Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Kategorie: Blogs (Page 1 of 49)

 Ken Hom

Die meeste van ons se kontakte lys op ons telefoon is honderde, soms duisende mense. Sonder huiwering sal ons iemand wat ons ontmoet of dalk groet sommer gou as kontak stoor, want jy ken mos nou nie die persoon. Ons menslike begeerte is om geken en erken te word. Dit is deel van ons menswees, en ingebore in ons wese. 

Tog is daar min mense wat ons regtig “ken”. Die meeste is kennisse, maar nie bekend nie. In die aanlyn-wêreld is dit maklik om iemand vandag te leer ken en te sien waar hulle vakansie hou, watter kos hulle eet, watter stokperdjies hulle het. Jy kan sien wat mense “like”. 

Die vraag is of ons God ook so kan ken? 

Die Bybel is die “facebook” van ouds waar ons God se doen en late, sy woorde en wil kan leer ken. Die vraag bly egter, of jy Hom ken? Dit beteken om meer as net die Tien Gebooie te kan opnoem of om die Bybelboeke in volgorde te sê. 

Om God te ken, beteken om in ‘n lewende verhouding met Hom te wees. Om God te ken is om te doen. God is tog baie meer as net ‘n kennis, of nood nommer as jy in die moeilikheid is. 

Om God te ken is om Hom lief te hê. En liefde bedoel omgee. Om te eerbiedig wat vir iemand belangrik is. Om heilig met iemand te leef. So wil God dat ons heilig met Hom leef, in liefde. Dit is immers die vervulling van die wet. 

Dit is die bedoeling van die koms van die Geliefde Seun van God. Hy het nie net gekom om te sê Hy is lief nie, Hy het sy liefde met die daad bewys. Hy het daad by die Woord gesit. Dit bring die versekering van God se liefde en trou teenoor sondaars! As ons Hom leer ken, kom daar vrede en vertroosting en vreugde en vervulling. 

Hoe wonderlik is dit om God te mag ken! 

Lourens (vdm) 

 Verloste strydende sondaars

 Die vraag is hier of gelowiges wel nog ‘sondaars‘ genoem kan word. Kinders van God sondig tog nie meer nie! (1Joh3) Wie verlos is het immers oorgegaan van die koninkryk van die bose na die koninkryk van God. Ons behoort aan Christus wat ons van die sonde verlos het. Hoe kan ons dan praat van onsself as ‘sondaars’ en as mense ‘wat die dood/hel verdien’? Dit klink alte veel na ‘n kontradiksie in homself. Sommige mense wil glad nie so van hulself praat nie. Dit sou te negatief wees. Dus gaan hulle eerder daartoe oor om die goeie eienskappe van die gelowiges te beklemtoon. Dit laat mens darem bietjie beter voel. 

Paulus sê egter in 1 Tim 1:15: “Dit is ‘n betroubare woord en kan sonder voorbehoud aanvaar word: Christus Jesus het in die wêreld gekom om sondaars te verlos. Van hulle is ek die grootste.” As Paulus homself dus ‘n sondaar noem, behoort ons dit seker ook te doen. Hy noem homself selfs die grootste sondaar! Hy verwys hierna sy verlede dat hy die kerk van Christus vervolg het (vgl 1Kor15). Hy dra selfs nog smarte van sy verlede, alhoewel hy weet dat God volkome vergewe het. Kyk mooi hoe Paulus nie sê “ek was die grootste” nie, maar hy sê “ek is“! 

Om jouself ‘n sondaar te noem is geen ontkenning van wat Jesus vir jou gedoen het nie. Om te sê dat jy ‘die hel verdien’ is die waarheid, alhoewel jy weet dat dit ter wille van Chtistus nie sal gebeur nie. 

Ons is sondaars want ons doen sonde. Verloste, weergebore geredde kinders van God doen elke dag nog steeds sonde, maar hulle glo en ken die evangelie dat God hierdie sonde, om Jesus wil, nie gaan toereken en ons gaan veroordeel en ewig straf nie! Dis die goeie nuus. Die stryd teen die sonde duur dus voort. Kinders van God doen nie meer sonde nie, sou dus eerder wil sê hulle doen (hopelik) ‘minder’ sonde. Hulle voer die stryd/geveg teen die sonde. Hulle hou nie aan met sondig nie. Hulle hou nie aan nie… hulle hou eerder daarmee op! En as jy dus nou minder vloek as laasjaar, is dit wonderlik, maar nou moet jy ook begin seën en goed doen, ja selfs aan jou vyande. Dan is jy ‘n sondaar, maar ‘n strydende en oorwinnende sondaar wat daagliks leef in bekering en berou en in gebed om genade en vergifnis. 

Om daagliks te onthou dat ek die ewige straf oor my sonde verdien, laat my ook daagliks met dank besef dat ek deur Christus nie verlore gaan nie. En vir ewig, ja ook in die hemel, sal ons onthou dat ons die ewige dood verdien, maar NIE daaraan uitgelewer sal word nie. Dit sal die grond/rede wees vir ons lof aan God, nou en in die ewigheid. 

