Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Kategorie: Blogs (Page 1 of 48)

 As U hier was, Here, sou my broer nie gesterf het nie!

 Hierdie woorde van Marta en Maria by die dood van hulle broer Lasarus, laat ‘n diep indruk as jy by jou eie broer se graf moet afskeid neem. Hoe anders kon dinge gewees het, as die Here ingegryp het? Hoe anders kan die lewe wees as God eerste is? 

Ons kan so maklik die Here die skuld gee wanneer onsself nie bereid is om die verantwoordelikheid van ons lewe te neem nie. Ons leef in baie opsigte net vir eie gewin. As gelowiges moet ons anders kyk na die dood. Ons mag nie soos die wêreld net vir hierdie lewe leef nie. Ons verlange en begeerte moet wees na ons hemelse erfenis. 

En tog, wanneer dit soms so skielik kom, dan voel ons oorweldig. Ons emosies wel op en ons hart breek in duisend stukkies. Soos Marta en Maria voel ons kwaad en onseker, want ons broers en susters sterf. Ons voel aan ons eie lyf die gebrokenheid van ons sonde. 

Maar wat van ons ander broer? Die Een wat Seun van God genoem word. Hy het ook gesterf, en dit maak ons nie so hartseer nie. Ons leer ons kinders om bly te wees oor Jesus se dood. Hoekom? Omdat Hy die dood oorwin het. Hy het opgestaan, en Hy leef. 

Dit is ook ons troos wanneer geliefdes sterf. In Christus leef hulle. Dit maak ons tog bly, dit bring vrede en vertroosting. Maar dit neem nie die hartseer weg nie, en die gemis. Daarom mag ons hartseer wees, maar nie soos mense sonder hoop nie. 

Namens ons hele gesin wil ons elkeen persoonlik bedank vir elke oproep en elke boodskap van troos en bemoediging. Dankie vir die liefde en ondersteuning van elke broer en suster in Christus. Dit is vir ons kosbaar. Dan kan ons getuig, die Here was daar, sy seuns en dogters het mekaar bygestaan en ondersteun en in sy liefde gedra. 

Mag u hierdie jaareinde binne gaan en Kersfees vier met die sekerheid en troos van Christus wat Immanuel is, God met ons. 

Ja kyk, die Here is hier. 

Lourens (vdm) 

 WORSTELING BRING SOMS TWYFEL

 Lees Psalm 73 : 1 – 20. Wie van ons kan in alle eerlikheid sê: dat hy nog nooit getwyfel het nie. Ons almal twyfel een of ander tyd. Asaf het sy eie omstandighede met die van goddelose vergelyk en toe het hy oor God se goedheid en regverdigheid begin twyfel. Die probleem het ontstaan toe hy nie meer sy oë op die Here gehou het nie, maar na mense rondom hom begin kyk het en daardeur het hy byna koers verloor het. 

As swaarkry op jou pad kom, voel dit asof die Here jou vergeet het en aan jou eie lot oorgelaat het. Jy begin dan ook twyfel want selfs jou gehoorsaamheid en toewyding blyk soms nutteloos te wees. As jy jouself en jou omstandighede met ander mense vergelyk voel dit asof jy jou geestelike balans verloor. Jy begin gly en dan die twyfelvraag: Waarom laat U dit met my gebeur Here? 

Hoe kry ‘n mens jou voete weer op vaste grond? Jou balans en perspektief word weer herstel as jy in die heiligdom van God ingaan (Ps 73:17). Jy kry weer perspektief, as jy God en jou medegelowiges in die kerk ontmoet. Dan besef jy dat die Here besig was om jou geloof te toets. 

In Romeine 8 : 31 – 39 verseker die apostel Paulus elke gelowige dat niks van die aardse ellendes ons van die liefde van God kan skei nie. In Christus is ons meer as oorwinnaars, nie uit eie krag nie, maar deur Hom wat ons liefhet. 

