Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Kategorie: Blogs (Page 2 of 51)

 OM IN CHRISTUS TE STERF

(1 Tessalonisense 4:13 – 18) 

 Ons as gemeente het die afgelope tyd heelwat mense aan die dood afgestaan. Daar is baie verskillende maniere waarop mense die dood verwerk. Daar is sommige wat verval in rou asof dit die einde van alles is. Daar is ook ander wat hartseer is, maar sê “kom ons herdenk met dankbaarheid die lewe van ons geliefde.” Die een groep treur sonder hoop, die ander treur met hoop. 

Paulus sê in hierdie skrifgedeelte: “Broeders en susters ons wil nie hê dat julle onkundig moet wees oor wat met die ontslapenes gaan gebeur nie. Dan sal julle ook nie treur, soos die ander mense wat geen hoop het nie. Ons glo immers dat Jesus gesterwe het maar ook opgestaan het. So glo ons ook dat God saam met Jesus die ontslapenes, wat in hom geglo het, na hom toe sal neem.” 

Hy sê nie dat ons nié moet treur nie, maar ons moet nie treur soos hulle wat geen hoop het nie. Paulus is realisties oor die hartseer wat die dood teweeg bring. Dit is nie verniet dat hy elders die dood bestempel as die “laaste vyand” van ons lewe op aarde nie. Die dood is ons laaste vyand want dit ontneem ons van ons geliefdes en hulle kan nie vervang word nie. 

Ons hoor so dikwels, wanneer iemand met ‘n dodelike siekte gediagnoseer word, dat daar gesê word dat hy/sy het die stryd teen die siekte verloor het. Eintlik sê ons as Christene: ons het miskien die geveg verloor, maar die oorwinning behaal, en daarom treur ons mét hoop en nie daarsonder nie. 

So hoe kan ons treur met hoop? Paulus se woorde sê dit so duidelik: “Ons glo immers dat Jesus gesterwe het maar opgestaan het. Net so glo ons ook dat God saam met Jesus die ontslapenes wat in Hom geglo het, na Hom toe sal neem.” En dan val die klem op Wie in Hom geglo het. 

Aanhaling van Charles Henry Brent: “Wat is sterwe – Ek staan op die strand, ‘n boot span sy seile en die wind begin om haar weg te neem. Dit is ‘n pragtige gesig om te sien. 

Hierdie boot vol goedere gelaai met haar groot maste en seile verdwyn dan oor die horison en iemand langs my sê: Sy is weg, Weg waarheen? Heeltemal uit my gesigsveld uit. En op daardie oomblik sien iemand aan die anderkant haar en sê hier kom sy. En dit is sterwe. Uit my gesigsveld.” 

Mag die Here ons deur sy Gees so lei dat ons nooit sonder hoop sal treur nie, maar met verwagting sal uitsien na Jesus se koms. 

Oudl Sollie Nel 

Koningskinders

Die term Koningskinders is al sinoniem met evangelisasie in die GKSA. Dit staan elke gemeente vry om self die geleentheid aan te gryp om op so ‘n besondere wyse kinders uit ons gemeenskap geleenthede te bied wat nie altyd moontlik is nie. 

Die inisiatief het in die 1980’s begin toe ds. Lammert Stavast sommer ‘n kombi vol kinders gelaai het en met hulle see toe gery het. Stelselmatig het die behoefte gegroei veral vir kinders wie se huise nie kerklik gebonde is nie, en al hoe meer gemeentes het die “patent” gebruik vir kinder-evangelisasie. 

In my matriekjaar het ons gemeente in Pietersburg-Noord die eerste keer ‘n kamp gehou. Dit het my lewe drasties verander. My oë het oopgegaan vir die geestelik nood in ons gemeenskap en selfs eie buurt. Ek het ook betrokke geraak by die koningskinders in Cachet-gemeente tydens my studentejare. Daar was ook kampe wat ek help aanbied het in Ellisras en Potgietersrus. Later saam met sewe gemeentes in die Bosveld streek. 

Ons het ook kampe gehou in Hoedspruit en Kimberley, en so ook hier in Centurion. Die nood bly oral dieselfde, die verlange na die suiwere evangelie van Christus wat sondaars red. 

Dit maak hierdie woordjie so uniek, Koningskinders, want dit is nie net vir kinders aan wie die evangelie verkondig word nie. Elke kind van ons hemelse Vader is ‘n kind van die Koning. Ook ek en jy is Koningskinders. 

Kyk watter groot liefde God aan ons bewys het, dat Hy ons sy kinders noem! 

