Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Kategorie: Blogs (Page 21 of 52)

Koningskinders: Die huis op die Rots 

Eerskomende Woensdag vertrek ons gemeente op ons tweede koningskinderskamp na Udolpho Rivierplaas. Ons het ongeveer 100 kinders genooi uit ons gemeenskap hier in Centurion vanuit die verskillende laerskole. 

Vir baie van hierdie kinders is dit die eerste keer in hulle lewe wat hulle op ‘n kamp gaan. Die laaste drie jaar het ‘n nog swaarder las op baie gesinne geplaas wat dit glad nie kan bekostig om enigsins van die huis af weg te kom nie. 

Daar is ongeveer 50 lidmate uit ons gemeente wat saam op die kamp gaan as groepleiers, kosspan, triekfabriek en sommer net algemene hulp. Daarby het nog tientalle lidmate gehelp om al die middele in te samel wat ons nodig het om hierdie kamp moontlik te maak. 

Daar is sjampoe in botteltjies afgemeet, lekkergoed pakkies gepak, handpoppies gemaak en koekies en beskuit gebak. Daar is te veel om op te noem om te kan dankie sê. Vir elke lidmaat wat hand uitgereik het, ons innige dank. Maar dan moet ons ook dit sê: hoe sê ons dankie as ons doen wat ons as gelowiges moet doen. Dit is tog ons roeping om die evangelie uit te dra. 

Daarom gaan ons ook vir elkeen wat nie ‘n Bybel het nie, hulle eie Bybel gee. Ons tema hierdie jaar is: die huis op die Rots gebou. Ons gaan vanuit God se Woord ondersoek hoe ‘n huis lyk met goeie fondamente en wat gebeur met ‘n huis wat nie goeie fondamente het nie. 

Dit geld ook vir ons gemeente en ons elkeen se eie lewe. Ons moet lewende stene wees gebou op die fondament, die Hoeksteen, Christus. As die Here wil sal ons volgende Sondag, almal saam hier die erediens bywoon, as die hoogtepunt van ons kamp. 

Mag die samekoms van die gelowiges, ook vir jou die hoogtepunt wees waar elke nuwe week begin, om jou huis op die Rots te bou. 

Lourens (vdm) 

ONS FINANSIËLE GODSDIENS

Niemand hou baie daarvan om by die kerk oor geld te praat nie. En die duiwel loop en vertel die leuen dat almal by die kerk net jou geld wil hê. Die waarheid is egter dat die kerk nie jou geld wil hê nie, maar dat jou geld en als wat jy het aan die Here behoort! Hy vra na jou tiendes ter wille van die bewyse van jou geloof en liefde vir Hom. 

In die kerklike praktyk van ons gemeente het ons dus oor baie jare die gewoonte om maandeliks (of jaarliks) jou KERKLIKE BYDRAE aan die Here te gee deur dit aan die kerkraad oor te betaal vir die instandhouding van die bediening van die Woord (predikante, kerkgeboue ens). Hierdie is die vernaamste deel van jou dank teenoor die Here wat materieel vir jou voorsien. 

Vra gerus die kantoor of u wyksouderling vir die vorm om dit per debiet order te gee, dan slaan ons nie so maklik ‘n betaling oor nie en dat ons nie die Here van sy tiendes beroof (Maleagi 3:8) en die gemeente laat skade ly nie. Laat ons ook nie die kerkraad se versoek tot jaarlikse verhogings van ons maandelikse bydraes vergeet nie. 

[U moet deeglik kennis neem dat die ZAPPER-bydraes nie hierheen gaan nie, maar na die diakonie] 

Benewens jou kerklike bydraes behoort ons ook in ons liefdesgawes goed by te dra vir die versorging van behoeftiges en noodlydendes. Daarvoor gaan die KOLLEKTES ONDER DIE EREDIENS (ook Zapper-betalings) en die DIAKONIE samel so die gawes in en deel dit met groot versigtigheid uit. Die diakonie administreer ook nog die Skephoopfonds, wat tans dormant is. 

Verder is daar spesiale KOLLEKTES WAT BY DIE KERKDEURE opgeneem word vir spesiale aksies in die kerk en kerkverband. Elke Kommunikaatjie gee daardie besonderhede. 

Hiernaas is dit verder gewens dat elkeen in sy/haar TESTAMENT verdere bemakings doen vir sake van die kerk en koninkryk van Christus, aangesien erfgename nie geneig is om ook daarvan tiendes te gee nie. Oor die algemeen sal dit van pas wees dat ons tydens enige ‘bonusse’ wat die Here ons laat toeval ons ook daarvan spesiale skenkings in die diens van die Here kan maak. Die Here het immers ‘n blymoedige gewer lief! (2 Kor 8 en 9). 