Ons weet ons verdien die dood en ewige verderf, maar Hy het ons deur sy Gees in Christus as ware gelowiges ingelyf wat die ewige heerlikheid sal geniet. Ons is sy kinders en daarom sal Hy ons nooit begewe of verlaat nie 

Oudl Theo Westerveldt 

 DIE VERSOENING DEUR CHRISTUS

 Ons glo dat Jesus Christus kragtens ʼn eed ʼn ewige Hoëpriester is volgens die orde van Melgisedek “…en is deur God genoem ‘n hoëpriester volgens die priesterorde van Melgisedek.” (Heb. 5:10). Hy het homself in ons naam voor sy Vader gestel om sy troon met volledige betaling te stil deur Homself aan die kruishout te offer en sy kosbare bloed tot afwassing van ons sonde uit te stort soos die profete dit voorspel het. 

Want daar staan geskrywe dat die straf wat vir ons vrede aanbring, op die Seun van God was, en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom. Verder dat Hy soos ʼn lam na die slagplek gelei en by die misdadigers gereken is, dat Hy as misdadiger deur Pontius Pilatus veroordeel is, al het die hom eers onskuldig verklaar (Matt 26). 

Hy het na liggaam en siel as regverdige vir ons onregverdiges gely. Hy het die verskriklike straf wat ons sondes verdien ervaar, sodat sy sweet soos bloeddruppels geword het, wat op die grond val, en Hy het aan die kruis uitgeroep: 

“…My God, my God waarom het u my verlaat?” (Matt 27:46). Dit alles het Hy ter wille van die vergewing van sondes gely. “Die Hoëpriester wat ons het, is nie Een wat geen medelye met ons swakhede kan hê nie; Hy was immers in elke opsig net soos ons aan versoeking onderwerp, maar Hy het nie gesondig nie.” (Heb. 4:15). 

Ons word daarom deur die gebruik van die heilige nagmaal tot ʼn vurige liefde vir God en ons naaste opgewek. 

’n Geseënde Sondag en Nagmaal vir u elkeen toegewens. 

Oudl Wim Prinsloo 

 ‘n Riglyn vir Bybelstudie en gebed

 Hierdie is ‘n riglyn vir en stappe vir Bybelstudie wat ook gebruik kan word om ‘n gebed te vorm. Die geheim is om konsekwent deur die Bybel te werk om die hele boodskap van ‘n boek te kry. Daar is ook baie hulpbronne beskikbaar bv die webwerf van Ligonier Ministries (met ‘n gereformeerde grondslag in die VSA) wat kan help. Hiermee die stappe: 

  1. Werk sistematies deur die Bybel. Begin bv met die boek van Johannes en werk dit deur. Kry ‘n skryfboek en skryf gedagtes neer. Dit is nie ‘n teologiese tese nie maar bloot om gedagtes te orden en te oordink eerder as om die Bybel soos ‘n koerantberig te lees, toe te maak en grootliks te vergeet. 
  2. Hou die gedeelte hanteerbaar. Die Bybel is opgedeel in gedagte eenhede en doen een op ‘n slag vir Bybelstudie. 
  3. Bid altyd voor Bybelstudie en vra vir die leiding van die Heilige Gees 
  4. Lees die stuk ‘n paar keer aandagtig deur en beantwoord dan die volgende vrae:
    • a. Wat het ek van God geleer? 
    • b. Wat verwag God van my en waarom?
    • c. Watter beloftes gee God in die stuk? 
    • d. Wat is die toepassing op my lewe? 
  5. Vir gebed, gebruik punt (a) se notas om die Here te loof, punt (c) om die Here te dank en punte (b) en (d) om die Here doelgerig te vra om dit tot uitvoering te bring. 
  6. Bv gedagtes oor Joh 1:1 ter illustrasie van punt (a): 

i. Die Woord bestaan van altyd (dus ‘n Persoon, wie? – sien later) 
ii. Hy is sonder begin, sonder einde. 
iii. Die Woord is self God, dus nie ‘n gewone mens of engel nie. 
iv. Waarom “Woord” eerder as ‘n naam? Aksie: hou in jou agterkop en soek die antwoord. 