Dit is ‘n voorreg en seën om ‘n kind van die Koning te mag wees. Ons wat natuurlik kinders van die sonde was, word nou kinders van God gemaak. Deur sy liefde maak Hy ons sy kinders. Hy neem ons aan sodat ons egte kinders mag wees. En ons moet dit ook wees. Maar kinders van die Koning maak jou ook ‘n prins en prinses. Dit is ‘n wonderlike eretitel en status, en tog ook nie. Want ‘n prins en prinses wat nie hulle ereplek waardig is nie, bring die Koning in onguns. 

Watter voorreg geniet ons tog om kinders van God genoem te word. Mag ons ook met die Nagmaal sien hoe kosbaar dit is, om saam met ons Here Jesus te deel in die wonderlike gawe as Koningskinders. 

Lourens (vdm)

 Laat die kinders na My toe kom

Tydens ons weeklikse Bybelstudie van Matteus het ons weereens besef dat die kinders aan die Here behoort. Psalm 127 stel duidelik dat hulle “geskenke van die Here” is. Kinders word aan ouers toevertrou om hulle op te voed vir die Koning en die lewe in sy koninkryk. Jesus beveel in Matteus 19 dat ons die kinders nie moet verhinder nie. 

Volgens die ouers se belofte by die doop neem ons die verantwoordelik op om hierdie kinders nie net kos te gee nie, maar hulle na die Here toe te bring. Dit geskied dan juis in die huisgodsdiens wat daagliks aan die huistafel moet plaasvind. Hierin moet ons as ouers weer ernstig ons verantwoordelikheid verstaan en nakom. Ons moet ook ons kinders nie verhinder om kerk toe te kom of die katkisasie by te woon nie. Soos ‘n bouer wat steen vir steen aan ‘n huis bou, so sal ook ons taak en verbondsplig dag na dag bydra tot die geloofgroei en -opbou van ons kinders wat aan ons toevertrou is. 

Ons het nogal die gewoonte aangeleer om kinders tydens ons nagmaaldienste tuis te laat bly. So gebeur dit soms dat daar kinders in die belydenisklas beland wat nog byna nooit self ‘n nagmaalviering gesien of beleef het nie. Kinders deel indirek reeds in die seën van die sakramente deur net in die eredienste teenwoordig te wees. As ouers kan uself betrokke raak by die reël van aksies vir ons gemeente se kinders en seker maak dat jou kinders daaraan deelneem en hulle so leer om verantwoordelikheid te neem vir hulle lidmaatskap as dooplidmate. 

So hoor ons Jesaja wat voor die Here verskyn en eintlik bid dat die Here se kinders seën: “Hier is ek en die kinders wat die Here my gegee het” (Jes 8:18). So kom ons as huisgesinne Sondae na die eredienste onder die seënende hand van die Here, om weer in die week uit sy seën te lewe. Daarom sê Jesus vir sy dissipels as hulle die kinders wil wegstuur: … “verhinder hulle nie om na my toe te kom nie, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele” (Mt19:14). 

Ds Maarten

Die Hoogste Goed

Ons almal is goed bekend met die naam Dirk Postma. Ons weet van Rustenburg in 1859 waar die “doppers” onder ‘n seringboom begin bymekaar kom het. Ons weet van Postmasburg, wat na hom vernoem is, en Burgersdorp waar die teologiese opleiding begin het.

Tog is daar bitter min mense wat enige van sy boeke of preke besit, en bykans niemand weet wat hy geskryf het nie. Gevolglik wys ek u graag op ‘n besondere boekie, die enigste “werkie” wat hy self in 1875 saamgestel het, en ‘n dogmatiek wat gedien het as katkisasie vir die opleiding van predikante en natuurlik katkisasie vir lidmate.

Die boekie se naam is Mijne Handleiding voor de Godgeleerdheid volgens de Kern van Aegidius Francken. Postma het die boekie saamgestel soos die Kategismus in ‘n vraag en antwoord wyse, met 33 hoofstukke. Dit is egter die begin wat baie besonders is.

“Hoofstuk 1. Oor Kennis van God uit die Natuur.

Vr. 1. Waarin bestaat ons hoogste goed?
Ant. In de vriendschap en gemeenschap met den gelukzalige God, Ps. 144:15 Welgelukzalig is het volk, wines God de Heere is.

Vr. 2. Wat verstaat gij (jy) door het hoogste goed?
Ant. Zulk een goed, dat ons volmaken en in alle oneindige zielsbegeerte vervullen kan.

