheid van God wees. Om egter in die erediens God te ontmoet, is uitsonderlik. Dit is ‘n heilige ervaring. Daarom mag ons nie maar net “opdaag vir kerk” omdat ons gewete aangespreek voel nie. Ons moet onsself geestelik voorberei. Ons moet daarna uitsien, en opgewonde raak oor die teenwoordigheid van God onder sy kinders. 

Deur die eeue is daar geworstel en gesoek na wat die ontmoeting van die heilige God in die erediens behels. In die ou bedeling was die erediens afgesonder vir die priesters en Leviete. Dit het hoofsaaklik gehandel mbt die offerdiens. God was as te ware “toegemaak” en bedek in die tabernakel se allerheiligste. Hy was die verborge God wat nie in sy heiligheid deur sondaars genader kon word nie. En tog het Hy ge-tabernakel onder sy volk. 

Daarvoor moes die weg na die allerheiligste eers oop gebaan word. Dit kon die priesters uit die Aäronitiese orde nie vermag nie. Hulle kon ook net vir hulle eie sonde versoening doen en nie self betaal vir die sondes van die volk nie. 

As die Sondelose Lam geslag word, op die altaar voor God in die hemel, dan is Hy alleen waardig. Vir sy verlossing moet Hy geloof en geprys word. Nie net op ‘n dag in die week nie, maar elke dag van ons hele lewe. Hy het immers die voorhangsel middeldeur laat skeur om ons toegang tot die allerheiligste God in die hemel moontlik te maak. So word die Here ons geregtigheid. Hy herstel ons lewende verhouding met die Almagtige. 

Nou kan ons ‘n nuwe lied sing: 

Aan U o Lam van God, kom die lof en aanbidding vir ewig. 

Lourens (vdm) 

JESUS OF APHRODITE 

Dit is nie om dowe neute dat ons die mooiste hoofstuk oor die liefde in die boek Korintiers aantref nie (1 Kor 13). In die antieke Griekse wêreld het elke stad spesifiek een van die griekse gode aanbid en gesien as die beskermgod van daardie stad. In Korinte was dit Aphrodite. Sy was die godin van die liefde en skoonheid en verleiding. As ons egter beskou wat haar idee van die liefde was en hoe hulle in praktyk haar aanbid het, dan besef ons dat dit nogal vér verwyder is van die goddelike of Bybelse verstaan daarvan. God se liefde word gewoonlik uitgedruk in die selfverloënende begrip van “agape”. Ons sien sy liefde in die offergawe van sy eniggebore Seun, ons Here Jesus Christus. 

Aphrodite het egter die woord ‘eros’ gekies as haar beskrywing van die ware liefde. Eros het oorwegend die betekenis van die liefde vir die bevredigng van die eie lus en begeertes. Ek het jou lief vir wat jy vir my doen en beteken. Ek het jou lief vir jou geld of jou status of veral vir hoe ek seksueel bevredig kan word. Die afgod Eros staan haar dan ook by in haar optrede. Geen wonder nie dat die mense gedink het dat hulle haar dien in ware liefde as daar orgies en promiskuïteit plaasvind nie. ‘Porneia’ of pornografie is ook deel van die opwekking van die liefde waarvoor Aphrodite staan. Gevolglik word sy gesien as die godin van vrugbaarheid en was tempelprostitusie een van die bedrywe wat by haar afgodery plaasgevind het. In Korinte is daar destyds drie tempels aan hierdie afgodery gewy en met meer as 1000 tempelprostitute is die stad dikwels die ‘Amsterdam van die antieke wêreld’ genoem. Die heidene het selfs skaamtelose openbare seks voor haar beeld beoefen. 

Daarteenoor kom Paulus en leer die gemeente van Korinte dat ware liefde nie op die self gerig is nie. En uiteindelik beskrywe Paulus deur die Heilige Gees dat die christelike en heilige liefde wat van God kom, altyd op die opbou van die ander en die eer van God gerig is: “Die liefde is geduldig, vriendelik, nooit jaloers of verwaand nie. Dit is bly oor die waarheid en bedek alles, glo alles en hoop alles. Hierdie liefde vergaan nooit” (1 Kor 13). 

Wie dus kies om die Here Jesus te aanbid en te dien, kies ook om afstand te doen van die ponografiese en skaamtelose selfbevredigende liefde. Ook vandag nog met al die versoekings op die internet en sosiale media, moet ons maar elke dag weer kies om die Here Jesus te dien. Hy is immers alleen God. En God is liefde. En Hy het sy liefde deur die Heilige Gees in ons harte uitgestort! Dien mekaar dan in hierdie liefde van God. 