Seën op hierdie reis deur die Woord van God! 

Oudl Marlou vd Berg 

 JESUS IS DIE WARE HERDER

Psalm 23(1933-vertaling); Johannes 10:1-21 

 Psalm 23 is een van die mees vertroostende gedeeltes in die Bybel, en die belofte daarvan is iets waaraan menige siek of sterwende mens al vasgehou het. En vir baie ander sal dit ook nog ‘n vertroosting wees, veral as ons dit saamlees met ander gedeeltes (bv. Eseg 34 en Joh 10) wat vertel van die Here, ons Herder. 

Die Psalm is niks anders as ‘n Ou Testamentiese gelykenis nie. Dit is seker gebore uit Dawid se tye as skaapwagter. Na analogie van die interaksie tussen die skaapwagter en die skape, sien hy die verhouding tussen die Here en sy kinders. 

In die Ou Testamentiese tye het elke dorpie of familieboerdery sy eie sentrale skaapkraal gehad. In die aand los die herder die skape daar en ‘n wag pas die skape gedurende die nag op. Geen skelm kan by die ingang inkom nie, daarom sê Jesus dat Hy die ingang is – iemand wat sy skape benader deur oor die muur te klim is rowers en diewe. Hulle is die vals herders (Eseg 34) en die vals leraars(Hand 20:29 en 1Pet 5:2-3). Hulle nader die kudde vir eie gewin, en nie omdat hulle die skape se welstand op die hart het nie. Ons sien hierdie tipe diewe en rowers vandag nog afsluip op Jesus se skape. 

In die oggend kom elkeen van die herders om hulle skape uit die kraal te haal. Hulle roep hulle by die naam, en hulle volg gewillig. Só roep God ons elkeen by die naam. Die herder lei sy skape na waar hulle groen gras kan eet. Ons Herder lei ons om die groen gras van sy Woord in te neem. As ons nie daarvan eet nie, sterf ons geestelik. Hy praat met ons in ons Bybelleestyd, in preke, in Bybelstudie, in geestelike gesprekke en in ons blootstelling aan die Woord. 

Die dag word soms baie warm, dan lei hy sy skape na ‘n oasis, so bring die Here daagliks verkwikking vir ons, deur sy Gees wat ons laaf in allerlei situasies. Die 1953 vertaling praat van “verkwik my siel”. Dit beteken: Hy gee vir ons nuwe geestelike krag. 

Daar is ook baie gevare op die pad van die skaapkudde. Van hulle dwaal af en beland op hoë rotse, of val in ‘n gat of ‘n put. Soms verdwaal een en land in ‘n “Dal van doodskaduwee”. Maar selfs dan sê Dawid weet hy dat die Here hom bewaar, bloot omdat hy kind van die Here is. Dit verwys seker na fisiese tye, soos siekte, oorlog of vyande wat Dawid bekruip. Maar dit dui ook op die mens se geestelike nood. Die lewensnood van ‘n verlore siel. 

Hoewel die Here reeds in die Ou Testament die uitkoms van hierdie sielenood beloof en profeteer, realiseer dit in die Nuwe Testament, deur Jesus Christus, die Goeie Herder (Joh 10), wat sy lewe vir sy skape aflê. Jesus sterf in die dal van doodskaduwee, sodat ons kan leef! Jesus ontvang ons soos eregaste (Ps 23:5) wanneer Hy ons laat aansit by sy maaltyd, die Nagmaal. Maar nie net fisies met Nagmaalsviering in die gemeente nie, maar ook op simboliese wyse omdat ons elke dag as’t ware aan sy tafel sit. 

Mag u en ek die Goeie Herder ken, en elke dag leef onder sy versorging en bewaring! Want Jesus is die ware Herder. 

Oudl Sollie Nel 

 Die Sinode van Nicea: Waarheid of Verdraaiing?