Ds Maarten 

Coram Deo

Hier staan ek, ek kan nie anders nie, mag God my help” So lui die bekende woorde van Luther op die Ryksdag van Worms. Dit was nie soseer die Keiser of die Pous wat Luther tot hierdie getuienis gebring het nie, maar die Woord van God en die werking van die Heilige Gees wat sy gewete gebind het aan die Waarheid! 

Tydens die afgelope week se 5de sessie van die Pastorale Versorgingskursus, was die tema: Coram Deo. Dit beteken: voor die aangesig van God. Elke mens moet voor die aangesig van God staan, en jou verantwoord oor jou optrede. 

Soos Luther, word ons nie net gedaag voor ‘n regter nie, maar voor die Regter. So het gelowiges deur die eeue heen, soms fisies voor God gestaan en beloftes ontvang of opdragte gekry. Wanneer ons as gemeente op die “Jom Jahwe”, die dag van die Here bymekaar kom, dan staan ons ook Coram Deo. Eerskomende week gaan ons die Nagmaal van die Here gedenk, deur saam aan die tafel van die Here deel te kry. 

In die Nagmaalsformulier word dit eksplisiet voorop gestel dat elke gelowige hulleself waarlik moet self ondersoek, dit is dat elkeen sy/haar: 

1. denke ondersoek: dink na oor jou sonde en vervloeking 

Reaksie: verootmoedig jou voor God 

2. hart ondersoek: Glo jy die vaste belofte van God 

Reaksie: Slegs Christus kan jou sondes vergewe en God se geregtigheid skenk 

3. gewete ondersoek: Wat is jou voorneme van vergifnis 

Reaksie: Bewys dank aan God en leef opreg deur te vergewe en jou naaste lief te hê 

Stel jouself op die proef, of soos Paulus aan die Korintiërs skryf in 2 Kor. 13:6 “Ondersoek jouself of jy uit die geloof is” Mag jy in die spieël van God se wet kyk en sien dat jy sonder Christus niks is nie. Kom dan na die Nagmaal, haastig, kruisig jou ou sondige natuur saam met jou Verlosser, sodat jy saam met Hom begrawe kan word in die dood van die sonde. Staan dan op, en leef in ‘n nuwe lewe, deur die krag van Sy sterkte Coram Deo… 

Lourens (vdm) 

Is jy gereed?

Nog ‘n geweldige ramp het die wêreld geskud. 

Op 9 Februarie 2023 om ongeveer 4uur die oggend vroeg, terwyl die meeste mense nog vas aan die slaap was in hierdie winternag in Turkye en Sirië, het ‘n aardbewing van 7.8 op die Richterskaal, opgevolg deur ‘n tweede skudding van 7.7, dood en verwoesting gesaai. Die syfer tot op vandag waar ek hier skryf reken daar is meer as 41 000 reeds mense dood. Steeds word mense na meer as ‘n week nog lewend onder die hope puin van die meer as 7000 hoë geboue wat geval het, uitgehaal. Die hartseer en pyn van hierdie landstreke raak die harte van meeste mense regoor die aardbol, en daar word op allerlei wyse gesimpatiseer en met noodleniging onder moeilike omstandighede gehelp. 

Ek moes dadelik dink aan die versie in Ef 5:14-20 …“Daarom sê die lied: ‘Word wakker, jy wat slaap, en staan op uit die dood; en Christus sal jou lewe verlig.’ Wees baie versigtig hoe julle lewe: nie soos onverstandige mense nie, maar soos verstandiges. Koop die tyd uit, want ons lewe in ‘n goddelose tyd. Moet daarom nie onverstandig optree nie, maar probeer te wete kom wat die Here wil dat julle moet doen. Moet julle nie aan drank te buite gaan nie; daarmee gaan losbandigheid gepaard. Nee, laat die Gees julle vervul, en sing onder mekaar psalms, lofgesange en ander geestelike liedere; sing met julle hele hart tot eer van die Here. Dank God die Vader altyd oor alles in die Naam van ons Here Jesus Christus.” 

Die aardbewing se emosionele, finansiële en psigiese gevolge is onmeetbaar op enige skaal. Ons harte gaan uit na elkeen wat die pyn van soveel verlies in die volgende weke, maande en jare moet probeer verwerk. Wat ons egter wel weet is dat ook hierdie ramp deel uitmaak van die tekens van die naderende koms van Jesus Christus op die wolke van heerlikheid (Mat 24). 

In ‘n wêreld waar ons konstant herinner word aan die tydelike en verganklike bestaan wat ons ons hier beleef, moet ons ons oefen om ons harte te fokus op die onverganklike God en sy ewige beloftes! Mag die Woord ons onwankelbare fondasie wees. Mag ons ons oë rig op die ewige gebou in die hemel wat God vir ons voorberei het. Want Jesus is aan die kom en die verwoesting van sy oordeelsgloed sal veel erger wees as enige katastrofe wat hierdie wêreld in sy hele bestaan beleef of gesien het. Hy sal sy dorsvloer deur en deur skoonmaak, en sy geliefde uitverkorenes red soos brandhout uit die vuur. 