Vr. 3. Vindt men in God, en in het genot van zijne gemeenschap dat hoogste goed?
Ant. Ja, zekerlijk, Ps. 68: 20, 21. Die God is onze zaligheid, Sela! Die God is ons een God ran volkomene zaligheid; en bij den Heere, den Heere, zijn uitkomsten tegen den dood. Ps. 73: 25. Wien heb ik nevens U in den Hemel? Nevens U lust mij ook niets op de aarde!”

Laat ons lewe ook begin met hierdie strewe, in vriendskap en gemeenskap met die geluksalige God. Dat ons Hom mag ken as die bron van alle goedheid. Hy is die hoogste bron van goed waarna ons kan strewe. Immers, in Hom is die lewe!

Lourens (vdm)

Die Kerk as Getuie in ’n Gebroke Wêreld

Ons leef in ’n tyd van onsekerheid, morele verwarring en geestelike onverskilligheid. Nuusopskrifte getuig van konflik, ekonomiese druk en gebroke verhoudings. In só ’n wêreld kan ’n mens maklik moedeloos raak. Tog bly die roeping van die kerk onveranderd: ons is geroep om as liggaam van Christus lig en sout te wees (Matt. 5:13–16). 

Die Here vergader, beskerm en onderhou vir Hom ’n gemeente deur sy Woord en Gees. Elke Sondag kom ons saam om onder die bediening van die Woord te sit. Daar word Christus aan ons verkondig — gekruisig en opgestaan. Daar word ons geloof versterk, ons harte vermaan en ons hoop vernuwe. Maar die erediens is nie die eindpunt nie; dit is die begin van ’n nuwe week se diens. 

As gelowiges word ons uitgestuur as getuies. In ons huwelike en gesinne, by die werk en in die gemeenskap, dra ons die Naam van Christus. Ons woorde moet getuig van waarheid, ons optrede van liefde, en ons houding van nederigheid. Getuienis is nie bloot ’n besondere projek of ’n georganiseerde aksie nie — dit is ’n lewenswyse. Wanneer ons vergewe, wanneer ons getrou bly te midde van druk, wanneer ons hoopvol leef ondanks swaarkry, wys ons op Hom wat ons Verlosser is. 

Laat ons daarom volhard in gebed, trou wees in eredienste, en mekaar bemoedig in die geloof. Die wêreld het nie nóg opinies nodig nie, maar ’n sigbare, lewende getuienis van God se genade. Mag ons gemeente só leef dat Christus verheerlik word, en dat mense deur ons lewe na Hom toe getrek word. 

Aan Hom alleen die eer 

Ds. Maarten 

 Ken Hom

Die meeste van ons se kontakte lys op ons telefoon is honderde, soms duisende mense. Sonder huiwering sal ons iemand wat ons ontmoet of dalk groet sommer gou as kontak stoor, want jy ken mos nou nie die persoon. Ons menslike begeerte is om geken en erken te word. Dit is deel van ons menswees, en ingebore in ons wese. 

Tog is daar min mense wat ons regtig “ken”. Die meeste is kennisse, maar nie bekend nie. In die aanlyn-wêreld is dit maklik om iemand vandag te leer ken en te sien waar hulle vakansie hou, watter kos hulle eet, watter stokperdjies hulle het. Jy kan sien wat mense “like”. 

Die vraag is of ons God ook so kan ken? 

Die Bybel is die “facebook” van ouds waar ons God se doen en late, sy woorde en wil kan leer ken. Die vraag bly egter, of jy Hom ken? Dit beteken om meer as net die Tien Gebooie te kan opnoem of om die Bybelboeke in volgorde te sê. 

Om God te ken, beteken om in ‘n lewende verhouding met Hom te wees. Om God te ken is om te doen. God is tog baie meer as net ‘n kennis, of nood nommer as jy in die moeilikheid is. 

Om God te ken is om Hom lief te hê. En liefde bedoel omgee. Om te eerbiedig wat vir iemand belangrik is. Om heilig met iemand te leef. So wil God dat ons heilig met Hom leef, in liefde. Dit is immers die vervulling van die wet. 

Dit is die bedoeling van die koms van die Geliefde Seun van God. Hy het nie net gekom om te sê Hy is lief nie, Hy het sy liefde met die daad bewys. Hy het daad by die Woord gesit. Dit bring die versekering van God se liefde en trou teenoor sondaars! As ons Hom leer ken, kom daar vrede en vertroosting en vreugde en vervulling. 

Hoe wonderlik is dit om God te mag ken! 

Lourens (vdm) 

« Older posts Newer posts »