 “Did you know that one vote at a secret meeting decided what billions of people would believe for the next 2000 years? It happened at the council of Nicaea in 325 A.D., when the Roman emperor Constantine gathered bishops to settle a growing problem: Was Jesus divine or human? Was he God or chosen by God? The answer would decide who held spiritual power and who would control it. The debate exploded. Arguments turned into politics. When Constantine called for peace, they took a vote. By a show of hands they declared Jesus fully divine, equal to God. That single decision rewired the foundation of Christianity. Those who disagreed, were branded heretics, exiled and erased. The church would now decide what was true and was forbidden. But here’s the part they never told you: The council of Nicaea was not about faith, it was about empire. – https://vt.tiktok.com/ZSy1rp3SD/” 

So lui die inhoud van ‘n video op TikTok wat ingekleur is met pragtige prentjies van tonele tydens die vergadering. Die argument klink nogal betroubaar en ‘n mens voel onmiddellik om tog te wonder oor wat die waarheid is. Sonder om stil te staan by die veralgemenings en verdraaiings van die waarheid in die video, is die sentrale feit van die argument, dat slegs een stem die uitslag bepaal het, geheel uit iemand se duim gesuig. 

Net ‘n dekade of so voor die sinode van Nicea, sterf Diokletianus in 311 nadat hy reeds in 305 as keiser geabdikeer het. Diokletianus het die kerk wreed en meedoënloos vervolg, erger as enige ander keiser voor hom. Keiser Konstantyn, wat met die edik van Milan christenskap gewettig het, roep hierdie sinode bymekaar omdat die leer van Arius, dat Jesus ‘n skepsel is en daarom nie gelykwaardig aan die Vader nie, die kerk en staat in beroering gebring het. Sommige van die biskoppe by die sinode het nog die littekens van hulle wonde aan die hand van Diokletianus gedra, byvoorbeeld Paphnutius van Thebes, ‘n biskop uit Egipte, wat ‘n oog verloor het en sy hakskeensenings is afgesny. ‘n Halfblinde en kreupel man wat onwrikbaar in sy geloof staan. Hierdie was nie net teoloë wat oor fyn puntjies in teologiese geskrifte geredekawel het nie, hierdie was manne wat vir Christus gely het! 

Toe die debat oor die wese van Christus so warm geraak het dat dit duidelik was dat die twee kante mekaar nie sou kon vind nie, was die voorstel dat ‘n belydenis opgestel word wat almal kan onderteken. Die gevolg hiervan was die Geloofsbelydenis van Nicea wat ons deesdae algemeen gebruik en ons ook nou baie beter ken as voorheen. Sommige bronne sê drie, ander dat vyf biskoppe nie die belydenis onderteken het nie. Daar was ‘n totaal van 200, dalk 318 biskoppe – ons weet nie regtig nie. Ons weet wel dat daar nooit ‘n stemming was waarmee die wese van Jesus tot iets goddeliks verklaar is nie. Dit is ook nie die getalle wat saak maak nie, dit is die gesag van God se Woord. God se Woord openbaar Jesus as die Christus, die enigste Seun van God – een in wese met die Vader. Daaroor was daar voor die sinode van Nicea nie twyfel onder die ware gelowiges nie, net soos wat daar vandag steeds geen twyfel onder ons bestaan nie. Die debat het nie hier geëindig nie, soos die indruk wat die video laat nie, dit het eerder in intensiteit toegeneem. Selfs vandag hoor ons gereeld van dwaalleringe wat hiermee ooreenstem. 

Ons moet ons nie laat mislei nie deur mooi woorde en prentjies nie. Net so moet ons ook versigtig moet wees dat ons nie ander mislei met dit wat ons self soms verkeerdelik glo nie. “Ek sal die Vader vra en hy sal vir julle ‘n ander Parakleet gee, sodat Hy vir ewig by julle kan wees. Hy is die Gees van die waarheid, wat die wêreld nie kan ontvang nie, omdat die wêreld Hom nie sien nie en ook nie ken nie. Julle ken hom egter, omdat Hy by julle bly en in julle sal wees.” – Joh 14: 16-17 

Oudl Pieter vd Dussen 

« Older posts