“Aan Hom behoort die heerlikheid, tot in alle ewigheid. Amen”

Ds. M. van Helden 

 Sinode 2026 Terugvoer

 Tydens die afgelope Algemene Sinode 2026, is daar meer as 100 besluite geneem oor sake wat die kerke raak. Daar is veral baie aandag gegee aan die opleiding van predikante, wat weens die NWU se onttrekking, in die spervuur beland het. 

Die eenheid van die GKSA, of te wel die kerkverband, is geskoei op gesamentlike Skrifgefundeerde besluite, wat met meerderheid stemming bepaal word wanneer afgevaardigdes van verskeie selfstandige gemeentes, van tyd tot tyd bymekaarkom (klassis of sinode). Wanneer verskeie selfstandige kerke vergader, word dit geag as ‘n meerdere vergadering. Die spesifieke sinode moet sake ondersoek en opdragte uitvoer en saam biddend onder leiding van die Heilige Gees besluite neem in die lig van die Skrif, belydenis en kerkorde, waarna die sinode weer ontbind. 

Die Gereformeerde Kerke is in Christus aan mekaar in eenheid verbind ingevolge die hierdie besluite op grond van die Skrif, belydenis en kerkorde, wat in die verskeie artikels ten doel het om goeie orde in die kerk van Christus te onderhou (sinode besluite is volgens Art 31 KO bindend vir alle kerke in die kerkverband). 

Die sensitiewe saak rondom vroue in besondere dienste is al verskeie jare deur die Algemene Sinodes ondersoek en het sedert 1988 studies, besware en appèlsake aangehoor. ‘n Spesiale Sinode in 2009 het tot die gevolgtrekking en besluit gekom dat vroue nie in die amp van leierskap dws ouderlinge en predikante mag dien nie, maar wel in die diakonale amp. Hierdie saak het weer gedien op verskeie opvolgende sinodes van 2015, 2018 en 2023, waar die gevolgtrekking en besluit telkens weer bevestig is. Hierdie saak het nie weer op vanjaar se sinode gedien nie. 

Die opdrag aan Sinode 2023 was om in 2026 advies te gee oor kerke wat nie sinodebesluite as bindend ag en daarby hou nie. Die Sinode 26 het as volg besluit: 

Die nie-onderhouding van Sinode besluite insake VIDA kom neer op self-losmaking van die kerkverband. Kerke word opgeroep om hulle te bekeer en in gehoorsaamheid aan Christus sinode besluite te handhaaf. 

Die sinode roep kerke, wat hulle nie aan die sinodebesluite insake VIDA hou nie, op om die eenheid in die kerkverband te soek en te beleef. Aan die betrokke kerke word ‘n jaar tyd gegee om hulle besluit om vroue in die ouderling amp te bevestig terug te trek …” 

Die Algemene Sinode het dus besluit dat gemeentes volgens Art 31 KO by die sinodebesluite moet hou of die kerklike weg moet volg, terwyl daar op pastorale wyse met hul omgegaan moet word om binne die volgende 12 maande die besluite te eerbiedig. 

Aangesien GK Centurion, as bruid van Jesus Christus, haarself nog al die jare met sinodebesluite vereenselwig, het hierdie kwessie rondom vroue in besondere dienste geen direkte impak op ons gemeente se bediening nie. In ons strewe na eenheid in die kerk, sal dit egter diepe hartseer veroorsaak en betreurenswaardig wees indien kerke as gevolg hiervan van die kerkverband wil afskei. 

Die kerkraad besef dat hierdie besluit na aan die hart van sommige lidmate is en diepe ontsteltenis kan veroorsaak. Ons versoek u in liefde, dat indien jy onseker voel of ontsteld is oor die besluit van die sinode, om eerder te fokus op die bediening van die GK Centurion en die uitbreiding van die Evangelie in ons gemeenskap. 

Mag ons die eenheid in die kerk van Christus altyd kosbaar ag en mag ons troue Koning ook hierin sy kerk bewaar. 

U broers in Christus 

Die kerkraad 

 “Gaan dan en maak dissipels van alle nasies…”

 Tydens die afgelope sinode het ek al opgemerk dat daar ‘n groeiende bekommernis is oor die voortbestaan van ons kerkverband. Dalende getalle van lidmate én kerke is ʼn realiteit. Die oorsake kan natuurlik veelvuldig wees, maar dit wil tog ook voorkom of die Doppers van die GKSA nie baie missionêr gefokus is nie, en die kerk dus nie baie groie deur nuwe gelowiges wat hulle uit die heidendom by die kerk voeg nie. 

Calvyn het destyds al gesê dat ‘n kerk wat nie sendingwerk doen nie, ‘n dooie kerk is! Kyk ons na die kerkverband in die algemeen dan is ons nie so baie ingestel op dissipelskap of evangelisasiewerk soos dit moet nie. Dit voorspel niks goeds vir die toekoms nie. 

GK Centurion word tans demografies deel van ‘n gebied waar woonstelle soos paddastoele verrys en die invloei van mense wat uit alle nasies kom, kom woon hier by ons voordeur! Hier is ‘n gulde geleentheid om aan die Groot Opdrag van Jesus gehoorsaam te wees. 