Laat ook hierdie aardbewings van Turkye vir ons ‘n herinnering wees dat Jesus oppad is, en aan die vraag of jy daarvoor gereed is. 

Is jy nog aan die slaap of is jy wakker en gereed?

Ds Maarten 

Terugrapportering oor die Sinode 2023 Diakonale sake-SDDS

Op die Sinode is daar meer as tweehonderd en vyftig sake ter tafel geneem en bespreek. Sommige sake kon vinnig en deeglik afgehandel word en ander sake het baie tyd geneem omdat daar bespreking, besinning en deeglike navorsing gedoen moes word voordat daar tot besluite gekom kon word. 

Ons poog om die volgende paar Sondae terugvoer te gee oor van die belangrikste sake wat bespreek is. 

Die eerste saak waaroor ons wil terugvoer gee, handel oor Diakonale sake. Die naam daar-voor is die SDDS wat staan vir die Sinodale Deputate vir Diakonale sake. Die deputate hou toesig oor die volgende sake: 

  • Paul Kruger kindershuis in Pretoria. 
  • Paul Kruger kinderhuis in Reddersburg. 
  • Glenzicht aftreeoord in Oakdene Johannesburg. 
  • Noodtoestande. 
  • Bystandsfonds volgens Kerkorde art 25. 

Hierdie deputate werk baie hard om toesig te hou, raad te gee en te help om die kinderhuise so te bestuur dat die kinders ‘n veilige tuiste het en in die vrese van die Here te mag opgroei. Elke kinderhuis het plek vir ongeveer drie-en-sestig kinders. Glenzicht aftree-oord was ontwikkel op die terrein van die destydse kinderhuis in Johannesburg wat al jare gelede gesluit het. Uit diè opbrengste word die kinderhuise ook onder andere gesubsidieer. Verder help die deputate ook as daar nood in die land is soos droogtes of vloede of rampe. Die hulp gaan ook verder na broers en susters in die buiteland. 

Hierdie deputate werk ook nou saam met al die diakonieë in die land, ook met die diakonie van Centurion, om te help waar daar nood is, om ander diakonieë in nood by te staan en om konferensies te reël vir die nodige toerusting en opleiding van diakonieë. Hier in Pretoria is ons diakonie ook baie betrokke met leiding om met ander diakonieë te skakel vir gekoördineerde hulp in die stad, nie net aan die kinderhuise nie, maar ook aan ander inrigtings waar daar nood is. 

Ons het met groot dankbaarheid kennis geneem van hierdie kosbare werk wat gedoen word en ons vra ook dat u as gemeente altyd voorbidding sal doen vir ons diakonie, maar ook vir hierdie deputate se werk. 

Ds. Gerrit 

Algemene Sinode 2023

Die erns en toewyding waarmee die afgevaardigdes bymekaarkom is verblydend. Daar word met groot erns gewerk. Dit is altyd opvallend hoeveel vooraf werk daar gedoen is. Die werk van die Sinode word deurentyd gedoen deur deputaatgroepe wat aangewys word om die sinode te adviseur. Voortdurend is deputaatgroepe, dominees, ouderlinge, broeders en susters, talle lidmate besig om in die kerk van die Here te werk. Om kerk te wees behels veel meer as om net op Sondae bymekaar te kom. 

Die erns waarmee die afgevaardigdes die verslae deurgaan en bespreek is opmerklik. Alles word deesdae elektronies gedoen en daar is bykans 800 bladsye wat deurgewerk is. 

Die vergadering het elke dag om 08:00 begin en menige aande tot 21:00 aangegaan. Daarna moet daar nog voorberei word vir die volgende dag. Die werk is dan nie klaar nie maar daar word weer werk uitgedeel vir verdere studie en aanbevelings tydens die huidige Sinode en/of om voor te berei vir die volgende Sinode oor drie jaar. Die kerk van die Here moet altyd reformerend en relevant bly in die huidige wêreld. 

Daar is altyd groot uitdagings vir die kerk. ‘n Groot uitdaging is die finansiële uitdagings. Dit mag egter nooit in die pad staan van werklik kerk-wees tot eer van God nie. Die Here voorsien altyd, sodat die werk gedoen kan word. 

Dit is ‘n baie lang en intensiewe vergadering. Die vergadering is ook nog nie verby nie maar gaan virtueel hierdie komende week nog aan waar ons aanlyn die vergadering verder sal voer. Dit gaan ook uitdagend wees as ‘n eerste keer. 

Ons moet nooit ophou bid vir die kerk van die Here nie. Die belofte van God staan vas: Mat 16:18 “En Ek sê ook vir jou: Jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek my gemeente bou, en die poorte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie.” 

Wat ‘n voorreg om deel te wees van hierdie vergadering te wees. 

Bly voorbidding doen vir die kerk van die Here, maar in besonder ook vir die vergadering. 

Ds. Gerrit 

« Older posts Newer posts »