Ds Maarten 

Bekyk die stad van God – Ps 48:13 

“Gaan om die stad Sion, trek reg rondom, tel sy torings, bewonder sy mure, bekyk sy versterkings” – Ps 48:13 

As ‘n mens na Israel gaan toer en as hoogtepunt op die Olyfberggaan staan en die berg Sion bekyk met die ou stad Jerusalem, dan speel die geskiedenis van die stad van Dawid en die bou van die tempel en die verwoesting daarvan voor jou geestesoog af. Jy sien die ontsaglike mure en fortifikasies en dan word jou gees weggevoer na die nuwe stad Jerusalem (Openb 21 en 22). 

Dit vra egter dat die toerleier jou help om nie by die uiterlike stad stil te staan nie… Jy word herinner dat die kerk/gemeente van God die eintlike stad van God is. 

Die kerk van vandag is die ou Jerusalem, vol gebrokenheid en sonde. Daardie kerk se toekoms is om deur die heiligmaking en groei van die geloof uiteindelik die ware Jerusalem te word: geheilig in die bloed van Christus, skoongewas soos ‘n bruid wat vir haar man versier is (Op 21:2). 

Kyk dan na die kerk van vandag en sien haar skanse en toringtranse: ‘n vestingstad vir die kinders (volk) van die Here; ‘n skuilplek in ‘n wilde en wrede wêreld. Die aanslae is groot en die versoekings geweldig. In die kerk is daar skuilplek teen die bose en sy aanvalle. 

Bekyk dan Jerusalem se mure (skanse) en torings en paleise: Elke huwelik en gesin is ‘n pragpaleis en fort waarin ons, ons veiligheid en krag en vrede vind. Daarom moet u en ek ons huise en huwelike met alle mag teen die vernietigende krag van die bose beskerm. Daar is skuilplek in die kerk en sy bediening. Elke Bybelstudie en Bybelskool en kleingroep en huisgodsdiens en huisbesoek is ‘n vesting om na toe te vlug, waar ons weer krag by die Here kan vind. Die heilige eredienste en kategese is soos ‘n versterkende besoek aan die tempel waar die Here onder sy volk woon. Jou geestelike vriende en broers en susters is jou stuwalle en fortifikasies waardeur ons weerstand teen die bose opgebou word. 

Gaan deur die gemeente van Centurion, bekyk wat die Here gedoen het vir hierdie gemeente en wees bewus van die wonderlike genadegawes wat die Here aan ons elkeen gegee het. Bewaar jou lidmaatskap (attestasie) met ‘n heilige erns deur nie net ‘n meeloper en toeskouer te wees nie, maar deur jou gawes tot nut en voordeel van die liggaam van Christus aan te wend. 

Bekyk hierdie stad as heilige vesting. Doen dit biddend. Dankend. Bid vir jou ampsdraers en leraars en medegelowiges. Dra die bediening op in gebed en weet dat ook gelowiges van die breër kerkverbande saam met ons in dieselfde stryd (en belydenisse) staan as medewerkers en mede-arbeiders en medestryders in die koninkryk van God. 

Laat Sionsberg weerklink van vreug! 

“Aanskou die stad met skanse, 
Paleise, toringtranse – 
hoedat hul pryk met nuwe prag. 
En meld dit aan die jong geslag…” 
(Ps 48:5 berymd) 

Ds Maarten 

Die vrug van jou arbeid 

Ps 128 

Ons helmelse Vader en sy Seun druk ons dit op die hart om God lief te hê met, onder andre, al ons kragte. Liefde vir God is dus nie net ‘n gevoel in die hart of ‘’n vlugtige gedagte nie. Ons liefde vir God word ook gesien in die wyse waarop ons ons werk doen. 

Die Here maak ‘n belofte aan sy mense: Die vrug van jou arbeid sal jy geniet. Arbeid word nie gekwalifiseer nie. Dit wil sê. Die gelowige sal die vrug geniet van alles wat hy doen. Maar daar is ‘n voorwaarde aan hierdie belofte. Die voorwaarde is opgeneem in die eis wat die Here stel: Dit gaan goed met elkeen wat die Here dien en sy wil doen. 

Wie dus al sy werk binne en buite die huis – ‘n groot taak of sommer net ‘n stukkie sleurwerk – doen met die wete dat hy die Here daarmee dien, en hy doen dit soos die Here en nie vir mense nie, sal die vrug van sy arbeid geniet. Die mens wat sy arbeid sien as ‘n gelowige antwoord op die Here se genade, wil sy werk so doen. 

Gelowiges weet immers dat hulle werk alleen maar ‘n antwoord kan wees op God se werk. Omdat God Hom in Christus oor ons ontferm het en barmhartigheid aan ons bewys het, wil ons dankie sê. Ons arbeid is deel van ons dankie sê en ons doen dit soos vir die Here, want Christus het sy Vader se wil uitgevoer toe Hy ons – die uitverkorenes – deur sy soendood gered het. 

Ons aan wie die Heilige Gees die geloof gee, is die vrug van sy arbeid wat Hy geniet – ons loof en prys Hom en sy Vader. 

Geneem uit die Almanak 2013 (Ds CCA Vrey) 

« Older posts Newer posts »