Die kerkraad het gevolglik laasjaar besluit dat die Evangelisasie Kommissie meer moeite moet doen om die gemeente op te wek en te motiveer en toe te rus vir hierdie evangeliseringstaak. Gevolglik begin die Bybelskool eerskomende Dinsdagaand om 19:00 met bogenoemde tema. 

Sprekers soos Prof Henk Stoker en Naas Ferreira en dr Brian DeVries sal ons tema oor die volgende paar weke lei. 

Kom gerus en woon die Bybelskool van Centurion by vir jou persoonlike geestelike groei en vir ons gehoorsaamheid aan die hoë roeping van Christus, ons Here en ons Verlosser. (Kyk die advertensie in die Blaadjie.) 

Sien jou daar. 

Ds Maarten 

Uit Hom, Deur Hom, Tot Hom, Aan Hom

 Hierdie woorde van ons jaartema is nie net ‘n mooi beskrywing van die werk van die Almagtige Drie-enige God nie, dit is in besonder ‘n bemoediging in swakheid en herinnering van ons eie broosheid, dit is ‘n aansporing tot diens en vertroosting van ons eie onvermoë, dit is ‘n versterking in nood en ‘n fondament van ons bestaan, dit is ‘n hoop vir ons siel en ‘n versekering van ons geloof. 

Alles wat ons is en het is uit God. Ons is uit God gebore. Hy het ons ‘n nuwe skepping gemaak. Hy het ons in die lewe geroep sodat ons uit Hom die lewe ontvang. So is ons ook deur God onderhou. Deur sy genade en trou leef en bestaan ons. Hy is die Beskermer en Bewaker wat nooit sluimer of slap nie, deur wie ons is. Maar net so leef ons met die doel van ons bestaan tot Hom gerig. Alles wys na Hom en tot Hom. 

Dit is juis hierdie woorde wat ons so diep tref, dat God alles en in almal is, wat ons soos die apostel van verwondering laat uitroep: so geweldig die pen ondeurgrondelik is die wysheid en kennis van God! Daar is niemand wat God se gedagtes kan ken of verstaan of iemand wat Hom kan raad gee nie. Daar is niks wat ons besit uit onsself wat nie deur God aan ons gegee is nie… 

Ons besef dit veral wanneer ons deur moeilike tye gaan of as ons na ‘n swaar beproewing terug kyk en die hand van die Almagtige daarin raaksien. 

Mag hierdie jaar, en die res van jou lewe ‘n wekroep wees om gedurig hierdie loflied te sing en neurie, om dit te oordink en herkou. 

Dan is daar net een uiteinde: om AAN God al die roem en eer te bring. Om Hom te loof en te prys. Nie net vandag nie, nie net hierdie jaar nie, maar tot in alle ewigheid. 

Lourens (vdm) 

 As U hier was, Here, sou my broer nie gesterf het nie!

 Hierdie woorde van Marta en Maria by die dood van hulle broer Lasarus, laat ‘n diep indruk as jy by jou eie broer se graf moet afskeid neem. Hoe anders kon dinge gewees het, as die Here ingegryp het? Hoe anders kan die lewe wees as God eerste is? 

Ons kan so maklik die Here die skuld gee wanneer onsself nie bereid is om die verantwoordelikheid van ons lewe te neem nie. Ons leef in baie opsigte net vir eie gewin. As gelowiges moet ons anders kyk na die dood. Ons mag nie soos die wêreld net vir hierdie lewe leef nie. Ons verlange en begeerte moet wees na ons hemelse erfenis. 

En tog, wanneer dit soms so skielik kom, dan voel ons oorweldig. Ons emosies wel op en ons hart breek in duisend stukkies. Soos Marta en Maria voel ons kwaad en onseker, want ons broers en susters sterf. Ons voel aan ons eie lyf die gebrokenheid van ons sonde. 

Maar wat van ons ander broer? Die Een wat Seun van God genoem word. Hy het ook gesterf, en dit maak ons nie so hartseer nie. Ons leer ons kinders om bly te wees oor Jesus se dood. Hoekom? Omdat Hy die dood oorwin het. Hy het opgestaan, en Hy leef. 

Dit is ook ons troos wanneer geliefdes sterf. In Christus leef hulle. Dit maak ons tog bly, dit bring vrede en vertroosting. Maar dit neem nie die hartseer weg nie, en die gemis. Daarom mag ons hartseer wees, maar nie soos mense sonder hoop nie. 

Namens ons hele gesin wil ons elkeen persoonlik bedank vir elke oproep en elke boodskap van troos en bemoediging. Dankie vir die liefde en ondersteuning van elke broer en suster in Christus. Dit is vir ons kosbaar. Dan kan ons getuig, die Here was daar, sy seuns en dogters het mekaar bygestaan en ondersteun en in sy liefde gedra. 

Mag u hierdie jaareinde binne gaan en Kersfees vier met die sekerheid en troos van Christus wat Immanuel is, God met ons. 

Ja kyk, die Here is hier. 

Lourens (vdm) 

« Older posts